Die Swart Dood was nie die einde nie
IN Oktober 1347 het handelskepe uit die Ooste die hawe van Messina, in Sisilië, binnegevaar. Aan die spane was siek en sterwende manne. Op hulle liggame was donker swelsels so groot soos eiers waaruit bloed en etter gekom het. Die matrose het hewige pyn gehad en het binne etlike dae ná die verskyning van die eerste simptome gesterf.
Rotte wat op die skepe was, het geskarrel om by die plaaslike rotbevolking aan te sluit. Die rotte het vlooie gehad wat met basille besmet was wat dodelik vir die mens is. So het die epidemiese siekte versprei wat bekend staan as die pes, die Swart Dood, die ergste epidemie in die Europese geskiedenis tot op daardie tyd.
Die pes het twee vorme aangeneem. Die een vorm, wat deur die byt van ’n besmette vlooi oorgedra is, het deur die bloedstroom versprei en swelsels en inwendige bloeding veroorsaak. Die ander, wat deur ’n hoes of ’n nies aan ander oorgedra is, het die longe aangetas. Omdat albei vorme teenwoordig was, het die siekte vinnig en met verskriklike felheid versprei. In net drie jaar het dit ’n kwart van Europa se bevolking afgemaai; daar het moontlik 25 miljoen mense gesterf.
Destyds het niemand geweet hoe die siekte van persoon tot persoon versprei het nie. Sommige het gemeen dat die lug vergiftig was, moontlik vanweë ’n aardbewing of ’n ongewone stand van die planete. Ander het gedink dat mense siek word deur bloot na ’n besmette persoon te kyk. Hoewel mense verskillende menings gehad het, was dit duidelik dat die siekte hoogs aansteeklik was. ’n Franse geneesheer het gesê dat dit gelyk het of een sieke “die hele wêreld kon besmet”.
Mense het niks gehad waarmee hulle dit kon voorkom of genees nie. Baie het nagedink oor profesieë in die Bybel soos die een in Lukas 21:11, wat voorspel dat daar peste gedurende die tyd van die einde sal wees. Hoewel geld in die kerke ingestroom het, het die pes voortgewoed. ’n Italianer het destyds geskryf: “Geen klokke het gelui nie en niemand het gehuil nie, ongeag sy verlies, want so te sê almal het die dood verwag . . . mense het gesê en geglo: ‘Dit is die einde van die wêreld.’”
Maar dit was nie die einde nie. Teen die einde van die 14de eeu het daardie pes hom uitgewoed. Die wêreld het voortbestaan.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Argieffoto’s