Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 3/22 bl. 17-19
  • Afknouery—Watter kwaad kan dit doen?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Afknouery—Watter kwaad kan dit doen?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is ’n bullebak?
  • Waarom iemand ’n bullebak word
  • Lewenslange gevolge
  • Hoe om te verander
  • Afknouery—’n Paar oorsake en gevolge
    Ontwaak!—2003
  • Hoe om afknouery die hoof te bied
    Ontwaak!—2003
  • Sê nou ek word afgeknou?
    Jongmense vra
  • Afknouery—’n Wêreldwye probleem
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 3/22 bl. 17-19

Jongmense vra . . .

Afknouery—Watter kwaad kan dit doen?

‘Hêi! Ek het net ’n bietjie pret gehad. Waaroor is die bohaai? Buitendien het Ron dit verdien.’

JY IS dalk groter en sterker as die meeste van jou portuurs. Of miskien is jy snedig, sarkasties en aggressief. Hoe dit ook al sy, dit is vir jou maklik om ander te intimideer, te terg of uit te lag.

Al laat dit miskien jou vriende lag wanneer jy ander afknou, is dit nie maar net ’n kleinigheid nie. Om die waarheid te sê, sommige navorsers vind nou uit dat afknouery skadeliker vir die slagoffers daarvan is as wat hulle ooit gedink het. Een opname onder skoolgaande jongmense in Amerika het bevind dat “90 persent van dié wat afgeknou is, gesê het dat hulle newe-effekte ondervind—laer punte, groter spanning, ’n verlies aan vriende of sosiale lewe”. In Japan het ’n 13-jarige “homself opgehang nadat hy ’n lang brief geskryf het waarin hy in besonderhede vertel hoe hy drie jaar lank afgeknou is”.a

Presies wat maak van iemand ’n bullebak? En hoe kan jy verander as jy self soos een optree?

Wat is ’n bullebak?

Die Bybel vertel vir ons van bullebakke wat voor die Vloed van Noag se dag geleef het. Hulle is die Nefilim genoem—’n woord wat “hulle wat ander neervel”, beteken. Gedurende hulle skrikbewind ‘was die aarde vol geweld’.—Genesis 6:4, 11.

Maar jy hoef nie mense te slaan of rond te stamp om ’n bullebak te wees nie. Enigiemand wat ander mense—veral dié wat swak en kwesbaar is—op ’n wrede of smadende manier behandel, is ’n bullebak. (Vergelyk Prediker 4:1.) Bullebakke probeer mense dreig, intimideer en beheer. Maar die meeste van hulle gebruik hulle mond, nie hulle vuiste nie. Trouens, emosionele afknouery is die algemeenste vorm van hierdie mishandeling. Dit kan dus beledigings, sarkasme, bespotting en slegsêery insluit.

Soms kan afknouery egter subtiel wees. Neem byvoorbeeld wat met Lisa gebeur het.b Sy het saam met ’n groep vriendinne grootgeword. Maar toe sy omtrent 15 jaar oud was, het dinge begin verander. Lisa het baie mooi geword en baie aandag begin trek. Sy verduidelik: “My vriendinne het my uit hulle kring begin uitsluit en lelike dinge van my agter my rug—of selfs in my gesig—gesê.” Hulle het ook leuens oor haar versprei in ’n poging om haar reputasie te skend. Ja, jaloesie het daartoe aanleiding gegee dat hulle haar op ’n gevoellose en wrede manier afgeknou het.

Waarom iemand ’n bullebak word

Aggressiewe gedrag hou dikwels verband met ’n persoon se huislike omstandighede. “My pa was aggressief”, sê ’n jeugdige met die naam Scott, “daarom was ek aggressief.” Aaron het ook ’n moeilike huislewe gehad. Hy onthou: “Ek het besef dat mense van my gesinsituasie bewus was—dat dit anders was—en ek het nie daarvan gehou dat mense vir my jammer voel nie.” Wanneer Aaron dus aan sport deelgeneem het, móés hy eenvoudig wen. Maar om te wen, was nie genoeg nie. Hy moes sy opponente verneder—hulle hulle nederlaag onder die neus vryf.

Brent, daarteenoor, is deur godvresende ouers grootgemaak. Maar hy erken: “Ek het mense laat lag, maar soms het ek nie geweet wanneer om op te hou nie en het ek mense se gevoelens seergemaak.” Brent se begeerte om pret te hê en die aandag op homself te vestig, het veroorsaak dat hy nie ander mense se gevoelens in ag geneem het nie.—Spreuke 12:18.

Dit lyk of ander jongmense weer deur die televisie beïnvloed word. Misdaaddramas verheerlik ‘brekers’ en laat dit lyk of dit nie manlik is om goedhartig te wees nie. Gewilde komedies is vol sarkasme. Nuusberigte vestig dikwels die aandag op die bakleiery wat gedurende sportgeleenthede plaasvind en die growwe taal wat gebruik word. Ons vriende kan ook ’n invloed hê op die manier waarop ons ander behandel. Wanneer ons portuurs bullebakke is, is dit maklik vir ons om met die stroom saam te gaan om te voorkom dat daar op ons gepik word.

Wat jou situasie ook al mag wees, as jy afknouerig is, is dit nie net jou slagoffers wat benadeel word nie.

Lewenslange gevolge

Die tydskrif Psychology Today berig: “Afknouery begin miskien in die kinderjare, maar dit duur voort tot in volwassenheid.” Een navorsingstudie waaroor The Dallas Morning News berig gelewer het, het bevind dat “65 persent van die seuns wat in graad twee as afknouers geïdentifiseer is al op 24 aan misdaad skuldig bevind is”.

Dit is waar dat nie alle afknouers misdadigers word nie. Maar as jy ’n gewoonte daarvan maak om ander nie te ontsien nie, kan dit later in die lewe vir jou groot probleme skep. As dit selfs in die huwelik voortduur, kan dit geweldige spanning vir jou huweliksmaat en jou kinders tot gevolg hê. Aangesien werkgewers mense verkies wat weet hoe om goed met ander oor die weg te kom, kan dit jou werksgeleenthede beperk. Net so kan toekomstige voorregte in die Christengemeente ook weerhou word. “Ek sal graag eendag aan die vereistes vir ’n ouer man wil voldoen”, sê Brent, “maar my pa het my help besef dat mense nie met hulle probleme na my toe sal kom as hulle dink dat ek dalk iets sarkasties gaan sê nie.”—Titus 1:7.

Hoe om te verander

Ons sien nie altyd ons eie foute maklik raak nie. Die Skrif waarsku ons dat ’n mens selfs “in sy eie oë te glad teenoor homself [kan handel] om sy dwaling uit te vind ten einde dit te haat” (Psalm 36:2, NW). Daarom kan jy ’n ouer, ’n vertroude vriend of ’n ryp Christen vra vir hulle mening. Die waarheid maak dalk seer, maar dit kan jou help om te sien watter veranderinge jy moet aanbring (Spreuke 20:30). “Ek dink die grootste ding wat my gehelp het, was om te luister”, sê Aaron. “Diegene wat eerlik was, het vir my gesê wat ek verkeerd doen. Dit was nie altyd wat ek wou hoor nie, maar dit was wat ek regtig nodig gehad het.”

Beteken dit dat jy ’n dramatiese verandering in jou hele persoonlikheid moet ondergaan? Nee, dit sal waarskynlik net beteken dat jy jou denke en sekere optrede moet verander, oftewel reghelp (2 Korintiërs 13:11). Jy het byvoorbeeld tot nou toe dalk gedink dat jy beter as ander is weens jou grootte, krag of skerpsinnigheid. Maar die Bybel moedig ons aan om “met ootmoed die ander hoër as [onsself te] ag” (Filippense 2:3). Hou in gedagte dat ander—ongeag hulle grootte of krag—bewonderenswaardige eienskappe het wat jy nie het nie.

Jy moet moontlik ook die neiging afleer om aggressief of baasspelerig te wees. Werk daaraan om “nie in persoonlike belangstelling ’n oog op net [jou] eie sake [te] hou nie, maar ook in persoonlike belangstelling op dié van die ander” (Filippense 2:4). As jy wel iets moet sê, doen dit sonder om smadend, sarkasties of beledigend te wees.—Efesiërs 4:31.

As jy in die versoeking kom om iemand af te knou, onthou dan dat God die afknouerige Nefilim vernietig het (Genesis 6:4-7; 7:11, 12, 22). Eeue later, in die dae van die profeet Esegiël, het God groot misnoeë uitgespreek teenoor diegene wat daaraan skuldig was dat hulle die hulpeloses ‘weggedruk’ en ‘gestoot’ het (Esegiël 34:21). Die wete dat Jehovah afknouery haat, kan vir ’n mens as ’n kragtige aansporing dien om die nodige veranderinge aan te bring!

Dit help ook om biddend oor Bybelbeginsels te peins. Die Gulde Reël sê: “Alles wat julle dus wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Wanneer jy in die versoeking kom om iemand te intimideer, vra jou af: ‘Hou ek daarvan om afgeknou, geïntimideer of verneder te word? Waarom behandel ek ander dan so?’ Die Bybel beveel ons om “goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye” te word (Efesiërs 4:32). Jesus het ’n volmaakte voorbeeld in hierdie opsig gestel. Hoewel hy hoër as alle ander mense was, het hy almal met goedhartigheid, empatie en respek behandel (Matteus 11:28-30). Probeer dieselfde doen as jy te doen het met iemand wat swakker as jy is—of wat selfs op jou senuwees werk.

Maar wat daarvan as jou aggressiewe gedrag voortspruit uit woede as gevolg van die manier waarop jy by die huis behandel word? In sommige gevalle is sulke woede dalk geregverdig. (Vergelyk Prediker 7:7, NW.) Die Bybel sê nietemin vir ons dat die regverdige man Job gewaarsku is: “Pas op dat woede jou nie tot kwaadwillige [dade] verlok nie . . . Wees op jou hoede dat jy jou nie wend tot wat skadelik is nie” (Job 36:18, 21, NW). Selfs as jy mishandel word, het jy geen reg om ander te mishandel nie. ’n Beter benadering sal wees om met jou ouers daaroor te praat. As jy die slagoffer van ernstige mishandeling is, is hulp van persone buite die gesin dalk nodig om jou teen verdere leed te beskerm.

Dit is miskien nie maklik om te verander nie, maar dit is moontlik. Brent sê: “Ek bid omtrent elke dag hieroor, en Jehovah het my gehelp om ’n paar goeie veranderinge aan te bring.” Namate jy ook soortgelyke veranderinge aanbring in die manier waarop jy mense behandel, sal jy ongetwyfeld vind dat mense meer van jou sal hou. Onthou, mense is miskien bang vir bullebakke, maar niemand hou werklik van hulle nie.

[Voetnote]

a Sien “Jongmense vra . . . Wat kan ek omtrent afknouers by die skool doen?” in ons nommer van 8 Augustus 1989, vir ’n bespreking oor hoe slagoffers van afknouery dit kan voorkom.

b Van die name is verander.

[Lokteks op bladsy 19]

“Afknouery begin miskien in die kinderjare, maar dit duur voort tot in volwassenheid”

[Prent op bladsy 18]

Beledigings is ’n vorm van afknouery

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel