Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 10/8 bl. 12-15
  • Die Kruistogte—’n ‘tragiese illusie’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Kruistogte—’n ‘tragiese illusie’
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die oorsake
  • Die beroep by Clermont
  • Die twee vertrekke
  • Oorwinnings en ander slagtings
  • Einde van ’n illusie
  • Die les geïgnoreer
  • Die nasies leer nog steeds nie
    Ontwaak!—2002
  • Die stryd oor ’n “heilige” plek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Afvalligheid—’n Versperring op die weg na God
    Die mensdom se soeke na God
  • God se oordeel teen “die wettelose mens”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 10/8 bl. 12-15

Die Kruistogte—’n ‘tragiese illusie’

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË

ONGEVEER negehonderd jaar gelede, in 1096, was die Eerste Kruistog op die punt om te begin. As jy toe in Wes-Europa gelewe het, sou jy moontlik ’n groot uittog van mans, waens, perde en skepe gesien het. Hulle was op pad na Jerusalem, die heilige stad, wat sedert die sewende eeu G.J. onder die beheer van Moslems was.

Dit was die eerste van die Kruistogte. Baie geskiedkundiges gee agt groot kruistogte aan. Hierdie ekspedisies het littekens gelaat op die geskiedenis van die verhouding tussen die Ooste en die Weste. Dit het met slagtings en wreedheid gepaardgegaan wat in die naam van God en Christus gepleeg is. Die laaste groot Kruistog het 174 jaar later, in 1270, begin.

Die Engelse woord “crusade” (kruistog) kom van die Latynse woord crux, wat “kruis” beteken. Lede van die talle ekspedisies het die simbool van die kruis op hulle klere vasgewerk.

Die oorsake

Die verklaarde beweegrede vir die Kruistogte was om Jerusalem en die sogenaamde heilige graf van die Moslems af te neem. Maar die oorsake was dieperliggend. Afgesien van ’n paar voorvalle, was die verhoudinge tussen die verklaarde Christene wat in die Midde-Ooste gewoon het en die Moslems relatief kalm. ’n Belangrike faktor wat tot die Kruistogte aanleiding gegee het, was die onstuimige politieke, ekonomiese en godsdienstige klimaat wat in Europa geheers het.

In die 11de eeu is nuwe plattelandse gebiede vir landboudoeleindes toegewys in ’n poging om voedselproduksie te vermeerder. Stedelike gebiede het nuwe lewe gekry. Die bevolking was besig om te groei. Maar toe ’n hongersnood groot getalle kleinboere in armoede gedompel het, het baie in die stede ingestroom, waar werkloosheid en ellende op hulle gewag het. Protesbetogings het dikwels uitgebars.

Boaan die maatskaplike hiërargie was daar etlike feodale baronne. Hierdie professionele krygshere wou die politieke vakuum benut wat deur die verbrokkeling van Karel die Grote se ryk geskep is en nuwe eiendomme inpalm.

Die kerk van Rome het ook ’n tydperk van beroering ondervind. In 1054 het dit beheer oor die Oostelike Kerk verloor. Daarbenewens is baie van die geestelikes van onsedelikheid en inmenging in die politiek beskuldig.

Die beroep by Clermont

In hierdie klimaat het pous Urbanus II die Eerste Kruistog uitgeroep. Na sy mening sou militêre optrede om Jerusalem en Palestina te herower etlike doelwitte bereik. Dit sou die eenheid van die Westelike Christendom verstewig en die oppergesag van die Roomse Kerk herbevestig. Dit sou ’n uitlaatklep voorsien vir die gedurige geskille onder die hoër stande. In ruil vir godsdienstige en, bowenal, ekonomiese voordele sou hulle hulle militêre kundigheid vir ’n “edele” saak gebruik en sodoende die gewapende vleuel van die kerk word.

Op 27 November 1095 het Urbanus voor ’n konsilie by Clermont, Frankryk, sy beroep gedoen. Die kerk het hulle vyande met sombere kleure geskilder, as mense wat goddelike vergelding verdien. Foucher de Chartres, ’n priester wat aan die Eerste Kruistog deelgeneem het, het gesê dat die oorlog nodig was om Oostelike “Christene” teen die Moslems te verdedig. Onmiddellike kwytskelding van sondes is vir diegene belowe wat op pad of in die stryd gesterf het. Die feodale here kon dus ’n “heilige” oorlog teen die “ongelowiges” voer in plaas van onder mekaar te baklei. By daardie konsilie het ’n uitroep weerklink wat die leuse van die Eerste Kruistog sou word: “Dit is God se wil!”

Die twee vertrekke

Toe die vertrekdatum, 15 Augustus 1096, vasgestel is, het die Pous seker gemaak dat hy die ondersteuning van leenhere het, aan wie militêre operasies toevertrou is. Die kerk het die beskerming van hulle eiendom vir die duur van die kruistog gewaarborg. Die minder welgestelde mense is aangespoor om die sending deur middel van bydraes te finansier.

Maar party het voor die vasgestelde datum vertrek. Dit was ’n onopgeleide en ongedissiplineerde gepeupel wat vroue en kinders ingesluit het. Hulle is pauperes Christi (Christus se armes) genoem. Hulle bestemming: Jerusalem. Hulle is deur opruiers gelei, waarvan die bekendste dalk Pieter die Kluisenaar was, ’n monnik wat teen die einde van 1095 onder die volksmassa begin preek het.

Volgens die Middeleeuse kroniekskrywer Albert van Aix het Pieter al voorheen na Jerusalem gereis. Daar is gesê dat hy een nag ’n visioen gehad het waarin Christus hom gemaan het om na die patriarg van Jerusalem te gaan, wat hom ’n geloofsbrief sou gee om na die Weste toe terug te neem. Volgens Albert het die droom waar geword en het Pieter Rome toe gegaan nadat hy die brief ontvang het, waar hy die Pous ontmoet het. Albert se verslag vermeng die werklikheid met fantasie, maar die beweerde drome, visioene en briewe was kragtige instrumente om die massa mee te lei.

Die groep wat hulle om Pieter die Kluisenaar geskaar het, het Keulen op 20 April 1096 verlaat. Omdat hulle nie die nodige geldmiddele vir die seereis gehad het nie, moes die pauperes die lang reis na die Heilige Land te voet of in gehawende waens aandurf. Weens die feit dat hulle byna onmiddellik sonder kos of wapens was, het hulle die plaaslike bevolkings begin plunder wat hulle onderweg teëgekom het en wat verras is deur die aankoms van hierdie ongedissiplineerde menigte “soldate van Christus”.

Die eerstes wat deur hulle aangeval is, was Europese Jode, wat daarvan beskuldig is dat hulle geld aan korrupte biskoppe geleen het. Wreedhede teen die Jode is deur die navolgers van Pieter die Kluisenaar gepleeg, in plekke soos Rouaan en die stad Keulen, hulle vertrekpunt. Toe die Jode in Mainz, volgens Albert van Aix, “sien dat die Christene nie eers hulle kindertjies spaar nie en ook vir niemand medelye gehad het nie, het hulle hulle hand aan hulle broers, vrouens, moeders en susters geslaan en mekaar doodgemaak. Wat die hartverskeurendste was, is dat moeders self hulle suigelinge se keel afgesny of hulle deurboor het, omdat hulle verkies het om hulle eerder self dood te maak as dat hulle deur die onbesnedenes doodgemaak word.”

Soortgelyke voorvalle is gedurende die reis na die Balkan herhaal, op pad na Klein-Asië. Toe die gepeupel Konstantinopel bereik, het keiser Alexius I die deurtog van die pauperes tot op die Asiatiese kus voortgehelp, om enige herhaling van sulke wanorde te vermy. Dáár is talle vroue en kinders sowel as die siekes en die bejaardes deur Moslemmagte vermoor. Net ’n paar oorlewendes het daarin geslaag om na Konstantinopel terug te keer.

Intussen het opgeleide leërs gedurende die somer van 1096 uitgetrek. Hulle is deur bekende leiers van daardie tyd aangevoer. Die onordelike vroeë vertrek van die pauperes het pous Urbanus bekommer, wat reëlings getref het om die uittog na die Ooste te beheer. Diegene wat nou vertrek het, moes bewys lewer dat hulle voldoende lewensmiddele gehad het. Die doel was om die deelname van vroue, kinders, die bejaardes en die armes te beperk.

Oorwinnings en ander slagtings

Nadat hulle in Konstantinopel bymekaargekom het, het die troepe, baronne en oorblywende pauperes hulle reis na hulle bestemming voortgesit. Weer eens is geweld in die naam van God gepleeg. Die kroniekskrywer Petrus Tudebodus vertel dat die kruisvaarders gedurende die beleg van Antiogië, nadat hulle hulle vyande verdelg het, “al hulle liggame in ’n massagraf gegooi het en hulle afgekapte koppe na [hulle] kamp teruggebring het om hulle te tel, met die uitsondering van vier perdevragte van daardie koppe, wat na die kus toe gestuur is aan die ambassadeurs van die emir van Babilon”.

Op 15 Julie 1099 is Jerusalem deur die kruisvaarders ingeneem. Raymond van Aguilers vertel: “’n Verskriklike skouspel kon gesien word. Party [van die vyand], die gelukkiges, is onthoof; ander het vol pyle van die mure afgeval; baie ander het in die vlamme verbrand. Hope afgekapte koppe, hande en voete kon in die strate en stadspleine gesien word.” Maar weer eens het die kruisvaarders die geweld in die naam van godsdiens probeer regverdig.

Einde van ’n illusie

Die oorwinning het die Latynse Koninkryk van Jerusalem tot stand gebring. Hierdie instelling het ’n onsekere bestaan gehad weens wedywering wat weldra ontstaan het tussen die feodale here wat hulle in die Ooste gevestig het. Intussen het die Moslems hulle op militêre gebied geherorganiseer. Hulle was beslis nie van plan om gebied in Palestina te verloor nie.

Met verloop van tyd is ander Kruistogte op tou gesit, waarvan die laaste in 1270 was. Maar weens nederlae het baie begin twyfel aan die regmatigheid van sulke ondernemings wat in die naam van godsdiens aangepak is. As God werklik hierdie “heilige” oorloë goedgekeur het, het hulle gedink, sou hy tog sekerlik diegene seën wat beweer dat hulle met sy seën optree. Tog het wetsgeleerdes van die kerk van die 13de eeu af sulke godsdiensoorloë en die geestelikes se rol daarin probeer regverdig.

Die ywer waarmee die eerste kruisvaarders besiel is, het verflou. Die vernaamste rede hiervoor was dat die voortsetting van die oorloë die ekonomiese belange van die Weste uiteindelik sou benadeel. Die wapens is dus gebruik teen die interne vyande van die Europese Christendom: die Arabiere in Spanje, die “ketters” en die heidense volke van die Noorde.

In 1291 is die stad Acre, die laaste vesting van die kruisvaarders, deur die Moslems ingeneem. Jerusalem en die ‘Heilige Graf’ het in Moslemhande gebly. Gedurende twee eeue van konflik het ekonomiese en politieke belange godsdiensgeskille oorheers. Die Italiaanse geskiedskrywer Franco Cardini sê: “Teen hierdie tyd het die Kruistogte geleidelik ontwikkel tot ’n ingewikkelde politieke en ekonomiese operasie, ’n komplekse magstryd waarby biskoppe, kloostervaders, konings, invorderaars van aalmoese en bankiers betrokke was. In hierdie spel . . . was dit Jesus se graf wat al sy belangrikheid verloor het.” Cardini sê ook: “Die geskiedenis van die Kruistogte is die geskiedenis van die grootste fout, die ingewikkeldste bedrog, die tragiesste, en in party opsigte die belaglikste, illusie van die hele Christendom.”

Die les geïgnoreer

Die Kruistogte en die mislukking daarvan moes mense geleer het dat ekonomiese hebsug en die begeerte na politieke vernaamheid tot fanatisme en slagting kan lei. Maar die les is geïgnoreer. Die bewys daarvan lê in die baie konflikte wat steeds baie dele van ons planeet met bloed bevlek. Hierin dien godsdiens dikwels as ’n dekmantel vir gruwels.

Maar nie vir veel langer nie. Binnekort sal daar ’n einde gemaak word aan die gees wat die Kruistogte aangeblaas het en wat steeds hedendaagse “heilige” oorloë aanblaas, tesame met alle valse godsdiens en die hele stelsel wat deur Satan oorheers word.—Psalm 46:9, 10; 1 Johannes 5:19; Openbaring 18:4, 5, 24.

[Foto-erkenning op bladsy 12]

The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck

[Prente op bladsy 15]

Bo: Joodse begraafplaas in Worms, Duitsland —’n herinnering aan die slagting gedurende die Eerste Kruistog

Links: Klipbeeld van ’n kruisvaarder se kop

Ver links: Die wapen van ’n beroemde kruisvaarderfamilie

[Erkenning]

Wapen en kop: Israel Antiquities Authority; foto’s: Israel Museum, Jerusalem

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel