Die massamoord by Port Arthur—Waarom het dit gebeur?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË
OP Sondagmiddag, 28 April 1996, was die weer heerlik by die Port Arthur- Historiese Terrein, ’n gewilde toeristesentrum in Tasmanië, Australië. Die Broad Arrow-kafee was stampvol mense wat besig was om middagete te geniet. Omstreeks 1:30 nm. het ’n 28-jarige blonde jong man wat pas by die kafee se buitetafels geëet het by die gebou ingestap en begin skiet.
Klante het dood in hulle stoele inmekaargesak, hulle kos nog in hulle monde. Polisiemanne het gesê dat dit “soos die bloedbad op ’n slagveld” was. Toe die gewapende man aangeneem het dat almal dood is—hy het 20 mense doodgeskiet—het hy rustig buitentoe gestap. Binne sekondes het hy meer moorde gepleeg as wat gedurende die voorafgaande vier jaar in die hele eilandstaat Tasmanië plaasgevind het!
Maar die gewapende man het met sy slagting voortgegaan en slagoffers stelselmatig doodgeskiet. Op pad na die uitgang van die historiese terrein het hy byvoorbeeld vir Nanett Mikac saam met haar dogtertjies gesien. Hy het Nanett en haar driejarige dogtertjie doodgemaak. Toe het hy die sesjarige dogtertjie, wat probeer wegkom het, gesoek en haar doodgeskiet waar sy agter ’n boom weggekruip het.
Daarna, by die tolhuis by die uitgang van die historiese terrein, het die gewapende man drie insittendes van ’n BMW doodgeskiet en die motor gevat. ’n Entjie verder het hy ’n paartjie in ’n ander motor teëgekom. Hy het die man in die BMW se kattebak ingedwing en sy vriendin vermoor. Daarna het hy ’n entjie gery tot by die Seascape Cottage-gastehuis—en omstreeks 2:00 nm. daar aangekom. Daar het hy die BMW aan die brand gesteek en die ontvoerde man en die bejaarde egpaar aan wie die gastehuis behoort het as gyselaars aangehou. Sedert hy die kafee verlaat het, het hy nog 12 mense doodgemaak, wat die dodetal op 32 te staan gebring het. Talle ander is gewond.
Predikingswerk op Sondagmiddag
Intussen het Jenny Ziegler en haar gesin, lede van die Port Arthur-gemeente van Jehovah se Getuies, om 1:30 nm. bymekaargekom om vir die bediening voor te berei. Die gesin het toe afgesit na die Port Arthur- Historiese Terrein. Jenny wou David Martin, die vriendelike eienaar van die Seascape Cottage-gastehuis, gaan besoek. Sy en ’n ander Christensuster het vroeër ’n aangename Bybelbespreking met hom gehad.
Kort ná 2:00 nm., terwyl Jenny, haar man en haar kinders die gastehuis genader het, het hulle rook uit ’n brandende motor op die grasperk sien kom. Polisiebeamptes het hulle voorgekeer en gesê dat hulle met dieselfde pad as waarmee hulle gekom het, moet teruggaan. “Dinge het skielik vir ons onheilspellend begin lyk”, het Jenny gesê. “Die paaie was buitengewoon verlate.”
Die gesin was egter steeds onbewus dat daar werklik fout was en hulle het van die hoofweg afgedraai om na ’n klein strandjie toe te gaan om hulle beplande predikingswerk voort te sit. Daar het alles normaal gelyk: Kinders het geswem, mense het aan die ver punt van die strand gestap en ’n bejaarde egpaar het in hulle motor gesit en lees. “My man het hulle genader en ’n aangename gesprek met hulle gehad”, het Jenny gesê. “Hy het vir hulle gesê dat daar blykbaar ’n probleem op die hoofweg was en voorgestel dat hulle ’n ander roete volg wanneer hulle die strand verlaat. Ek het kortliks met ’n jong man gesels, en ons het kort daarna vertrek.”
Die Zieglers het verder met die pad na die Port Arthur- Historiese Terrein gery. “Hier het ’n aantal motors die ingang na die terrein versper”, het Jenny verduidelik. “Ons het later uitgevind dat hulle die uitsig belemmer het op die liggame van die mense wat geskiet is. ’n Man het vir ons gesê: ‘’n Ou met ’n geweer het amok gemaak; daar’s dalk 15 mense dood!’ Ons is aangeraai om onmiddellik te vertrek.”
Dit kom tot ’n onaangename einde
Die nare ondervinding was nog lank nie verby nie, soos Jenny gesê het: “Die rit terug huis toe was senutergend omdat ons nie geweet het waar die gewapende man is nie. Elke keer dat ons ’n ander motor op die pad teëgekom het, het ons gewonder of hy daarin was. Selfs nadat ons veilig by die huis aangekom het, het ons kwesbaar gevoel, aangesien ons in ’n afgesonderde gebied woon waar iemand wat die plaaslike terrein goed ken maklik kan wegkruip. Aangesien ons Christenbroers en -susters geweet het waarheen ons daardie middag gegaan het, het ons onmiddellik telefoonoproepe begin ontvang van almal wat wou seker maak dat ons veilig is.
“Toe ons nagedink het oor wat gebeur het, het ons besef dat ons ook doodgeskiet kon gewees het as ons ’n paar minute vroeër opgedaag het om die eienaar van die gastehuis te besoek. Ons het yskoud geword by die gedagte dat die moordenaar dalk sy wapen op ons gerig gehad het terwyl ons met die polisiemanne wat daar was, gepraat het!”
Meer as 200 polisiemanne het uiteindelik daardie Sondagaand die gastehuis omsingel, maar hulle moes laag bly om sarsies koeëls wat die gewapende man elke nou en dan afgevuur het te vermy. Hy het blykbaar ’n helikopter geëis waarmee hy kon ontsnap, maar gedurende die nag het die onderhandelings deur die mat geval. Omstreeks agtuur Maandagoggend het daar rook uit die huis begin kom. Die gewapende man het met sy lewe daarvan afgekom, hoewel hy brandwonde opgedoen het. Die drie gyselaars, waaronder die eienaar van die gastehuis vir wie die Zieglers wou gaan besoek, se lyke is later in die veraste oorblyfsels van die huis gevind, wat die dodetal op 35 te staan gebring het.
Waarom het dit gebeur?
Ongeveer sewe weke vroeër, op 13 Maart, het ’n gewapende man in Dunblane, Skotland, by ’n skoolgimnasium ingestap en 16 kindertjies en hulle onderwyseres doodgeskiet. In ooreenstemming met ’n ou grondreël in televisienuus, “As dit bloei, sal dit boei”, het hierdie voorval internasionale nuus geword. Sommige gedragsdeskundiges het aan die hand gedoen dat die gewapende man in Australië dalk die dodetal van die Dunblane-moorde probeer oortref het. Dit is opmerklik dat die so genoemde Sodiak-moordenaar in die Verenigde State, wat jare lank die stad New York geterroriseer het, gesê het dat hy ander moordenaars waarvan hy gelees het, probeer oortref het.
Nog ’n faktor wat volgens baie tot die epidemie van moorde bydra, is die seks en geweld wat in rolprente en video’s uitgebeeld word. Australië se Herald Sun het berig: “Daar is op altesaam 2000 gewelddadige en pornografiese video’s beslag gelê in die huis van die vermeende Port Arthur-massamoordenaar Martin Bryant. . . . Die weggesteekte video’s is gevind nadat die aandag gevestig is op die rol van gewelddadige rolprente in die Port Arthur-massamoord.” Die Daily News van New York het eweneens gesê dat “twee dose pornografiese video’s op die enkelbed gelê het” van die man wat erken het dat hy die Sodiak-moordenaar is.
Toe die Port Arthur-massamoord bekend geraak het, het sommige televisiestasies onmiddellik hulle programrooster verander. Daarna het rubriekskryfster Penelope Layland die artikel “TV se huigelary wat geweld en verdriet betref” geskryf en gesê: “Om nie daardie gewelddadige programme te vertoon nie, was in sekere sin soos ’n oppervlakkige een minuut van stilte. Môre, volgende week, volgende maand sal dinge maar weer soos altyd wees.”
Om egter ’n dieper insig te verkry oor waarom geweld nou so algemeen is, moet ons ons tot die Bybel wend. Dit het lank gelede voorspel dat daar “in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal . . . sonder selfbeheersing [wees], wreedaardig, sonder liefde vir goedheid” (2 Timoteus 3:1-5). Die hedendaagse toename in geweld versterk dus net die bewyse dat ons in die laaste dae leef en dat die einde van hierdie stelsel van dinge naby is.—Matteus 24:3-14.
Soos baie dalk vermoed, is die demone—onsigbare bose geesmagte—by die epidemie van wrede, onmenslike gedrag betrokke (Efesiërs 6:12). Nadat die Bybel beskryf hoe Satan die Duiwel en sy demone uit die hemel gewerp is, sê dit: “Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het” (Openbaring 12:7-9, 12). Ons lewe nóú in daardie tydperk van wee, en Satan en sy demone gebruik enigiets wat hulle kan om mense tot toenemende gewelddade aan te spoor.
Maar Satan, sy demone en hulle goddelose wêreld sal binnekort nie meer bestaan nie, en die heerskappy van God se Koninkryk sal ’n nuwe wêreld van regverdigheid inlui (Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10; 2 Petrus 3:13; 1 Johannes 2:17; Openbaring 21:3, 4). Jenny het gesê: “Op die oomblik ‘huil ons saam met mense wat huil’, maar ons wil graag ons Koninkrykshoop meedeel aan diegene in die gemeenskap wat so diep geskok is deur hierdie tragedie.”—Romeine 12:15.
[Prent op bladsy 17]
Die Broad Arrow-kafee, waar die massamoord begin het
[Kaart-erkenning op bladsy 16]
Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.