Hoe om in ’n gierige wêreld staande te bly
“HOE kan ek aan die lewe bly?” James Scott het voor daardie vraag te staan gekom toe hy hopeloos verdwaal het in die Himalajagebergte. Hy het groot gevaar geloop om van koue of honger om te kom. Hy het onthou hoe hy mense in karatekompetisies gesien het “wat stadig afgetakel word, terwyl elke hou hulle gees uitput, totdat . . . hulle heeltemal weerloos geraak het”. Hy het gesê: “Dit is hoe ek gevoel het terwyl ek my slaapsak se rits toegetrek en swakkies ’n bietjie sneeu geëet het. My gees was verbrysel en ek het my wil om te lewe geheel en al verloor. Ek het nog nooit so verpletterd gevoel nie.”—Lost in the Himalayas.
Baie mense is vandag, in sekere sin, soos hy—vasgevang in ’n wêreld wat deur gierigheid oorheers word. Jy voel dalk dat jy stadig afgetakel en verpletter word. Min mense kan geheel en al aan die onmiddellike gevolge van gierigheid ontvlug. Na gelang van waar in die wêreld jy woon, sal die probleme waarvoor jy te staan kan kom grootliks wissel—gierigheid raak mense in ontwikkelende lande baie anders as mense in welvarende lande. Maar wat die probleme ook al is, miskien kan jy leer hoe jy liggaamlik, emosioneel en geestelik redelik ongeskonde kan bly totdat hulp opdaag. Hoe? Deur die basiese raad van oorlewingsdeskundiges te volg.
Twee punte in hulle raad is opvallend. Die eerste is om nie ’n situasie wat reeds moeilik is te vererger nie. “Jou strategie”, sê The Urban Survival Handbook, “moet wees om onnodige risiko’s te vermy . . . en die skade wat veroorsaak word deur dié wat jy nie kan vermy nie tot die minimum te beperk.” Die tweede—en miskien die belangrikste—het te doen met ’n mens se gesindheid. “Oorlewing”, sê The SAS Survival Handbook, “is net soos fisiese volharding en kennis ’n geestesgesindheid.”
Doen wat jy kan onder die omstandighede
“In die Verenigde State word iemand elke 22 minute vermoor, elke 47 sekondes beroof en elke 28 sekondes ernstig aangerand”, berig Staying Alive—Your Crime Prevention Guide. Wat kan jy onder sulke omstandighede doen? Jy kan, op die allerminste, probeer om nie jouself ’n ooglopende teiken of ’n maklike slagoffer te maak nie. Wees waaksaam en versigtig. Doen wat jy kan om die gevaar tot die minimum te beperk.a
Moet byvoorbeeld nie jou situasie vererger deur liggelowig te wees nie. The New York Times berig dat 18 persent van Amerikaners erken dat hulle al slagoffers van swendelary was—dat hulle van duisende dollars beroof is deur die skelmstreke van gewetenlose mense wat op soek is na kwesbare slagoffers. Die slagoffers is dikwels ouer mense, soos ’n 68-jarige weduwee wat van $40 000 (R174 000) beroof is. Haar ondervinding het aanleiding gegee tot die opskrif: “As die hare grys is, sien swendelaars groen [dit wil sê Amerikaanse banknote of dollars].”
Maar jy hoef nie net nog ’n onskuldige, hulpelose slagoffer te wees wat wag om uitgebuit te word nie. Staying Alive waarsku ons: “Pasop vir die wolf in skaapsklere.” Een 70-jarige ouma het hierdie raad aangeneem. Sy is algehele versekeringsdekking vir mediese rekeninge aangebied teen ’n koste van slegs $10 (R44) per maand. “Al wat Ouma moes doen”, sê die berig, “was om vir die verkoopsagent $2500 [R10 875] vooruit te gee.” Sy het nie. Deur die versekeringsmaatskappy te skakel, het sy uitgevind dat die man ’n swendelaar was. “Terwyl sy vir die verkoopsagent sy tweede koppie tee geskink het, het die polisie opgedaag en hom in hegtenis geneem.”
Die feit dat ’n mens moet doen wat jy kan om jouself te beskerm, is opgesluit in die raad wat in die Bybel gegee word. “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe” (Spreuke 14:15; 27:12). Baie mense verwerp die Bybel as outyds en onprakties. Maar die betroubare raad daarin kan jou help om staande te bly. Die wyse koning Salomo het geskryf: “Wysheid [soos wat in die Bybel gevind word] is ’n beskutting, geld is ’n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe.”—Prediker 7:12.
Talle lesers van die Ontwaak! het gevind dat dit waar is. Party is byvoorbeeld in sekere mate beskerm deur hard te skreeu wanneer hulle met verkragting of ander geweld gedreig is, in ooreenstemming met wat daar in Deuteronomium 22:23, 24 gesê word. Ander het die Bybel se raad gevolg om enigiets te vermy “wat die liggaam of die gees besoedel” (2 Korintiërs 7:1, The Twentieth Century New Testament). Hulle het hulle sodoende beskerm teen tabak- en dwelmsmouse, wat hulleself ten koste van ander mense se gesondheid verryk. Baie lesers het ook die strikke van geldgierige TV-predikers en magshonger politici ontwyk. (Sien venster, bladsy 7.) Lees gerus die Bybel. Jy sal dalk verbaas wees oor hoeveel praktiese hulp dit bied.
Moenie deur gierigheid besmet word nie
Gierigheid hou natuurlik ook ’n ander gevaar in—jy kan self gierig raak. Dit sal jou beroof van die fyner sedelike eienskappe wat jou van diere onderskei. In ’n beskrywing van ’n sakegeleentheid wat enigeen vryelik kon benut en waar sakemanne gegryp het wat hulle kon, het ’n waarnemer glo gesê: “Die varke het omtrent weggelê. Die vlak van gierigheid . . . het eenvoudig buite beheer geraak.” Dit is waarskynlik ’n groter belediging vir die varke as vir die opportunistiese sakemanne! Dit lyk of hulle beslis die goeie raad wat Jesus Christus gegee het, geïgnoreer het: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug.”—Lukas 12:15.
Jesus Christus het daardie raad gegee omdat hy geweet het watter groot skade ’n mens jouself kan berokken as jy in die greep van gierigheid beland. ’n Onbeheerste verlange na materiële dinge—en natuurlik ook ’n onbeheerste verlange na mag of seks—kan die allesoorheersende drang in jou lewe word, wat jou kan beroof van enige tyd of begeerte wat jy mag hê om na ander mense of geestelike waardes om te sien. “Geld”, sê Anthony Sampson in sy boek The Midas Touch, het “baie eienskappe van ’n godsdiens aangeneem.” Hoe so? Geld word ’n god. Die res word alles op die altaar van gierigheid en wins geoffer. Wat op die end saak maak, is wins. Hoe meer, hoe beter. Maar ongeag hoeveel tyd jy daaraan wy, die begeerte na materiële dinge sal in werklikheid nooit heeltemal bevredig word nie. Prediker 5:9 sê: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie.” Net so sal ‘hy wat lief is’ vir mag, besittings of seks nooit tevrede wees nie, ongeag hoeveel hy daarvan kry.
Moet nooit die hoop op redding laat vaar nie
Een sleutelfaktor om staande te bly, is om ’n hoopvolle en positiewe uitkyk op die lewe te behou. Soms is daar min wat jy kan doen om die gevolge van gierige mense te ontkom. Mense wat honger ly, kan byvoorbeeld dikwels nie veel doen om uit hulle onmiddellike verknorsing te kom nie. Maar hou moed; moenie tou opgooi nie. “Dit is maklik om die stryd gewonne te gee, te knak en deur selfbejammering verteer te word” wanneer jy aan ’n vyandige of gevaarlike omgewing blootgestel word, sê The SAS Survival Handbook. Moenie aan negatiewe gedagtes en emosies toegee nie. Jy sal dalk verbaas wees oor hoeveel jy kan verduur. “Mans en vroue het getoon dat hulle die moeilikste situasies kan deurstaan”, het dieselfde boek gesê. Hoe het hulle dit gedoen? Hulle het staande gebly, sê die boek, “omdat hulle vasbeslote was om dit te doen”. Wees vasbeslote om jou nie deur hierdie gierige stelsel te laat onderkry nie.
James Scott, wat vroeër gemeld is, is eindelik gered van dit wat sy graf in die Himalajagebergte kon geword het. Hy het gesê dat sy stryd om te bly lewe hom ten minste een belangrike les geleer het. Wat was dit? “Daar is geen uitdaging in die lewe wat te moeilik is om die hoof te bied nie”, het hy gesê. Tim Macartney-Snape, ’n ervare bergklimmer wat verbaas was dat James Scott lank genoeg aan die lewe kon bly om lewend gevind te word, het ook ’n les hieruit geleer. Hy het gesê: “So lank as wat daar nog ’n sprankie hoop is, moet ’n mens nooit moed opgee nie.” Ongeag hoe donker sake dus mag lyk, jy maak dit net erger as jy moed verloor. Moet nooit die hoop op redding laat vaar nie.
Maar is daar enige “sprankie hoop”, enige realistiese kans op redding uit ’n wêreld wat so vol gierigheid is? Sal ons ooit ontslae wees van gierige mense wat hierdie planeet verniel en miljarde mense se lewens verwoes? Daar is in werklikheid ’n gewisse vooruitsig op redding. Let op die Bybel se antwoord in die volgende artikel.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Geweld—Jy kan jouself beskerm”, in die Ontwaak! van 22 April 1989, bladsye 7-10.
[Venster op bladsy 7]
Die Bybel se tydige waarskuwings
Spreuke 20:23 “Twee soorte gewig is vir die here ’n gruwel, en ’n valse weegskaal is nie goed nie.”
Jeremia 5:26, 28 “Onder my volk word goddelose gevind; hulle loer soos voëlvangers buk, hulle het ’n val gestel, hulle vang mense. Hulle het vet, hulle het glad geword; selfs gaan hulle oor die maat van boosheid heen. Reg verskaf hulle nie, selfs die reg van die wees nie, dat hulle voorspoed kan hê; ook handhaaf hulle die reg van die behoeftiges nie.”
Efesiërs 4:17-19 “Dít sê ek dus en getuig ek van in die Here, dat julle nie langer moet aanhou wandel soos ook die nasies in die nutteloosheid van hulle verstand wandel nie, terwyl hulle verstandelik in duisternis is en vervreemd is van die lewe wat tot God behoort, weens die onkunde wat in hulle is, weens die ongevoeligheid van hulle hart. Aangesien hulle alle sedelikheidsgevoel verloor het, het hulle hulle aan losbandige gedrag oorgegee om met gierigheid elke soort onreinheid te bedryf.”
Kolossense 3:5 “Maak dus julle liggaamsdele wat op die aarde is dood wat betref hoerery, onreinheid, geslagslus, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodery is.”
2 Timoteus 3:1-5 “Maar weet dít, dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir goedheid, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën; en keer jou van hierdie mense af.”
2 Petrus 2:3 “Hulle [sal] julle uit hebsug met vals woorde uitbuit. Maar wat hulle betref, die oordeel van lank gelede af sloer nie, en hulle vernietiging sluimer nie.”