Hulle bewerk die grond nog steeds met perde
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
IN HIERDIE eeu van gevorderde tegnologie is dit vir party miskien moeilik om te glo dat daar boere is wat hulle grond nog steeds met perde bewerk. Maar daar is plekke waar spanne sterk trekperde in plaas van trekkers gebruik word.
Plase wat met perde bewerk word, het weliswaar iets ongewoons geword. Maar daar is voordele verbonde aan die gebruik van perde.
Gebruik in landbou
Van vroeë tye af is perde al as pakdiere gebruik. Hulle word in die annale van die Sumeriërs, die Hetiete, die Egiptenaars en die Chinese genoem. Hulle het egter eeue lank ’n beperkte gebruik in landbou gehad. Dit was omdat osse glo goedkoper was om aan te hou en kos op die tafel kon wees wanneer hulle nie meer kon werk nie. Maar osse is stadiger as perde.
Teen die 19de eeu is perde merendeels gebruik om die grond in baie Westerse lande te bewerk. Een bron skryf dit gedeeltelik toe aan die “uitvinding van moderner plaastoerusting [wat] geskikter vir die vinnige, gelykmatige beweging van die perd [was] as vir die osse wat stadiger beweeg het”.
Mettertyd het rasse soos die Clydesdale in Skotland, die Suffolk Punch en die Shire in Engeland asook die Percheron hoofsaaklik in Frankryk ’n plek in die landbou gekry. Hierdie stadige dog kragtige perde is met ligter perde gekruis om ’n perd te teel wat ’n bietjie minder krag maar meer spoed gehad het. Hierdie spesiaal geteelde diere is trekperde genoem, wat verwys na hulle vermoë om swaar vragte te trek.
Die perd teenoor die trekker
Daar bestaan natuurlik geen perd met die trekkrag van ’n hedendaagse trekker nie. Maar jy sal dalk verbaas wees om te hoor hoeveel krag perde wel het! In 1890 het twee Clydesdale-trekperde ’n volgelaaide wa getrek waarvan die remme vas was! En in 1924 het twee Engelse Shire-perde net so ’n merkwaardige prestasie behaal—hulle het ’n trekkrag van ongeveer 50 ton uitgeoefen!
Trekperde is ook intelligent en kan op hulle eie voortgaan. ’n Span perde wat byvoorbeeld ’n land ploeg, het bykans geen toesig nodig as daar ’n goeie ploegperd is nie. Die ploegperd sal die span lei en die ploegvoor heeldag lank volg. Daar word gemeen dat spanne buitengewoon reguit lyne kan ploeg omdat die perde oogklappe dra en nie agtertoe kan kyk nie, wat mense op ’n trekker dikwels geneig is om te doen.
Daarbenewens kan perde gedurende die oestyd veelsydiger as ’n trekker wees. Hulle vermoë om presies 90 grade te draai—en wanneer dit nodig is 180 grade—beteken dat daar nie ’n deel van die grond is wat hulle nie kan ploeg nie.
Spanne perde in aksie
’n Span perde wat op die bevele van hulle drywer reageer, is ’n indrukwekkende gesig. ’n Span word opgelei om met spesifieke bewegings op spesifieke bevele te reageer, hoewel die presiese taal en uitdrukkings na gelang van die drywer verskil. Die perde leer die woorde en stemtoon van ’n besondere drywer goed ken. ’n Kenmerkende fluit, tesame met woorde van aanmoediging van die drywer, kan die teken wees dat die perde moet begin beweeg.
In Australië word die perd aan die regterkant van die span (vanuit die drywer se gesigshoek) die haarperd genoem en die perd aan die linkerkant die hotperd. Hierdie benamings het waarskynlik ontstaan uit die manier waarop mense destyds hulle spanne hanteer het, deur gewoonlik aan die linkerkant te stap.
Hoe opwindend is dit tog om te sien hoe ’n span van tien perde ’n draai van 90 grade maak en op die bevele van die drywer reageer! Om links te draai, moet die hotperd klein treë agtertoe neem, terwyl die res van die span in ’n kwartsirkel om hom loop. Dan, as die draai na regs gemaak moet word, moet die haarperd klein treë agtertoe neem. In droër klimate is dit nogal ’n gesig om die span in ’n stofwolk te sien verdwyn en dan die massa perde weer te sien verskyn nadat die draai voltooi is!
Elke perd het ’n naam en reageer daarop volgens die stemtoon van die drywer. As een perd nie so hard werk nie, is dit gewoonlik net genoeg om sy naam op ’n skerp, vermanende toon uit te roep. Gedurende hulle vroeë opleiding moet die perde dikwels leer dat so ’n stemtoon met die klap van ’n lat of ’n sweep gepaardgaan. Maar sodra hulle daardie les geleer het, is strenger bestrawwing selde, indien ooit, nodig.
’n Tipiese werksdag
’n Boer sal moontlik so vyfuur die oggend opstaan om die perde voer te gee en sy eie ontbyt te nuttig terwyl die perde eet. Die perde leer om baie te drink voordat die dag se werk begin, omdat hulle voor middagete niks anders sal kry om te drink nie. Elke perd word afgeborsel voordat hy ingespan word. Dit voorkom velirritasies en verskaf ’n aangename sensasie. Gewoonlik drom die perde saam en wag hulle hulle beurt geduldig af. Daarna word hulle onder ’n juk ingespan. Dit alles kan tot ’n uur of langer duur, na gelang van die grootte van die span. Voersakke word ook vir die perde se middagmaal voorberei. Die drywer is op stuk van sake nie die enigste wat ’n etenspouse verdien nie!
Die span werk agt of tien uur sonder om te kla, en as die halsbande en toerusting mooi pas, sal die perde die dag se werk sonder seer, geskaafde skowwe voltooi. Teen die aand se kant is mens en dier bly om koers te kan vat huis toe om rustig te eet, genoeg te drink en goed uit te rus.
Diegene wat hulle grond nog steeds met perde bewerk, sal moontlik gou sê dat dit baie genotvoller is as om heeldag lank na die geraas van masjiene te luister. Die rustigheid laat ’n boer deel voel van die grond. Hy kan die skepping om hom makliker waarneem—die geluid van voëls wat rondkrap terwyl hulle in die pas omgedolwe grond in die ploegvore rondsoek; die reuk van klam gras; die gekraak van die ryp wanneer die ploeg op ’n koue oggend deur die ysige aarde sny—klein dingetjies wat geneig is om ongemerk verby te gaan wanneer die boer heeltyd na die geraas van ’n trekker moet luister.
Dit is wel so dat trekkers 24 uur per dag kan werk, iets wat perde nie kan doen nie. Dit is ook waar dat trekkers meer grond kan bewerk en minder instandhouding nodig het. Maar geen trekker het al ooit ’n oulike kleintjie voortgebring nie, en dit is net een van die vreugdes wat dit onvergelyklik maak om met perde te werk. Die drywer kan ook met sy perde “gesels” terwyl hulle werk. En hulle antwoord hom deur hulle gehoorsaamheid, met hulle ore na vore gespits om elke woord wat hy sê te hoor.
Boerdery is harde en, soms, vermoeiende werk. Maar diegene wat hulle grond nog steeds op die outydse manier ploeg, met perde, kan talle vreugdes daaruit put om so nou saam te werk met hierdie seningrige, hardwerkende diere van God se skepping.
[Prent op bladsy 26]
Perde kan veelsydiger wees as ’n trekker