Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 6/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Katolieke rig versoekskrif tot die Pous
  • “Skrikkelsekonde” by 1995 bygevoeg
  • Kleuters en tegnologie
  • Goedkoop uitweg
  • Vigs oorskry 500 000 in die Verenigde State
  • Internet-verslaafdes
  • Sonlig verbeter moraal
  • ’n Wêreld wat water bewaar
  • Pynlose slaap
  • “TB-tydbom”
  • Ongestrafte diewe
  • Italiaanse gesinne verander
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1998
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2005
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1996
  • ’n Nuwe wapen in die stryd teen tuberkulose
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 6/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Katolieke rig versoekskrif tot die Pous

Teen die einde van 1995 het Duitse Katolieke ’n versoekskrif saamgestel wat hervorming van die kerk eis, sê die Süddeutsche Zeitung. Die versoekskrif, wat deur ongeveer 1,6 miljoen mense onderteken is, het geëis dat die kerk priesters toelaat om te trou, die priesterskap vir vroue oopstel en sy standpunt oor seksualiteit en geboortebeperking verander. “Die persoon wat ons eintlik aanspreek, is die Pous”, het Christian Weisner, wat die versoekskrif opgestel het, verduidelik. Die koerant het gesê dat Karl Lehmann, voorsitter van die Duitse Biskoplike Konferensie, ernstige bedenkinge oor die versoekskrif gehad het en beweer het dat dit tot ’n polarisasie van konserwatiewe en hervormde Katolieke aanleiding sal gee. Lehmann het nietemin na die Vatikaan gereis en die resultate van die versoekskrif aan die Pous voorgelê.

“Skrikkelsekonde” by 1995 bygevoeg

Dit wil voorkom asof die omwentelinge van die aarde nie die betroubaarste manier is om tyd te hou nie. Volgens The New York Times het wetenskaplikes ’n akkurater manier om tyd te bereken—die sesiumatoom. Die sesiumatoom word as die reëlaar van die atoomhorlosie gebruik en vibreer presies 9192 631 770 keer per sekonde. Teen hierdie spoed spog die atoomhorlosie met “’n fouttempo van ongeveer een sekonde elke 370 000 jaar”. In vergelyking hiermee is die aarde se omwentelinge ongeveer ’n miljoen keer minder akkuraat, en dit is waarom ’n “skrikkelsekonde” van tyd tot tyd bygevoeg moet word. ’n Internasionale liggaam van tydhouers het besluit om so ’n “skrikkelsekonde” aan die einde van 1995 by te voeg. Sodoende kon “die omwentelinge van ons planeet en die verloop van die tyd” gesinchroniseer word. Wetenskaplikes kan egter nie die eer vir hierdie ontdekking inoes nie. “Die beweging van die horlosie se subatomiese deeltjies is [per slot van rekening], in die kleine, ’n nabootsing van die grootse orde van planetêre stelsels”, sê die Times.

Kleuters en tegnologie

“Al hoe meer kinders word rekenaargeletterd voordat hulle kan lees”, sê The Globe and Mail van Kanada. Sommige kleuters wat nog nie eens leer loop of praat het nie, gebruik al rekenaars. Selfs babas wat nog nie self regop kan sit nie, word tegnologiese vaardighede geleer terwyl hulle op hulle ouers se skoot sit. Dit is dikwels ouers wat graag wil hê dat hulle kinders op skool moet uitblink wat hulle kleintjies so gou moontlik met rekenaars laat werk. Daarbenewens adverteer baie sagtewaremaatskappye hulle produkte as leermiddele vir kinders. Sommige ouers bevraagteken egter die klem wat reeds op so ’n vroeë ouderdom gelê word op die interaksie tussen mense en masjiene pleks van tussen mense. Een moeder het gesê: “Ons ontwikkel nie verhoudings met rekenaars nie, of ek dink ten minste nie ons moet nie.”

Goedkoop uitweg

In Japan het die aantal lyke wat vir mediese navorsing aangebied is in die laaste jare toegeneem. Volgens The Daily Yomiuri sê die Departement van Onderwys dat “een liggaam nodig is vir elke twee mediese studente en [een] vir elke vier tandheelkundige studente, wat die getal liggame wat in die hele land nodig is op 4500 per jaar te staan bring”. Maar waarom is daar baie meer mense wat hulle liggame aanbied as wat werklik nodig is? ’n Tekort aan grond vir grafte en ’n verswakking van gesinsbande is van die redes wat aangevoer word.

Vigs oorskry 500 000 in die Verenigde State

Van 31 Oktober 1995 af het die totale aantal vigs-gevalle wat in die Verenigde State aangemeld is vir die eerste keer die halfmiljoenmerk oorskry, sê The Journal of the American Medical Association. Van hierdie getal het 311 381—62 persent—reeds aan die siekte gesterf. ’n Ander sombere ontwikkeling is die bestendige toename in vigs deur heteroseksuele omgang. Die tydskrif het getoon dat die verhouding vigs-gevalle onder vroue vanaf 1981 tot 1987 slegs 8 persent was, maar vanaf 1993 tot 1995 het daardie syfer tot 18 persent gestyg.

Internet-verslaafdes

Die gebruik van rekenaarnetwerke per telefoonlyn het tot ’n nuwe siekte gelei wat “Internetverslawingsteurnis” genoem word. Volgens New Scientist “wend diegene wat aan die elektroniese ekwivalent van alkoholisme ly hulle in toenemende getalle tot ondersteunings- en terapiegroepe om vir hulle obsessie behandel te word”. Dr. Ivan Goldberg, ’n psigiater in New York, het die Internetverslawingsteungroep begin om diegene te help wat “sukkel” om van die inligtingsnelweg “af te kom”. Simptome van die steurnis is onder meer “’n drang om al hoe meer tyd op die Internet deur te bring vir bevrediging asook verbeeldingsvlugte of drome oor die Net”. Die tydskrif sê dat Goldberg “meer as 20 antwoorde [ontvang het] van mense wat sê dat die Net hulle lewe vernietig het”.

Sonlig verbeter moraal

Wanneer meer natuurlike lig in ’n gebou inskyn, lei dit tot “hoër produktiwiteit” en “minder verlore dae as gevolg van afwesigheid”, sê The Wall Street Journal. Hoewel boustyle wat sonlig in die werkplek laat skyn oorspronklik gebruik is om energie te bespaar, het dit baie goeie resultate, soos verbeterde moraal onder werknemers, tot gevolg. Toe die groot vliegtuigmaatskappy Lockheed Corporation byvoorbeeld ’n nuwe kantoor in Sunnyvale, Kalifornië, geopen het, het die energiebesparende ontwerp die “totale energiekostes gehalveer”. Wat Lockheed egter nie verwag het nie, was dat werknemers so baie van hulle nuwe omgewing sou hou dat ‘afwesigheid met 15 persent gedaal het’. Die voordele om meer sonlig in ’n gebou te laat inkom, het ook nie ongemerk by kleinhandelaars verbygegaan nie. Een verkoopsadviseur het gevind dat verkope “aansienlik hoër” was in winkels wat natuurlike lig pleks van kunsmatige lig gebruik.

’n Wêreld wat water bewaar

“Oorloë sal in die volgende eeu gevoer word oor water”, waarsku Ismail Serageldin, Vise-president vir Omgewingsake by die Wêreldbank. Volgens Serageldin het 80 lande reeds watertekorte wat mense se gesondheid en die ekonomie bedreig. Maar die probleem is nie dat daar nie genoeg water op die aarde beskikbaar is nie. “Die totale hoeveelheid vars water op die aarde oorskry alle denkbare behoeftes van die menslike bevolking”, sê hidroloog Robert Ambroggi. Die meeste krisisse is die gevolg van swak waterbenutting. Die helfte van die water wat vir besproeiing gebruik word, syfer in die grond in of verdamp. Watervoorsieningstelsels in stede lek van 30 tot 50 persent van hulle water en partykeer selfs meer. “Die tyd gaan kom”, sê The Economist, “wanneer water as ’n kosbare hulpbron, soos olie, beskou moet word en nie as ’n gratis hulpbron soos lug nie.”

Pynlose slaap

Sekere pynstillers wat oor die toonbank gekoop kan word, kan tot slapeloosheid bydra, sê Tufts University Diet & Nutrition Letter. “Dit is omdat party van die beste soorte pynstillers net soveel, of meer, kafeïen as ’n koppie koffie bevat.” Kafeïen—’n ligte stimulant—word dikwels by aspirien en ander pynstillers gevoeg om hulle doeltreffender te maak. Trouens, sommige gewilde soorte bevat tot 130 milligram kafeïen in ’n dosis van twee tablette. Dit is “baie meer as die 85 milligram wat in die gemiddelde koppie [koffie] gevind word”. Daarom stel die nuusbrief voor dat ’n mens eers ’n pynstiller se etiket nagaan om te sien of die “aktiewe bestanddele” kafeïen bevat.

“TB-tydbom”

Nuwe soorte tering (TB) wat teen baie geneesmiddels bestand is, maak elke week 10 000 mense in Indië dood, sê die koerant Indian Express. Volgens Kraig Klaudt van die Wêreldgesondheidsorganisasie ‘sit Indië op ’n TB-tydbom’. Wêreldwyd is daar 1,75 miljard mense wat met die teringbakterie besmet is. ’n Groep deskundiges, wat uit 40 lande bymekaargebring is vir ’n vergadering wat deur die Britse mediese tydskrif The Lancet geborg is, sê dat farmaseutiese maatskappye onwillig is om die geld te belê wat nodig is om nuwe middels te bemark omdat die meeste gevalle in die armer ontwikkelende lande voorkom.

Ongestrafte diewe

Volgens 1994 se statistiek is diegene in Italië “wat steel se kanse om daarmee weg te kom 94 persent”, en “vir diegene wat geweld gebruik wanneer hulle steel, is die moontlikheid om die gereg te ontduik 80 persent”, sê die Italiaanse koerant La Repubblica. Die syfers is verkry uit verslae wat regsowerhede van wetstoepassingsinstansies ontvang het. As die baie diefstalle wat nie aangemeld word nie in aanmerking geneem word, sal die persentasie ongestrafte misdade selfs hoër wees.

Italiaanse gesinne verander

’n Opname oor die Italiaanse gesin toon dat al hoe meer ongetroude mense saamlewe en al hoe meer getroude paartjies uitmekaar gaan of skei, sê La Repubblica. Elke jaar word ongeveer 18 000 huwelike voltrek wat vir ten minste een van die maats hulle tweede huwelik is. Hierdie nuwe huwelike skep dikwels vergrote gesinne wat kinders uit ’n vorige huwelik insluit. Hierdie neiging, en die toename in enkelouergesinne, is besig om die samestelling van die tradisionele Italiaanse gesin baie vinnig en drasties te verander.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel