Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 7/8 bl. 4-8
  • Die dieretuin—Die natuurlewe se laaste hoop?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die dieretuin—Die natuurlewe se laaste hoop?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die taak vir die volgende eeu
  • Dieretuine span saam in ’n wêreldwye netwerk
  • Middele om dieretuine sukses te help behaal
  • Studies in die natuur help dieretuine met teling
  • Hoe realisties is die doelwit om die diere te red?
  • ’n Kykie na vandag se dieretuine
    Ontwaak!—2012
  • Bewaring versus uitwissing
    Ontwaak!—1996
  • Die aarde se verdwynende natuurlewe
    Ontwaak!—1997
  • Ontmoet die geheimsinnige sneeuluiperd
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 7/8 bl. 4-8

Die dieretuin—Die natuurlewe se laaste hoop?

IN ONLANGSE tye het ’n stille revolusie in die progressiewer dieretuine van die wêreld plaasgevind. As ’n sigbare teken hiervan het hulle hulle tentoonstellings verander in ooreenstemming met die mensliker “landskapreproduksie”-konsep—die nabootsing van die diere se natuurlike omgewing, met plante, klipwerk, rankplante, mistigheid, geluide en selfs ander verenigbare diere en voëls. Hoewel dit duur is—ongeveer $1,2 miljard (R5,6 miljard) word jaarliks in die Verenigde State alleen bestee om verbeterings aan dieretuine en akwariums aan te bring—word veranderinge as noodsaaklik beskou in die lig van die dieretuin se ambisieuse nuwe rol.

Die taak vir die volgende eeu

Aangesien biologiese armoede die planeet bedreig, het die toonaangewende dieretuine van die wêreld bepaal dat bewaring, opvoeding en wetenskaplike navorsing hulle taak vir die 21ste-eeu is. Sommige dieretuine is so geïnspireer deur die uitdaging en aangedryf deur die dringendheid daarvan dat hulle selfs weggedoen het met die naam dieretuin en eerder name verkies soos “natuurpark” of “bewaringspark”.

Aan die spits van die nuwe rigting is die publikasie The World Zoo Conservation Strategy. Een skrywer het Strategy beskryf as “die belangrikste dokument wat die dieretuingemeenskap nog die lig laat sien het”, en dit is in werklikheid ’n dierkundige handves; dit “omskryf die verantwoordelikhede en geleenthede van die wêreld se dieretuine en akwariums met betrekking tot die bewaring van die verskeidenheid van die wêreldwye natuurlewe”. Strategy ruim enige twyfelgedagtes oor die nuwe ideale uit die weg deur by te voeg: “Die blote bestaansreg van ’n dieretuin of akwarium hang in werklikheid af van die bydrae wat dit tot bewaring lewer.”

Openbare opvoeding en wetenskaplike navorsing, veral oor die teling van diere in gevangehouding, is noodsaaklik vir hierdie nuwe rol. Onder vandag se jongmense is môre se dieretuinbewaarders, wat die verantwoordelikheid sal hê om die geredde oorblyfsels van ’n groeiende lys spesies te bewaar wat in die natuur uitgewis is. Sal hulle verstandig en met toegewydheid na hierdie erfenis omsien? En sal die mensdom oor die algemeen ’n meer verligte beskouing van die natuur aanneem? Met hierdie doel voor oë moedig Strategy elke dieretuin aan om ’n opvoeder te word, om hulleself as deel van “’n wêreldwye gewetensnetwerk” te beskou.

Dieretuine span saam in ’n wêreldwye netwerk

As gevolg van die geweldige omvang van hulle taak, span baie dieretuine saam om ’n wêreldwye netwerk te vorm, wat tans uit ongeveer 1000 dieretuine bestaan. Internasionale liggame, soos Die Wêreld-dieretuinorganisasie en die Internasionale Vereniging vir die Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne, bind hierdie dieretuine saam en voorsien koördinasie en riglyne.

Die boek Zoo—The Modern Ark verwys na ’n dwingende rede vir sulke samewerking en sê: “Om die stille vyand, inteling, in toom te hou, kan ’n dieretuin nie meer daarmee tevrede wees om met sy eie klein groepie van, sê, Siberiese tiers, te teel nie. Al die Siberiese tiers in al die dieretuine van ’n vasteland—of selfs wêreldwyd—moet eerder as een bevolking hanteer word.” Ja, honderde van elke spesie is nodig om inteling—’n voorloper van onvrugbaarheid en uitsterwing—te beperk of uit te skakel, en dit is duidelik nie binne die vermoë van een dieretuin nie. Strategy sê: “Hierdie grootskaalse inspanning van alle beskikbare hulpbronne sal nodig wees om ons Aarde se biosfeer . . . die beste kans op oorlewing te gee. Daar is baie wat glo dat ons nie onsself sal red as ons nie ander spesies kan bewaar nie.” Hierdie pessimistiese beskouing hou natuurlik nie rekening met die Bybel se belofte van ’n herstelde paradysaarde nie.—Openbaring 11:18; 21:1-4.

Middele om dieretuine sukses te help behaal

Die uitwissingskrisis het ook gelei tot die skepping van hipertegnologiese, internasionaal toeganklike hulpmiddels om met gevange diere te teel: stoetboeke, die International Zoo Yearbook (IZY) en die rekenaargesteunde Internasionale Spesies-inligtingstelsel (ISIS).

Elke dierkundige stoetboek bevat inligting oor alle dieretuineksemplare van een spesifieke spesie, waar hulle ook al in die wêreld is. Dit is ’n internasionale rekord en is die sleutel om ’n gesonde genepoel te bewaar en daardie ‘stille vyand’, inteling, in toom te hou. Die Berlyn-dieretuin het met die heel eerste dieretuinstoetboek begin toe hulle in 1923 begin teel het met die wisent, of die Europese bison, wat teen die tyd van die Eerste Wêreldoorlog tot op die randjie van uitwissing gedryf is.

Om die wêreldwye verspreiding van wetenskaplike inligting, soos stoetboeke, IZY en demografiese inligting, te vergemaklik, is ISIS in 1974 in die Verenigde State gerekenariseer. Sy elektroniese netwerk wat voortdurend uitbrei en sy enorme, immergroeiende databasis help dieretuine om saam te werk om die konsep van ’n megadieretuin ’n werklikheid te maak.

Die biologiese hulpmiddels wat die dieretuine gebruik, is onder meer DNS-vingerafdrukke, embrio-oorplanting, in vitro-bevrugting en kriogenie (die bevriesing van sperm en embrio’s). DNS-vingerafdrukke help dieretuine om diere se afkoms met 100 persent akkuraatheid te bepaal, wat noodsaaklik is om inteling te beheer onder spesies soos tropdiere, waar dit moeilik is om ’n dier se afkoms te monitor. Terselfdertyd versnel embrio-oorplanting en in vitro-bevrugting voortplanting. Een manier is om die “ouerpoel” vir bedreigde spesies te vergroot. Hulle embrio’s kan in naverwante diere ingeplant word—selfs huisdiere—wat dan as surrogaatmoeders dien. Met behulp van hierdie tegniek het ’n holsteinse bees al aan ’n gaur (wildebees) geboorte gegee en ’n huiskat aan die hoogs bedreigde Indiese woestynkat. Dit verminder ook die koste, gevaar en trauma wat gepaardgaan met die vervoer van bedreigde teeldiere. Al wat hulle hoef saam te neem, is ’n pak embrio’s of gevriesde sperm.

Aangesien die moontlikheid bestaan dat sommige spesies heeltemal sal verdwyn, het ’n aantal dieretuine hulle selfs tot die wetenskap van kriogenie gewend—die bevriesing van sperm en embrio’s vir langtermynberging. Hierdie bevrore dieretuin maak dit vir diere moontlik om dekades, miskien selfs eeue, ná uitwissing gebore te word! Hoewel dit met baie onsekerhede gepaardgaan, word dit die “laastetoevlugversekering” genoem.

Studies in die natuur help dieretuine met teling

’n Wetenskaplike studie van diere, met inbegrip van hulle gedrag in natuurlike habitats, is uiters belangrik vir die teling van diere in gevangehouding en is die inspirasie agter “landskapreproduksie”-tentoonstellings. As dieretuine wil hê dat diere gesond moet bly en moet aanteel, moet hulle die diere se instinkte in ag neem en hulle “gelukkig” hou.

Mannetjie- en wyfiejagluiperds bly byvoorbeeld in die natuur visueel afgeskeie van mekaar en kommunikeer slegs deur die reuk van hulle urine en ontlasting. Die mannetjie se neus sê vir hom wanneer die wyfie gereed is om te paar, en dan bly hy net ’n dag of twee by haar. Toe die dieretuine van hierdie gedragspatroon uitgevind het, het hulle hulle kampe verander om die mannetjies en wyfies visueel afgeskeie te hou, behalwe tydens die kort paartyd, en dit het gewerk; welpies is gebore.

Hoewel afwesigheid die jagluiperd meer bemind maak by sy maat, is dit nie die geval met die flamink nie. Hulle paar slegs wanneer hulle in groepe is wat te groot is vir die meeste dieretuine om te hanteer. ’n Dieretuin in Engeland het dus geëksperimenteer—hulle het die grootte van hulle groep “verdubbel” deur middel van ’n groot spieël. Die voëls het toe vir die eerste keer hulle dramatiese paarritueel begin! Gee hierdie voorbeelde jou ’n idee van hoe kompleks die aarde se natuurlewe is? Die dieretuine het beslis voor ’n groot uitdaging te staan gekom.

Hoe realisties is die doelwit om die diere te red?

Die potensiaal van die nuwe program blyk uit die feit dat sommige spesies wat in gevangehouding geteel is reeds in hulle natuurlike habitats teruggeplaas is. Onder hulle is daar die Kaliforniese kondor, die Europese bison, die Amerikaanse bison, die Arabiese gemsbok, die goue leeutamaryn en die Przewalski-perd. Donker wolke hang nietemin oor langtermynvooruitsigte.

“Die mensegemeenskap is so kompleks, en die wêreld se probleme so talryk”, sê Strategy, “dat dit tot dusver nie moontlik was om baie van die vernietigende prosesse stop te sit nie, ten spyte van die groter bewustheid en besorgdheid met betrekking tot die natuur en die omgewing.” Gevolglik “moet bewaringsgesindes voorbereid wees om ’n manier te vind om die kritieke tyd te deurstaan wat volgens verwagting voorlê”, voeg dit by. Dit vereis natuurlik samewerking op elke vlak van die samelewing. Volgens een wetenskapskrywer skiet die huidige samewerking “droewig te kort aan wat nodig is”. As die druk wat tot uitwissing lei slegs afneem, maar nie omgekeer word nie, sal selfs die beste pogings dalk steeds op niks uitloop nie. Voldoende en volledige habitats—nie net geïsoleerde gebiede wat tot inteling lei nie—moet geskep word. Slegs dan kan dieretuine die diere in hulle sorg met vertroue in die natuur vrylaat. Maar is so ’n hoop realisties of is dit wensdenkery?

Wat dit selfs minder geloofwaardig maak, is die kapasiteit van selfs ’n wêreldwye megadieretuin. “Die onaangename waarheid”, sê professor Edward Wilson, “is dat al die dieretuine wat vandag in die wêreld bestaan op die meeste slegs 2000 spesies soogdiere, voëls, reptiele en amfibieë kan onderhou”—die puntjie van die ysberg. Dieretuine het dus die onbenydenswaardige taak om te besluit watter spesies vir bewaring gekies gaan word, terwyl die res aansluit by die lang lys van spesies wat op uitwissing afstuur.

Vir deskundiges in hierdie veld laat dit ’n onheilspellende vraag ontstaan: Wanneer sal biodiversiteit, in die lig van die interafhanklikheid van alle lewende dinge, daardie kritieke vlak bereik waar dit ’n stortvloed van uitwissings tot gevolg sal hê wat baie van die oorblywende lewe op aarde kan uitwis, die mensdom inkluis? Wetenskaplikes kan slegs gis. “Die uitwissing van een of twee of vyftig spesies sal gevolge hê wat ons nie kan voorspel nie”, sê Linda Koebner in Zoo Book. “Die uitwissing van spesies veroorsaak veranderinge selfs voordat ons die gevolge daarvan verstaan.” Intussen, sê die boek Zoo—The Modern Ark, “bly dieretuine van die belangrikste vestings vir lewe in ’n wêreldwye uitputtingsoorlog, ’n oorlog waarvan die omvang nie voorspel kan word nie, maar een waarvoor toekomstige geslagte ons geheel en al verantwoordelik sal hou.”

Is daar dus enige grondslag vir hoop? Of is toekomstige geslagte gedoem tot ’n wêreld van biologiese eentonigheid terwyl hulle wag om in die afgrond van uitwissing gestort te word?

[Prente op bladsy 7]

Die mens is hulle grootste vyand

[Erkenning]

Tier en olifante: Zoological Parks Board of NSW

[Prente op bladsy 8]

’n Paar bedreigde diere—bison, jagluiperds en die swartrenoster

[Erkennings]

Bison en jagluiperds: Zoological Parks Board of NSW

Renoster: National Parks Board of South Africa

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel