Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 7/22 bl. 15-18
  • Waarom hy sy prioriteite verander het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom hy sy prioriteite verander het
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die aanvanklike uitdaging
  • Die waarde van voëlgesang en -roepe
  • Die kuns van voëlkykery
  • Saadjies en groei
  • Die belangrikheid van balans
  • Balans ten opsigte van prioriteite
  • Voëlkykery—’n Fassinerende stokperdjie vir almal?
    Ontwaak!—1998
  • Hoe kan ek God se vriend word?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Wanneer voëls in geboue vasvlieg
    Ontwaak!—2009
  • Die raaisels van migrasie word ondersoek
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 7/22 bl. 15-18

Waarom hy sy prioriteite verander het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

Skielik het pragtige sang die lug gevul. Die kristalhelder melodieë het so te sê onophoudelik uitgestroom. Ek het my verluister. “Dis ’n nagtegaal!” het Jeremy gefluister. Ons het stadig om die ruigte beweeg en hard probeer om die bron van daardie pragtige klank te sien. Diep in die ruigte het ons toe die sku, onopvallende ligbruin voëltjie gesien. “Ek is bly ons het hom gesien”, het Jeremy gesê toe ons uiteindelik vertrek het. “Min mense sien hom ooit.”

EK HET gekom om die dag deur te bring saam met Jeremy, die bewaarder van Minsmere, ’n natuurreservaat van 800 hektaar van die Koninklike Genootskap vir die Beskerming van Voëls (RSPB), wat in een van Engeland se oostelikste dele geleë is. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is hierdie deel van die Noordsee se kuslyn oorstroom om ’n moontlike Duitse inval te verhoed. Rietvleie het gevolglik gevorm en moerasvoëls het in die oorstroomde weivelde begin intrek. Daar was groot opgewondenheid in 1947 toe vier pare bontelsies begin nes maak het, aangesien hierdie spesie meer as 100 jaar lank nie in Brittanje gebroei het nie.

Die RSPB het gou beheer van die gebied oorgeneem, en dit is nou ’n bewaringsgebied van internasionale belang. Benewens die rietvleie is daar in die voëlhabitat sout- en varswaterstrandmere—die grootste word die Scrape genoem—spoelklippies, sandduine, moerasse, graslande, heidevelde en bladwisselende sowel as dennewoude. Meer as 330 voëlspesies is al opgeteken, waarvan ongeveer 100 in die reservaat broei. Hierdie groot verskeidenheid voëls is hoofsaaklik te danke aan die trekroetes langs die oostelike kus, maar bestuursvaardigheid het ook ’n rol daarin gespeel.

“Ek het in 1975 hiernatoe gekom”, het Jeremy my vertel, “omdat Minsmere ’n buitengewone uitdaging gebied het. Sedert 1966 het die bontelsie die simbool, en uiteindelik die embleem, van die RSPB geword. Minsmere word nou deur baie as die RSPB se belangrikste reservaat beskou, en tot 80 000 besoekers kom elke jaar hierheen.”

Die aanvanklike uitdaging

“My belangstelling is op skool gewek”, het Jeremy verder vertel terwyl ons aangestap het. “Ek het daar geleer om voëls te ring en het ’n studie van migrasie gemaak. Laat in die sestigerjare het ek as ’n stokperdjie tussen 12000 en 20 000 voëls per jaar gering. Toe het Chris Mead van die Britse Fonds vir Voëlkunde my genooi om aan te sluit by ’n ekspedisie na Spanje om trekvoëls te ring wat oor die Sahara migreer. Ons gebruik ’n baie fyn swart net wat 20 tot 60 voet [6 tot 18 m] lank is, slap hang en versigtig geplaas word met bome as ’n agtergrond sodat die voëls dit nie sien nie. Die voëls kry nie seer nie, en wanneer hulle uit die net uitgehaal word, word ’n klein identifikasieringetjie, wat gewoonlik van monelmetaal gemaak is, om ’n been geknip.a Dit is ook ’n kuns om die voëls los te laat. Iemand wat voëls ring, gooi nooit voëls in die lug op soos ’n mens soms op televisie sien nie. Hy laat hulle eenvoudig gaan wanneer hulle wil. Windswaels sal byvoorbeeld aan jou wolklere vasklou en eers wegvlieg wanneer hulle gereed is.

“Dit was ’n interessante ondervinding waarvoor ek ses weke verlof moes vra—en ek het my werk as gevolg daarvan verloor! Ek het gevolglik besluit om die verandering te maak en die werk te doen wat ek nog altyd wou doen—natuurbewaring, veral voëls. Ek was verheug toe die RSPB my in 1967 genooi het om by hulle aan te sluit.”

Die waarde van voëlgesang en -roepe

Hoe identifiseer jy ’n voël? Partykeer deur hom te sien, maar om dit te doen deur middel van die sang, of voëlroep, is betroubaarder. Jeremy is beroemd vir sy vaardigheid op hierdie gebied. Natuurkenner David Tomlinson het met bewondering geskryf dat Jeremy “voëls nie net aan hulle sang identifiseer nie, maar ek is heilig oortuig daarvan dat hy hulle kan uitken aan die manier waarop hulle tussen note deur lug intrek!”

“Voëls gesels”, het Jeremy verduidelik. “Elke roep beteken iets anders. Wanneer daar byvoorbeeld ’n roofdier in die omtrek is, het die bontelsies, die kiewiete, die meeue en die rooipootruiters almal hulle eie besondere roep, maar elke roep beteken dieselfde ding: ‘Daar’s ’n jakkals in die omtrek!’ Ek kan uit ’n diep slaap wakker word en onmiddellik weet waar ’n jakkals is na aanleiding van die soort voël wat roep. Maar moenie vergeet dat jakkalse ook ’n uitstekende gehoor het nie. Ons het gewonder waarom die seeswaels een jaar nie suksesvol gebroei het nie en uitgevind dat ’n jakkals na die kuikens geluister het wat binne die eierdoppe roep net voor hulle uitbroei. Sodra hy hulle opgespoor het, het hy hulle geëet!”

Die kuns van voëlkykery

’n Goeie voëlkyker in Brittanje kan tot 220 verskillende spesies in ’n jaar opteken. Ywerige voëlkykers, wat meeding om seldsame voëls op te teken, kan tot 320 identifiseer. Die nuus dat een gesien is, sal hulle regoor die land laat reis om self te gaan kyk. Jeremy was nie so bekommerd daaroor nie. “Ek sal nie meer as tien myl [16 km] ry om ’n seldsame spesie te sien nie”, het hy erken. “Trouens, ek het nog net gereis om drie te gaan sien: ’n neutekraker, ’n gevlekte ruitertjie en ’n Europese gompou, en almal binne tien myl [16 km]. Hoewel ek 500 spesies nogal goed ken, besef ek dat ek maar nog bitter min ken. Besef jy dat daar ongeveer 9000 voëlspesies regoor die wêreld is!”

Terwyl ons ons verkykers op die moerasse gerig het, het Jeremy, amper weemoedig, bygevoeg: “Ek kon nie ’n gelukkiger of produktiewer lewe gehad het nie, veral my 16 jaar by Minsmere!” Ek het na hom gekyk en gedink aan die artikel wat pas in The Times, ’n Londense koerant, verskyn het. Dit het gesê: “Minsmere was sy [Jeremy se] grootste prestasie, sy lewenstaak.” Jeremy het besluit om Minsmere te verlaat. Waarom?

Saadjies en groei

Vroeër in die dag het ons die uitsonderlike paringsdans van die bontelsies gesien. “Die loutere prag daarvan”, het Jeremy beklemtoon, “kan nie in terme van die een of ander evolusionêre oorlewing gesien word nie. Maar ek onthou dat ek ’n paar jaar gelede, toe ek gevra is of ek glo dat daar ’n God is, erken het: ‘Ek het geen idee nie—en ek weet nie hoe om uit te vind nie!’ Toe ek dus aangemoedig is om die Bybel te ondersoek, het ek geredelik ingestem. Ek het min daarvan geweet en gemeen dat dit my nie skade kon doen nie—en miskien selfs tot my voordeel kon wees. Nou, as gevolg van wat ek geleer het, verlaat ek Minsmere om ’n voltydse bedienaar te word.”

Michael, Jeremy se broer, is al tien jaar lank ’n “pionier”, die term wat Jehovah se Getuies gebruik om hulle voltydse evangeliedienaars te beskryf. Terwyl ons ons tee gesit en drink het, het Jeremy begin vertel van sy planne om by sy broer aan te sluit. “Al my kollegas respekteer die besluit wat ek geneem het”, het Jeremy verduidelik. “Die RSPB is belangstellend en besorg. Hulle het my hulle volle ondersteuning gegee en het my selfs aanbeveel vir ’n nasionale merietetoekenning.”

Maar ek het geweet dat daar wel ook kritiek was.

Die belangrikheid van balans

“Die meeste mense het my ondersteun, maar ongelukkig het ander blykbaar die verkeerde beskouing van my werk hier”, het Jeremy gesê. “Na hulle mening is die grootste beskerming vir jou geestelikheid die feit dat jy na aan die natuur kan wees, na die wild kan omsien—jou vir bewaring kan beywer. Hulle sê vir my dat dit die naaste is wat jy aan die paradys kan kom, waarom wil jy dus weggaan?

“Die werk het weliswaar ’n geestelike aspek, maar dit kan nie met geestelikheid gelykgestel word nie. Geestelikheid is ’n persoonlike besitting, ’n eienskap wat tyd neem om aan te kweek. Dit behels assosiasie met en besorgdheid oor die Christengemeente, dat jy opbou en opgebou word. Partykeer het ek gevoel dat ek probeer doen wat Jesus gesê het ons nie kan doen nie—om twee here te dien. Ek besef nou dat die veiligste plek reg in die middel van die Christengemeente is, en die manier om daar te kom, is om pionierdiens te doen!”

Balans ten opsigte van prioriteite

“Moenie my verkeerd verstaan nie. Om ’n bewaarder te wees, is ’n fassinerende en lonende ondervinding, selfs al is dit soms frustrerend. Besoedeling deur PCB en kwik in hierdie habitat het byvoorbeeld kommerwekkende vlakke bereik—en ons weet nie werklik waarom nie, hoewel ons vermoed dat dit deur palings ingebring word.b Maar ek kan nie veel doen om die balans te herstel nie. Daar is nie so iemand soos ’n deskundige ekoloog nie. Ons almal tas rond en doen ons bes om te leer. Ons het leiding nodig. Net ons Skepper weet hoe ons moet leef en na die aarde en die groot verskeidenheid lewe daarop moet omsien.”

Jeremy het sy gevoelens stilweg opgesom: “Ek het nie my lewe aan Jehovah toegewy om die natuurlewe te red nie; hy is heeltemal bevoeg om dit self te kan doen. Deur middel van sy Koninkryk sal hy sorg dat die natuurlewe tot in ewigheid deur ons beheer word op die manier wat hy wil hê dit gedoen moet word. Die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk moet nou my prioriteit wees as ek my verantwoordelikheid wil nakom om oor my medemens besorg te wees.”

Ek het Jeremy weer onlangs ontmoet. Dit is drie jaar sedert ons daardie gelukkige dag saam op die reservaat deurgebring het. Hy woon nou agt kilometer van sy geliefde Minsmere af en geniet die pionierdiens saam met sy broer. Maar hy het vir my gesê party mense sê dat hulle nog steeds sukkel om hom te verstaan. Wat van jou? Vir Jeremy was dit eenvoudig ’n geval van prioriteite.

[Voetnote]

a Monelmetaal is ’n nikkelkoperallooimetaal wat baie buigbaar is en nie roes nie.

b PCB is polichloorbifeniel, ’n nywerheidsafvalproduk.

[Venster/Prent op bladsy 17]

Betowerende sang

Net 1 uit 10 mense sal die nagtegaal sien wat hulle hoor, maar as hulle eers die lied gehoor het, is dit onvergeetlik. “Dit is suiwer musiek, ’n volmaakte en voltooide ding”, het Simon Jenkins in The Times van Londen gesê. Die voël sing dikwels onophoudelik—daar is opgeteken dat een vyf uur en 25 minute lank gesing het. Wat maak die lied uniek? Die nagtegaal se larinks kan vier verskillende note terselfdertyd voortbring, waaronder akkoorde wat in musikale opsig volmaak is. En hy kan dit doen met sy mond toe of met sy mond vol kos vir sy kleintjies. Waarom sing hy so hartstogtelik? Vir die loutere vreugde daarvan, sê sommige waarnemers. “Is daar in die hele natuur ’n wonderliker skepping as die larinks van ’n nagtegaal?” sluit Jenkins af.

[Erkenning]

Roger Wilmshurst/RSPB

[Prent op bladsy 15]

Die Scrape

[Erkenning]

Met vergunning van Geoff Welch

[Prent op bladsy 16]

Swartkopmeeu

[Erkenning]

Met vergunning van Hilary & Geoff Welch

[Prent op bladsy 16]

Bontelsie

[Prent op bladsy 18]

Sandwich-seeswael

[Prent op bladsy 18]

Rooipootruiter

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel