Waarom ’n internasionale hof in Europa?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NEDERLAND
TOE die eienaar van ’n motorhawe in die noordelike deel van Nederland ’n permit geweier is om vloeibare gas te verkoop, wat ook geïmpliseer het dat hy nie motorenjins mag omskep om vloeibare gas te verbrand nie, het hy ’n lang regstryd in verskeie howe gevoer om die beperking wat deur die staat opgelê is opgehef te kry. Intussen het hy bankrot gespeel.
Aangesien hy gemeen het dat die howe van Nederland hom geregtigheid ontsê het, het hy hom op die Europese Hof van Menseregte in Straatsburg beroep. In 1985 het die Europese Hof in sy guns uitspraak gelewer. Die eienaar van die motorhawe het die hofbeslissing as ’n geweldige sedelike oorwinning beskou omdat dit, soos die man dit gestel het, ‘bewys het dat hy die hele tyd reg gehad het’.
Hy is een van ’n aantal burgers in Europese lande wat hulle gedurende afgelope dekades op die Europese Hof van Menseregte beroep het. Hierdie hof hoor nie net klagtes van individue in Europa aan nie, maar ook klagtes van lande teen ander lande wanneer daar gemeen word dat fundamentele menseregte nie geëerbiedig is nie. Die toename in die aantal hofsake in internasionale howe weerspieël burgers en party regerings se hunkering na geregtigheid.
Die Europese Hof van Menseregte
In 1950 het verskeie Europese lande, wat in die Raad van Europa verenig was en in Rome vergader het, besluit om ’n verdrag te sluit waarvolgens hulle hulle burgers en buitelanders wat onder hulle geregtelike gesag gewoon het sekere regte en vryhede kon waarborg. Later is ander regte bygevoeg, terwyl ’n toenemende aantal Europese lande terselfdertyd by die Europese Verdrag aangesluit het met die doel om menseregte en basiese vryhede te beskerm. Party van hierdie regte het te doen met die beskerming van lewe en die verhindering van marteling, en ander het te doen met die gesinslewe sowel as godsdiensvryheid, vrye meningsuiting, vryheid van mening, die reg van vergadering en vryheid van omgang. Slagoffers van skendings van hierdie menseregte kan by die sekretaris-generaal van die Raad van Europa ’n klag teen die land indien.
Sedert die aanvang van die hof is meer as 20 000 klagtes al ingedien. Hoe bepaal die hof watter sake verhoor moet word? Eerstens word ’n poging aangewend om versoening te bewerkstellig. As dit misluk en die klag as geldig beskou word, word dit voor die Europese Hof van Menseregte in Straatsburg gebring. Net ongeveer 5 persent van die klagtes bereik ooit die hof. Tot die einde van 1995 het die hof 554 uitsprake gelewer. Hoewel die hofbeslissing in die geval van ’n klag deur ’n individu vir die betrokke land bindend is, is die situasie nie so eenvoudig wanneer ’n klag deur ’n land of lande ingedien word nie. In so ’n geval sal die land teen wie die uitspraak gelewer is waarskynlik eerder ’n polities voordelige weg kies as om aan die eise van die verdrag te voldoen. Terwyl die Internasionale Geregshof in Den Haag net geskille tussen lande behartig, lewer die Europese Hof ook uitspraak wanneer daar geskille tussen burgers en lande is.
Oorwinnings ten gunste van godsdiensvryheid in Europa
In 1993 het die Europese Hof van Menseregte twee belangrike beslissings ten gunste van godsdiensvryheid gelewer. Die eerste saak het met ’n inwoner van Griekeland, Minos Kokkinakis, te doen gehad. As een van Jehovah se Getuies is hy sedert 1938 meer as 60 keer gearresteer, moes hy 18 keer voor Griekse howe verskyn en het hy meer as ses jaar in die tronk deurgebring.
Op 25 Mei 1993 het die Europese Hof beslis dat die Griekse regering die godsdiensvryheid van Minos Kokkinakis, wat toe 84 was, geskend het en het hom skadevergoeding van R42 500 toegeken. Die hof het die argument van die Griekse regering verwerp dat Kokkinakis en Jehovah se Getuies in die geheel druk op ander uitoefen wanneer hulle hulle geloof met hulle bespreek.—Sien Die Wagtoring van 1 September 1993, bladsye 27-31, vir bykomende inligting.
In die tweede saak het die Europese Hof ten gunste van Ingrid Hoffmann van Oostenryk uitspraak gelewer. Ná haar egskeiding is sy toesig oor haar twee kinders ontneem omdat sy een van Jehovah se Getuies geword het terwyl sy getroud was. Die laer howe het oorspronklik die toesig aan haar toegeken, maar die Hooggeregshof het dit aan haar Katolieke man toegeken. Die hof het hierdie optrede op ’n Oostenrykse wet gegrond wat sê dat kinders as Katolieke grootgemaak moet word as die ouers Katolieke was toe hulle getroud is tensy albei ooreenkom om van godsdiens te verander. Haar gewese man het beweer dat sy die kinders nie op ’n normale, oordeelkundige manier kon grootmaak noudat sy een van Jehovah se Getuies geword het nie. Op 23 Junie 1993 het die Europese Hof beslis dat Oostenryk teen mev. Hoffmann gediskrimineer het op grond van haar godsdiens en haar reg geskend het om haar gesin groot te maak. Skadevergoeding is aan haar toegeken.—Sien die Ontwaak! van 8 Oktober 1993, bladsy 15, vir bykomende inligting.
Hierdie beslissings raak alle mense wat godsdiensvryheid en vrye meningsuiting liefhet. Beroepe wat op internasionale howe gedoen word, kan tot die beskerming van fundamentele regte van burgers bydra. Dit is ook verstandig om te besef dat regsinstellings beperkings het. Ondanks die beste bedoelings ter wêreld kan hulle nie blywende vrede en algehele eerbied vir menseregte waarborg nie.