Ons beskou die wêreld
Onheilige water
’n Chirurg in Ierland was dronkgeslaan toe ’n 72-jarige vrou twee keer ’n ernstige ooginfeksie opgedoen het net voor ’n katarakoperasie. Wat het die infeksies veroorsaak? “Heilige” water van Lourdes wat sy aan haar gesig gesit het. “Die probleem”, sê The Irish Times, “is dat heilige water dikwels met gevaarlike bakterieë besmet is.” Die infeksie kon die vrou maklik blind gemaak het as die operasie uitgevoer is soos besluit is. The Irish Times sê voorts: “’n Seën maak eenvoudig nie kieme dood nie. En die sprinkeling van heilige water wat veronderstel is om gesond te maak, kan in sekere omstandighede eintlik lewensgevaarlike infeksies veroorsaak.” Volgens die berig kan welmenende vriende of familie wat jou met “heilige” water besprinkel wanneer jy in die hospitaal is “die grootste bedreiging vir jou oorlewing” wees.
Landmyndilemma
“Die wêreldwye veldtog om die wêreld van landmyne te bevry, het bevind dat die doelwit net so ontwykend soos die myne self is”, sê The Wall Street Journal. “Daar bestaan nie geskikte toerusting om die veilige verwydering van landmyne te verseker nie.” Soldate gebruik vandag dieselfde basiese toerusting as wat hulle oupas in die Tweede Wêreldoorlog gebruik het—stawe en metaalverklikkers. Maar die nuwe soort myne is baie moeiliker om op te spoor, aangesien hulle hoofsaaklik uit plastiek bestaan en tussen skrapnel en ander puin begrawe lê wat talle vals alarms veroorsaak. Wanneer die metaalverklikker ’n voorwerp opspoor, word ’n veselglasstaaf versigtig skuins in die grond ingesteek. Die doel is om die myn op te spoor deur die kant daarvan raak te steek. As die myn skuins lê en die bokant raakgesteek word, sal dit in die persoon se gesig ontplof. Hoewel myne dikwels minder as R24 elk kos, kan dit meer as R4700 per myn kos om dit te verwyder. Tussen 1,5 miljoen en 2 miljoen myne word elke jaar in die grond gesit, en meer as 25 000 mense—waarvan baie kinders is—word daardeur vermink of gedood.
Geen uitweg vir kinders nie
“Kinders oor die algemeen het slagoffers van grootmense se geskille begin word toe oorlog alomvattend geword het: bomme en missiele maak mense van alle ouderdomme dood”, sê The Economist. “Burgeroorloë—wat vandag algemeen is—vernietig dikwels ’n hele land. Op sommige plekke moet bystandsorganisasies nou net soveel aandag daaraan gee om kindersoldate te demobiliseer as om basiese lewensmiddele te voorsien. Oral waar hulle gaan, kan hulle verwag om kinders onder die vlugtelinge, die gewondes en die dooies te vind.” Hoewel almal beweer dat hulle lief vir kinders is, is dit kinders wat nou meer as ooit tevore ly. Bystandsorganisasies skat dat 24 miljoen kinders onder 18 jaar verlede jaar deur oorlog ontwortel is en dat ongeveer 2 miljoen in die afgelope tien jaar gedood is. Nog viermiljoen tot vyfmiljoen is vermink. “’n Mens kan net raai hoe groot die sielkundige uitwerking is”, sê The Economist.
Geskil oor die selibaat
“Die Rooms-Katolieke Kerk verloor baie priesters omdat hulle daarop aandring dat priesters selibaat moet bly”, aldus ’n berig in die ENI Bulletin. By die Vierde Internasionale Kongres van Getroude Priesters, wat in Brasilia gehou is, is daar berig dat 100 000 Rooms-Katolieke priesters regoor die wêreld die priesteramp verlaat het en die selibaat laat vaar het. Volgens ’n voormalige priester, Jorge Ponciano Ribeiro, wat nou ’n professor aan die Universiteit van Brasilia is, het 1 uit elke 5 priesters die priesteramp verlaat om te gaan trou. Brasilië alleen het 3500 getroude priesters. Ribeiro het gesê: “Die selibaat is ingestel om probleme tussen die kerk en die priesters se erfgename te vermy, en nie omdat die Woord van God beter versprei kan word deur diegene wat nie geslagsgemeenskap het nie.”
Onhebbelike olifante
“Net soos kinders het jong olifante dissipline nodig om verantwoordelike lede van die gemeenskap te word”, sê New Scientist. “Veldbioloë sê dat wees olifantbulle in Suid-Afrika se Pilansberg- Nasionale Park onhebbelik geraak het omdat hulle nooit deur ouer olifante gedissiplineer is nie.” Die onnutsige olifante het al mense aangeval, het in die afgelope drie jaar 19 witrenosters doodgetrap en het al selfs probeer om met renosters te paar. Twee mense is doodgemaak, waaronder ’n professionele jagter wat uitgestuur is om ’n olifant te gaan skiet nadat dit ’n groep toeriste bestorm het. In elk van die gevalle was die onhebbelike olifant een van ’n groep jong olifantmannetjies wat van die Nasionale Krugerwildtuin af na die park gebring is nadat die res van hulle trop uitgedun is om die grootte van die olifantbevolking te beheer. Hoewel ’n aantal faktore die olifante gespanne gemaak het, meen wetenskaplikes dat die gebrek aan dissipline en opvoeding deur ouer diere, ’n oorheersende kenmerk van die normale lewe van olifantfamilies, ten minste deels vir hulle wispelturige gedrag verantwoordelik is. Nou sal slegs hele olifantfamilies verskuif word sodat die jong bulle “steeds die streng ouerlike dissipline kan ontvang wat hulle nodig het”, sê die artikel.
Eerste tref-en-trap-ongeluk in die ruimte
Die eerste bevestigde tref-en-trap-ongeluk in die ruimte het meer as 700 kilometer bo die aarde plaasgevind, berig New Scientist. ’n Franse satelliet met die naam Cerise het woes begin tuimel toe ’n stabiliseerder verwoes is nadat dit getref is deur ’n tien jaar oue stuk van ’n Ariane-vuurpyl wat teen 50 000 kilometer per uur op dieselfde hoogte beweeg het. Die kanse op sulke ongelukke word elke jaar meer namate puin in wentelbane om die aarde ophoop. Daar is reeds meer as 20 000 stukke ruimterommel wat om die aardbol vlieg. Hoewel dié in wentelbane naby die aarde dikwels deur natuurlike prosesse vernietig word, soos wanneer die atmosfeer uitsit, kan dié in hoë wentelbane duisende jare lank daar bly. Wanneer hulle met ander stukke puin bots, breek hulle in talle kleiner stukkies op wat ’n ruimtevaarder se ruimtepak of ’n ruimtetuig se skerm kan binnedring. Selfs stukkies verf is ’n potensiële gevaar. Op die oomblik is daar ongeveer vier dooie satelliete vir elke werkende een wat om die aarde wentel, en uitgediende satelliete wat in hulle wentelbane ontplof het, maak ’n kwart van die ruimterommel uit waarvan ons weet.
Sponse het dit eerste gehad
“So baie van die mens se blink idees is op die ou end eintlik maar die natuur se ou kunsies”, sê The Washington Post. “Neem byvoorbeeld veseloptika. Wetenskaplikes het in 1951 glasagtige vesels ontwikkel om lig vas te vang en dit om hoeke te vervoer. Nou is daar ontdek dat die diepseesponse in die Ross-see in Antarktika dit al eeue lank reeds doen.” Die reusesponse, wat in water so diep as 30 meter gevind kan word, het uitstaande veselagtige stekels wat lig vasvang en kan dit, selfs om ’n hoek van 90 grade, oordra na fotosintetiese wiere wat in die kern van die spons woon. Eksperimente het getoon dat lig wat teen ’n hoek skyn ook opgevang word, wat daarop dui dat die stekels aan die kante van die spons ook lig aan die wiere kan voorsien.
Dobbelaars verloor
“Casino’s is so ontwerp dat die eienaars glad nie geld verloor nie”, sê die Brasiliaanse ekonoom Ricardo Gazel. “Die wiskundige kanse dat ’n persoon geld uit dobbelary sal kry, is skraal.” Gazel waarsku dat maklike toegang tot casino’s heel waarskynlik meer dobbelverslaafdes sal voortbring, en hy voeg by: “Daar is die fantastiese droombeeld om sonder veel moeite geld te verdien. Mense droom van die moontlikheid dat hulle met ’n gelukskoot vinnig ryk sal word.” Verder haal Veja hom aan waar hy aangaande die gebrek aan ’n grondslag vir kritiek deur die kerk of die regering gesê het: “Die regering is die grootste dobbelonderneming in die land. Daar is ses verskillende soorte loterye wat deur die federale regering onderhou word, om nie eens van die staatsloterye te praat nie. Die kerk kan nie die wettiging van dobbelary kritiseer nie, want om geld vir die gemeentes in te samel, bevorder die kerk die gebruik by basaars, waar daar altyd ’n stalletjie is waar die gelowiges geld in weddenskappe verloor.” Volgens Gazel ‘sê spesialiste dat kompulsiewe dobbelaars wat nie hulp probeer kry nie, gevaar loop om in die tronk te beland, selfmoord te pleeg of mal te word’.
Rowers met slange
Diewe het inwoners van Diriamba, ’n dorp 50 kilometer suid van Managua in Nicaragua, beroof deur giftige slange te gebruik. Volgens die berig in die koerant El Nuevo Diario maak die bende die ratelslange in die nabygeleë velde bymekaar, verwyder hulle gif en beroof dan mense wat op die paaie buite die dorp reis deur te dreig dat die slange hulle sal byt. Een meisie, wat flou geword het toe sy die slang se giftande sien, het, toe sy bykom, gevind dat haar goue halskettings gesteel is. Die bende het ook boere van voedsel en kontant beroof.