Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 4/22 bl. 3-5
  • Egskeiding het wel slagoffers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Egskeiding het wel slagoffers
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Verskriklike prys
  • Wat van ouer kinders?
  • Watter hoop vir die kinders?
  • Egskeiding—die wrange vrugte
    Ontwaak!—1992
  • Hoe egskeiding kinders raak
    Hulp vir die gesin
  • Die egskeidingsontploffing
    Ontwaak!—1992
  • Moet egskeiding toegelaat word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 4/22 bl. 3-5

Egskeiding het wel slagoffers

AS JY alles moes glo wat “deskundiges” gedurende die laaste paar dekades oor egskeiding geskryf het, sal jy dalk die gevolgtrekking maak dat niemand aan die hedendaagse egskeiding skuld het nie en dat niemand seerkry nie.

Vir baie ouers het algemene clichés, soos die volgende, hulle algaande oorreed om te skei: Egskeiding is beter vir die kinders as ’n ongelukkige huwelik; wag net totdat die kinders ‘die regte ouderdom’ is sodat hulle pyn gespaar word; kinders herstel na net ’n paar jaar van die trauma.

Sommige het hierdie optimistiese opvattings ondersteun. Skrywers Susan Gettleman en Janet Markowitz verwerp byvoorbeeld “die mite van die seergemaakte kind”. Hulle beweer dat egskeiding nie vir kinders traumaties hoef te wees as die ouers dit ‘op ’n volwasse manier aanpak’ nie. Hulle redeneer selfs dat ouers se egskeiding kinders kan help om eendag hulle eie egskeidings te verwerk! Hulle beweer: “Wat eintlik hervorm moet word, is die instelling van die huwelik en die mite van huislikheid self.”—The Courage to Divorce.

Maar klink sulke onbeskaamde bewerings werklik eg? Watter prys betaal kinders werklik in ’n egskeiding in ’n wêreld waar egskeidingsyfers die hoogte inskiet? Is dit waar dat niemand seerkry nie?

’n Verskriklike prys

In 1971 het Amerikaanse navorsers Judith Wallerstein en Joan Berlin Kelly met ’n belangrike studie oor die langtermynuitwerking van egskeiding op gesinne begin. Hulle het 60 gesinne gekies wat ’n egskeidingskrisis deurgemaak het. Hierdie gesinne het altesaam 131 kinders tussen 2 en 18 jaar oud gehad. Tot hulle verbasing het die navorsers bevind dat egskeiding byna nooit ’n verligting vir die kinders was nie. Dit was selfs waar wanneer hulle ouers ongelukkig getroud was. Trouens, egskeiding het die kinders geweldig ontstel.

Was die gevolge bloot die een of ander korttermyntrauma? Ongelukkig nie. Ná vyf jaar het 37 persent van die kinders aan matige tot ernstige depressie gely. Die meeste het nog gehoop dat hulle ouers weer na mekaar sal teruggaan—selfs al het hulle met iemand anders getrou! Ná 10 of selfs 15 jaar het byna die helfte van die kinders in die studie “volwassenheid betree as bekommerde en soms gebelgde jong mans en vroue wat swak presteer en ’n lae selfbeeld het”.

Hierdie uitslae was strydig met die konvensionele wysheid. Soos Wallerstein skryf: “Ons bevindinge was heeltemal die teenoorgestelde van wat ons verwag het. Dit was onwelkome nuus vir baie mense, en ons het driftige briewe gekry van terapeute, ouers en prokureurs wat gesê het dat ons ongetwyfeld verkeerd is.”

Die kinders het egter nie leuens vertel nie; ander studies bevestig die bevinding van Wallerstein en Kelly. Die Journal of Social Issues het opgemerk dat die meeste deskundiges, soos gedragswetenskaplikes, “glo dat die skeiding van ouers en die ontbinding van ’n huwelik ’n diepgaande negatiewe uitwerking op kinders sowel as adolessente het”. Die tydskrif het bygevoeg dat sulke opvattings “in groot mate bevestig is” deur die volgende bevindinge op te noem: Onder kinders van geskeide ouers is syfers vir jeugmisdaad en antisosiale gedrag hoër as onder kinders wat uit onverbrokkelde gesinne kom; die aantal kinders van geskeide ouers wat in psigiatriese hospitale opgeneem word, kan twee keer meer wees as kinders wat uit onverbrokkelde gesinne kom; egskeiding is waarskynlik die vernaamste oorsaak van depressie onder kinders.

Wat van ouer kinders?

Ouer kinders verwerk egskeiding nie juis beter as jonger kinders nie. Wanneer adolessente hulle ouers sien skei, kan hulle diep ontnugter word en dit kan hulle ’n verdraaide beskouing van die huwelik en ander instellings, soos skool, gee. Sommige kom tot die slotsom dat alle verhoudings onbetroubaar is en dat dit gedoem is om eendag op verraad en ontrouheid uit te loop.

Omdat hulle hulle ewewig so verloor, wend sommige tienderjariges hulle tot wilde uiterstes wanneer hulle ouers skei. Sommige wend hulle tot dwelms, ander verval in seksuele promiskuïteit, party loop van die huis af weg. Dit lyk of ander aanvanklik maklik oor die egskeiding kom, maar hulle ondervind later ’n vertraagde reaksie. Soos die tydskrif The Washingtonian opgemerk het, is dit dalk nie toevallig dat die toename in egskeidings gepaard gaan met ’n soortgelyke toename in eetversteurings en boonop selfmoord onder tienderjariges nie.

Ouers wat dus wag totdat hulle kinders ‘die regte ouderdom’ is voordat hulle ’n egskeiding aanhangig maak, sal dalk lank moet wag. Daar is blykbaar nie ’n ‘regte ouderdom’ waarop kinders ’n egskeiding maklik en sonder letsels deurmaak nie.a Sosioloog Norval D. Glenn het selfs in die tydskrif Psychology Today beweer dat egskeiding ’n negatiewe uitwerking op kinders kan hê wat “hulle hulle hele lewe deur kan bybly”. Hy het tot die slotsom gekom: “’n Mens moet ernstige oorweging skenk aan die ontstellende hipotese dat die toenemende aantal kinders van geskeide ouers geleidelik daartoe sal lei dat die bevolking se algemene vlak van welsyn afgebreek word.”

Maar al is hierdie bevindinge, studies en statistiek somber beteken dit nie dat elke kind van geskeide ouers bestem is om ’n moeilike lewe te lei nie. Dit toon egter dat egskeiding ’n baie wesenlike gevaar vir kinders inhou. Die vraag is: Hoe kan kinders teen die gevolge van egskeiding beskerm word?

Watter hoop vir die kinders?

Daar is geen beskerming wat beter as voorkoming is nie. Soos dr. Diane Medved dit in haar boek The Case Against Divorce gestel het: “Ons moet ophou om toe te laat dat selfsugtige belange die enigste maatstaf is waarvolgens daar besluit word of ’n egskeiding gepas is.” Daar kan min twyfel wees dat die self-behepte, ek-eerste-gesindheid waarmee die hedendaagse gemeenskap deurtrek is, tallose huwelike ondermyn het. Hoe kan egpare hierdie invloed teëwerk en hulle huwelike laat standhou?

Die Bybel sê dat die Outeur daarvan die Ontwerper van die huwelik is. Ter bevestiging van hierdie verklaring werk die Bybel se raad oor die huwelik werklik. Dit het miljoene mans en vrouens al gehelp om die gehalte van hulle gesinslewe te verbeter. Die Bybel het tallose huwelike uit die kake van egskeiding geruk. Dit kan vir jou ook werk.b

Ongelukkig kan egskeiding egter nie altyd vermy of voorkom word nie. Dit is ’n werklikheid van die hedendaagse wêreld. Sommige ouers leer God se standaarde vir die huwelik nadat hulle reeds geskei het. Ander lewe getrou volgens daardie standaarde, maar word deur ’n selfsugtige, onsedelike maat verraai. Die Bybel self erken dat sommige uiterste omstandighede ’n egskeiding toelaatbaar maak (Mattheüs 19:9). Maar soos Jesus geleer het, is dit onmoontlik om enige verstandige besluit te neem sonder om eers ‘die koste te bereken’.—Lukas 14:28.

As ’n egskeiding ’n voldonge feit is, is dit seer seker nie die tyd om onder die gewig van skuldgevoelens of verwyte te knak nie. Dit is die tyd om die skok vir die kinders te verminder. Dit kan gedoen word! Dr. Florence Bienenfeld, ’n alomgerespekteerde egskeidingsvoorligter en bemiddelaar, verseker geskeide ouers: “Egskeiding hoef nie ’n Griekse tragedie te wees waarin almal doodgaan nie. Almal kan lewe en mettertyd herstel, gesond word en baie goed vaar.”—Helping Your Child Succeed After Divorce.

Maar hoe? Wat kan ouers, naasbestaandes en vriende doen om kinders van geskeide ouers te help?

[Voetnote]

a Trouens, onlangse studies het getoon dat selfs jong volwassenes in hulle vroeë twintigerjare aansienlik ly wanneer hulle ouers skei. Die klaarblyklike ommeswaai van hulle ouers se sedes slaan hulle dronk, berig The New York Times Magazine. Baie verval in hedonisme en promiskuïteit, terwyl ander hulle van alle romantiese verhoudings onttrek, en sommige sweer dat hulle nooit sal trou nie.

b Sien die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel