Jongmense vra . . .
Waarom het my beste vriend weggetrek?
‘JY LYK of jy jou beste vriend verloor het.’ Mense sal dit sê wanneer iemand ’n bietjie hartseer of terneergedruk lyk. Maar wanneer jy wel jou beste vriend verloor het, kry dié gesegde ’n heel nuwe betekenis.
Ware vriendskap is per slot van rekening iets spesiaals en kosbaars. Die Bybel sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17, NW). Goeie vriende bied ons hulle kameraadskap en ondersteuning. Hulle help ons om emosioneel en geestelik te groei. Daar is dalk baie mense met wie jy nie so goed bevriend is nie of wat net kennisse is, maar individue op wie jy waarlik kan vertrou en wat jy in jou vertroue kan neem, is gewoonlik skaars.
As jou beste vriend dus weggetrek het, is dit te verstane dat jy dalk verpletter sal voel. ’n Jeugdige met die naam Bryan onthou nog hoe hy gevoel het toe sy beste vriend getrek het. “Ek was bang, eensaam en seergemaak”, het hy gesê. Miskien voel jy ook so.
Sien die werklikheid onder die oë
Dit sal moontlik help as jy nadink oor die redes waarom jou vriend weggetrek het. Dit was beslis nie omdat hy nie genoeg waarde aan julle vriendskap geheg het nie. Om te trek, het ’n gevestigde deel van die hedendaagse lewe geword. Elke jaar trek daar in die Verenigde State alleen meer as 36 miljoen mense! Volgens die Amerikaanse Sensusburo sal die gemiddelde Amerikaner 12 keer in sy lewe trek.
Waarom trek mense so baie? Die redes verskil. Baie gesinne trek om beter betrekkings en behuising te kry. In ontwikkelende lande het oorlog en armoede miljoene gesinne gedwing om te trek. En namate jeugdiges jong volwassenes word, verkies baie om uit te trek en op hulle eie te bly. Party verlaat die huis om te trou (Genesis 2:24). Ander trek weer om geestelike belange na te streef (Matteus 19:29). Onder Getuies van Jehovah verlaat baie mense die gerief van ’n bekende omgewing om te dien in gebiede—miskien selfs vreemde lande—waar meer Christenbedienaars nodig is. Party trek in hulle geboorteland om te dien by Bethel, soos die fasiliteite genoem word waar daar toesig gehou word oor die werk van Jehovah se Getuies. Ja, al is ons lief vir ons vriende moet ons dit as ’n lewensfeit beskou dat hulle waarskynlik na verloop van tyd sal wegtrek.
Wat ook al die rede vir jou vriend se verhuising is, jy wonder dalk hoe jy ooit oor die verlies gaan kom. Maar al is dit natuurlik om ’n ruk lank ’n bietjie eensaam en terneergedruk te voel, besef jy waarskynlik dat dit jou niks sal baat om by die huis te sit en jou te verknies nie (Spreuke 18:1). Laat ons dus na ’n paar dinge kyk wat kan help.
Bly in kontak
“Onthou dat dit nie die einde van julle vriendskap is nie”, het jong Bryan voorgestel. Ja, julle verhouding sal beslis verander as jou beste vriend wegtrek, maar dit beteken nie dat julle vriendskap moet doodloop nie. Dr. Rosemarie White, ’n raadgeefster vir tienderjariges, het gesê: “Verlies is op enige stadium van die lewe baie moeilik, maar die manier om dit te verwerk, is om eenvoudig daaraan te dink as ’n verandering en nie as ’n deur wat toegaan nie.”
Wat kan jy doen om die vriendskapsdeur oop te hou? Dink aan die Bybelverslag van Dawid en Jonatan. Ten spyte van ’n redelike ouderdomsverskil was hulle boesemvriende. Toe Dawid deur omstandighede gedwing is om te vlug, het hulle nie sonder ’n woord uitmekaargegaan nie. Inteendeel, hulle het hulle onverganklike vriendskap bevestig en selfs ’n verbond, of ooreenkoms, gesluit om vriende te bly.—1 Samuel 20:42.
Net so sal jy miskien met jou vriend of vriendin gesels voordat hy of sy weggaan. Sê vir jou vriend hoeveel julle vriendskap vir jou beteken en hoe graag jy die kommunikasiekanale wil oophou. Patty en Melina, beste vriende wat nou deur 8000 kilometer land en see geskei word, het dit gedoen. “Ons is van plan om in kontak te bly”, het Patty verduidelik. Sulke planne kan egter misluk as julle nie definitiewe reëlings tref nie.—Vergelyk Amos 3:3.
Die Bybel sê vir ons dat die apostel Johannes met sy vriend Gajus in kontak gebly het deur ‘met ink en pen aan hom te skryf’ toe hy hom nie kon besoek nie (3 Johannes 13). Julle kan ook besluit om gereeld, miskien een keer per week of een keer per maand, vir mekaar ’n brief of ’n kaartjie te stuur. En as julle ouers nie omgee om die langafstandoproepe te betaal nie, kan julle mekaar dalk af en toe skakel om op hoogte te kom van die nuutste verwikkelinge in julle lewe. Of julle besluit dalk om vir mekaar boodskappe te stuur wat op kasset of videoband opgeneem is. In die toekoms sal julle moontlik selfs reëlings kan tref om ’n naweek of ’n vakansie saam deur te bring. Sodoende kan die vriendskap steeds gedy.
Hoe om die leemte te vul
As jou beste vriend weggaan, sal dit nietemin ’n leemte in jou lewe laat. Gevolglik sal jy dalk vind dat jy meer tyd tot jou beskikking het. Wel, moenie dat daardie tyd verlore gaan nie (Efesiërs 5:16). Gebruik dit om iets produktiefs te doen—miskien kan jy ’n musiekinstrument leer bespeel, ’n nuwe taal bemeester of ’n stokperdjie beoefen. Om takies vir behoeftiges te verrig, is nog ’n produktiewe manier om jou tyd deur te bring. As jy ’n Getuie van Jehovah is, kan jy jou deelname aan die openbare predikingswerk vergroot (Matteus 24:14). Of jy kan met ’n interessante Bybelstudieprojek begin.
Daarbenewens het die apostel Paulus die Christene in Korinte gemaan om ‘verruim te word’—met ander woorde, om ander in hulle vriendekring in te sluit (2 Korintiërs 6:13). Miskien het jy soveel tyd saam met net een vriend deurgebring dat jy ander moontlike vriendskappe misgekyk het. Jongmense onder Jehovah se Getuies vind dat daar dikwels baie sulke moontlikhede reg in hulle plaaslike gemeente is. Probeer dus om vroeër by gemeentelike vergaderinge op te daag en om ’n rukkie langer ná die vergadering te bly. Dit sal jou meer tyd gee om mense te leer ken. Christelike byeenkomste en kleiner gesellighede is nog geleenthede om nuwe vriende te maak.
’n Woordjie van waarskuwing is egter gepas: Moenie só haastig wees om nuwe vriende te maak dat jy noue omgang begin hê met jongmense wat nie dieselfde geestelike doelwitte en waardes as jy het nie. Sulke mense kan ’n slegte invloed op jou hê en kan jou meer kwaad as goed doen (Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33). Hou by jongmense wat geestelik ingestel is en ’n reputasie vir goeie gedrag het.
Wanneer jy so iemand vind, kan jy die vriendskap verder ontwikkel deur te beplan om iets saam te doen. Geniet ’n maaltyd saam. Besoek ’n museum. Gaan stap saam. Reël om ’n dag saam in die Christelike bediening deur te bring en mense met die goeie nuus van God se Koninkryk te besoek. Met tyd en inspanning kan die nuwe vriendskap groei. Wanneer jy nuwe vriende maak, hoef jy nie te voel dat jy ontrou is aan jou vriend wat weggetrek het nie, want Christelike liefde kan oorvloediger word—dit ‘word verruim’ om ander in te sluit.
Jy kan ook die geleentheid benut om nader te kom aan diegene wat jou die liefste het—jou ouers. Hulle kan ’n groot hulp wees, selfs al voel jy aan die begin ongemaklik om hulle geselskap op te soek. ’n Jeugdige met die naam Josh het gesê: “Ek moes myself amper dwing om tyd saam met my ouers deur te bring, aangesien ek op daardie tydstip nie na aan my ma of pa was nie. Maar nou is hulle my beste vriende!”
Onthou ook dat jy nog steeds ’n vriend in die hemel het. Die 13-jarige Dan het dit so gestel: “Jy’s nie regtig alleen nie, want jy het nog steeds vir Jehovah.” Ons kan altyd ons hemelse Vader in gebed nader. Hy sal jou help om hierdie moeilike situasie die hoof te bied as jy op hom vertrou.—Psalm 55:23.
Behou ’n positiewe uitkyk op die lewe
Die wyse koning Salomo het hierdie raad gegee: “Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige?” (Prediker 7:10). Met ander woorde, moenie aan die verlede bly dink nie; benut die hede met al die geleenthede wat dit bied. Bill, wat nou in sy vroeë twintigerjare is, het presies dit gedoen toe hy sy beste vriend verloor het. Hy onthou nog: “Ná ’n rukkie het ek nuwe vriende begin maak en nie meer so baie aan die verlede gedink nie. Ek het probeer om vir die toekoms voor te berei en in die hede te leef.”
Hierdie voorstelle help dalk, maar dit bly steeds ’n hartseer gebeurtenis wanneer jou beste vriend wegtrek. Dit sal dalk ’n hele ruk duur voordat herinneringe aan die aangename tye wat julle saam deurgebring het nie meer seermaak nie. Onthou net dat veranderinge deel van die lewe is en dat dit jou die geleentheid bied om volwasse en ryp te word. Hoewel dit miskien onmoontlik lyk om ’n spesiale vriend geheel en al te vervang, kan jy eienskappe aankweek wat jou ‘in guns by Jehovah sowel as by die mense’ sal laat wees (1 Samuel 2:26). As jy dít doen, sal jy altyd iemand hê wat jy jou vriend kan noem!
[Prent op bladsy 15]
Dit is ’n pynlike ondervinding om van jou beste vriend afskeid te neem