Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 5/22 bl. 15-17
  • “Perde wat in die wind dans”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Perde wat in die wind dans”
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Spaanse volbloedperd
  • Afrigting van hierdie edel dier
  • Die geheim van die ruiters
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Die Oktober-skou—“Europa se oudste internasionale perdemark”
    Ontwaak!—1999
  • Die geheimsinnige ruiters van Openbaring
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Hulle bewerk die grond nog steeds met perde
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 5/22 bl. 15-17

“Perde wat in die wind dans”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

“Wie kan na jou ritmiese passies, jou suiwer, volmaakte styl, jou selfbeheersing en jou sin vir vorm kyk sonder om ekstaties te voel?”—RAFAEL ALBERTI, SPAANSE DIGTER.

DIE ligte word uitgedoof, en die musiek begin. Aan die agterkant van die arena verskyn ’n ruiter op ’n wit perd wat op die maat van die musiek dans. ’n Groep ruiters sluit by hom aan, en hulle perde draai in volmaakte harmonie. Die gehoor hou hulle asem op, verbaas dat hierdie pragtige diere sulke grasieuse bewegings uitvoer.

Die Koninklike Andalusiese Skool vir Ruiterkuns, in Jerez de la Frontera, Spanje, het wêreldbekend geword vir sy dansende perde. Die opvoering is in werklikheid ’n perdeballet, waarvan die choreografie op die afrigoefeninge van klassieke dressuur en doma vaquera, of “plattelandse dressuur” gebaseer is.a Die tradisionele Spaanse musiek en die ruiters se 18de eeuse kostuums maak die skouspel selfs indrukwekkender.

Die Spaanse volbloedperd

Die perde wat in die opvoering gebruik word, is Spaanse volbloedperde, ook bekend as Andalusiese perde. Die Spaanse perd is ’n ou ras wat duisende jare gelede in die berge van die Iberiese Skiereiland voorgekom het. Die Romeine het hierdie ras as ’n uitstekende militêre perd beskou.

Wat Andalusiese perde so uitsonderlik maak, is die feit dat hulle so sterk, rats, trots en gehoorsaam is. Hulle waarde lê in hulle unieke geaardheid; vurig maar terselfdertyd gehoorsaam. Omdat hulle so sterk en rats is, kan hierdie perde baie moeilike passies en spronge uitvoer. Dit is nogtans nie ’n maklike taak om ’n edel dier in ’n grasieuse danser te omskep nie.

Afrigting van hierdie edel dier

Die Koninklike Andalusiese Skool vir Ruiterkuns is in 1972 deur Álvaro Domecq gestig. Die skool berei perde voor deur middel van deeglike gimnastiese afrigting wat die diere se spiere opbou. Uiteindelik sal hulle moeilike dressuuroefeninge in volmaakte harmonie kan uitvoer. Hierdie soort dressuur word by twee beroemde sentrums beoefen: die Spaanse Ryskool van Wene in Oostenryk en die Koninklike Skool in Spanje. By albei sentrums word besoekers deur die skouspel geboei, en dit beïndruk selfs die puntenerigste perdeafrigter.

Die ruiter sowel as die perd het heelwat afrigting nodig om hulle kuns te bemeester. Gewoonlik sal die ruiter en die perd sewe uur per dag, vyf dae per week oor ’n tydperk van vier jaar saam oefen. Afrigting begin met die basiese dressuur waartydens die ruiter die perd leer om vorentoe te loop wanneer die ruiter die opdrag gee. Nadat hierdie basiese stap vervolmaak is, moet die perd leer om agteroor te leun terwyl hy beweeg, wat sy swaartepunt agtertoe skuif. Hierdie oefening, wat die perd groter krag in sy agterbene gee, is nodig om die moeiliker bewegings te doen.

Die bewegings wat die perd leer, word in twee groepe verdeel: natuurlike en kunsmatige bewegings. Die eerste groep vereis dat die perd sy natuurlike bewegings verbeter—loop, draf en galop. Die kunsmatige bewegings, wat deur die Koninklike Skool ontwikkel is, vereis ’n baie noue band tussen die perd en sy ruiter. Hierdie bewegings verg groot presisie en enorme fisiese krag.—Sien “Die basiese bewegings van ’n perdeballet”.

“Om die moeilike oefeninge van die Koninklike Skool uit te voer, moet die perd en sy ruiter ’n hegte verhouding hê”, sê José María Sánchez Cobos, wat verantwoordelik is vir die vertoning by die Koninklike Skool. “Die Andalusiese perd word beskou as een van die edelste van alle perderasse, en party van hierdie diere kan werklik ’n ruiter se goeie vriend word. Maar soms kom ’n perd en ’n ruiter nie oor die weg nie, en dan moet hulle omgeruil word.”

Wanneer José María gevra word of die perde op die musiek reageer, verduidelik hy: “Die perde verstaan nie die musiek soos ons nie, maar die musiek wat hulle by die vertoning hoor, het blykbaar ’n uitwerking op hulle. Hulle reageer beslis op die tradisionele musiek wat ’n belangrike deel van die vertoning uitmaak, en dit lyk asof hulle op die applous van die gehoor reageer.”

Die perde reageer op die nougesette aandag wat hulle by die skool ontvang. Hulle word goed geroskam voor die vertoning, en hulle word elke dag ná hulle afrigtingsessie gewas om van die sweet ontslae te raak en hulle af te koel. Aangesien hulle vel sensitiewer is as dié van mense, het dit spesiale aandag nodig.

“Daar is ’n Spaanse gesegde”, voeg José María by, “dat ’n perd gedurende die eerste 7 jaar jou vriend s’n is om af te rig; van 7 tot 14 jaar joune is om te geniet en ná 14 jaar is hy net geskik vir jou vyand. Maar by ons skool is dit nie heeltemal waar nie. Een van ons perde, Zamorano, het op 22 nog steeds aan opvoerings deelgeneem!”

Die eindresultaat van hierdie onvermoeide sorg en afrigting is die vertoning waartydens die perde hulle uitsonderlike bewegings uitvoer. Hier kan die gehoor self sien hoe die perd en sy ruiter ’n uitstekende span vorm en hoe hierdie grasieuse maar kragtige rydiere passies op die maat van tradisionele Spaanse musiek uitvoer. Dit is dus geen wonder nie dat Alberti hierdie grasieuse diere in die slotreël van sy gedig wat vroeër aangehaal is, beskryf het as “perde wat in die wind dans”.

[Voetnoot]

a Dressuur verwys na die proses waartydens die ruiter ’n perd ’n reeks komplekse maneuvers laat doen deur klein bewegings van sy hande, bene en gewig. Doma vaquera, of “plattelandse dressuur”, verwys na tradisionele perde-oefeninge wat merendeels gebaseer is op die werk wat perde op Spaanse beesplase doen.

[Venster/Prente op bladsy 17]

Die basiese bewegings van ’n perdeballet

Hier volg ’n paar van die hoofbewegings wat die perd uitvoer.

Piaffe: Die perd staan op een plek terwyl hy ’n ritmiese drafstap uitvoer, amper asof hy op die plek hardloop.

Passage: Die perd draf stadig terwyl hy sy pote hoog van die grond af lig, wat die indruk skep dat hy dans.

Levade: Die perd lig sy voorpote hoog bo die grond en hou sy liggaam teen ’n hoek van 45 grade met die grond. Dit verg uitstekende spierbeheer en volmaakte balans.

Curvet: Die perd voer ’n reeks spronge op sy agterbene uit sonder dat sy voorpote die grond raak.

Capriole: Die perd spring in die lug, trek sy voorbene onder sy borskas in wanneer hy die hoogste punt bereik terwyl hy sy agterbene uitskop.

Perde in die harnas

’n Ander dissipline wat ook deel van die vertoning is, is enganche, of koppeling. Die perde trek tradisionele koetse in volmaakte gesinchroniseerde bewegings. Dit verg ook jare se afrigting. Die perde en hulle ruiters dra die pragtigste uitrustings en maak deel uit van ’n skouspel wat die gehoor die geleentheid gee om die tyd te herleef toe perde en koetse die vernaamste vervoermiddel was.

[Erkennings]

Piaffe, passage en capriole: Fotografía cedida por la Real Escuela Andaluza; curvet, levade en koets: Fundación Real Escuela Andaluza del Arte Ecuestre

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Fotografía cedida por la Real Escuela Andaluza

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel