Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/06 bl. 22-24
  • Sponse—eenvoudig dog verstommend

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sponse—eenvoudig dog verstommend
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geen hart, geen brein, geen probleem
  • Stofsuiers van die see
  • Kreatiwiteit in kristal
  • Toeval of ontwerp?
  • Die kleurvolle wêreld van koraalriwwe
    Ontwaak!—1997
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2005
  • Die verbasende ontwerp van lewende dinge
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 5/06 bl. 22-24

Sponse—eenvoudig dog verstommend

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

HOE sou jy daarvan hou om jou met die oorskot van ’n dier te was? Die gedagte daaraan klink dalk allesbehalwe aanloklik. Maar die natuurlike badspons is in werklikheid die veselrige skelet van ’n waterdier.

“Sponse kom op die oudste en laagste tak van die dierestamboom voor”, sê National Geographic News. Dit het party mense laat spekuleer dat ’n eertydse spons die evolusionêre voorouer van diere en mense was. ’n Mediavrystelling van ’n televisiedokumentêr het die spons selfs “die Eva-dier” genoem—die “voorouer wat dit vir ons almal begin het”.

Wat het die wetenskap van sponse geleer? Is hulle maar net eenvoudige diertjies of lewer hulle bewys van verstommende ontwerp?

Geen hart, geen brein, geen probleem

Sponse lyk dalk na plante, maar Aristoteles en Plinius die Ouere het sponse tereg as diere geïdentifiseer. Deskundiges skat dat daar ten minste 15 000 soorte in die wêreld se mere en oseane lewe, wat in ’n verbasende verskeidenheid vorms en kleure voorkom. Sponse kan lyk soos maer vingers, vet vaatjies, uitgespreide matte, elegante waaiers en selfs delikate kristalblompotte—om maar net ’n paar vorms te noem. Party is kleiner as ’n ryskorrel, terwyl ander groter as ’n mens word. Wetenskaplikes is van mening dat sekere sponse moontlik honderde jare oud is.

“Sponse verskil van ander diere met betrekking tot hulle struktuur, funksie en ontwikkeling”, sê die Encyclopædia Britannica. Hoe so? In teenstelling met ander diere, het sponse geen inwendige organe nie. Hoe lewe sponse sonder ’n hart, brein of senuweestelsel? Klein selletjies binne-in die spons sorg vir die talle funksies wat lewe onderhou. Gespesialiseerde selle vang voedsel, vervoer voedingstowwe of verwyder afval. Ander bou skelet- of deklaagkomponente. Sekere selle kan selfs in ’n ander soort sel verander as dit nodig is.

Sponse is ook in ander opsigte uniek. Druk ’n lewende spons deur ’n sif, en die selle sal bymekaarkom om weer die oorspronklike dier te vorm. Sit twee sponse saam deur ’n maalmasjien en die selle sal geleidelik skei sodat albei sponse weer opnuut saamgestel word. “Geen ander plant of dier kan homself op hierdie manier laat herlewe nie”, sê National Geographic News.

Sponse is besonder aanpasbaar wat hulle voortplantingsvermoë betref. By sekere sponse word sellulêre “ruimtetuigies” toegerus en uitgestuur om ander gebiede te koloniseer. Gedurende die reis verkeer die “setlaars” in ’n toestand van skyndood totdat hulle uiteindelik land, wakker word en hulle “tuig” verlaat om ’n nuwe spons voort te bring. Ander sponse plant geslagtelik voort, terwyl enkele sponse na gelang van die behoefte die manlike of die vroulike rol kan aanneem. Party sponse lê eiers. “Hoe deegliker ons selfs die eenvoudigste organismes ondersoek, hoe meer kompleksiteit neem ons waar”, sê die skrywer Paul Morris met verwondering.

Stofsuiers van die see

Sponse het “’n voedingstelsel wat uniek is onder diere”, skryf die dierkundige Allen Collins. Klein openinkies in die buitenste laag lei na ’n doolhof van tonnels en holtes wat oral in die spons voorkom. Miljoene piepklein roeiselletjies, of koanosiete, kom aan die wande van die doolhof voor. Elke sel het ’n sweephaar wat vorentoe en agtertoe beweeg. “Soos roeiers op ’n Romeinse galei, dryf [hierdie selle] ’n bestendige stroom water verby die spons se ander selle, wat ontwerp is om die voedseldeeltjies in die water op te vang en in te neem”, verduidelik die skrywer Ben Harder. Die spons pomp elke uur tot tien keer sy eie volume in water en haal voedingstowwe, giftige chemikalieë en ongeveer 90 persent van al die bakterieë uit die water. ’n Spons kan selfs sy pompbeweging reguleer of omkeer om te vergoed vir veranderende waterstrome of om interne sediment te verwyder. “Sponse is . . . die see se doeltreffendste stofsuiers”, sê dr. John Hooper.

Die konstante vloei van voedsel en water deur ’n spons, maak dit ’n ideale tuiste vir garnale, krappe en ander diertjies. Een spons het 17 128 inwoners gehad. Baie bakterieë, wiere en swamme geniet ’n samewerkende, of simbiotiese, verhouding met sponse. Bakterieë kan tot 50 persent van ’n nat spons se gewig uitmaak.

Wetenskaplikes het gevind dat sponse en hulle simbionte ’n belowende bron van nuwe en unieke farmaseutiese middels is. Party glo dat sulke middels nuttig kan wees om vigs, kanker, malaria en ander siektes te bestry. Die navorser Shirley Pomponi het verwys na een so ’n verbinding wat uit sponse verkry word en gesê: “Die natuur bied baie interessanter molekules as wat selfs ons rekenaars mee vorendag kan kom.”

Kreatiwiteit in kristal

In teenstelling met die veselrige badspons is baie sponse grof of hard. Hierdie sponse bevat miljoene kristalletjies wat stekels genoem word. Wanneer stekels onder ’n mikroskoop bekyk word, gaan hulle prag en diversiteit die verstand te bowe. Stekels skakel op verskeie maniere aan mekaar en kan delikate skelette vorm, asook beskermende pantserbedekking en kabels wat tot drie meter lank en ’n sentimeter dik is. ’n Sekere vleisetende spons maak van Velcro-agtige visnette gebruik om sy prooi te vang.

Die Venusmandjie, wat in die diepsee voorkom, gebruik stekels om ’n pragtige, delikate glasnet te weef. Die uiters suiwer silikavesels is baie soortgelyk aan kommersieel vervaardigde optieseveselkabels. “Hierdie bio-optiese vesels is besonder sterk”, sê een wetenskaplike. “Jy kan hulle in stywe knope vasmaak, en hulle sal nie kraak soos kommersiële vesels nie.” Hoe hierdie gesofistikeerde vesels in seewater by lae temperature gevorm word, is vir wetenskaplikes ’n raaisel. “In hierdie geval het ’n betreklik eenvoudige organisme die oplossing vir ’n baie ingewikkelde probleem in geïntegreerde optika en materiaalontwerp”, sê Cherry Murray van Bell-laboratoriums.

Toeval of ontwerp?

Nadat Hooper al die verstommende biologiese aspekte van sponse hersien het, sê hy: “Die ‘eenvoudige spons’ is in werklikheid ’n baie komplekse [dier], wat selfs vandag nie eers goed verstaan word nie.” Dit is net redelik om te vra: Hoe en waarom het hierdie kompleksiteit ontstaan? Is dit net blote toeval? Of lewer sponse oortuigende bewys van ’n intelligente Ontwerper?

Hoewel party dalk weier om in die bestaan van ’n Skepper te glo, sal baie mense saamstem met die waarneming van die eertydse psalmis: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het . . . , diere, klein sowel as groot.”—Psalm 104:24, 25.

[Diagram/Prente op bladsy 23]

Tipiese struktuur van ’n spons. Vergrote prent van waterpompende selle

[Prent op bladsy 24]

Sponsstekels

[Prent op bladsy 24]

Venusmandjie

[Foto-erkennings op bladsy 23]

Seeperdjie: Rudie H Kuiter; 3 inlasfoto’s regs: Dr. John Hooper, Queensland Museum

[Foto-erkennings op bladsy 24]

Bo: Eye of Science/Photo Researchers, Inc.; onder: Kim Taylor/Warren Photographic

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel