Van ons lesers
Rekenaarspeletjies Ek is 15 jaar oud, en ek wil julle bedank vir die artikel “Jongmense vra . . . Moet ek rekenaar- of videospeletjies speel?” (22 Augustus 1996). Dit het werklik die donker sy van daardie speletjies uitgewys, en dit sal Christene help om die positiewe en negatiewe aspekte daarvan teen mekaar op te weeg.
F. R., Indonesië
Ek is 17 jaar oud, en ek was altyd lief vir gewelddadige rekenaarspeletjies. Ek het gedink dat dit nie ’n uitwerking op my het nie, maar ek het baie verslaaf geraak aan hierdie speletjies—veral die gewelddadige soort wat julle beskryf het. Nou het ek al my rekenaarskyfies vernietig wat met geweld en bloed te doen gehad het. Die gevolg? Ek voel baie beter, en ek het meer tyd om te studeer, te leer en oor Jehovah God te praat.
S. A., Griekeland
Maagdelikheid Dankie vir die kort maar wonderlike artikel met die titel “Maagdelikheid—Waarom?” (22 Augustus 1996). In hierdie dag en eeu waar mense dink dat jy lelik moet wees as jy verkies om ’n maagd te bly, was dit waarlik aanmoedigend om jong, pragtige mense te sien wat Jehovah se standaarde handhaaf. Weer eens dankie!
R. D., Verenigde State
Indiane Ek wil my waardering uitspreek vir die reeks “Indiane—Wat hou die toekoms vir hulle in?” (8 September 1996). Ek het die artikels verslind en sal dit weer lees. Die deel oor die opstanding het my veral geraak.
S. B., Italië
Nog nooit het artikels my geraak soos hierdie nie. Dit het my help besef dat my beskouing van Indiane diskriminerend en nie in ooreenstemming met goddelike beginsels was nie. Sedert my skooldae het ek die beskouing gehad dat Indiane niks meer as net wrede barbare is nie. Die geskiedenisboeke het eenvoudig net nie vir ons ’n duidelike beeld van die wêreld om ons gegee nie. Julle artikels het my gehelp om die hartseer lot van die Indiane te sien—nog ’n voorbeeld van hoe “die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk”.—Prediker 8:9.
M. M., Verenigde State
As ’n afstammeling van Indiane het ek julle artikels met groot opgewondenheid gelees. Ek het gehuil toe ek lees van die lyding wat verduur is deur ’n volk wat so lief is vir die skepping. Hoe sien ek tog uit na die dag wanneer God die ongeregtighede wat die hele mensdom aangedoen is ongedaan sal maak en ons ’n paradysaarde saam kan geniet.
N. S., Verenigde State
Pompeji Reeds vanaf my kinderdae fassineer die ou geskiedenis my. Veral die geskiedenis van Pompeji het my nog altyd geïnteresseer. Toe ek die artikel gelees het, het dit gevoel asof ek deur die stad reis. Wonderlik! Ek het baie dinge geleer wat vir my nuut was. Ek het ook gehou van die vergelyking wat getref is met die tyd van die einde waarin ons leef. Dankie dat julle my help om plekke te leer ken wat ek nie kan besoek nie.
J. S. A., Brasilië