Jongmense vra . . .
Waarom is dit altyd mý skuld?
“My pa het allergieë, en hy moet saam met mense werk wat rook. Soms is hy baie ontsteld wanneer hy by die huis kom. Hy sal goed verloor en my daarvoor blameer. Wanneer ek vir hom sê dat hy dit verloor het, word hy kwaad en sê hy vir my dat ek hom nie moes gekorrigeer het nie.”—’n Tienderjarige meisie.
VOEL jy soms dat jy die gesin se sondebok is? Lyk dit of jy altyd blameer word, ongeag wat fout gaan? Dit is hoe dit vir die 14-jarige Joy lyk. Sy woon in ’n enkelouerhuis en kyk dikwels na haar jonger broer en suster. “Ek is dikwels op die onderste verdieping wanneer hulle begin baklei”, kla Joy. “Hulle tree so verspot en kinderagtig op, maar wanneer Pa by die huis kom, skreeu hy op my omdat ek nie daar was om dit stop te sit nie.”
As jou ouers vir jou sê dat jy bederf, lui of onverantwoordelik is of jou ander name noem wat dit laat klink of jy deur en deur sleg is, voel dit dalk soms of hulle verwag dat jy gaan misluk. Ramon se gesin het hom die verstrooide professor genoem—’n bynaam wat hy gehaat het. Jy voel dalk ook so oor ’n bynaam of noemnaam wat jou foute uitlig, selfs al word dit op ’n liefdevolle manier gesê. In plaas van jou aan te spoor om te verbeter, kan die negatiewe bynaam eenvoudig die gevoel versterk dat dit altyd jóú skuld is.
Blaam kan veral seermaak wanneer dit lyk of dit die gevolg van voortrekkery is. “Ek’s die middelste kind”, sê ’n tiener met die naam Frankie, “en ek trek altyd aan die kortste end.” Dit lyk dalk of jou broers of susters altyd onskuldig is, maar dat jy die skuld gegee word wanneer dit net lyk of daar probleme is.
Waarom ouers kinders blameer
Dit is natuurlik net normaal vir ouers om hulle kinders tereg te wys wanneer hulle ’n fout maak. Om heilsame, positiewe teregwysing te voorsien, is immers een van die maniere waarop godvresende ouers hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” opvoed (Efesiërs 6:4). Maar soms kan selfs die beste ouers oorreageer of die verkeerde gevolgtrekkings maak. Dink aan ’n voorval wat plaasgevind het toe Jesus jonk was. By hierdie geleentheid was Jesus vermis. Dit blyk toe dat hy in God se tempel was, besig met Bybelbesprekings. Toe sy ouers hom gevind het, het sy moeder nogtans gevra: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”—Lukas 2:48.
Aangesien Jesus volmaak was, was daar geen rede om bekommerd te wees dat hy iets verkeerds sou doen nie. Maar soos alle liefdevolle ouers het sy moeder verantwoordelik gevoel vir haar kind en het sy heftig gereageer, miskien omdat sy bang was dat hy sou seerkry. Net so kan jou ouers dalk by tye oorreageer, nie omdat hulle onredelik of wreed probeer wees nie, maar om die eenvoudige rede dat hulle werklik vir jou omgee.
Onthou ook dat ons in ‘kritieke tye lewe wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Omdat jou ouers werk en na julle huis omsien, is hulle onder aansienlike druk, en dit kan ’n uitwerking hê op die manier waarop hulle jou behandel. (Vergelyk Prediker 7:7, NW.) Een geestesgesondheidswerker het gesê: “Wanneer daar in sommige gesinne ’n krisis is, kan ouers hulle humeur verloor en oorhaastige besluite neem selfs al is hulle gewoonlik redelike mense.”
Enkelouers kan veral geneig wees om hulle frustrasies op hulle kinders uit te haal, eenvoudig omdat hulle nie ’n maat het met wie hulle dinge kan bespreek nie. Dit is natuurlik nie aangenaam om die skyf van ’n ouer se persoonlike frustrasie te wees nie. Die 17-jarige Lucy sê: “As ek iets verkeerds gedoen het en verdien om gestraf te word, het ek nie ’n probleem daarmee nie. Maar wanneer ek gestraf word omdat my ma in ’n slegte bui is, is dit regtig onredelik.”
Voortrekkery is nog ’n faktor. Hoewel ’n ouer gewoonlik al sy kinders liefhet, is dit nie ongewoon vir hom om veral tot een kind aangetrokke te voel nie.a (Vergelyk Genesis 37:3.) Om te voel dat jy die mindergeliefde kind is, maak seer genoeg. Maar as dit lyk of jou behoeftes geïgnoreer word of as jy dikwels blameer word vir dinge wat jou broers of susters gedoen het, gaan dit beslis tot gegriefdheid lei. “Ek het hierdie broer, Darren”, sê die jong Roxanne. “Hy is Ma se ou engeltjie. . . . Sy blameer altyd vir my, nooit vir Darren nie.”
Probleemgesinne
In gelukkige gesinne word onregverdige beskuldigings dalk af en toe gemaak. Maar in probleemgesinne is daar dalk ’n voortdurende patroon van ouers wat blameer, beskaam en verneder. Soms gaan die blaam selfs gepaard met “kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal”.—Efesiërs 4:31.
Kan ’n jongmens blameer word vir sulke ouerlike uitbarstings? Dit is waar dat ’n ongehoorsame seun of dogter “’n verdriet” vir ’n ouer kan wees (Spreuke 17:25). Maar die Bybel sê immers vir ouers: “Moenie julle kinders irriteer [letterlik “opwek tot toorn”] nie” (Efesiërs 6:4). Soos alle Christene moet ’n ouer selfbeheersing openbaar, “hom onder die kwaad in bedwang hou” (2 Timoteus 2:24). Wanneer ’n ouer dus sy selfbeheersing verloor, kan hy nie sy kind se tekortkominge daarvoor blameer nie.
Uitskellery is dalk ’n teken dat ’n ouer aan emosionele spanning, depressie of ’n lae selfbeeld ly. Dit kan ook ’n aanduiding wees van dinge soos huweliksprobleme of alkoholisme. Volgens een bron word kinders van verslaafde ouers dikwels die sondebokke. “Niks wat hulle doen, is reg nie. Hulle word dalk ‘dom’, ‘sleg’, ‘selfsugtig’ en ander name genoem. Lede van die gesin kyk dan na daardie kind (of kinders) as die geïdentifiseerde ‘probleem’, en hulle aandag word afgetrek van hulle eie ongemaklike gevoelens en probleme.”
Hoe om onregverdige blaam te verwerk
Dr. Kathleen McCoy sê: “Om [’n] kind name te noem, hom te verkleineer en sy persoonlikheid te kritiseer . . . , kan ’n faktor wees in ’n tiener se lae selfbeeld, depressie en gebrek aan kommunikasie.” Of soos die Bybel dit self stel, kan hardvogtige behandeling kinders “vertoorn” en veroorsaak dat hulle “mismoedig” word (Kolossense 3:21). Jy kan begin dink dat jy ’n nuttelose mislukking is. Jy kan ook negatiewe gevoelens teenoor jou ouers ontwikkel. Jy kom dalk tot die gevolgtrekking dat daar min is wat jy kan doen om hulle tevrede te stel en dat daar geen rede is om te probeer nie. Woede en gegriefdheid kan posvat en maak dat jy enige dissipline verwerp—selfs opbouende kritiek.—Vergelyk Spreuke 5:12.
Hoe kan jy dit verwerk? Baie sal afhang van jou spesifieke situasie. Waarom neem jy nie ’n oomblik om realisties daarna te kyk nie? Byvoorbeeld, is dit werklik waar dat jy altyd blameer word? Of kan dit net eenvoudig wees dat jou ouers geneig is om by tye ’n bietjie te krities te wees en die verkeerde ding te sê? “Ons almal struikel baie kere”, sê die Bybel, en dit sluit ouers in (Jakobus 3:2). Selfs al oorreageer jou ouers dus af en toe ’n bietjie, is dit nodig dat jy ook oorreageer? Die Bybel se raad in Kolossense 3:13 is dalk hier van toepassing: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen.”
Empatie met jou ouers kan jou help om dit te doen. Spreuke 19:11 sê: “Die verstand van ’n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ’n eer om die oortreding te vergewe.” Is dit nodig om ’n groot geskilpunt daarvan te maak as jou pa buitengewoon omgekrap lyk wanneer hy van die werk af by die huis kom en jou blameer vir iets wat jy nie gedoen het nie? As jy besef dat hy waarskynlik gespanne en moeg is, sal dit jou dalk net help ‘om sy oortreding te vergewe’.
Maar wat moet jy doen as jy nie net van tyd tot tyd onregverdig blameer word nie, maar as dit voortdurend en onophoudelik gebeur? ’n Toekomstige artikel sal maniere bespreek om jou situasie te verbeter.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Jongmense vra . . . Waarom is dit so moeilik om met my broer en suster oor die weg te kom?” in ons nommer van 22 Julie 1987.
[Prent op bladsy 19]
Dit is nie onregverdig as ’n ouer regstellende raad gee wanneer dit nodig is nie