Wolke word benut
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AMERIKA
NAVORSERS wat in Chili werk, het ’n ou Arabiese tegniek wat water uit mis verkry met welslae aangepas. “Olyfbome in die Oman-woestyn”, verduidelik die nuusbrief Health InterAmerica, “word al eeue lank natgemaak deur waterdruppeltjies wat op die blare versamel en in klein tenks drup wat onder die bome gebou is.” In plaas van olyfbome stel die navorsers groot nette in bergagtige woestyngebiede op wat gereeld deur mis bedek word wat van die see af inwaai. Die nette, wat soos groot vlugbalnette lyk, vang waterdruppels uit die mis op. Dit drup in ’n geut en loop dan deur ’n pypleiding tot in ’n opgaartenk.
Chungungo, ’n klein dorpie wat in Chili se noordelike kuswoestyn geleë is, het bewys dat die stelsel werk. Veertien jaar gelede, sê IDRC Reports, ’n tydskrif wat deur Kanada se Internasionale Ontwikkelingsnavorsingsentrum uitgegee word, het Chungungo se inwoners geen plaaslike varswaterbron gehad nie. Vragmotors het elke dag 5000 liter water daarheen vervoer, en elke gesin moes met 3 tot 14 liter per dag klaarkom. Maar vandag, danksy die 75 misopvangnette wat in die berge bo die dorpie opgestel is, vloei ’n ongelooflike 11 000 liter water na Chungungo, wat elke inwoner van 30 liter water per dag voorsien. Die navorser dr. Robert Schemenauer, ’n wolkfisikus, sê dat die misopvangstelsel die dorpenaars se gesondheid verbeter het. “Almal eet groente en vrugte van hulle eie tuine en boorde.”
Hierdie water is nie net gesond nie, maar ook goedkoop. ’n Gemiddelde instellasie, sê dr. Schemenauer, kos ongeveer R332 250 in vergelyking met die miljoene rande wat nodig is om ’n dam te bou. Navorsers sê dat baie ander droë plekke regoor die wêreld by hierdie stelsel kan baat vind, maar internasionale agentskappe was tot dusver traag om hierdie alternatiewe benadering van watervoorsiening te erken.
[Prente op bladsy 23]
Links: Nette op bergtop wat waterdruppels uit mis opvang
Onder: Die net van naderby beskou
[Erkenning]
Foto’s: IDRC