Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 12/8 bl. 3-5
  • Wat is in die kind se belang?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is in die kind se belang?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Opsies met betrekking tot toesig en beheer oor kinders
  • Vrae wat kan ontstaan
  • Toesig oor kinders—’n gebalanseerde beskouing
    Ontwaak!—1997
  • Egskeiding het wel slagoffers
    Ontwaak!—1991
  • Toesig oor kinders—godsdiens en die wet
    Ontwaak!—1997
  • Hoe egskeiding kinders raak
    Hulp vir die gesin
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 12/8 bl. 3-5

Wat is in die kind se belang?

MOET ek skei of nie? Dit is ’n groot vraag waaroor baie mense wonder wat ongelukkig getroud is. Egskeiding is baie jare gelede om sedelike en godsdiensredes afgekeur, selfs openlik veroordeel. En ouers wat ongelukkig getroud was, het gewoonlik ter wille van die kinders bymekaargebly. Maar hierdie wêreld se standaarde het in onlangser tye heeltemal verander. Vandag word egskeiding algemeen aanvaar.

Maar ten spyte daarvan dat egskeiding aanvaar word, spreek meer ouers, regters, sosioloë en ander kommer uit oor die slegte uitwerking wat egskeiding op kinders het. Meer waarskuwende stemme word nou gehoor. Toenemende bewyse toon dat egskeiding ’n verwoestende uitwerking op ’n kind kan hê. Ouers word aangespoor om aan die gevolge van egskeiding vir hulleself en vir hulle kinders te dink. Die sosioloog Sara McLanahan, van die Universiteit van Princeton, sê dat “tussen twee derdes en driekwart van die gesinne wat skei dit waarskynlik meer tyd moet gee en meer daaroor moet nadink of hulle die regte ding doen”.

Onlangse studies toon dat die kanse groter is dat kinders van geskeide ouers as tieners swanger sal raak, die skool vroeg sal verlaat, depressief sal word, egskeiding in hulle eie huwelike sal hê en onder diegene sal wees wat van welsynsorg afhanklik is. In die Westerse wêreld word 1 uit 6 kinders deur egskeiding geraak. Die geskiedskrywer Mary Ann Mason het in haar boek oor toesig en beheer oor kinders in die Verenigde State gesê: “’n Kind wat in 1990 gebore is, het ongeveer ’n 50 persent kans gestaan om onder die jurisdiksie van ’n hof te val in ’n saak oor waar en by wie die kind gaan woon.”

Ongelukkig eindig vyandighede nie altyd met die egskeiding nie, aangesien ouers in die howe kan aanhou stry oor toesig en besoekregte en vir hulle kinders verdere spanning veroorsaak. Hierdie voorvalle wat met emosie gelaai is in die vyandige hofsaal-atmosfeer stel die kinders se lojaliteit aan hulle ouers op die proef en laat hulle dikwels magteloos en bang voel.

’n Gesinsraadgewer het gesê: “Egskeiding red kinders nie. Dit red volwassenes wel partykeer.” Die werklikheid is dat ouers dalk hulle eie probleme oplos deur te skei, maar terselfdertyd kan hulle hulle kinders benadeel, wat dalk die res van hulle lewe die skade moet probeer verwerk.

Opsies met betrekking tot toesig en beheer oor kinders

Te midde van die vyandigheid en emosionele spanning van ’n egskeiding is dit uiters moeilik om op ’n kalm en redelike manier te onderhandel oor wie toesig en beheer oor die kinders gaan kry. Om konfrontasie tussen die ouers en ’n hofgeding te vermy, is daar in party regsgebiede ’n alternatiewe manier waarop geskille besleg kan word, soos bemiddeling buite die hof.

Wanneer bemiddeling behoorlik gedoen word, kry die ouers eerder die geleentheid om ’n ooreenkoms te bereik as om die besluite oor wie die kinders gaan kry aan ’n regter oor te laat. As bemiddeling nie moontlik is nie, sal ouers dalk deur hulle prokureurs ’n reëling vir toesig en besoeke kan uitwerk. Sodra die ouers tot ’n ooreenkoms kom en dit op skrif stel, kan die regter ’n bevel onderteken wat hulle wense bevat.

Wanneer die ouers nie ’n ooreenkoms oor ’n toesigreëling kan bereik nie, sal die regstelsel in die meeste lande op die een of ander manier probeer verseker dat die kinders se belange beskerm word. Die kinders sal vir die regter die hoofsaak wees, nie die ouers nie. Die regter sal baie toepaslike faktore in ag neem, soos die wense van die ouers, die kind se verhouding met elke ouer, die voorkeure van die kind en elke ouer se vermoë om daaglikse sorg te voorsien. Dan sal die regter besluit waar en by wie die kind sal woon sowel as hoe die ouers belangrike besluite oor die kind se toekoms sal neem.

In ’n alleentoesigreëling het een ouer moontlik die gesag om besluite te neem. In ’n gesamentlike toesigreëling moet albei ouers oor belangrike besluite ooreenkom, soos die kind se gesondheidsorg en skoolopleiding.

Vrae wat kan ontstaan

Wanneer ouers wat Jehovah se Getuies is voor regsgedinge in verband met toesig en beheer oor kinders te staan kom, moet hulle ook in ag neem wat in die belang van die kinders se geestelikheid is. Gestel byvoorbeeld die ouer wat nie ’n Getuie is nie, is gekant teen enige Bybelopleiding vir die kinders. Of gestel die ouer wat nie ’n Getuie is nie, is uit die Christengemeente gesit.

Hierdie scenario’s kan besluitneming vir Christenouers ingewikkelder maak. Hulle wil op ’n verstandige en redelike wyse optree, en hulle wil ook ’n goeie gewete voor Jehovah behou terwyl hulle biddend oorweeg wat in die kinders se belang is.

In die volgende artikels sal ons na vrae soos hierdie kyk: Hoe beskou die wet godsdiens wanneer toesig en beheer oor kinders toegeken word? Hoe kan ek die uitdaging van ’n toesigsaak met welslae die hoof bied? Hoe verwerk ek dit as ek toesig en beheer oor my kinders verloor? Hoe moet ek ’n gesamentlike toesigooreenkoms met ’n uitgesette ouer beskou?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel