’n Delikate dog geharde reisiger
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA
Kunstenaars skilder hulle en digters skryf oor hulle. Talle soorte leef in tropiese reënwoude. Baie leef in boslande, in velde en op grasvlaktes. Sommige trotseer die koue van bergtoppe; ander weer die hitte van woestyne. Hulle is al beskryf as van die allermooiste insekte.
JY KEN ongetwyfeld hierdie fyn en bekoorlike skepseltjie—die vlinder. Maar een soort vlinder het regoor die wêreld bekend geword vir sy verstommende prestasies wat reistogte betref. Hierdie delikate dog geharde reisiger is die koningvlinder. Kom ons beskou hierdie skeppingsjuweel en sy ongelooflike migrasies van naderby.
Delikate skeppingsjuweel
Stel jou voor dat jy op ’n warm, sonnige dag in ’n grasland is. Hou jou oë gevestig op daardie bekoorlike gevleuelde wonders wat hier en daar tussen die veldblomme fladder in hulle eindelose soeke na iets om te eet en te drink. Staan doodstil met jou arm uitgestrek. Een kom al hoe nader. O, hy gaan op jou arm kom sit! Let op hoe saggies hy land.
Beskou hom nou van naderby. Kyk na die twee paar poeieragtige, delikate, oranjekleurige vlerke, met hulle swart patroon en pragtig ontwerpte rande. Daar is al gesê dat die koningvlinder benoem is deur die Engelse setlaars in Amerika wat hom met hulle koning, Willem van Oranje, in verband gebring het. Hierdie vlinder is inderdaad ’n “koning”. Maar hierdie delikate pragstuk, wat net ’n halwe gram weeg en ’n vlerkspan van agt tot tien sentimeter het, kan lang, moeilike reise onderneem.
Indrukwekkende vlugte
Hoewel daar gesê word dat party vlinders oor groter afstande migreer wanneer die winter begin, is dit net die koningvlinder wat sulke lang reise met presiese bestemmings en in sulke groot getalle onderneem. Die migrasie van die koningvlinder is waarlik ’n verskynsel eie aan vlinders. Beskou sommige van die indrukwekkende prestasies van hierdie geharde reisigers.
Hulle vlieg in die herfs van Kanada af na Kalifornië of na Mexiko waar hulle oorwinter—oor die 3200 kilometer ver. Hulle vlieg oor groot mere, riviere, vlaktes en berge. Miljoene van hulle migreer met welslae na ’n bestemming hoog in die Sierra Madreberge van sentrale Mexiko.
Sulke vlugte is nog verbasender wanneer jy in ag neem dat die jong vlinders nooit tevore hierdie vlug onderneem het nie en ook nie die plekke gesien het waar hulle oorwinter nie. Maar hulle weet presies in watter rigting om te vlieg en weet wanneer hulle by hulle winterhabitat aankom. Hoe doen hulle dit?
Die Canadian Geographic sê: “Dit is duidelik dat daar die een of ander gesofistikeerde genetiese program in hulle klein breintjies is, dalk ’n manier om die hoek te lees wat deur sonstrale gevorm word, soos bye doen, of die aarde se magnetiese veld, waardeur voëls glo gelei word. ’n Vermoë om ’n spesifieke temperatuur en vogtigheid te bespeur, kan aan die einde help. Maar tot dusver kon die wetenskap nie die antwoorde vind nie.” Soos die skepsele wat in die Bybelboek Spreuke genoem word, ‘is hulle instinktief wys’.—Spreuke 30:24, NW.
Die koningvlinders kan ook meesterlik vlieg. Hulle dryf in die lug teen ongeveer 12 kilometer per uur, sweef teen ongeveer 18 kilometer per uur en—soos enigiemand weet wat al een probeer vang het—hulle vlieg selfs vinniger weg, teen ongeveer 35 kilometer per uur. Hulle is uiters bedrewe daarin om die winde te benut—hulle vlieg selfs sigsagsgewys teen die heersende westewinde om in ’n suidwestelike rigting na hulle bestemming te beweeg. Deur ingewikkelde vlugstrategieë te gebruik, is hulle opgewasse teen veranderinge in die windspoed en -rigting. Op byna dieselfde wyse as sweefvlieërs en valke dryf hulle op warm stygwinde. Volgens een bron vlieg koningvlinders oor die algemeen tot 200 kilometer ver per dag. Hulle vlieg net in die daglig. Snags rus hulle, dikwels op presies dieselfde plek elke jaar.
Wetenskaplike David Gibo van die Universiteit van Toronto het vasgestel dat die koningvlinder nie net nou en dan dryf of sweef nie. Hy berig: “Die vlinders moet die wind op maniere gebruik wat na my mening baie vindingryker is as dié van trekganse.” Die roetine van vlerke klap, sweef en eet, stel die koningvlinders in staat om in Mexiko aan te kom met genoeg vet om hulle deur die winter te hou en om hulle vlug in die lente terug na die noorde te begin. Professor Gibo sê ook: “Deur te sweef, kan hulle die lang reis voltooi en aan die einde daarvan fiks en gesond wees.”
Hulle trek in groot getalle
Dit is lank reeds bekend dat koningvlinders wat wes van die Rotsgebergte leef na die suide migreer en in Kalifornië oorwinter. Hulle kan in plekke al langs die suidelike kus van Kalifornië gesien word waar hulle in groot swerms in denne- en bloekombome hang. Maar die gebied waarheen die groot getalle koningvlinders in die ooste van Kanada migreer, was ’n tyd lank ’n raaisel.
In 1976 is hierdie raaisel opgelos. Die gebied waar hulle oorwinter, is uiteindelik gevind—’n bosryke kruin in die Sierra Madreberge van Mexiko. Miljoene der miljoene vlinders is gevind waar hulle dig saamgepak was op die takke en stamme van hoë, grysgroen dennebome. Hierdie indrukwekkende gesig bly iets wat besoekers bekoor en aantrek.
Een van die beste plekke in Kanada om die koningvlinders byeen te sien, is by die Point Pelee- Nasionale Park, Ontario, waar hulle swerms vorm ter voorbereiding vir hulle migrasie na die suide. In die nasomer kom hulle by hierdie suidelike punt in Kanada bymekaar en wag hulle op die noordelike oewer van die Eriemeer totdat die winde en temperatuur gunstig is voordat hulle hulle reis suidwaarts begin na die plekke in Mexiko waar hulle oorwinter.
Bestemmings
Van Point Pelee af trek hulle van eiland tot eiland oor die Eriemeer om die lang reis oor die Verenigde State te begin. Onderweg sluit ander groepe koningvlinders by hulle aan vir die migrasie. Hoog in die berge noordwes van Mexikostad kom ’n geraamde honderdmiljoen byeen om die winter deur te bring.
Ander migrasies is deur Florida en oor die Karibiese See, en hulle kan bestemmings bereik wat nog ontdek moet word in die Yucatanskiereiland of in Guatemala. Hetsy in Mexiko of in hulle ander winterskuilplekke, die koningvlinders versamel in ’n paar redelik klein gedeeltes van ’n bergwoud.
’n Mens sou miskien dink dat hulle lang vlug na hulle wintertuiste hulle na ’n vakansieland met warm, sonnige grasvelde sal neem. Maar dit is nie die geval nie. Die Transvulkaniese Reeks van Mexiko, waarheen hulle gaan, is koud. Die klimaat wat die bergpieke voorsien, is egter net reg vir hulle oorwintering. Dit is koud genoeg sodat hulle hulle tyd in feitlik volkome onbedrywigheid deurbring—sodoende verleng hulle hulle lewensduur tot agt of tien maande, wat dit moontlik maak om na Mexiko te vlieg, daar te oorwinter en die vlug terug te begin. ’n Mens kan sê dat dit ’n soort vakansie is.
Lente breek aan, en die koningvlinders begin weer bedrywig word. Namate die dae langer word, dartel die vlinders in die sonlig, begin hulle paar en begin hulle hulle vlug terug na die noorde. Party voltooi glo die hele terugreis, maar dit is gewoonlik net die nageslag wat in die somergebiede in Kanada en die noordelike Verenigde State aankom. Drie of vier geslagte van eiers, ruspes, papies en vlinders beweeg geleidelik weer al met die kontinent op. Die wyfie—wat honderd of meer bevrugte eiers dra—fladder deur die lappe veldblomme en lê haar eiers een op ’n slag op die onderkant van jong, sagte melkbosblare. En so hou die kringloop aan, en die reis na die koningvlinder se somertuiste gaan voort.
Die koningvlinder is inderdaad ’n fassinerende skepseltjie. Watter voorreg het mense tog om sy bedrywighede dop te hou en te bestudeer. Dit is egter nie verbasend nie dat die gebied waar die koningvlinder in Mexiko oorwinter en wat lank ’n geheim was, sowel as sy bestemmings in Kalifornië, deur menseondernemings bedreig word. Om te veronderstel dat hierdie delikate pragstukke van die skepping ander plekke het waarheen hulle kan gaan, kan tot hulle uitsterwing lei. Dit is prysenswaardig dat pogings aangewend word om hulle teen so ’n uiteinde te beskerm. Hoe wonderlik sal dit tog wees wanneer hierdie delikate dog geharde reisigers verseker sal wees van ’n veilige hawe in die Skepper se beloofde Paradysaarde wat nou op hande is!
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Vlinder: Parks Canada/J. N. Flynn
[Foto-erkennings op bladsy 17]
Bladsy 16 bo en onder: Parks Canada/J. N. Flynn; middel: Parks Canada/D. A. Wilkes; bladsy 17 bo: Parks Canada/J. N. Flynn; middel en onder: Parks Canada/J. R. Graham