Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 6/22 bl. 19-23
  • Ons soeke na geregtigheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons soeke na geregtigheid
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Probleme met die kerke
  • Die weermag en die huwelik
  • My hardnekkige teenstand
  • My soeke na geregtigheid word bevredig
  • My hart is uiteindelik bereik
  • Ons streef die voltydse bediening na
  • Wanneer geregtigheid sal seëvier
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • My lang, moeilike stryd om ware geloof te vind
    Ontwaak!—1995
  • Ek is gehelp toe ek tot God genader het
    Ontwaak!—1993
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 6/22 bl. 19-23

Ons soeke na geregtigheid

SOOS VERTEL DEUR ANTONIO VILLA

In 1836 is al die Texaanse verdedigers van Die Alamo—minder as 200 van hulle—deur ’n Mexikaanse leër van sowat 4000 man doodgemaak. Daarna is die oorlogskreet “Onthou die Alamo” gebruik om die stryd om onafhanklikheid, wat later in daardie jaar verkry is, aan te vuur. In 1845 het die gebied wat vroeër deel van Mexiko was deel van die Verenigde State geword, en Mexikane het hulle in vyandelike gebied bevind. Etniese verskille word nog steeds onthou.

EK IS in 1937 gebore, nie ver van San Antonio, Texas, nie, waar Die Alamo staan. In daardie dae is badkamers, waterfonteintjies en ander openbare geriewe “Slegs blankes” en “Ander” gemerk. Ek het gou geleer dat “Ander” dié van ons ingesluit het wat van Mexikaanse afkoms was.

Wanneer ons na ’n rolprent in die bioskoop gaan kyk het, kon Mexikane en swartes slegs op die galery sit, nie in die hoofouditorium nie. Baie restaurante en sakeondernemings het geweier om Mexikane te bedien. Toe my vrou, Velia, en haar suster eenkeer by ’n skoonheidsalon ingeloop het, het die eienaars nie eers die ordentlikheid gehad nie om te sê: “Mexikane is nie welkom hier nie.” Hulle het hulle eenvoudig uitgelag totdat Velia en haar suster maar verleë uitgeloop het.

Soms het blanke mans—gewoonlik wanneer hulle dronk was—na Mexikaanse vroue gesoek, wat volgens baie van nature onsedelik is. Ek het gedink: ‘Hulle sal nie ’n badkamer of ’n waterfonteintjie met ons deel nie, maar hulle sal ’n bed met ’n Mexikaanse vrou deel.’ Hierdie ongeregtighede het my eers onseker laat voel, en later het dit my opstandig gemaak.

Probleme met die kerke

Die huigelary van die kerke het my verder verbitter. Blankes, swartes en Mexikane het elk afsonderlike kerke gehad. Toe ek vir my eerste Nagmaal as ’n Katoliek voorberei het, het die priester my ’n paar vooruitgedateerde koeverte gegee om vir my pa te gee. Ons moes elke week ’n koevert ingee met ’n bydrae. Kort daarna het die priester vir my gesê: “Jy moet maar vir jou pa sê dat ek nog nie een van daardie koeverte gesien het nie.” My pa se kwaai woorde het ’n indruk op my gemaak: “Dis al waarin hulle belangstel—geld!”

Daar was dikwels skandale waarin predikante met vroue in hulle gemeente weggeloop het. Sulke ondervindinge het my herhaaldelik laat sê: “Godsdiens het net twee oogmerke—óf om jou geld te kry óf jou vrou te vat.” Wanneer Jehovah se Getuies dus omgekom het, het ek hulle weggewys en gesê: “As ek ’n godsdiens wil hê, sal ek self daarna soek.”

Die weermag en die huwelik

In 1955 het ek by die Amerikaanse Lugmag aangesluit, waar ek gehoop het ek die respek kon verkry wat ek as ’n Mexikaan ontsê is deur in my werk uit te blink. Ek het my toegelê en erkenning verkry en is uiteindelik toesig oor gehaltebeheer gegee. Dit het behels dat ek ander afdelings van die weermag moes kontroleer.

In 1959 het ek met Velia getrou. Velia was nog altyd godsdienstig. Maar sy was teleurgesteld met die verskillende kerke wat sy bygewoon het. Eendag in 1960, toe sy baie terneergedruk gevoel het, het sy gebid: “O God, as u bestaan, maak dit asseblief aan my bekend. Ek wil u ken.” Daardie selfde dag nog het een van Jehovah se Getuies ons by ons huis in Petaluma, Kalifornië, besoek.

Maar kort daarna het Velia kontak met die Getuies verloor omdat die weermag my verplaas het. Dit was eers in 1966, terwyl ek in Viëtnam was, dat sy weer die Bybel saam met hulle in Seminole, Texas, begin studeer het. Toe ek vroeg die volgende jaar van Viëtnam af by die huis kom, was ek nie gelukkig toe ek hoor dat sy die Bybel saam met die Getuies studeer nie.

My hardnekkige teenstand

Ek het gemeen dat Velia mislei en teleurgestel sou word deur godsdiens. Ek het dus die studie bygewoon en vir ’n geleentheid gewag om die geringste spoor van huigelary bloot te lê. Toe die vrou sê dat die Getuies polities neutraal is, het ek haar in die rede geval: “Watter soort werk doen jou man?”

“Hy kweek katoen”, het sy geantwoord.

“Ha!” het ek arrogant teruggekap. “Weermaguniforms word van katoen gemaak. Julle ondersteun dus wel die oorlog!” Ek het luidrugtig en onredelik geword.

Hoewel ek in Junie 1967 ’n nuwe toewysing in die weermag gekry het wat ons ver daarvandaan na Minot, Noord-Dakota, geneem het, het die Getuies daar met Velia in aanraking gekom en haar Bybelstudie voortgesit. Ek het haar op kinderagtige maniere begin teëstaan. Ek het opsetlik daar opgedaag wanneer die studie gehou is en deure toegeslaan, die trap opgestorm, my stewels hard op die vloer neergegooi en die toilet verskeie kere gespoel.

Velia was ’n sagaardige en onderdanige vrou wat nooit enigiets sonder my toestemming gedoen het nie. Hoewel ek haar teësinnig toegelaat het om ’n Bybelstudie te hê, het sy geweet dat dit ’n groter probleem sou wees om die vergaderinge van die Getuies by te woon. Wanneer sy aangespoor is om dit te doen, het sy altyd geantwoord: “Ek moet liewer nie. Ek wil nie vir Tony ontstel nie.”

Eendag het Velia egter in die Bybel gelees: “Moenie God se heilige gees . . . bedroef nie” (Efesiërs 4:30). “Wat beteken dit?” het sy gevra. Die Getuie wat die studie gehou het, het verduidelik: “Wel, God se heilige gees het die opskrifstelling van die Bybel geïnspireer. As ons dus nie gehoor gee aan wat die Bybel sê nie, bedroef ons God se heilige gees. Sommige gaan byvoorbeeld nie vergaderinge toe nie, al weet hulle dat God se Woord sê ons moet” (Hebreërs 10:24, 25). Dit was al wat Velia se nederige hart nodig gehad het. Van toe af het sy na elke vergadering gegaan ondanks my teenstand.

Ek sou bitsig sê: “Hoe kan jy die huis verlaat wanneer jy nie my aandete op die tafel het nie?” Velia het gou geleer om altyd my aandete warm en gereed te hê. Ek het dus ander verskonings gebruik: “Jy het nie my of ons kinders lief nie. Jy verlaat ons vir daardie vergaderinge.” Of wanneer ek die Getuies se opvattings aangeval het en Velia dit kalm probeer verdedig het, het ek haar ’n oneerbiedige, ongehoorsame bocona—“groot mond”—genoem.

Velia het nietemin die vergaderinge bygewoon en het dikwels die huis in trane verlaat as gevolg van my uitskellery. Ek het egter by sommige beginsels gebly. Ek het nooit my vrou geslaan of selfs oorweeg om haar te verlaat as gevolg van haar nuutgevonde geloof nie. Maar ek was bekommerd dat die een of ander aantreklike man by daardie vergaderinge in haar mag belangstel. Ek het nog steeds dieselfde oor godsdiens gevoel: ‘Dis óf die geld óf die vrou.’ Ek het dikwels gekla terwyl Velia vir die vergaderinge aangetrek het: “Jy maak jou mooi vir iemand anders, maar nooit vir my nie.” Toe ek dus aanvanklik besluit het om ’n vergadering by te woon, het ek gesê: “Ek gaan—maar net om ’n ogie oor jou te hou!”

Maar my eintlike rede was om iets teen die Getuies te vind. By een van die eerste vergaderinge wat ek bygewoon het, is ’n toespraak gehou waarin daar gesê is dat ’n mens “net in die Here” moet trou (1 Korintiërs 7:39). Toe ons by die huis kom, het ek bitterlik gekla: “Sien jy! Hulle is net soos al die ander—bevooroordeeld teenoor almal wat nie aan hulle kerk behoort nie.” Velia het gedwee gesê: “Maar dis nie wat húlle sê nie, dis wat die Bybel sê.” Ek het vinnig teruggekap deur my vuis teen die muur te slaan en te skreeu: “Daar begin die bocona weer!” Eintlik was ek gefrustreerd, want ek het geweet sy is reg.

Ek het voortgegaan om vergaderinge by te woon en die Getuies se lektuur te lees, maar ek het dit gedoen om daarmee fout te probeer vind. Ek het selfs begin om by die vergaderinge kommentaar te lewer—maar slegs om vir mense te wys dat ek nie ’n “dom Mexikaan” is nie.

My soeke na geregtigheid word bevredig

Teen 1971 het my loopbaan in die weermag ons na Arkansas geneem. Ek het voortgegaan om vergaderinge by te woon saam met Velia, wat in Desember 1969 gedoop is as ’n simbool van haar toewyding aan Jehovah. Ek het haar nie meer teëgestaan nie, maar ek het ook niemand toegelaat om die Bybel met my te studeer nie. My kennis het geweldig toegeneem omdat ek Bybellektuur gelees het. Tog was dit alles net kopkennis—’n gevolg van my begeerte om die beste te wees in alles wat ek doen. Maar my omgang met Jehovah se Getuies het geleidelik my hart begin raak.

Ek het byvoorbeeld opgelet dat swartes ook by gemeentelike vergaderinge onderrig gegee het. Maar aanvanklik het ek vir myself gesê: ‘Ag nee wat, hulle doen dit slegs hier agter geslote deure.’ Toe ons ’n streekbyeenkoms in ’n groot bofbalstadion bygewoon het, was ek egter verbaas om te sien dat swartes dele op die program gehad het. Ek moes erken dat daar geen diskriminasie onder die Getuies is nie. Hulle beoefen ware geregtigheid.

Ek het ook begin besef dat Jehovah se Getuies ware liefde vir mekaar het (Johannes 13:34, 35). En toe ek saam met hulle gewerk het toe hulle hulle Koninkryksaal gebou het, kon ek sien dat hulle doodgewone mense is. Ek het gesien hoe hulle moeg word, foute maak en selfs ’n paar woorde wissel wanneer dinge skeef geloop het. In plaas van afgestoot te word deur hierdie onvolmaakthede het ek veiliger onder hulle begin voel. Miskien het ek besef dat daar hoop was vir my ondanks al my tekortkominge.

My hart is uiteindelik bereik

Ek het vir die eerste keer besef dat ek besig was om ’n verhouding met Jehovah op te bou toe Die Wagtoring in 1973 verduidelik het dat dit ’n “verontreiniging van die vlees” is om te rook en dat dit ’n oortreding is waarvoor ’n mens uitgesit kan word (2 Korintiërs 7:1). Ek het destyds tussen een en twee pakkies sigarette per dag gerook. Ek het voorheen baie keer probeer ophou, maar sonder sukses. Maar nou het ek, elke keer wanneer ek die drang gehad het om te rook, stil tot Jehovah gebid om my te help om met die vuil gewoonte te breek. Tot almal se verbasing het ek nooit weer gerook nie.

Ek sou op 1 Julie 1975 uit die weermag tree. Ek het besef dat ek my lewe aan Jehovah sou moes toewy as ek wou doen wat die Bybel leer. Ek het nooit ’n persoonlike Bybelstudie gehad nie, en daarom was die gemeentelike ouer manne taamlik geskok toe ek, in Junie 1975, vir hulle sê dat ek gedoop wou word sodra my loopbaan in die weermag tot ’n einde kom. Hulle het verduidelik dat ek eers Jesus se opdrag sou moes gehoorsaam om aan die predikingswerk deel te neem (Matteus 28:19, 20). Ek het dit op die eerste Saterdag in Julie gedoen. Daardie selfde dag het ek en ’n ouer man bymekaargekom en die vereiste Bybelvrae vir doopkandidate beantwoord. Drie weke later is ek gedoop.

Toe ons drie kinders—Vito, Venelda en Veronica—sien dat ek gedoop word, het hulle vinnig geestelike vooruitgang begin maak. Binne die volgende twee jaar is die twee oudstes gedoop en vier jaar later die jongste een. Wanneer ek met mans praat wat Bybelwaarheid ken, maar niks daaromtrent doen nie, vertel ek hulle dikwels van die gevolge omdat hulle versuim om op te tree. Ek sê vir hulle dat hulle kinders, hoewel hulle dit miskien nie sê nie, dink: ‘As die waarheid nie belangrik genoeg vir Pa is nie, dan is dit nie belangrik genoeg vir my nie.’

Ons streef die voltydse bediening na

Ons hele gesin het in Marshall, Arkansas, as pioniers in die voltydse diens begin. Ek en Velia het in 1979 begin, en die kinders het gedurende die daaropvolgende jare by ons aangesluit toe elkeen sy skoolopleiding voltooi het.

In die vroeë tagtigerjare het ons gehoor hoe die mense van Ecuador, Suid-Amerika, na Bybelkennis dors, en ons het dit ons doel gemaak om soontoe te trek. Teen 1989 was ons kinders al groot en in staat om na hulleself om te sien. In daardie jaar het ons dus op ’n kort besoek na Ecuador gegaan om ‘die land te verken’.—Vergelyk Numeri 13:1, 2.

In April 1990 het ons in Ecuador, ons nuwe tuiste, aangekom. Aangesien ons min geld gehad het—ons het van my weermagpensioen gelewe—moes ons mooi met ons geld werk. Maar die vreugdes van die voltydse diens in hierdie geestelik produktiewe gebied het enige finansiële opofferings ver oortref. In die begin het ons in die hawestad Manta gewerk, waar ons albei tussen 10 en 12 weeklikse Bybelstudies gehou het. Toe, in 1992, het ek as ’n reisende opsiener begin dien, met my vrou wat my vergesel. Ons besoek elke week ’n ander gemeente.

Wanneer geregtigheid sal seëvier

Wanneer ek en Velia terugkyk, kan ons sien dat die ongeregtighede wat ons verduur het toe ons grootgeword het ons nou in ons bediening help. Ons is veral versigtig om nooit op enigiemand neer te sien wat dalk armer of minder geleerd as ons is of ’n ander etniese agtergrond as ons het nie. Ons sien ook dat baie van ons Christenbroers en -susters erger maatskaplike ongeregtighede verduur as wat ons verduur het. Tog kla hulle nie. Hulle hou hulle oë gevestig op God se inkomende Koninkryk, en dit is wat ons geleer het om te doen. Ons soek lankal nie meer na geregtigheid in hierdie stelsel nie; maar ons gebruik eerder ons lewe om mense se aandag te vestig op die enigste ware oplossing vir ongeregtigheid, God se Koninkryk.—Matteus 24:14.

Ons het ook geleer dat dié van ons wat baie bewus was van ongeregtighede versigtig moet wees om nie volmaakte geregtigheid onder God se volk te verwag nie. Dit is omdat ons almal onvolmaak is en geneig is om te doen wat verkeerd is (Romeine 7:18-20). Tog kan ons eerlikwaar sê dat ons ’n liefdevolle, veelvolkige gemeenskap van broers gevind het wat na die beste van hulle vermoë probeer doen wat reg is. Dit is ons hoop dat ons saam met die res van God se volk God se nuwe wêreld sal binnegaan waarin regverdigheid sal woon.—2 Petrus 3:13.

[Lokteks op bladsy 20]

Ek het vinnig teruggekap deur my vuis teen die muur te slaan

[Prent op bladsy 21]

Saam met Velia, toe ek by die lugmag aangesluit het

[Prent op bladsy 23]

Saam met Velia, in 1996

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel