Die radio—’n Uitvindsel wat die wêreld verander het
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
’NGEWEERSKOOT het deur die stil Italiaanse platteland weerklink. Dit was vir Guglielmo Marconi ’n teken dat die elementêre toerusting wat hy gebruik het, werk. Elektromagnetiese golwe wat deur ’n sender voortgebring en in die ruimte gestuur is, is 2,5 kilometer verder deur ’n ontvangtoestel opgevang. Dit was 1895. Hoewel niemand destyds ten volle begryp het wat al die implikasies sou wees nie, het daardie geweerskoot die weg gebaan vir ’n tegnologie wat sedertdien ’n omwenteling in ons wêreld teweeggebring het—radiokommunikasie.
Die aard van elektromagnetiese golwe is op daardie stadium reeds deur etlike wetenskaplikes bestudeer. In 1831 het die Engelse fisikus Michael Faraday bewys dat ’n elektriese stroom ’n magneetveld kon veroorsaak en ’n stroom in ’n tweede stroombaan kon laat ontstaan wat van die eerste geïsoleer is, maar wat daar naby geplaas is. In 1864 het die Skotse fisikus James Maxwell die teorie gehad dat die energie wat deur hierdie velde opgewek word in golwe uitgestuur kon word—soos die golwings op die oppervlak van ’n dammetjie—maar teen die snelheid van lig. Later het die Duitse fisikus Heinrich Hertz die teorie van Maxwell bevestig deur elektromagnetiese golwe voort te bring en hulle op kort afstand waar te neem, soos Ernest Rutherford (later lord Rutherford) in Nieu-Seeland ook gedoen het. Maar deur die beskikbare toerusting aan te pas en te verbeter en deur sy eie primitiewe antenne daarby te voeg, het Marconi daarin geslaag om ’n telegrafiese sein oor ’n aansienlike afstand te stuur. Draadlose telegrafie was aan die kom!
In 1896 het die 21-jarige Marconi van Italië na Engeland verhuis waar hy William Preece, die hoofingenieur van die Hoofposkantoor, ontmoet het. Preece het daarin belanggestel om Marconi se stelsel te gebruik vir seekommunikasie tussen plekke wat nie deur kabels verbind kon word nie. Hy het Marconi die hulp van tegnici en die gebruik van laboratoriums vir sy proefnemings aangebied. Binne ’n paar maande het Marconi daarin geslaag om die sterkte van seine wat gestuur word tot ’n afstand van tien kilometer te versterk. In 1897 het Marconi die Wireless Telegraph and Signal Company, Ltd., gestig met die doel om draadlose telegrafie in ’n kommersieel lewensvatbare stelsel te verander.
In 1900 is ’n 300 kilometer lange radiotelegrafiese skakel tussen Cornwallis en die Eiland Wight in die suide van Engeland gemaak, wat bewys het wat eens as onmoontlik beskou is—dat die ontvangs van radiogolwe ondanks die aarde se kromming moontlik is. Die mening was dat seine nie verder as die horison ontvang kon word nie, aangesien elektromagnetiese golwe in reguit lyne beweeg.a Toe het die eerste noemenswaardige bestellings vir radio’s begin inkom. Die Britse Admiraliteit het die installering van radiostelle op 26 skepe sowel as die oprigting en instandhouding van ses stasies op land gemagtig. Die daaropvolgende jaar het Marconi daarin geslaag om ’n dowwe sein van drie tikgeluide, wat die letter S in Morsekode voorstel, oor die Atlantiese Oseaan te stuur. Die uitvindsel se toekoms was verseker.
Tegnologiese ontwikkeling
In die begin kon draadlose telegrafie nie woorde of musiek oorsein nie, maar net Morsekode. In 1904 is groot vooruitgang gemaak toe die diode uitgevind is, die eerste vakuumelektronbuis, wat die oorseining en ontvangs van stemme moontlik gemaak het. Dit het draadlose telegrafie verander na die radio soos ons dit vandag ken.
In die Verenigde State het Reginald Fessenden in 1906 musiek uitgesaai wat deur skepe 80 kilometer daarvandaan opgevang is. In 1910 het Lee De Forest ’n konsert wat deur die bekende Italiaanse tenoor Enrico Caruso aangebied is regstreeks tot voordeel van radioamateurs in New York uitgesaai. ’n Jaar tevore is seine om horlosies te stel vir die eerste keer van die Eiffeltoring in Parys, Frankryk, uitgestuur. Daardie selfde jaar, 1909, is die radio vir die eerste keer gebruik om oorlewendes te red van die stoomskepe Florida en Republic, wat in die Atlantiese Oseaan gebots het. Drie jaar later is meer as 700 oorlewendes van die Titanic-ramp ook gered, danksy ’n SOS wat deur middel van ’n radio gestuur is.
Reeds in 1916 is die moontlikheid van ’n radio in elke huis in die vooruitsig gestel. Die gebruik van buise het die vervaardiging van doeltreffende, goedkoop ontvangtoestelle moontlik gemaak en die weg gebaan vir die wydverspreide ontwikkeling van die radio vir kommersiële gebruik. Die groot aanvraag het eerste in die Verenigde State ontstaan, waar daar 8 stasies teen die einde van 1921 was en 564 teen 1 November 1922 gelisensieer was! In baie huise was die radio, afgesien van die elektriese lig, die eerste toestel wat aan die elektriese toevoer gekoppel is.
Binne twee jaar nadat gewone handelsuitsendings begin het, het die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, ook die radio gebruik om hulle boodskap uit te saai. In 1922 het J. F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, sy eerste toespraak oor die radio in Kalifornië gehou. Twee jaar later het WBBR, ’n stasie wat deur die Wagtoringgenootskap opgerig en besit is, van Staten-eiland, New York, begin uitsaai. Die Genootskap het uiteindelik gereël dat netwerke oor die hele wêreld die Bybelprogramme uitsaai. Teen 1933 het ’n rekordgetal van 408 stasies die boodskap van God se Koninkryk uitgedra.—Matteus 24:14.
In baie lande was die radiowese egter ’n staatsmonopolie. In Italië het Mussolini se regering die radio as ’n instrument van politieke propaganda beskou en het dit sy burgers verbied om na buitelandse uitsendings te luister. Die ontsaglike krag van die radio is in 1938 baie duidelik bewys. Gedurende die uitsending van ’n wetenskapsfiksieverhaal in die Verenigde State het Orson Welles paniek onder die bevolking gesaai toe party gedink het dat Marsbewoners in New Jersey geland het en ’n bose “warmtestraal” gebruik om almal wat hulle teëstaan dood te maak!
Honderd jaar van radio
In 1954 was dit die gunstelingtydverdryf van mense in Italië om na die radio te luister. Ondanks die televisie se sukses is die radio steeds baie gewild. In die meeste Europese lande luister 50 tot 70 persent van die bevolking na die radio vir inligting of vermaak. Na raming is daar in die Verenigde State ’n radio in 95 persent van die voertuie, 80 persent van die slaapkamers en meer as 50 persent van die kombuise.
Een rede vir die radio se gewildheid, selfs in die eeu van televisie, is die feit dat dit draagbaar is. Bowendien besit die radio, volgens ’n opname, ’n “krag van emosionele en verbeeldingsbetrokkenheid wat ver bo televisie verhewe is”.
Gedurende 1995 het feeste in Italië ter viering van die honderdjarige bestaan van Marconi se eksperiment mense die geleentheid gebied om na te dink oor die vooruitgang wat die radio gemaak het. Talle wetenskaplikes het ’n bydrae gelewer tot die gedaantewisseling van die eerste primitiewe toestelle tot die gevorderde stelsels van vandag. Nou, danksy digitale oudio-uitsending, wat ’n stelsel van numeriese kodifikasie van die sein is, kan ’n mens van uitstekende klankgehalte verseker wees. Maar bo en behalwe die tallose alledaagse gebruike van die radio was die uitvindsel die beginpunt vir TV, radar en verskeie ander tegnologiese ontwikkelings.
Radiosterrekunde is byvoorbeeld gegrond op die ontvangs en ontleding van radiogolwe wat deur hemelliggame uitgestraal word. Sonder die radio sou die ontwikkeling van ruimtetegnologie onmoontlik gewees het. Alle satellietaanwendings—televisie, telefoon, die insameling van data—hang van die gebruik van radiogolwe af. Die tegnologiese ontwikkeling van transistors tot mikroskyfies het eers aanleiding gegee tot sakrekenaars en rekenaars en later tot internasionale inligtingsnetwerke.
Mobiele telefone wat in staat is om enige, of feitlik enige, twee plekke op die aarde te verbind, is reeds ’n werklikheid. Die verskyning van handgrootte draadlose ontvangtoestelle—’n kombinasie van TV, telefoon, rekenaar en faks—word nou in die vooruitsig gestel. Hierdie ontvangtoestelle sal op honderde video-, oudio- en inligtingskanale kan inskakel en gebruikers in staat stel om elektroniese boodskappe vir mekaar te stuur.
’n Mens kan nie seker wees wat die toekoms vir hierdie veld inhou nie. Maar radiotegnologie maak steeds vooruitgang; ander merkwaardige ontwikkelings is dus heel waarskynlik aan die kom.
[Voetnoot]
a Die verduideliking van die verskynsel het in 1902 gekom toe fisici Arthur Kennelly en Oliver Heaviside ’n teorie opgestel het oor die bestaan van ’n atmosferiese laag wat elektromagnetiese golwe weerkaats—die ionosfeer.
[Lokteks op bladsy 21]
Ondanks die sukses van televisie is die radio steeds baie gewild
[Foto-erkennings op bladsy 19]
Links en regs bo, links onder: “MUSEO della RADIO e della TELEVISIONE” RAI-TORINO; regs onder: NASA photo