Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 3/22 bl. 14-16
  • Jehovah Se Getuies wen ’n hofsaak in Griekeland

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah Se Getuies wen ’n hofsaak in Griekeland
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godsdiensvryheid en menseregte
  • Jehovah se Getuies kan nie gestuit word nie
  • Godsdiensvryheid word gehandhaaf
  • Nie sommer net ’n grap nie
  • Waarom ’n internasionale hof in Europa?
    Ontwaak!—1996
  • ’n Oorwinning in die Europese Hof van Menseregte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Die wetlike beskerming van die goeie nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • ’n Onreg word deur ’n Europese hof reggestel
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 3/22 bl. 14-16

Jehovah Se Getuies wen ’n hofsaak in Griekeland

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER

DIE Ortodokse priester in die Kretensiese dorpie Gazi het gedurende een van sy preke gesê: “Jehovah se Getuies het ’n saal reg hier in ons dorp. Ek het julle ondersteuning nodig om van hulle ontslae te raak.” Een aand, ’n paar dae later, het onbekende mense die Koninkryksaal se vensters stukkend geslaan en skote op die saal geskiet. So het godsdiensvryheid weer ’n geskilpunt in Griekeland geword.

Hierdie gebeure het vier van die plaaslike Getuies, Kyriakos Baxevanis, Vassilis Hatzakis, Kostas Makridakis en Titos Manoussakis, beweeg om ’n versoek by die Minister van Onderwys- en Godsdienssake in te dien vir ’n permit om godsdiensvergaderinge te hou. Hulle het gehoop dat ’n permit uiteindelik polisiebeskerming sou verseker. Maar dit sou nie so maklik wees nie.

Die priester het ’n brief na die hoofkwartier van die veiligheidspolisie in Iráklion gestuur, waarin hy die owerheid se aandag gevestig het op die feit dat daar ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in sy kerk se gebied is en waarin hy versoek het dat sanksies ingestel word en dat hulle vergaderinge verbied word. Dit het tot ’n polisieondersoek en ondervragings gelei. Uiteindelik het die aanklaer ’n strafsaak teen die Getuies aanhangig gemaak, en die saak is voor die hof gebring.

Op 6 Oktober 1987 het die Strafhof van Iráklion die vier verweerders vrygespreek en gesê dat “hulle nie die daad gepleeg het waarvoor hulle aangekla is nie, omdat lede van ’n godsdiens vry is om vergaderinge te hou . . . , sonder dat ’n permit nodig is”. Ten spyte hiervan het die aanklaer twee dae later appèl teen die uitspraak aangeteken, en die saak is voor ’n hoër hof gebring. Op 15 Februarie 1990 het hierdie hof die Getuies ’n vonnis van twee maande tronkstraf en ’n boete van omtrent R470 opgelê. Die verweerders het vervolgens na die Hooggeregshof van Griekeland geappelleer.

Op 19 Maart 1991 het die Hooggeregshof die appèl van die hand gewys en die skuldigbevinding bekragtig. Meer as twee jaar later, op 20 September 1993, toe die Hooggeregshof se beslissing bekend gemaak is, is die Koninkryksaal amptelik deur die polisie gesluit. Volgens ’n polisiedokument het die Ortodokse Kerk op Kreta agter hierdie optrede gesit.

Hierdie situasie het ontstaan omdat sekere wette, wat in 1938 aangeneem is met die doel om godsdiensvryheid te beperk, nog steeds in Griekeland van krag is. Dit bepaal dat ’n individu wat ’n plek van aanbidding wil bedryf ’n permit by die Departement van Onderwys- en Godsdienssake moet kry, asook by die plaaslike biskop van die Ortodokse Kerk. Hierdie anachronistiese wette het dekades lank al baie probleme vir Jehovah se Getuies veroorsaak.

Godsdiensvryheid en menseregte

Toe die vier Getuies uitvind dat hulle skuldigbevinding deur die Hooggeregshof bekragtig is, het hulle op 7 Augustus 1991 ’n aansoek ingedien by die Europese Kommissie vir Menseregte, in Straatsburg, Frankryk. Die aansoekers het gesê dat hulle skuldigbevinding in stryd is met Artikel 9 van die Europese Konvensie, wat vryheid van denke, gewete en godsdiens waarborg, sowel as die reg om ’n mens se godsdiens alleen of saam met ander en in die openbaar of privaat te beoefen.

Op 25 Mei 1995 het die 25 lede van die Kommissie eenparig besluit dat Griekeland in hierdie geval in stryd met Artikel 9 van die Europese Konvensie opgetree het. Hulle verklaring was dat die skuldigbevinding ter sake nie verenigbaar met die gees van godsdiensvryheid was nie en nie in ’n demokratiese gemeenskap nodig was nie. Hierdie beslissing aangaande die toelaatbaarheid van die saak het ook gesê: “Die aansoekers . . . is lede van ’n beweging wie se godsdiensplegtighede en -gebruike in talle Europese lande algemeen bekend en wettig is.” Op die end het die Kommissie die saak na die Europese Hof van Menseregte verwys.

Jehovah se Getuies kan nie gestuit word nie

Die saak sou op 20 Mei 1996 verhoor word. Daar was meer as 200 mense in die hofsaal, waaronder studente en professore van die plaaslike universiteit, joernaliste en ’n aantal Getuies van Jehovah uit Griekeland, Duitsland, België en Frankryk.

Mnr. Phédon Vegleris, ’n professor emeritus aan die Universiteit van Atene en die Getuies se prokureur, het volgehou dat die beleid wat gevolg is en die uitsprake wat deur die nasionale owerheid gelewer is nie net die Europese Konvensie nie, maar ook die Grondwet van Griekeland geskend het. “Dit is dus nasionale wetgewing en die toepassing daarvan waaraan die Hof aandag gee.”

Die prokureur vir die Griekse regering was ’n regter van die Staatsraad, wat, in plaas van die feite te bespreek, verwys het na die standpunt wat die Ortodokse Kerk in Griekeland ingeneem het, na die noue bande wat die kerk met die staat en die volk het en na die sogenaamde nodigheid om ander godsdienste in toom te hou. Hy het ook verder gesê dat Jehovah se Getuies vanaf 1960 daarin geslaag het om hulle getalle grootliks te vermeerder. Met ander woorde, die Ortodokse monopolie is met welslae betwis!

Godsdiensvryheid word gehandhaaf

Die uitspraak sou op 26 September gelewer word. Die spanning het hoog geloop, veral onder Jehovah se Getuies. Die President van die Kamer, mnr. Rudolf Bernhardt, het die beslissing afgelees: Die Hof, wat uit nege regters bestaan het, het eenparig besluit dat Griekeland Artikel 9 van die Europese Konvensie geskend het. Dit het ook ’n bedrag van ongeveer R79500 aan die aansoekers toegeken om die onkoste te dek. Bowenal het die beslissing talle noemenswaardige argumente ten gunste van godsdiensvryheid ingesluit.

Die Hof het gesê dat die Griekse wet ruimte laat vir “verreikende inmenging deur die politieke, administratiewe en kerklike owerhede wat die beoefening van godsdiensvryheid betref”. Dit het bygevoeg dat die vereiste prosedure om ’n permit te bekom deur die staat gebruik is “om streng, of eintlik verbiedende, voorwaardes te stel op die uitleef van godsdiensoortuigings deur sekere nie-ortodokse bewegings, veral Jehovah se Getuies”. Die verbete metodes wat soveel dekades lank deur die Ortodokse Kerk gebruik is, is deur hierdie internasionale hof blootgelê.

Die Hof het beklemtoon dat “die reg op godsdiensvryheid soos dit deur die Konvensie gewaarborg word dit geensins aan die staat oorlaat om na goeddunke te bepaal of godsdiensoortuigings of die manier waarop sulke oortuigings uitgeleef word wettig is of nie”. Dit het ook gesê dat “Jehovah se Getuies onder die definisie van ’n ‘bekende godsdiens’ val soos deur die Griekse wet bepaal word . . . Dit is bowendien deur die regering erken.”

Nie sommer net ’n grap nie

Gedurende die daaropvolgende paar dae het die meeste van die vername Griekse koerante publisiteit aan hierdie saak gegee. Op 29 September 1996 het die Sondaguitgawe van Kathimerini hierdie opmerking gemaak: “Al probeer die Griekse regering ook hoe hard om dit as ‘sommer net ’n grap’ af te maak, is die ‘klap in die gesig’ wat dit van die Europese Hof van Menseregte in Straatsburg gekry het ’n voldonge feit, ’n feit wat op ’n internasionale skaal deeglik opgeteken is. Die Hof het Griekeland aan Artikel 9 van die Konvensie oor Menseregte herinner, en dit het Griekeland se wetgewing eenparig veroordeel.”

Die Ateense dagblad Ethnos het op 28 September 1996 geskryf dat die Europese Hof “Griekeland veroordeel het en hulle beveel om vergoeding te betaal aan hulle burgers wat ongelukkig moes ly omdat hulle Jehovah se Getuies is”.

Een van die aansoekers se prokureur, mnr. Panos Bitsaxis, het in ’n onderhoud gedurende ’n radioprogram gesê: “Ons lewe in die jaar 1996, op die drempel van die 21ste eeu, en dit spreek vanself dat daar nie diskriminasie, teistering of inmenging deur die administrasie moet wees wat die beoefening van die basiese reg op godsdiensvryheid betref nie. . . . Dít is ’n goeie geleentheid vir die regering om weer na sy beleid te kyk en hierdie sinlose diskriminasie te beëindig, wat in vandag se dae absoluut geen nut het nie.”

Die beslissing in die saak van Manoussakis en Ander v. Griekeland laat die hoop ontstaan dat die Griekse regering sy wetgewing in ooreenstemming met die Europese Hof se uitspraak sal bring, sodat Jehovah se Getuies in Griekeland godsdiensvryheid kan geniet sonder inmenging deur die administrasie, die polisie of die kerk. Daarbenewens is dit die tweede uitspraak wat die Europese Hof teen die Griekse regbank gelewer het oor sake rakende godsdiensvryheid.a

Dit is alom bekend dat Jehovah se Getuies gehoorsaam is aan die goewermentele “hoër owerhede” in alle sake wat nie met God se Woord bots nie (Romeine 13:1, 7). Hulle hou geensins ’n bedreiging vir die openbare orde in nie. Inteendeel, hulle publikasies en openbare bediening moedig almal aan om wetsgehoorsame burgers te wees en ’n vreedsame lewe te lei. Hulle is ’n opregte en goedgevestigde godsdiensgroep, en hulle lede het al baie bygedra tot die welsyn van die buurt waar hulle woon. Hulle standvastigheid in die handhawing van die hoë sedelike standaarde van die Bybel asook hulle naasteliefde, wat veral in hulle Bybelonderrigtingswerk gesien kan word, het ’n heilsame uitwerking in die meer as 200 lande waar hulle bedrywig is.

Hopelik sal die beslissings wat deur die Europese Hof gelewer is groter godsdiensvryheid vir Jehovah se Getuies en alle ander godsdiensminderheidsgroepe in Griekeland meebring.

[Voetnoot]

a Die eerste beslissing, wat in 1993 gelewer is, was die saak van Kokkinakis v. Griekeland.—Sien Die Wagtoring, 1 September 1993, bladsy 27.

[Prent op bladsy 15]

Die oorspronklike Koninkryksaal wat op 20 September 1993 deur die polisie gesluit is

[Prent op bladsy 15]

Die Europese Hof van Menseregte, Straatsburg

[Prent op bladsy 16]

Die betrokke Getuies: T. Manoussakis, V. Hatzakis, K. Makridakis, K. Baxevanis

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel