Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 2/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pous sê individue, nie die kerk nie, dra die skuld
  • “Gesinne aan die verander”
  • Frankryk se belangstelling in die okkulte
  • Japan se muntoutomate
  • Naderende tiener-“misdaadstorm”
  • Bloedlose chirurgie kry vaart
  • Ly jy aan tegno-spanning?
  • Die lyster-motoralarm
  • Heidense fees steeds gewild
  • Dokters kyk weer na bloedlose chirurgie
    Ontwaak!—1998
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2011
  • Sal die Kerk se dade met die pous se woorde strook?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Die toenemende gewildheid van bloedlose geneeskunde en chirurgie
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 2/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Pous sê individue, nie die kerk nie, dra die skuld

In ’n brief aan kerkleiers, burgerlike owerhede en die bevolking van Rwanda het pous Johannes-Paulus II die Rooms-Katolieke Kerk probeer vryspreek van aanspreeklikheid vir die volkslagting wat in 1994 daar plaasgevind het. “Die kerk kan nie op sigself verantwoordelik gehou word vir die wandade van sy lidmate wat in stryd met die evangeliese wet opgetree het nie”, het hy gesê. Die Pous het egter ook gesê: “Alle lidmate van die kerk wat gedurende die volkslagting gesondig het, moet die moed hê om die gevolge te aanvaar van die dade wat hulle gepleeg het.” Dit is klaarblyklik die eerste keer dat die Pous hom in die openbaar uitspreek oor die klag dat priesters in Rwanda ’n aandeel gehad het aan die slagting, wat die lewens van ongeveer 500-000 mense geëis het, en dit daadwerklik ondersteun het, asook die klag dat die Katolieke hiërargie geen stappe gedoen het om dit te beëindig nie. Die Vatikaanse kommentator Luigi Accattoli het in die Italiaanse koerant Corriere della Sera geskryf dat die Pous se stelling dat Katolieke nie die gereg moet probeer ontduik nie “’n gevoelige snaar aanraak” omdat “daar onder diegene wat van die volkslagting beskuldig word ook priesters is wat na die buiteland gevlug het”. Die meeste mense in Rwanda is Katolieke.

“Gesinne aan die verander”

“Die samestelling van die tipiese Kanadese gesin het so dramaties verander dat getroude paartjies met kinders slegs 44,5 persent van alle gesinne uitmaak”, berig The Globe and Mail. In teenstelling hiermee “het egpare met kinders in 1961 bykans 65 persent van alle Kanadese gesinne uitgemaak”. Nog ’n skokkende syfer is die toename in die getal gemeenregtelike huwelike, wat byna verdriedubbel het, van 355 000 in 1981 tot 997-000 in 1995. Die opname wat deur Statistics Canada gedoen is, het ook gesê: “As die syfer van egskeidings, hertroues en saamwonery hoog bly, kan groter onbestendigheid in gesinstrukture verwag word.”

Frankryk se belangstelling in die okkulte

“Waarom bring die Franse deesdae soveel tyd saam met sieners en spiritistiese mediums deur?” vra The New York Times. “Volgens berig raadpleeg die Franse meer heldersieners en numeroloë as ooit tevore. . . . Die regering het bewyse dat die toorkuns aan die floreer is. Verlede jaar het die belastingowerheid gesê dat byna 50 000 belastingbetalers, die hoogste syfer tot nog toe, inkomste verklaar het uit hulle werk as sterrekykers, helers, mediums en soortgelyke beroepe. Vergelykenderwys het die land minder as 36 000 Rooms-Katolieke priesters en ongeveer 6000 psigiaters gehad.” Vir sommige dui dié bedrywigheid op vrees vir wat moontlik aan die einde van die millennium sal gebeur. Ander beskou dit as ’n gevolg van die verswakking van gevestigde instellings, soos godsdiens. Die beoefenaars van hierdie beroepe sê dat hulle klandisie in die laaste jare grootliks verander het. In die verlede was die meeste klante vroue. Nou is daar so te sê ewe veel van albei geslagte. En mense vra nou nie meer uit oor siekte en hartsake nie, maar oor hulle werk.

Japan se muntoutomate

“Daar is byna niks wat ’n mens nie by ’n muntoutomaat in Japan kan kry nie”, sê The Washington Post. Muntoutomate gee geskenke, CD’s, bier, boksbroekies, eiers, pêrels, opgestopte olifante, broekiekouse, weggooikameras en omtrent enigiets anders waaraan ’n mens kan dink. Daar is muntoutomate waarvoor jy nie hoef te buk nie en wat die artikels op borshoogte uitstoot, outomate wat laag is en nie die uitsig sal belemmer nie en selfs outomate wat met blomme of ander motiewe versier is. “Japan is maar omtrent so groot soos Montana, maar dit het byna net soveel muntoutomate as wat daar in die hele Verenigde State is”, voeg die artikel by. “Die meeste Japannese muntoutomate staan buite; daar is selfs een bo-op die sneeubedekte berg Foedji.” Duur artikels kan buite verkoop word, aangesien die vandalismesyfer in Japan laag is. Vloerruimte is duur, en daarom maak winkeleienaars van muntoutomate gebruik om hulle rakruimte uit te brei. Dit kan op feitlik elke straathoek in Tokio aangetref word. Maar party groepe is ontsteld oor die feit dat drank, bier en sigarette verkry kan word deur enige kind wat ’n paar munte kan ingooi.

Naderende tiener-“misdaadstorm”

“Geweldsmisdade in die Verenigde State is ’n ‘tikkende tydbom’ wat in die volgende paar jaar sal ontplof”, sê The New York Times oor ’n verslag deur die Misdaadraad in Amerika, ’n organisasie van aanklaers en deskundiges op die gebied van wetstoepassing. “Terwyl volwassenes minder geweldsmisdade pleeg, het die syfer van geweldsmisdade onder tieners oor die afgelope dekade uitermate toegeneem. . . . Elke geslag tieners vanaf die vyftigerjare was gewelddadiger as die vorige geslag.” Teen die jaar 2005 sal die aantal 14- tot 17-jarige mans met 23 persent toeneem, en dit is hierdie toename waaroor die deskundiges bekommerd is. John J. DiIulio jr., ’n professor van die politiek en landsake aan die Princeton-universiteit, wat besorg is oor die feit dat die meeste gevaarlike misdadigers mans is wat hulle kriminele bedrywighede op ’n baie vroeë ouderdom begin, het gesê: “Ons is in die stilte voor die misdaadstorm.” Sy verslag wat saamgestel is vir die Misdaadraad in Amerika het daarop gewys dat omtrent ’n derde van alle geweldsmisdade gepleeg word deur mense wat in hegtenis geneem is, maar wat op parool, op proef of voor die verhoor vrygelaat is. Die regering het die verantwoordelikheid om sy burgers te beskerm, het die verslag gesê, maar hulle doen dit nie.

Bloedlose chirurgie kry vaart

Teen die einde van 1996 het ’n hospitaal in Hartford, Connecticut, VSA, by 56 ander in die land aangesluit wat “bloedlose sentrums vir Jehovah se Getuies” het, het The Hartford Courant berig. “Nadat die hospitaaladministrateurs die idee ondersoek het, het hulle besef dat die wense van Jehovah se Getuies nie meer so anders as dié van die meeste ander pasiënte was nie.” Met behulp van geneesmiddels en gevorderde chirurgiese tegnieke doen dokters orgaanoorplantings en gewrigsvervangings sowel as opehart-, kanker- en ander operasies—alles sonder die gebruik van bloed. Daarbenewens erken talle professionele gesondheidswerkers nou ruiterlik die gevare van ’n bloedoortapping. Dr. David Crombie jr., hoof van chirurgie by Hartford-hospitaal, erken openlik: “Ek het in die geneeskunde gestudeer toe bloed as ’n tonikum beskou is. Nou word dit as ’n gif beskou.” Die Bybel verbied deurgaans die inname van bloed in die liggaam.—Genesis 9:4; Levitikus 17:14; Handelinge 15:28, 29; 21:25.

Ly jy aan tegno-spanning?

Sellulêre telefone, roepradio’s, faksmasjiene, persoonlike rekenaars en modems het ’n omwenteling in kommunikasie veroorsaak. Maar dr. Sanjay Sharma, wat ’n besondere belangstelling in spanningbeheer het, meen dat hierdie nuwe tegnologie ook inbreuk maak op mense se privaatheid en ontspanningstyd. Die gevolg is tegno-spanning. Volgens ’n berig in The Toronto Star is “spanning ’n groot bydraende faktor by siekte, verlies aan produktiwiteit en vroeë dood”. Die gevolge sluit hoë bloeddruk, hartsiekte, luimwisselinge, hoofpyn, spierspanning, slaaploosheid, neerslagtigheid en verswakking van die immuunstelsel in. Hoe kan ’n mens tegno-spanning vermy? Dit is natuurlik altyd verstandig om jou dokter te raadpleeg. Daarbenewens beveel die verslag aan dat jy gereeld oefeninge doen, ’n naweek vakansie gaan hou en daagliks sonlig kry, wat “die afskeiding van hormone prikkel wat neerslagtigheid en spanning teëwerk”. Laastens “kan jy die luitoestel aan jou telefoon en faksmasjien afskakel. Laat die antwoordmasjien oproepe neem.”

Die lyster-motoralarm

Lysters veroorsaak ’n ongewone probleem in Guisborough, ’n stad in Noord-Yorkshire, Engeland—hulle laat mense uit hulle vroegoggendslaap wakker skrik deur motoralarms na te boots. “Wanneer die eienaars uitstorm om die diewe voor te keer, vind hulle dikwels ’n lyster wat besig is om te sing”, berig The Times van Londen. “Dit het presies die regte klank en toonhoogte gehad”, het ’n plaaslike inwoner gesê. “Ons sal almal gek word.” En daar is dalk nie veel verligting in die vooruitsig nie. Namate een voël ’n nuwe lied vir ’n ander voël leer, kan die liedjie baie algemener word. Daar is eintlik ongeveer 30 van Brittanje se voëlspesies wat ander klanke kan naboots. Die bekende Europese spreeu is die talentvolste van almal en kan maklik die geroep van ander voëls naboots. Een was daarvoor bekend dat hy die gelui van ’n telefoon so oortuigend kon naboots dat dit onmoontlik was om die nabootsing van die werklike te onderskei.

Heidense fees steeds gewild

Die feesdag van sint Johannes die Doper “het minder te doen met die Katolieke heilige as wat ’n mens dink”, berig Brasilië se Folha de S. Paulo. Hoewel die fees “saamval met die dag waarop die heilige glo gebore is, . . . het die werklike viering landboukundige en heidense karakter”. Die koerant som die bevindings van antropoloog Câmara Cascudo op deur te sê dat “Germaanse en Keltiese sonkultusse” die fees met oestyd gevier het “om die demone van onvrugbaarheid, graanplae en droogtes te verdryf”. Die fees is jare later deur die Portugese na Brasilië gebring. Iets wat in party lande steeds ’n kenmerk van die fees is, is die aansteek van sint Johannes-vure. Waar het hierdie gebruik ontstaan? “Die tradisie . . . word verbind met die aanbidding van die songod, wat vereer is sodat hy nie te ver van die aarde wegbeweeg nie en ook om ’n strawwe winter te vermy”, sê die koerant.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel