Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 8/22 bl. 16-18
  • Via Egnatia—’n Hoofweg wat uitbreiding bevorder het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Via Egnatia—’n Hoofweg wat uitbreiding bevorder het
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom nodig
  • Moeilike terrein vir ’n pad
  • Dit het sy doel gedien
  • Rol in die verspreiding van die Christelike godsdiens
  • Filippi—plek van fonteine
    Ontwaak!—1991
  • Die stryd vir die goeie nuus in Tessalonika
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Romeinse paaie—monumente van die antieke ingenieurswese
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • “Kom oor na Masedonië”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
Ontwaak!—1997
g97 8/22 bl. 16-18

Via Egnatia—’n Hoofweg wat uitbreiding bevorder het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GRIEKELAND

IN 50 G.J. het ’n groep Christensendelinge vir die eerste keer in Europa voet aan wal gesit. Hulle het gekom na aanleiding van ’n uitnodiging wat die apostel Paulus in ’n visioen ontvang het: “Kom oor na Masedonië en help ons” (Handelinge 16:9). Die boodskap oor Jesus Christus wat deur Paulus en sy metgeselle gebring is, het ’n groot impak op Europa gehad.

’n Belangrike middel wat tot die verspreiding van die Christelike godsdiens in Masedonië bygedra het, was die Via Egnatia, ’n geplaveide Romeinse hoofweg. Nadat die sendelinge by die seehawe Neapolis (nou Kaválla, Griekeland) aan die noordelike punt van die Egeïese See aan wal gegaan het, het hulle blykbaar op daardie hoofweg na Filippi, die vernaamste stad van die gebied Masedonië, gereis. Die pad het gelei na Amfipolis, Apollonië en Tessalonika, wat Paulus en sy metgeselle vervolgens besoek het.—Handelinge 16:11–17:1.

Dele van hierdie eertydse hoofweg bestaan vandag nog en word nog daagliks gebruik. Daar word tans beplan om ’n moderne hoofweg te bou wat die roete van die eertydse pad sal volg en dieselfde naam sal hê.

Wie het die oorspronklike hoofweg gebou? Wanneer is dit gebou, en met watter doel?

Waarom nodig

Namate Rome na die ooste uitgebrei het, het Masedonië in 146 v.G.J. ’n Romeinse provinsie geword. Hierdie toevoeging het egter ’n nuwe uitdaging vir die ryk geskep—die vermoë om leërmagte vinnig in die nuwe gebiede te ontplooi. Die Via Appia, of die Appiese Weg, op die Italiaanse Skiereiland het Rome reeds met die suidoostelike Adriatiese Kus verbind. Maar nou het die ryk ’n soortgelyke hoofweg op die Balkanskiereiland nodig gehad, en dit is waarom die Via Egnatia gebou is. Dit is vernoem na die hoofingenieur van die projek, die Romeinse prokonsul Gnaius Egnatius.

Die Via Egnatia het by die hawedorp Dirrachium in die provinsie Illirikum (Durres, Albanië) begin en die hele pad na die eertydse stad Bisantium (Istanboel, Turkye) geloop en was meer as 800 kilometer lank. Die konstruksie het in 145 v.G.J. begin en het ongeveer 44 jaar geneem om te voltooi. Soos bedoel is, het die Via Egnatia kort voor lank ’n baie nuttige instrument vir Rome se uitbreidingsbeleid in die Ooste geword.

Moeilike terrein vir ’n pad

Die terrein het dit egter moeilik gemaak om ’n hoofweg te bou. Na net ’n entjie ontmoet die pad byvoorbeeld die Ohrid-meer, waar dit langs sy noordelike grens loop. Die pad kronkel dan deur bergpasse en gaan ooswaarts oor ’n onherbergsame terrein van keteldale, kaal berge en valleie met mere voordat dit uiteindelik die sentrale Masedoniese vlakte bereik.

Naby die stad Tessalonika loop die hoofweg deur ’n gelyk en oop plattelandse gebied. Maar die terrein aan die oostekant van die stad is heuwelagtig. Die Via Egnatia kronkel deur hierdie heuwels en daal dan af tot in ’n vallei met mere waarvan die rande onduidelik en moerasagtig is. Verder aan volg dit ’n kronkelgang deur valleie en moerasse totdat dit die eertydse dorp Neapolis bereik.

Van daar af loop die pad ooswaarts langs die Egeïese seekus tot in die omgewing van Trasië. Die laaste deel van die hoofweg is redelik reguit en gelyk tot by sy bestemming, Bisantium.

Dit het sy doel gedien

Die Via Egnatia het die direkste en gerieflikste roete tussen Rome en die gebiede oos van die Adriatiese See geword wat deur Rome verower is. Dit het dit makliker gemaak om Romeinse nedersettings in Masedoniese dorpe te stig en het die ekonomiese, demografiese en kulturele ontwikkeling van die gebied grootliks beïnvloed. Die hoofweg het dit moontlik gemaak om koper, asfalt, silwer, vis, olie, wyn, kaas en ander items maklik te vervoer.

Die welvaart wat sulke handel tot gevolg gehad het, het sekere stede langs die pad, soos Tessalonika en Amfipolis, van die grootste stadsentrums in die Balkan gemaak. Tessalonika het veral tot ’n belangrike kommersiële sentrum ontwikkel, ryk aan kuns en kultuur. Die gemeenskappe waardeur hierdie pad geloop het, moes weliswaar ’n deel van die instandhoudingskoste daarvan dra. Maar in ruil hiervoor het hierdie gemeenskappe die oorvloedige voordele van internasionale handel geniet.

Rol in die verspreiding van die Christelike godsdiens

Die Via Egnatia het egter vir die mense wat in die gebied gewoon het iets baie kosbaarder as materiële welvaart gebring. Neem byvoorbeeld die welvarende sakevrou Lidia. Sy het in Filippi gewoon—die eerste stad in Europa waarin Paulus die goeie nuus verkondig het. Nadat die apostel Paulus en sy metgeselle in 50 G.J. in Neapolis aangekom het, het hulle 16 kilometer noordwes met die Via Egnatia langs na Filippi gereis.

“Op die sabbatdag”, het Lukas geskryf, “het ons uitgegaan tot buite die poort, langs ’n rivier, waar ons gedink het ’n bidplek is; en ons het gaan sit en met die vroue begin praat wat vergader het.” Een van die vroue wat na Paulus geluister het, was Lidia. Op daardie selfde dag het sy en haar huis gelowiges geword.—Handelinge 16:13, 14.

Van Filippi af het Paulus en sy metgeselle verder op die Via Egnatia gereis deur Amfipolis en Apollonië na Tessalonika, altesaam 120 kilometer (Handelinge 17:1). Paulus het die goeie nuus in Tessalonika verkondig deur gebruik te maak van die Sabbatdagsamekomste wat die Jode in die plaaslike sinagoges gehou het. As gevolg hiervan het sommige van die Jode en ’n groot menigte van die Grieke gelowiges geword.—Handelinge 17:2-4.

Vandag gebruik Jehovah se Getuies in Albanië en Griekeland insgelyks dele van hierdie selfde hoofweg om mense te bereik wat in hierdie gebiede woon. Hulle doel is om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, net soos die apostel Paulus en sy sendelingmetgeselle gedoen het (Matteus 28:19, 20; Handelinge 1:8). Die Via Egnatia is ’n Romeinse hoofweg wat werklik bygedra het tot geestelike uitbreiding, beide in die 1ste eeu en reg tot in hierdie 20ste eeu!

[Kaarte op bladsy 16, 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

BRITTANJE

EUROPA

AFRIKA

BALKAN SKIEREILAND

MASEDONIË

GRIEKELAND

Dirrachium, Illirikum (Durres, Albanië)

Tessalonika

Apollonië

Amfipolis

Filippi

Neapolis (Kaválla)

Bisantium (Istanboel)

SWART SEE

SEE VAN MARMORA

TRASIË

EGEÏESE SEE

Troas

TURKYE

[Erkenning op bladsy 16]

Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 16]

Op die pad na Neapolis

[Prent op bladsy 17]

Op die pad na Filippi

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel