Hoofstkuk 2
Waarom stry ons altyd?
In die scenario aan die begin van hierdie hoofstuk dra Rachel op drie maniere by tot ’n stryery. Kan jy die drie maniere identifiseer? Skryf jou antwoorde hieronder neer, en vergelyk dit dan met dié in die venster “Antwoorde” op bladsy 20.
․․․․․
Dit is Woensdagaand. Rachel, 17, is klaar met haar takies by die huis en is reg vir ’n welverdiende blaaskans—uiteindelik! Sy sit die TV aan en val in haar gunstelingstoel neer.
Juis op hierdie oomblik verskyn haar ma in die deur, en sy lyk glad nie gelukkig nie. “Rachel! Waarom mors jy jou tyd voor die TV wanneer jy veronderstel is om jou suster met haar huiswerk te help? Jy doen nooit wat ek sê nie!”
“Hier gaan ons al weer”, mompel Rachel, hard genoeg om gehoor te word.
Haar ma leun vorentoe. “Wat het jy gesê, juffroutjie?”
“Niks nie, Ma”, sug Rachel en rol haar oë.
Nou is haar ma regtig kwaad. “Jy praat nie so met my nie!” sê sy.
“Maar hoor net hoe praat Ma met my!” kap Rachel terug.
Haar blaaskans is verby . . . nog ’n stryery het begin.
KLINK die scenario hierbo bekend? Sit jy en jou ouers gedurig vas? Indien wel, neem ’n oomblik om die situasie te ontleed. Watter onderwerpe veroorsaak die meeste konflik? Maak ’n ✔ in die blokkies wat van toepassing is—of vul jou eie onderwerp in langs “Ander”.
□ Gesindheid
□ Takies by die huis
□ Kleredrag
□ Inkomtyd
□ Vermaak
□ Vriende
□ Teenoorgestelde geslag
□ Ander ․․․․․
Dit maak nie saak wat die onderwerp is nie, ’n stryery sal jou—en jou ouers—verskriklik laat voel. Jy kan natuurlik net op jou lippe byt en maak of jy saamstem met alles wat jou ouers sê. Maar verwag God dit van jou? Nee. Die Bybel sê wel vir jou: “Eer jou vader en jou moeder” (Efesiërs 6:2, 3). Maar dit spoor jou ook aan om jou “denkvermoë” te ontwikkel en dit te gebruik (Spreuke 1:1-4; Romeine 12:1). As jy dit doen, sal jy natuurlik sterk menings hê, waarvan party dalk van jou ouers s’n sal verskil. Maar in gesinne wat Bybelbeginsels toepas, kan ouers en jongmense op ’n vreedsame manier kommunikeer—selfs wanneer hulle nie saamstem nie.—Kolossense 3:13.
Hoe kan jy jou mening lug sonder om ’n gewone gesprek in ’n volslae oorlog te laat ontaard? Dit is maklik om te sê: “Dis my ouers se probleem. Dis mos hulle wat heeltyd aan my karring!” Maar dink ’n bietjie: Hoeveel beheer het jy oor ander, insluitende jou ouers? Die enigste persoon wat jy in werklikheid kan verander, is jouself. En die goeie nuus is: As jy jou deel doen om die spanning te verlig, sal jou ouers dalk meer geneig wees om kalm te bly en te luister wanneer jy iets wil sê.
Kom ons kyk nou wat jy kan doen om ’n einde te maak aan die stryery. Pas die volgende wenke toe, en jy sal jou ouers—en jouself—dalk verbaas met jou nuwe kommunikasievaardighede.
● Dink voordat jy antwoord. Moenie die eerste ding sê wat by jou opkom wanneer jy voel dat jy aangeval word nie. Jou ma sê dalk iets soos: “Hoekom het jy nie die skottelgoed gewas nie? Jy doen nooit wat ek sê nie!” ’n Impulsiewe antwoord is dalk: “Hoekom karring Ma so aan my?” Maar gebruik jou denkvermoë. Probeer ontleed watter gevoelens agter jou ma se woorde skuil. Stellings waarin woorde soos “altyd” en “nooit” gebruik word, moet gewoonlik nie letterlik opgeneem word nie. Maar dit dui wel op ’n onderliggende emosie. Wat kan dit wees?
Jou ma is moontlik gefrustreerd omdat sy voel dat sy meer as haar deel van die huiswerk moet doen. Dalk wil sy eenvoudig daarvan verseker word dat sy jou ondersteuning het. As dit die geval is, sal jy niks bereik met woorde soos: “Hoekom karring Ma so aan my?” nie—behalwe dat jy moontlik ’n stryery aan die gang sal sit! Waarom stel jy jou ma nie eerder gerus nie? Jy kan byvoorbeeld sê: “Ek kan sien dat Ma ontsteld is. Ek sal die skottelgoed sommer nou gaan was.” ’n Woordjie van waarskuwing: Moenie sarkasties wees nie. As jy met empatie antwoord, sal dit jou ma waarskynlik laat kalmeer, en sy sal jou moontlik vertel wat werklik die probleem is.a
Skryf hieronder iets neer wat jou pa of ma dalk sal sê wat jou sal ontstel—as jy toelaat dat dit gebeur.
․․․․․
Dink nou aan ’n empatieke antwoord wat toon dat jy die gevoelens agter die stelling in ag neem.
․․․․․
● Praat met respek. Michelle het uit ondervinding geleer dat die manier waarop sy met haar ma praat, belangrik is. “Dit maak nie saak wat die probleem is nie”, sê sy, “dit kom altyd daarop neer dat my ma nie van my stemtoon hou nie.” As dit dikwels met jou die geval is, moet jy leer om sag en stadig te praat, en moenie jou oë rol of op enige ander manier wys dat jy geïrriteerd is nie (Spreuke 30:17). As dit voel asof jy jou selfbeheersing gaan verloor, kan jy ’n kort, stille gebed doen (Nehemia 2:4). Jou doel is natuurlik nie om God te vra dat jou ouer moet ophou om aan jou te karring nie, maar dat jy jou selfbeheersing kan behou sodat jy nie olie op die vuur gooi nie.—Jakobus 1:26.
Skryf ’n paar dinge hieronder neer wat jy liewer nie moet sê of doen nie.
Jou woorde:
․․․․․
Jou gesigsuitdrukkings en lyftaal:
․․․․․
● Luister. Die Bybel sê: “Jy sal die verkeerde ding sê as jy te veel praat” (Spreuke 10:19, Contemporary English Version). Maak dus seker dat jy jou pa of ma kans gee om te praat en dat jy jou ouer jou onverdeelde aandag gee. Moenie jou ouer in die rede val om jou dade te regverdig nie. Luister net. Later, wanneer hulle klaar gepraat het, sal jy oorgenoeg geleentheid hê om vrae te vra of om jou siening te verduidelik. Maar as jy vasskop en nou jou sê wil sê, sal jy dinge moontlik net vererger. Selfs al wil jy nog iets sê, is dit op hierdie oomblik waarskynlik “’n tyd om stil te bly”.—Prediker 3:7.
● Wees bereid om verskoning te vra. Dit is altyd gepas om “Ek’s jammer” te sê vir enigiets wat jy gedoen het wat tot ’n konflik bygedra het (Romeine 14:19). Jy kan selfs sê dat jy jammer is dat daar wel ’n konflik is. As dit vir jou moeilik is om dit persoonlik te sê, kan jy jou gevoelens in ’n briefie probeer uitdruk. Doen dan selfs ’n bietjie meer as wat van jou verwag word deur enige gedrag te verander wat in die eerste plek tot die konflik bygedra het (Matteus 5:41). As ’n stryery byvoorbeeld ontstaan het omdat jy die een of ander takie afgeskeep het, kan jy jou ouers verras deur dit te doen. Sal dit nie beter wees om die takie af te handel, selfs al hou jy nie daarvan nie, as om die gevolge te dra wanneer jou ouers sien dat dit nog steeds nie gedoen is nie? (Matteus 21:28-31). Dink aan die voordele wat dit vir jou sal inhou as jy jou deel doen om die spanning tussen jou en jou ouers te verminder.
Selfs in suksesvolle gesinne is daar konflikte, maar hulle weet hoe om dit op ’n vreedsame manier op te los. Oefen die vaardighede wat in hierdie hoofstuk uiteengesit word, en jy sal vind dat jy selfs moeilike onderwerpe met jou ouers sal kan bespreek—sonder om te stry!
Voel jy dat jou ouers jou meer vryheid moet gee? Indien wel, wat kan jy doen?
[Voetnoot]
a Vir meer inligting, sien Deel 2, Hoofstuk 21.
SLEUTELTEKSTE
“Goeie mense dink voordat hulle antwoord.”—Spreuke 15:28, Today’s English Version.
WENK
Sit jou musiek af, sit jou boek of tydskrif neer en behou oogkontak wanneer jou ouers met jou praat.
HET JY GEWEET . . . ?
Dit sal die lewe vir jou makliker maak as jy konflikte probeer oplos of vermy. Trouens, die Bybel sê: “’n Man van liefderyke goedhartigheid doen goed aan sy eie siel.”—Spreuke 11:17.
AKSIEPLAN!
Die wenk in hierdie hoofstuk waaraan ek die meeste moet werk, is ․․․․․
Ek is vasbeslote om hierdie wenk te begin toepas vanaf (datum) ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Waarom dink party van jou portuurs dat dit belangrik is om ’n argument te kan wen?
● Waarom beskou Jehovah God ’n stryerige persoon as dwaas?—Spreuke 20:3.
● Watter voordele sal dit vir jou meebring as jy die spanning tussen jou en jou ouers verminder?
[Lokteks op bladsy 18]
My ma sê soms ‘Ek’s jammer’ en gee my ’n drukkie, en ek hou daarvan. En dan is die saak agter die rug. Ek probeer dit ook doen. Dit help baie om my trots te sluk en opreg te sê: ‘Ek’s jammer’, hoewel ek moet erken dat dit nie maklik is nie.’’—Lauren
[Venster op bladsy 20]
Antwoorde
1. Haar sarkasme (“Hier gaan ons al weer”) het haar ma net meer gefrustreer.
2. Deur haar gesigsuitdrukking (toe sy haar oë rol) het Rachel net moeilikheid gesoek.
3. Sy het teëgepraat (“Maar hoor net hoe praat Ma met my!”), en dit boemerang feitlik altyd.
[Prent op bladsy 19]
Om met een van jou ouers te stry, is soos om op ’n trapmeul te hardloop—jy sal baie energie gebruik, maar nêrens kom nie