Chagas-siekte—’n kus van die dood
’N BRASILIAANSE dokter, Carlos Chagas, het sy naam aan die siekte gegee wat op mediese gebied as Suid-Amerikaanse tripanosomiase bekend staan. Hy het die siekte in 1909 ontdek toe hy ’n mikroskopiese, parasitiese organisme geïsoleer het wat ’n tripanosoom genoem word. Dit is moeilik om die siekte te diagnoseer, want nadat hierdie eensellige parasiete in die mens se bloedstroom ingekom het, verlaat die meeste van hulle die bloed en skuil in die liggaamselle waar hulle nie maklik opgespoor kan word nie.
Sodra die tripanosoom in die sel is, vermenigvuldig hy vinnig, maar die siekte se simptome verskil. Sommige slagoffers is hoegenaamd nie daarvan bewus dat hulle die siekte het nie, maar in ander gevalle word die milt, die lewer, die limfkliere en selfs die brein gou onherstelbaar beskadig. In Suid-Amerika is dit ook die hoofoorsaak van sterftes weens hartversaking onder mense wat jonger as 40 is. Daar is nog geen geneesmiddel vir die behandeling van die siekte beskikbaar nie, maar Londen se Imperial College is druk besig met molekulêre navorsing om ’n geneesmiddel te vervaardig.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dat 90 miljoen mense in Sentraal- en Suid-Amerika gevaar loop om Chagas-siekte op te doen, en tot 18 miljoen is reeds met die siekte besmet. Hoe word die siekte oorgedra? Honde en katte kan dit aan mense oordra, maar dit word meestal oorgedra deur die roofwants, wat ook as die moordinsek bekend staan, omdat hy gedurende die nag op sy slagoffer val en bloed uit die sagte dele van die gesig, gewoonlik in die nek of om die oë, suig.
Die insekbyt is nie seer nie. Wanneer die insek trommeldik van die bloed is, laat hy sy besmette ontlasting op die slagoffer agter. Die ontlasting besmet die bloedstroom wanneer dit in die oop wond ingevryf word, óf deur die insek self, óf deur die slagoffer wat krap sonder om te besef dat hy gebyt is. Dit is ongelooflik dat sommige Mexikane na wat berig word steeds roofwantse as ’n geslagsprikkelmiddel eet en sodoende regstreeks met die tripanosoom besmet word.
Chagas-siekte, wat die armoedesiekte genoem word, is gewoonlik tot arm gebiede beperk waar die insekte ongehinderd in die krake in modderhutmure kan aanteel. Maar in onlangse jare het die siekte in welvarende stede, soos Rio de Janeiro, algemener geword. Waarom? Omdat plattelanders wat met die siekte besmet is daar gaan bloed skenk. Daar word in Brasilië jaarliks duisende nuwe gevalle van Chagas-siekte aangemeld, wat direk aan die oortapping van besmette bloed toegeskryf kan word. Trekarbeiders uit Suid-Amerika veroorsaak nou kommer in die Verenigde State, waar sommige bloedbanke reeds besmet is.
Sindelikheid, goeie huisvesting en behoorlike sanitasie is noodsaaklik om die toename in die roofwantsbevolking te keer. En Christene neem die bevel om hulle ‘van bloed te onthou’ ernstig op. Gehoorsaamheid daaraan red lewens.—Handelinge 15:20.