Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 7/8 bl. 22-25
  • Die Pous se besoek aan die VN—Wat is daardeur bereik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Pous se besoek aan die VN—Wat is daardeur bereik?
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom die besoek?
  • Ware vrede—Uit watter bron?
  • Die besoek—Hoeveel trefkrag?
  • Het die kerk ’n “kritieke punt” bereik?
  • Die Verenigde Nasies—’n Beter manier?
    Ontwaak!—1991
  • ’n Ontsagwekkende verborgenheid onthul
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Geen vrede vir die valse boodskappers nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Vrede van God af—Wanneer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 7/8 bl. 22-25

Die Pous se besoek aan die VN—Wat is daardeur bereik?

TYDENS pous Johannes-Paulus II se vlug oor die Atlantiese Oseaan om die VN in die stad New York toe te spreek, het hy die 1000 000-kilometer-merk in sy wêreldreise oorskry. Dit was 4 Oktober 1995, en dit was sy 68ste reis as pous in die buiteland. Hy is ongetwyfeld die Pous wat in die geskiedenis van die Rooms-Katolieke Kerk die meeste gereis het.

Hy het op ’n reënerige Woensdag by die Newark- Internasionale Lughawe, New Jersey, aangekom en was omring deur een van die oordadigste sekuriteitsgordyne wat nog vir enige hooggeplaaste daargestel is. Daar is geraam dat sowat 8000 federale en stadsamptenare aangestel is om die Pous te beskerm. Een berig het dit “’n oordadige sekuriteitskild” genoem, met helikopters en skubaduikers wat daarby betrokke was.

Waarom die besoek?

In sy toespraak by die lughawe het die Pous mense herinner aan die feit dat sy voorganger, pous Paulus VI, die VN se Algemene Vergadering met ’n oproep om vrede toegespreek het: “Geen oorlog meer nie, nooit weer oorlog nie!” Johannes-Paulus II het gesê dat hy teruggekeer het “om [sy] diepe oortuiging uit te spreek dat die ideale en oogmerke wat ’n halfeeu gelede tot die stigting van die VN gelei het onontbeerliker as ooit tevore is in ’n wêreld wat op soek is na ’n doel”.

Tydens die aandgebed by die Sacred Heart-katedraal, Newark, het die Pous weer getoon dat hy die VN steun deur te sê: “Daardie organisasie bestaan vir die algemene welsyn van die mensegesin, en dit is dus gepas dat die Pous daar praat as ’n getuie van die hoop van die Evangelie.” Hy het bygevoeg: “Ons bede om vrede is dus ook ’n gebed vir die Verenigde Nasies. Sint Fransiskus van Assisi . . . staan bekend as ’n groot liefhebber en bewerker van vrede. Laat ons sy bemiddeling smeek op die Verenigde Nasies se pogings vir geregtigheid en vrede dwarsoor die wêreld.”

In sy toespraak tot die VN het hy die geweldlose politieke veranderinge van 1989 in Oos-Europa geprys, waar verskeie lande al vryheid herstel het. Hy het “ware patriotisme” teenoor “enge en uitsluitlike nasionalisme” aangemoedig. Hy het oor die ongeregtighede van die huidige stelsel gepraat en gesê: “Wanneer miljoene mense aan ’n armoede ly wat honger, ondervoeding, siekte, ongeletterdheid en agteruitgang beteken, moet ons . . . onthou dat niemand die reg het om ander tot sy eie voordeel uit te buit nie.”

Toe het hy gesê: “Terwyl ons voor hierdie ontsaglike uitdagings staan, hoe kan ons nalaat om die rol van die Verenigde Nasies te erken?” Hy het gesê dat die VN “’n morele sentrum [moet] word waar al die nasies van die wêreld tuis voel”. Hy het die nodigheid daarvan beklemtoon om “die eenheid van die hele mensegesin” te bevorder.

Ware vrede—Uit watter bron?

Hy het ongetwyfeld baie edele gedagtes uitgespreek. Maar het hy op enige stadium in sy lang toespraak die wêreldleiers na God se oplossing vir die mensdom se probleme gerig—sy Koninkryksheerskappy in die hande van Christus Jesus? (Matteus 6:10). Nee. Trouens, hy het in sy toespraak tot die VN nie eers een keer die Bybel aangehaal nie. Inteendeel, hy het gesê dat “ons met God se genade in die volgende eeu en die volgende millennium ’n beskawing kan opbou wat die mens waardig is, ’n ware kultuur van vryheid”. Vir Bybelstudente stem hierdie woorde dalk ooreen met dié wat mense 4000 jaar gelede in eertydse Babel geuiter het toe hulle gedink het dat hulle die mensdom deur mensepogings verenig kon hou: “Kom, laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ’n naam maak” (Genesis 11:4). Uit hierdie oogpunt beskou, is dit dus die mensdom se politieke leiers, verteenwoordig by die VN, wat ’n nuwe beskawing gaan opbou met vryheid as grondslag.

Maar wat sê Bybelprofesieë aangaande die toekoms van die mens se politieke regerings en die VN self? Die boeke Daniël en Openbaring gee ’n duidelike blik op die toekoms wat op hulle wag. Daniël het geprofeteer dat God in die laaste dae sy Koninkryksheerskappy sal oprig, soos ’n groot klip wat ‘sonder toedoen van mensehande losgeraak het’. Wat sal dit doen? “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie . . . ; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.” Menseregerings sal deur een regverdige heerskappy vir die hele mensdom vervang word.—Daniël 2:44, 45.

Wat sal met die VN gebeur? Openbaring hoofstuk 17 beeld die VN (en sy voorganger wat nie lank bestaan het nie, die Volkebond) uit as ’n skarlakenkleurige wilde dier wat ‘in die vernietiging moet weggaan’ (Openbaring 17:8).a Jehovah se bron van ware vrede is nie ’n onvolmaakte mense-instelling nie, ongeag hoe opreg die voorstanders daarvan is. Ware vrede sal deur God se beloofde Koninkryk kom, in die hande van die verrese Christus Jesus in die hemele. Dit is die grondslag vir die vervulling van God se belofte in Openbaring 21:3, 4: “Kyk! Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”

Die besoek—Hoeveel trefkrag?

Het die Pous, toe hy in sy toesprake op die Bybel gesinspeel het, Katolieke gelowiges beweeg om hulle Bybels uit te haal en die verwysings na te gaan? Feit is dat die oorgrote meerderheid nie eers ’n Bybel by hulle gehad het nie. Die Pous het selde na enige spesifieke tekste verwys om dit vir die gehoor maklik te maak om in die Bybel te volg.

Een voorbeeld was toe hy 83 000 by die Giants-stadion, New Jersey, toegespreek en gesê het: “Ons wag op die wederkoms van die Here as die regter van die lewendes en die dooies. Ons wag op sy wederkoms in heerlikheid, die koms van God se koninkryk in sy volheid. Dit is telkens die uitnodiging van die psalms: ‘Wag op die Here met moed; wees onverskrokke, en wag op die Here.’” Maar watter teks uit die psalms het hy aangehaal? En na watter Here het hy verwys—Jesus of God? (Vergelyk Psalm 110:1.) Volgens die Vatikaanse koerant, L’Osservatore Romano, het hy Psalm 27:14 aangehaal, wat eerder sê: “Stel jou hoop op Jahweh, wees sterk, laat jou hart moedig wees, stel jou hoop op Jahweh” (The Jerusalem Bible). Ja, ons moet ons hoop op Jahweh, of Jehovah, die God van die Here Jesus stel.—Johannes 20:17.

Het die Katolieke geestelikes en leiers in die loop van die geskiedenis vrede onder die nasies bevorder? Het die Katolieke leer etniese, rasse- en stamverskille help oplos? Die slagtings in 1994 in Rwanda, Oos-Sentraal-Afrika, en die burgeroorloë van die laaste paar jaar in die voormalige Joego-Slawië lig alles toe dat godsdiensopvattings oor die algemeen nie die diepste haat en vooroordele wat in die mensehart skuil, uitwis nie. Nóg ’n oppervlakkige weeklikse belydenis, nóg gereelde bywoning van die mis sal mense se denk- en handelswyse verander. ’n Veel dieper invloed is nodig, een wat slegs die gevolg is as die gelowige God se Woord in sy hart en verstand laat insink.

Die veranderde gedrag van ’n ware Christen is nie op ’n emosionele reaksie gegrond wat deur godsdiensritusse teweeggebring word nie, maar op ’n intellektuele begrip van God se wil vir elke mens. Die apostel Paulus het gesê: “Moenie julle na die gedrag van die wêreld om julle vorm nie, maar laat julle gedragswyse verander en deur julle nuwe verstand gevorm word. Dit is die enigste manier om vas te stel wat die wil van God is en te weet wat goed is, wat God wil hê, wat die volmaakte ding is om te doen” (Romeine 12:1, 2, JB). Hierdie nuwe gedragswyse word verkry deur ’n studie van God se Woord wat tot juiste kennis van sy wil lei. Dit skep ’n geestelike krag wat die verstand aandryf en Christelike gedrag tot gevolg het.—Efesiërs 4:23; Kolossense 1:9, 10.

Het die kerk ’n “kritieke punt” bereik?

Die Spaanse koerant El País het gesê dat pous Johannes-Paulus II “buitengewone charisma” het vir ’n man van 75, en ’n Amerikaanse koerant het hom “’n meester van die media” genoem. Hy is baie vaardig in sy hantering van die pers en in sy inskakeling met die volksmassa en hulle kinders. In sy reise verteenwoordig hy die Heilige Stoel in die Vatikaanstad op bekwame wyse. Selfs al het die Vatikaan amptelike erkenning by die VN, sal die Pous se seën op daardie organisasie nie Jehovah God se seën daarop waarborg nie.

Die reaksies op die Pous se besoek was uiteenlopend. Baie van dié Katolieke wat kaartjies gekry het vir die mis wat in die buitelug gehou is, het emosioneel opgehef gevoel deur die ondervinding. Maar sommige Katolieke leiers het ’n negatiewer beskouing van die besoek en die moontlike gevolge daarvan gehad. The New York Times het Timothy B. Ragan, president van die Nasionale Katolieke Sentrum vir Pastorale Leierskap, aangehaal wat gesê het dat “die Pous se besoek ’n verspeelde kans was. Hoewel die reis ‘vir baie mense opheffend en wat die sakrament betref ’n hoogtepunt was’”, het dit vir talle Katolieke leiers “geen geleentheid [gebied] waartydens hy van sy kant kon luister nie, en daar is geen voorsiening vir dialoog” gemaak nie. Baie Katolieke meen dat hulle gedwing word om na ’n alleenspraak te luister wat kwessies soos die selibaat, geboortebeperking en egskeiding betref.

Party Katolieke kenners erken dat “die kerk ’n kritieke punt bereik het” en hulle is bevrees dat baie Katolieke, “veral die jeug, nie meer weet wat dit presies beteken om ’n Katoliek te wees nie”. James Hitchcock, ’n Katolieke tradisionalis, “beskou die probleem as ’n vernietigende koue oorlog tussen ’n hiërargie wat al hoe konserwatiewer word en ‘middelvlakgeestelikes’ wat ietwat liberaal is”.

Oor hoe die Pous se besoek die krisis in die kerkgeledere sou raak, het Hitchcock gesê: “Hy kom hier aan, hy word vereer, hy gaan huis toe—en niks gebeur nie. Die resultate is myns insiens teleurstellend.” Die Pous het beslis ’n geleentheid laat verbygaan om vir die politieke leiers by die VN te vertel waar die bron van ware vrede gevind kan word.

Hoewel die VN-handves en mense se propaganda ’n doelwit van “vrede en veiligheid” beklemtoon, moet jy jou nie laat bedrieg nie. Die Bybel waarsku: “Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan gaan skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom net soos die barenswee oor ’n swanger vrou; en hulle sal hoegenaamd nie ontkom nie” (1 Tessalonisense 5:3). Ware vrede en veiligheid sal alleenlik deur God se wil en op sy manier tot stand kom—deur sy Koninkryksheerskappy, nie deur die VN nie.

[Voetnoot]

a Sien die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsye 240-51, in 1988 uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir breedvoeriger inligting oor hierdie profesie in Openbaring.

[Foto-erkenning op bladsy 22]

UN photos

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel