Geheim van insekvlug opgelos
WETENSKAPLIKES wonder al lank hoe insekte, met hulle swaar liggaam en dun vlerkies, in die lug kan bly. Dit lyk asof hierdie klein skepseltjies die konvensionele beginsels van aërodinamika verontagsaam. Nou het navorsers aan die Cambridge-universiteit, Engeland, uitgevind hoe insekte die oënskynlik onmoontlike regkry.
Om insekvlug te bestudeer, het wetenskaplikes ’n garedraadjie om ’n pylstertmot vasgemaak en hom in ’n windtonnel gesit. Hulle het niegiftige rook deur die tonnel gepomp en gelet op die manier waarop die rook beweeg terwyl die mot sy vlerke klap. Daarna het hulle ’n meganiese model gebou wat 10 keer groter is en sy vlerke 100 keer stadiger beweeg, en nou kon hulle makliker die uitwerking daarvan sien. Hulle het gevind dat daar ’n werwelstroom ontstaan waar die vlerk aan die liggaam geheg is wanneer die mot sy vlerk afwaarts begin beweeg. Die laagdruk wat gevolglik bokant die vlerk ontstaan, veroorsaak ’n hefkrag, wat die insek opwaarts trek. As die werwelstroom sou ophou, sal die mot hefkrag verloor en grond toe val. Die werwelende lug beweeg egter langs die voorste rand van die vlerk na die vlerkpunt, en die hefkrag wat gevolglik deur die afwaartse beweging veroorsaak word, gelyk aan een en ’n half keer die mot se gewig, stel die insek in staat om met gemak te vlieg.
Lugvaartingenieurs het reeds geweet dat deltavlerkvliegtuie (so genoem omdat die vlerk na die Griekse letter Δ lyk) werweling by hulle vlerkpunte voortbring, wat hefkrag veroorsaak. Maar noudat hulle weet hoe werweling insekte wat hulle vlerke klap van hefkrag voorsien, wil hulle kyk hoe hulle hierdie verskynsel in die ontwerp van skroewe en helikopters kan gebruik.