Van ons lesers
Uitsetting Ek het die artikel “Die Bybelse beskouing: Waarom uitsetting ’n liefdevolle reëling is” (8 September 1996) waardeer. Ek was self in 1987 uitgesit en in 1988 herstel, nadat ek my les geleer het. Hierdie liefdevolle reëling het my gehelp om veranderinge in my lewenswyse en vriendekring aan te bring. Hoe geseënd is ons tog om ’n organisasie te hê wat Bybelstandaarde erken!
R. R., Verenigde State
Ek was ook uit die gemeente gesit. Ek het destyds gevoel dat dit te streng is en dat dit die gemeenste ding is om aan iemand te doen. Ek was verkeerd! Voor die uitsetting het die gemeentelike ouer manne so hard gewerk om my te help om berou te toon. Ek het eenvoudig nie die hulp op daardie tydstip waardeer nie. My uitsetting het my werklik nederigheid geleer. Dit het my beweeg om te sien hoe ernstig ons verhouding met Jehovah is.
B. T., Verenigde State
Indiane Dankie vir die reeks “Indiane—Wat hou die toekoms vir hulle in?” (8 September 1996). Ek het nog altyd in die geskiedenis van die Indiane belanggestel. Die eerlikheid, objektiwiteit en geskiedkundige akkuraatheid van julle tydskrifte het my weer eens getref.
A. M., Italië
’n Mens sien nooit ’n Indianeonderwyser of -regsgeleerde op die voorblad van ’n tydskrif nie. Primitiewe beelde, soortgelyk aan die voorblad van julle nommer, word voortdurend uitgebeeld. Die voortbestaan van hierdie beelde kniehalter ons stryd teen stereotipes.
K. M. T., Verenigde State
Dit was beslis nie ons bedoeling om enige skadelike stereotipe te bevorder nie. Die voorbladkuns was bedoel om Indiane op ’n positiewe en waardige manier voor te stel. Tradisionele kleredrag is gebruik omdat dit gepas was vir die onderwerp en maklik geïdentifiseer kon word deur ons wêreldwye leserskring. Dit is interessant dat talle Indiaanse lesers hulle waardering uitgespreek het vir die artikels sowel as die kunswerk. Sommige wil graag van die eertydse gebruike behou en sal by sekere geleenthede steeds tradisionele klere dra.—RED.
Aangesien ek vir ’n museum as etnoloog werk wat in Noord-Amerika spesialiseer, stel ek baie belang in hierdie onderwerp. Sal dit vir u moontlik wees om vir my tien eksemplare van hierdie nommer te stuur, wat ek aan diegene sal gee wat in die Indiane belangstel?
P. B., Duitsland
Ons is bly om aan hierdie versoek te voldoen.—RED.
Die bietjie wat ek van Indiane af geweet het, het ek in rolprente gesien. Uit hierdie artikels kan ek sien dat Hollywood nie die volle waarheid uitgebeeld het nie. My beskouing van die Indiane het verander.
T. M., Verenigde State
Ek stam deels van die Indiane af en wou dus graag hierdie nommer lees. Maar in teenstelling met wat algemeen aanvaar word, was Sitting Bull nie ’n leier by die Little Bighornveldslag nie.
P. H., Verenigde State
Of Sitting Bull persoonlik aan die veldslag deelgeneem het of nie is blykbaar ’n twispunt onder geskiedkundiges. Die siening van blykbaar die meeste kenners word gevind in die hoogaangeskrewe tydskrif “Natural History”, wat sê: “Volgens Indianeverslae het Sitting Bull, wat soms as Custer se teenstander in die veldslag beskou word, nie aan die geveg deelgeneem nie, maar hom besig gehou met die maak van medisyne om die Indiaanse krygers te versterk.” Of verdere inligting gevind sal word wat lig op hierdie saak sal werp, sal die tyd ons maar moet leer.—RED.