Is dit ontwerp?
Vlerke in die natuur
◼ Wat dink jy vlieg die beste? Vliegtuie of diere soos vlermuise, insekte en voëls? Glo dit as jy wil, maar die vliegtuig kan nie kers vashou by hierdie klein natuurwonders nie, wat die “uitsonderlike vermoë het om in die lug te bly ondanks rukwinde, reën en sneeu”, sê Wei Shyy, professor in ruimtevaartingenieurswese aan die Universiteit van Michigan.a Wat is hulle geheim? Vlerke wat klap—iets wat vlieëniers al sedert die mens se eerste pogings om te vlieg, voëls beny.
Dink hieraan: Terwyl party voëls en insekte vlieg, verander die vorm van hulle vlerke voortdurend om by die omgewing aan te pas. Dit stel hulle in staat om op een plek in die lug te hang en om skerp draaie te maak. Die tydskrif Science News berig oor wat by vlermuise waargeneem is: “Wanneer hulle teen ’n stadige spoed gevlieg het, ongeveer 1,5 meter per sekonde, het die vlermuise hulle vlerkpunte onderstebo gedraai en dit dan gedurende die opwaartse beweging vinnig agtertoe geswiep. Wetenskaplikes vermoed dat hierdie tegniek . . . stygkrag en stukrag voortbring.”
Daar moet beslis nog baie geleer word oor die natuur se vlieërs. “Wat doen hulle fisies aan die lug om stygkrag so doeltreffend voort te bring?” vra Peter Ifju, professor in meganiese en ruimtevaartingenieurswese aan die Universiteit van Florida. Hy voeg by: “Daar is baie faktore in verband met lugvloei wat ons eenvoudig nie verstaan nie. Ons kan sien wat [voëls en insekte] doen, maar ons verstaan nie watter wisselwerking daar tussen hulle en die lug is nie.”
Wat dink jy? Het die beweeglike vlerke van die natuur se vlieërs per toeval ontstaan? Of is dit ontwerp?
[Voetnoot]
a Hoewel baie gevleueldes in die reën kan vlieg, soek die meeste skuiling wanneer dit begin reën.
[Prent op bladsy 24]
’n Breësnawelkolibrie
[Erkenning]
Laurie Excell/Fogstock/ age fotostock
[Prent op bladsy 24]
’n Vaalvlermuis
[Erkenning]
© Delpho, M/age fotostock