Ons beskou die wêreld
‘Vermiste’ vroue
“In daardie gemeenskappe waar vroue regverdig behandel word wat gesondheid betref, is daar 106 vroue vir elke 100 mans. Dít is ’n biologiese feit”, sê The Courier, ’n tydskrif wat deur die Europese Unie uitgegee word. Maar VN-studies wys ook op ’n ander feit: In Asiatiese lande soos China, Indië, die Republiek Korea en Pakistan is daar gemiddeld net 94 vroue vir elke 100 mans. Waarom? “Wetenskaplike vooruitgang het dit moontlik gemaak om op ’n vroeë stadium die geslag van die fetus vas te stel” en het die “onreëlmatighede in die verhouding tussen vroulike en manlike geboortes” verhoog, verduidelik The Courier. In die Republiek Korea is daar in 1982 byvoorbeeld 94 meisies vir elke 100 seuns gebore, maar in 1989 het daardie verhouding na 88 vir elke 100 gedaal. Die VN-publikasie Our Planet voeg by: “Die statistiek is skokkend: 100 miljoen Asiatiese vroue word ‘vermis’ vanweë kindermoord op dogtertjies en die aborsie van vroulike fetusse.”
Wapens of ontwikkeling?
Vierhonderd rand kan óf een AK47-geweer óf genoeg vitamien A-kapsules koop om te voorkom dat 3000 eenjariges blind word. Vierhonderdmiljoen rand kan óf tienmiljoen landmyne óf genoeg immuniseringstowwe koop om 7,7 miljoen kinders teen ses dodelike kindersiektes te beskerm. Driemiljard rand kan óf 23 F16-vegvliegtuie koop óf sout tien jaar lank laat jodeer, wat 1,6 miljard mense sal beskerm teen jodiumtekortsiektes, soos verstandelike vertraging. Ongeveer 9,3 miljard rand sal óf een kernduikboot koop óf water en sanitêre geriewe aan 48 miljoen mense voorsien. Wat is vir die wêreld die belangrikste? Volgens The State of the World’s Children 1996 het wapenverkope aan ontwikkelende lande in 1994 alleen R98,1 miljard beloop, geld wat hulle eerder aan ontwikkelingspogings kon bestee het.
Gevaar van Amerikaanse elande wat paaie oorsteek
Waarom steek ’n eland die pad oor? Hierdie vraag is beslis geen grap vir Newfoundland se bioloë in natuurlewe of vir plaaslike voertuigbestuurders en die duisende toeriste wat die provinsie se hoofweë gebruik nie. “Amerikaanse elande is by sowat 300 motorongelukke per jaar op Newfoundland se hoofweë betrokke, waarvan verskeie die dood van bestuurders veroorsaak”, sê die koerant The Globe and Mail. “’n Eland met ’n gewig van tot 450 kilogram kan soos ’n rotsblok op die dak van ’n motor neerstort en doodmaak of vermink.” Die blote vermindering van die grootte van die huidige elandbevolking van 150 000 op die eiland sal dalk nie help nie, want in ’n hele paar gebiede waar daar min Amerikaanse elande is, is daar baie ongelukke, sê Shane Mahoney van die Nasionale Departement van Hulpbronne. Deur die bewegings van die kuddes te ontleed, hoop wetenskaplikes om vas te stel waarom Amerikaanse elande, wat van nature vir verkeer skrik, besluit om die pad oor te steek.
Nauru se verknorsing
Nauru, die kleinste en mees afgeleë republiek in die wêreld, was eens bekend vir sy tropiese natuurskoon. Europese seevaarders wat in die 18de eeu die eiland van 20 vierkante kilometer vir die eerste keer gesien het, het dit Pleasant-eiland genoem. Maar nou is net ’n smal kusstrook bewoonbaar, en Nauru het “die land op aarde [geword] waarvan die omgewing die meeste verniel is”, sê The New York Times. Waarom? Stroopmynbou. Fosfate, die produk van voëlmis oor duisende jare en mikro-organismes in die see, word al 90 jaar lank ontgin en “laat ’n gaterige, aaklige maanlandskap van grys kalksteentorinkies agter, waarvan sommige tot 75 voet [22 m] hoog is”. Die hitte wat opstyg uit die vier vyfdes van die eiland wat reeds ontgin is, het ook die weer beïnvloed deur reënwolke weg te dryf en die land met droogte te teister. Na verwagting sal die laaste fosfaatneerslae binne vyf jaar ontgin wees. Baie Nauruane meen dat die enigste uitweg is om Nauru te verlaat en hulle rykdom te gebruik om ’n nuwe eilandtuiste te koop waarheen hulle kan verhuis.
Guinee-wurmsiekte word oorwin
“Naas pokke lyk dit asof die guinee-wurm die tweede mensesiekte is wat uitgeroei sal word”, sê The Economist. “Die aantal aangemelde gevalle, wat selfs nog in 1989 bykans 900 000 wêreldwyd was, het verlede jaar tot 163 000 gedaal en verminder elke jaar met die helfte in die meeste lande.” Soedan is ’n uitsondering, wat “bewys dat oorlog en siekte hand aan hand gaan”. Die guinee-wurm, ’n waterverspreide parasiet wat in ’n mikroskopiese larwe ontstaan, is reeds in Sentraal-Asië, Pakistan en etlike Afrikalande uitgeroei. Instansies het dit in bedwang gebring deur ’n chemikalie te gebruik wat water suiwer, mense te leer om hulle drinkwater deur ’n doek te filtreer en te voorkom dat besmette mense in drinkwaterbronne was of daardeur loop. As die wurms ingeneem word, sterf die mannetjies ná paring en die wyfies kan tot ’n meter lank word voordat hulle ná etlike weke stadigaan te voorskyn kom in pynlike blase op ’n slagoffer se been, en somtyds word die spiere hierdeur verlam of beskadig.
Die oordeelsdaghorlosie word aangeskuif
Die welbekende oordeelsdaghorlosie op die voorblad van The Bulletin of the Atomic Scientists se wyser is onlangs drie minute nader aan middernag geskuif. Die horlosie dui op simboliese wyse aan hoe naby die wêreld aan ’n kernoorlog is. Sedert die instelling daarvan in 1947 is die horlosie 16 keer gestel na aanleiding van veranderende wêreldaangeleenthede. Die naaste wat dit ooit aan ‘kernmiddernag’ gekom het—twee minute—was in 1953 nadat die Verenigde State die eerste waterstofbom laat ontplof het. Die vorige verandering was in 1991 toe dit vanweë optimisme ná die Koue Oorlog agtertoe geskuif is tot 17 minute voor middernag. Die feit dat die horlosie tot 14 minute voor aangeskuif is, weerspieël toenemende besorgdheid oor die toename in wêreldspanning, die onveiligheid van kernopslagplekke en die bedreiging van kernterrorisme. “Die wêreld is nog steeds ’n baie gevaarlike plek”, het Leonard Rieser, die voorsitter van The Bulletin, gesê.
Pasgebore babas word weggegooi
In Italië kan ’n moeder wettiglik weier om haar pasgebore baba te aanvaar en die verantwoordelikheid op die kinderwelsyn afskuif om ’n paartjie te vind wat gewillig is om die kind aan te neem. Nogtans is tot 600 kinders in 1995 by geboorte weggegooi, “baie in vuilgoedblikke, ander naby kerke of sentrums vir gesondheidsorg”, sê die Italiaanse koerant La Repubblica. Hierdie verskynsel vind in die mees geïndustrialiseerde en welvarendste gebiede van die land plaas sowel as in die armste en mins ontwikkelde gebiede. Volgens Vera Slepoj, president van die Italiaanse Psigologie-vereniging, is dit ’n “waarskuwingsein van ’n gevoel van doodsheid” wat die gemeenskap deurdring het.
Dors is nie genoeg nie
“As iemand wag tot hy dors is, sal hy nie genoeg drink nie”, sê dr. Mark Davis, ’n professor in fisiologie. Baie mense bly effens ontwater, aangesien ’n mens dors word nadat die liggaamsvog reeds ’n laagtepunt bereik het. En hoe ouer mense word, hoe minder voel hulle dors. Soos in The New York Times berig word, het ons meer water nodig wanneer dit warm of baie koud en droog is, wanneer ons oefeninge doen of op dieet is en wanneer ons enige siekte het wat met toestande soos diarree, koors en vomering gepaardgaan, wat veroorsaak dat ons vog verloor. Diegene op veselryke diëte het ook meer vloeistowwe nodig om die vesel deur die ingewande te laat beweeg. Hoewel vrugte en groente miskien hoë persentasies water bevat, word die meeste van ons vloeistofbehoeftes bevredig deur te drink. Water is die beste, aangesien dit vinnig deur die liggaam opgeneem word. Hoe soeter ’n vloeistof is, hoe stadiger word dit opgeneem. Koeldrank kan jou in werklikheid dorser maak, want vloeistof is nodig om die suiker te verteer. Aangesien kafeïen en alkohol urineermiddels is, kan dit tot waterverlies lei as ’n mens daarop staatmaak om vloeistof in te kry. “Volwassenes moet ten minste agt glase water van agt onse [240 ml] elk per dag drink”, sê die Times.
Welbekende Egiptiese grafkelder word oopgestel
Die grafkelder van Nefertari in Luxor se Vallei van die Koninginne, wat baie jare lank gesluit was, is gerestoureer en weer vir die publiek oopgestel. “‘Hierdie grafkelder is waarlik die fassinerendste in die westelike oewer van Luxor of selfs in die hele Egipte’, het Mohammed el-Soghayer, die hoof van die Luxor-tak van die Opperste Raad vir Oudhede, gesê. ‘Dit is klaarblyklik geskep deur die vaardigste kunstenaars in die tyd van Ramses II, wat hierdie koninklike monument laat bou het weens sy groot liefde vir Nefertari. Hy wou gehad het dat sy die allerbeste grafkelder moes hê.’” Maar die 430 vierkante meter van kleurvolle en delikate skilderstukke is feitlik vernietig deur oorstromings, modder en deurdringende soutkristalle. In 1986, ná jare van beraadslaging, het ’n internasionale span met die moeisame taak begin om die muurkunsfragmente aanmekaar te sit met behulp van foto’s wat geneem is deur die Italiaanse Egiptoloog Ernesto Schiaparelli, wat die grafkelder ontdek het. Die aantal besoekers word egter beperk weens besorgdheid oor vog. Nefertari is ook deur Ramses II vereer toe hy een van die tempels by Aboe Simbel aan haar toegewy het.