Ons beskou die wêreld
Tabak en werksgeleenthede
“Verminderde besteding aan tabakprodukte sal werksgeleenthede skep” in sommige gebiede van die Verenigde State, sê ’n verslag in The Journal of the American Medical Association. Rekenaarberamings is gebruik om te toon hoe fondse wat voorheen aan tabak spandeer is aan ander dinge spandeer kan word, met ’n netto toename in werksgeleenthede regoor die land. Die verslag sê ook dat gebiede waar tabak verbou word nie soveel werksgeleenthede sal verloor as wat deur die tabakbedryf geraam word nie. “Wat van die grootste belang behoort te wees, is nie die uitwerking wat tabak op werksgeleenthede het nie, maar die verskriklike uitwerking wat dit op gesondheid het”, sê die verslag. Volgens die Los Angeles Times het die Amerikaanse Mediese Vereniging ook ’n beroep op beleggers op die aandelemark gedoen om hulle aandele in 13 tabakmaatskappye te verkoop. Scott Ballin, van die Amerikaanse Hartvereniging, het gesê: “Ons moenie maatskappye ondersteun wat aanhou om siekte en dood in hierdie land en oorsee te verkoop nie.”
Die wêreld se hoogste geboue
Vir die eerste keer in meer as ’n eeu word die wêreld se hoogste gebou nie in die Verenigde State aangetref nie. Die Raad op Hoë Geboue en Stadsgebiede, die internasionale beoordelaar van wolkekrabbers, het daardie onderskeiding toegeken aan die Petronas Twin Towers in Kuala Lumpur, Maleisië. Die vorige rekordhouer, die Sears Tower in Chicago, is steeds die hoogste as sy televisietorings ingesluit word. Die raad het egter besluit dat daardie torings nie deel uitmaak van die gebou se argitektuur nie. Die oprigting van hoë geboue in verskeie lande in Asië word deur ondersteuners as ’n simbool van die verstommende ekonomiese groei in daardie gebied beskou. Trouens, die Petronas Twin Towers sal later hulle verhewe titel aan die Wêreldsentrum vir Finansies moet afstaan, wat na verwagting teen die einde van die dekade in Sjanghai, China, voltooi sal wees.
Redding van seevoëls?
Wanneer ’n groot oliestorting op see naby die land plaasvind, kan dit tragiese gevolge vir die natuurlewe meebring. Organisasies—waarvan baie deur vrywillige werkers beman word—spring soms aan die werk om te doen wat hulle kan. Een van die eerste prioriteite is om oliebedekte seevoëls skoon te maak. Maar hoe doeltreffend en blywend is dit? Hedendaagse navorsing toon dat die meeste van die derduisende wat skoongemaak en in hulle habitat teruggeplaas word binne tien dae doodgaan. Waarom? Benewens die skok om deur mense hanteer te word, het die voëls reeds van die olie ingekry toe hulle hulle vere probeer glad stryk het, en dit sal uiteindelik hulle dood veroorsaak. Om dit teë te werk, word die voëls wat in Brittanje hanteer word ’n mengsel van kaolien, houtskool en glukose gevoer om hulle van die gifstowwe te probeer suiwer. Selfs dan leef baie min voëls lank genoeg om te broei en moet die suiwering as ’n soort “kosmetiese proses” beskou word, sê ’n ekoloog wat deur The Sunday Times van Londen aangehaal word.
Hepatitis C en bloed
’n Verslag deur Frankryk se Nasionale Netwerk vir Openbare Gesondheid het aan die lig gebring dat “tussen 500 000 en 600000 mense in Frankryk met die hepatitis C-virus besmet is”. Volgens die Paryse koerant Le Monde is 60 persent van die besmettings met die hepatitis C-virus weens bloedoortappings of binneaarse dwelmgebruik. Daarbenewens is party mense tydens mediese behandeling besmet omdat toerusting nie behoorlik gesteriliseer is nie. Hepatitis C kan tot sirrose of lewerkanker lei.
Wanneer jy rook opgee
Binne 20 minute nadat iemand rook opgee, begin die liggaam ten goede verander. Reader’s Digest het die volgende lys gepubliseer wat aandui watter voordelige veranderinge plaasvind op spesifieke tye nadat iemand rook opgee. Twintig minute: Bloeddruk en polsslag daal totdat dit normaal is; temperatuur van hande en voete neem toe totdat dit normaal is. Agt uur: Koolstofmonoksied in bloed daal tot die normale vlak; suurstof in bloed neem toe tot normale vlak. Vier-en-twintig uur: Moontlikheid van ’n hartaanval verminder. Agt-en-veertig uur: Senu-ente begin weer groei; vermoë om te proe en te ruik verbeter; dit word makliker om te loop. Twee weke tot drie maande: Bloedsomloop verbeter; werking van longe neem met tot 30 persent toe. Een tot nege maande: Hoesery, verstopte sinusse, moegheid en kortasemigheid verminder; longcilia groei weer. Een jaar: Die gevaar van koronêre hartsiekte is die helfte minder as in die geval van ’n roker.
Seks en geweld by die biblioteek verkrygbaar
Sommige biblioteke in Connecticut, VSA, laat kinders toe om rolprente uit te neem wat sekstonele en onverbloemde geweld uitbeeld, sê The Advocate, van Stamford, Connecticut. Met tye het kinders vrye toegang tot die biblioteek se rekenaars wat aan die Internet gekoppel is. Dit laat verdere vrae ontstaan oor watter inligting tot kinders se beskikking is. Baie ouers het hulle skok uitgespreek, maar biblioteekpersoneel het die standpunt ingeneem dat net ouers die reg en die verantwoordelikheid het om te kyk wat hulle kinders by die biblioteek uitneem. “Dis ’n netelige situasie”, het bibliotekaresse Renee Pease gesê, aangesien “baie fiksie dalk nie vir kinders goed is nie”.
Verminking van vroue
’n Jong vrou van Afrika wat asiel in die Verenigde State verkry het, het hernieude aandag op die verminking van die vroulike geslagsorgane gevestig, berig The New York Times. Die vrou het gesê dat sy gevlug het omdat verminking ’n voorwaarde van ’n gedwonge huwelik is. In baie Afrikalande word dele van ’n meisie se geslagsorgane afgesny terwyl sy ’n baba is of wanneer sy as ’n vrou geïnisieer word. Dit word dikwels sonder enige verdowing of higiëniese voorsorg gedoen. Benewens die emosionele lyding wat dit veroorsaak, kan dit infeksie, bloeding, onvrugbaarheid en die dood tot gevolg hê. (Sien die Ontwaak! van 8 April 1993, bladsye 20-4.) Volgens die koerant word daar geraam dat 80 miljoen tot 115 miljoen vroue al aan hierdie gebruik onderwerp is. Stappe is gedoen om dit in die Verenigde State onwettig te maak.
Heuningbye word gevolg
Die wêreld se kleinste radarantennas, wat net 16 millimeter lank is, is op die rûe van sommige Britse bye vasgegom. Die antennas is toestelletjies wat dit moontlik maak om die bye te volg. Daar word gehoop dat die eksperiment tot die ontwikkeling van selfs kleiner antennas sal lei, wat uiteindelik aan tsetsevlieë in Afrika geheg sal word om die insekte se vliegpatrone te monitor. Dit kan daartoe lei dat die slaapsiekte wat deur hierdie vlieë oorgedra word op doeltreffender wyse bestry word. Geen batterye is nodig om die antennas van krag te voorsien nie, aangesien hulle in staat is om al die energie wat hulle nodig het van die inkomende volgseine te kry. As ’n bykomende voordeel hoop wetenskaplikes om hulle kennis van bye se gewoontes te verbeter sodat byekorwe makliker opgespoor kan word.
TV met epilepsie verbind
Die bekendstelling van satelliet-TV in Indië, wat dit moontlik maak om 24 uur per dag TV te kyk, lei tot ’n toename van neurologiese probleme in kinders. Hierdie stelling is gemaak deur vooraanstaande neuroloë by ’n konferensie in 1996 oor die Nuutste Neurologiese Ontwikkelinge in die hele Indië. Die hoof van die Neurologiese Departement van die Amritsar Mediese Fakulteit, dr. Ashok Uppal, het gesê: “Kinders sit nou meer ure voor die TV vasgekluister, wat lei tot ’n toename in wat neuroloë beskryf as ‘epilepsie wat gevoelig is vir foto-stimulasie of epilepsie wat deur televisie veroorsaak word’.” Dr. Uppal het ouers aangeraai om hulle kinders se televisiekykery te beperk of om hulle kykery gedurende lang periodes gereeld te onderbreek.
Doder geïdentifiseer
Hoewel min Mexikaanse vroue rook, ly talle wat oor 40 is aan longsiektes wat gewoonlik met rokery verbind word, berig die nuusbrief Health InterAmerica. Die oorsaak? “Hulle kook op houtstowe”, het navorsers onlangs gesê. Volgens Peter Paré, ’n professor in geneeskunde, het die probleem min aandag geniet omdat “houtrook dikwels nie as ’n vername gesondheidsgevaar geïdentifiseer word nie. Sterftes word gewoonlik aan hartversaking toegeskryf, terwyl die eintlike oorsaak van die probleem die oormatige blootstelling aan houtrook is.” Die Wêreldgesondheidsorganisasie raam dat 400 miljoen mense in die hele wêreld aan dié gevaar blootgestel is, meestal vroue in landelike gebiede wat houtstowe in klein geboutjies met swak ventilasie gebruik. Dit sal help om skoorstene te bou, maar volgens dr. Paré “is die grootste uitdaging om mense te oortuig om die wyse waarop hulle reeds eeue lank leef te verander”.