Wanneer die hele aarde ’n veilige plek sal wees
WIL jy die gevaarlikste ding in die wêreld sien? Kyk dan in die spieël! Ja, ons, die mens, is die gevaarlikste ding op aarde! Ons maak selfs mekaar op groot skaal dood.
Om die aarde veilig te maak vir diere, selfs in dieretuine—veral as dit ’n laaste toevlug word—moet oorlog, wat die mensdom voortdurend teister, uit die weg geruim word. Slegs 91 van die Berlyn-dieretuin se 12 000 diere het die Tweede Wêreldoorlog oorleef. Baie ander dieretuine het soortgelyke verliese gely. In die onlangse oorlog in die Balkan het moedige dieretuinpersoneel baie diere na veiligheid geneem; maar honderde ander, waaronder herte, groot katte, bere en wolwe, is doodgemaak. Volgens amptenare wat in die koerant The Australian aangehaal is, het die Khmer Rouge onlangs talle seldsame diere in die oerwoude van Kambodja opsetlik doodgemaak. Waarom? Om hulle pelse en ander produkte vir wapens te ruil!
Ekologiese vandalisme, soos wat op die afgesonderde Peron-eilande, suidwes van Darwin, Australië, gepleeg is, is nog ’n euwel wat oorkom moet word voordat diere veilig kan wees—in of buite dieretuine. Die pelikaanbroeiplekke op hierdie eilande is twee keer in drie jaar aan die brand gesteek, blykbaar om geen ander rede nie as om duisende jong voëls wat nog nie kan vlieg nie op ’n uiters wrede manier dood te maak.
In onlangse dekades is die grootste verlies van spesies egter nie die gevolg van kwaadwilligheid nie; dit is die newe-effek van ’n ontploffende mensebevolking wat lewensruimte en landbougrond dringend nodig het. Weens hierdie voortdurende indringing in dierehabitats en die meegaande besoedeling, waarsku The World Zoo Conservation Strategy: “Die vooruitsig vir die 21ste eeu vir die aarde se hele natuurstelsel is droewig. Daar is geen aanduiding dat die vernietiging wat in feitlik alle wêrelddele plaasvind binnekort sal eindig nie.”
In die lig van die toenemende besorgdheid oor die aarde se toekoms klink dit dalk net te ongelooflik dat ’n tyd sal aanbreek wanneer die hele planeet ’n veilige plek sal wees. Tog is daardie hoop stewig gevestig, nie op kortsigtige mense nie—wat volgens een wetenskapskrywer net 50 jaar gelede salig onbewus was van die huidige ekologiese verwoesting—maar op die een wat dit wel vooruitgesien het, Jehovah God. Meer as negentienhonderd jaar gelede het hy voorspel dat die mensdom, in ons tyd, ‘die aarde sou verderf’ (Openbaring 11:18). Daardie profesie is geuiter toe die aarde yl bevolk was met mense, en daarom het dit dalk ongelooflik geklink vir baie wat toe gelewe het, maar hoe akkuraat was dit tog nie!
Dit is vreemd dat hierdie verderwing in ’n tyd plaasvind wanneer dit lyk of die wetenskap en tegnologie byna wonderwerke kan verrig: mikrosenders en satelliete word gebruik om bedreigde spesies te monitor, die vernietiging van die reënwoud word per vierkante meter vanuit die buitenste ruimte gemeet en lugbesoedeling word in dele per miljoen gemeet. Tog lyk dit nie of die mens, met die uitsondering van enkele gevalle, enigiets met hierdie berg van inligting kan doen nie. Miskien is die mens soos die drywer van ’n wegholtrein. Hy het ’n kontrolebank vol elektroniese wonders en monitors wat vir hom presies sê wat gebeur, maar hy kan nie die trein stop nie!
Waarom misluk pogings?
Stel jou voor dat die trotse, beginsellose bestuurder in ’n groot fabriek toevallig die fabriekseienaar hoor sê dat hy nie bevorder gaan word nie, maar dat hy eerder oor ’n paar maande afgedank gaan word. Omdat hy verbitterd en kwaadwillig is, gebruik hy leuens, omkopery en allerhande onderduimse sette sodat hy ’n klomp werkers kan oorhaal om groot skade aan te rig. Hulle veroorsaak dat masjiene breek, produksie vertraag word en produkte defektief is—maar hulle doen dit op so ’n slinkse manier dat hulle nie die skuld daarvoor kry nie. Intussen probeer eerlike werkers wat onbewus is van wat eintlik aangaan om herstelwerk te doen; maar hoe harder hulle probeer, hoe erger word dinge.
Hierdie wêreld se bose “bestuurder” het op soortgelyke wyse ’n komplot teen die mensdom en die aarde gesmee. Maar in hierdie geval hoef ons nie “onkundig omtrent sy planne” te bly nie, want die Bybel ontmasker hom en onthul ’n verbitterde geesskepsel—Satan die Duiwel—’n engel wat ’n megalomaniak geword het en begeer het om aanbid te word (2 Korintiërs 2:11; 4:4). God het hom uit Sy hemelse gesin uitgewerp en hom tot vernietiging veroordeel.—Genesis 3:15; Romeine 16:20.
Soos die bose fabrieksbestuurder gebruik hierdie “vader van die leuen” ook verskillende onderduimse metodes om uiting te gee aan sy woede. Hy haat Jehovah God en wil Sy skepping vernietig (Johannes 8:44). Satan se kragtigste instrumente is leuenpropaganda, hebsug, materialisme en skadelike godsdiensleringe. Hiermee het hy “die hele bewoonde aarde mislei” en mense—wat veronderstel is om die bewaarders van die aarde te wees—in die genadeloosste vyande daarvan verander, sodat hulle in der waarheid dissipels is van eertydse Nimrod, “’n geweldige jagter in verset teen Jehovah”.—Openbaring 12:9, 12; Genesis 1:28; 10:9, NW.
Die enigste realistiese hoop vir ’n veilige aarde
Om menslike en bomenslike oorsake van uitwissing te oorwin, is egter nie onmoontlik nie. Die almagtige Skepper van alle lewende dinge kan ons uit hierdie verskriklike maalstroom red, en hy het belowe om dit deur middel van sy hemelse regering te doen. Hy belowe om daardie verderwers van die aarde te verderf. Ons bid hiervoor wanneer ons sê: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:9, 10; Openbaring 11:18.
Het jy opgemerk dat die koms van die Koninkryk verband hou met die uitvoering van God se wil op aarde? Dit is omdat God se Koninkryk God se regering oor die aarde is. En aangesien dit ’n koninkryk is, het dit ’n koning—Jesus Christus, die “Koning van die konings en Here van die here” (Openbaring 19:16). Dit het ook onderdane. Trouens, Jesus het gesê: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). Ja, hierdie saggeaardes is die aardse onderdane daarvan, en met behulp van God se Koninkryk sal hulle op liefdevolle wyse vir hulle erfenis sorg en dit in ’n florerende paradys verander wat wemel van lewe. Dit is interessant dat Strategy sê: “Die toekoms van die mens en die natuur kan slegs gewaarborg word as die hele mensdom in ’n nuwe harmonie met die natuur kan lewe.”
Die geskiedenis en die onvolmaakte menslike natuur toon vir ons dat dit onmoontlik is dat die “hele mensdom” van vandag ooit in so ’n “nuwe harmonie” met die natuur sal lewe, aangesien hulle Jehovah buite rekening laat. Trouens, een van die redes waarom God toegelaat het dat hierdie wêreld so lank voortbestaan, is om te bewys hoe vergeefs menslike selfbestuur is. Maar binnekort sal diegene wat smag na Christus se heerskappy groot vrede geniet. Jesaja 11:9 bevestig dit, en dit sê ook vir ons waarom slegs húlle in ’n “nuwe harmonie” met die natuur sal kan lewe: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Ja, Goddelike opvoeding is die sleutel. En is dit nie redelik nie, want wie anders as die Skepper van die natuur het sulke wysheid?
Wat van diegene wat daarmee volhou om Jehovah te ignoreer? “Die goddelose sal uit die land uitgeroei” word, sê Spreuke 2:22. Ja, hulle vyandigheid of hulle onverskilligheid sal hulle hulle lewe kos in die vinnig naderende “groot verdrukking”—God se middel om oordeel te voltrek aan almal wat daarmee volhou om selfsugtig misbruik te maak van sy skepping en dit te verniel.—Openbaring 7:14; 11:18.
Wil jy graag aan die aarde se herstelprogram deelneem? Vind dan asseblief uit wat God van jou vereis deur die Bybel te bestudeer. Dít alleen het die krag om jou denke in harmonie met die Skepper s’n te bring (2 Timoteus 3:16; Hebreërs 4:12). Daarbenewens sal jy, deur toe te pas wat jy leer, nie net nou ’n beter burger word nie, maar jy sal ook toon dat jy werklik die soort persoon is aan wie Jehovah sy vinnig naderende “nuwe aarde” sal toevertrou.—2 Petrus 3:13.
As jy graag meer wil leer, sal die uitgewers van hierdie tydskrif of die naaste gemeente van Jehovah se Getuies bly wees om jou te help met ’n gratis tuisbybelstudie of bykomende lektuur wat hierdie sake verduidelik.