Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 12/8 bl. 20-23
  • Die Pigmeë—Mense wat diep in die woud woon

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Pigmeë—Mense wat diep in die woud woon
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Navorsing oor die onderwerp
  • Die eerste besoek
  • Hulle daaglikse lewe, die huwelik en gesinslewe
  • Godsdiens
  • Intelligente mense
  • Pigmeë word met Bybelwaarheid bereik
    Ontwaak!—2004
  • Wat ons by die Pigmeë geleer het
    Ontwaak!—2003
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2004
  • Ontberinge tydens die oorlog het my op die lewe voorberei
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 12/8 bl. 20-23

Die Pigmeë—Mense wat diep in die woud woon

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE SENTRAAL-AFRIKAANSE REPUBLIEK

KOM ontmoet die BaBingas, die pigmeë van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, ons tuiste. Jy het waarskynlik al iets omtrent pigmeë gehoor en gelees, maar dalk het jy nog nooit enige van hulle ontmoet nie. Wanneer jy Bangui, die hoofstad, besoek, sal ’n rit van minder as twee uur jou tot reg in hulle gebied neem.

Jehovah se Getuies het ’n belangrike boodskap vir alle nasies, stamme, rasse en etniese groepe. In ons Christelike bediening getuig ons vir alle soorte mense. Dit sluit die pigmeë in.—Openbaring 14:6.

Kom dus gerus saam met ons en kom kyk hoe hulle lewe en hoe hulle reageer op die goeie nuus van God se Koninkryk, wat die aarde in ’n paradys gaan omskep. Jy sal die dag geniet en dit fassinerend vind.

Navorsing oor die onderwerp

Voordat ons vertrek, is dit gepas dat ons ’n bietjie navorsing doen oor die mense wat ons gaan besoek. Daar is boeke beskikbaar wat deur manne geskryf is wat maande saam met die pigmeë gewoon het en hulle kultuur, godsdiens en gewoontes bestudeer het.

Wanneer ons oor hierdie vreedsame en vriendelike mense lees en hulle dan besoek, sal ’n aantal vrae beantwoord word soos: Waar het die pigmeë vandaan gekom? Wat kan ons van hulle leer? Waar woon hulle? Wat maak hulle verskillend van ander Afrikagroepe? Hoe skakel hulle by die res van die bevolking in?

Webster’s Third New International Dictionary sê dat pigmeë “klein mense uit ekwatoriale Afrika [is] wat korter as vyf voet [1,5 m] is . . . en die tale van hulle naaste bure gebruik”. Die pigmeë van Afrika het vermoedelik nie dieselfde herkoms as die Negrito’s (wat “klein Negers” beteken) van die Suidsee-eilande en die suidoostelike deel van Asië nie.

Die woord “pigmee” kom van ’n Griekse woord wat “afstand van die elmboog tot die kneukels” beteken. Pigmeë is bekend as jagters en versamelaars. Na raming is die totale pigmeebevolking in die wêreld bietjie meer as 200 000.

Serge Bahuchet en Guy Philippart de Foy gee ons verdere interessante besonderhede in hulle boek Pygmées—peuple de la forêt (Die pigmeë—mense van die woud). Die pigmeë, sê hulle, woon diep in die woude van die Republiek van die Kongo, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Gaboen, Kameroen en die Sentraal-Afrikaanse Republiek en kan selfs ver oos in Rwanda en Burundi aangetref word.

Niemand weet presies waar die pigmeë vandaan gekom of wanneer hulle verskyn het nie. Hulle gebruik nooit die woord “pigmee” om hulleself te beskryf nie. In die Sentraal-Afrikaanse Republiek word hulle oor die algemeen BaBinga genoem, maar in ander lande staan hulle bekend as BaKola, BaBongo, BaAka, BaMbènzèlè, BaTwa en BaMbuti.

Die eerste besoek

Ons verlaat Bangui vroeg in die oggend, omstreeks seweuur, in ’n Land Cruiser om suid na M’Baiki/Mongoumba te gaan. Die pad is slegs vir die eerste 100 kilometer geteer. Dit is goed om ’n vierwielaangedrewe voertuig te hê, aangesien die pad glipperig is ná laasnag se reën.

Ons ry deur welige, groen plattelandse gebiede met enorme woude en deur klein dorpies waar mense piesangs, meelpiesangs, pynappels, kassawe, mielies, skorsies en grondboontjies langs die pad op klein tafeltjies verkoop. Hongersnood is onbekend hier. Die vrugbare grond en vogtige klimaat bring ’n verskeidenheid voedselsoorte in oorvloed voort. Dan is ons skielik by die eerste “dorpie”, of liewer kamp, van die BaBinga.

Hulle woon in verbasende klein, koepelvormige hutte met een opening wat groot genoeg is om deur te kruip. Vroue bou die hutte deur stokke en blare van die nabygeleë woud te gebruik. Ongeveer 10 tot 15 hutte staan in ’n sirkel. Dit dien slegs as slaapplek of as beskerming teen swaar reën. Hulle daaglikse bedrywighede vind buite plaas.

Ons klim uit die motor om ’n paar vroue te groet wat elk ’n baba op haar heup dra. ’n Paar mans wat ons motor gehoor het, hardloop nader om te sien wie ons is en wat ons wil hê. Hulle word vergesel deur ’n aantal honde, wat elkeen ’n klein klokkie het wat om sy nek vasgemaak is.

Uit ons navorsing onthou ons dat honde die enigste huisdiere is wat die pigmeë aanhou. Hulle vergesel die pigmeë op hulle jagtogte. En van die grond tot in die boomtoppe is daar baie om te jag. Soos die boek Pygmées—peuple de la forêt verduidelik, sluit dit voëls, ape, olifante, buffels, rotte, wildsbokke, wildevarke, eekhorinkies en baie ander in. ’n Getroue hond is ’n moet vir elke jagter.

Wanneer ons met hierdie mense praat, gebruik ons die boek My boek met Bybelverhale en die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe!a Dit verduidelik dat die aarde binnekort ’n paradys met pragtige woude gaan wees, waar daar geen siekte of dood sal wees nie (Openbaring 21:4, 5). Albei publikasies word gedruk in Sangho, die taal wat meer as 90 persent van die bevolking praat, die pigmeë inkluis. Waar hierdie vreedsame mense ook al woon, neem hulle die taal van hulle Afrikabure aan. Dit is noodsaaklik, aangesien hulle met mekaar handel dryf.

Kort voor lank staan ’n groepie mans en vroue om ons en kyk opgewonde na die verskillende prente terwyl hulle na die verduideliking luister. Van vorige besoeke wat oor die jare gedoen is, weet hulle dat ons Jehovah se Getuies is. Hulle neem graag eksemplare van die publikasies. Maar die probleem is dat hulle nie kan lees nie. Oor die jare het die regering en ander instellings probeer om hulle te leer lees en skryf, maar dit was tevergeefs. Skoolopleiding is vir hulle kinders gereël. Die skole het ’n tyd lank gefunksioneer, maar die meeste kinders het vroeër of later die skool verlaat. ’n Onderwyser wat met pigmeë gewerk het, het gesê dat hulle in die klas merkwaardige leervermoë aan die dag lê, maar nadat hulle die skool etlike maande bygewoon het, verdwyn hulle net. Maar die plaaslike owerheid en ander probeer nog steeds om formele onderwys te voorsien.

Jehovah se Getuies is bekend daarvoor dat hulle teruggaan na mense wat belangstelling in God se Woord toon. Maar ons verwag nie om dieselfde BaBingas te ontmoet wanneer ons weer hier besoek aflê nie, aangesien hulle die hele jaar lank voortdurend rondtrek. Hulle verdwyn maande op ’n keer in hulle tuiste diep in die woud. Pogings om hulle permanent te vestig, het baie min sukses gehad. Hulle is werklik die mense van die woud. Hulle swerf rond en jag, en niks kan hulle lewenswyse verander nie.

Hulle daaglikse lewe, die huwelik en gesinslewe

Gewoonlik is die mans die jagters en die vroue die versamelaars, en hulle versamel omtrent alles wat die woud voortbring: sampioene, wortels, bessies, blare, neute, insekte, termiete, wilde heuning en, iets wat nie vergeet moet word nie, hulle geliefde ruspers. Al hierdie artikels is nodig vir kos en om handel mee te dryf. Die pigmeë se swart bure, wat dikwels les grands noirs (die lang swartes) genoem word, is grootliks van hulle afhanklik vir hierdie artikels. In ruil hiervoor voorsien hulle potte, panne, kapmesse, gereedskap soos byle en messe, sout, palmolie, kassawe, meelpiesangs en ongelukkig ook tabak, plaaslik gemaakte alkohol sowel as dagga. Die laaste drie artikels is ’n baie groot probleem vir hierdie nederige mense. Hulle maak dikwels skuld om dit te koop, en hulle lewe word geleidelik verwoes.

Mans is gewoonlik monogaam. Maar hulle skei of los hulle vrou maklik om saam met ’n ander maat te lewe. Die vader of die oudste lid in die kamp word die meeste gerespekteer. Hy gee nie bevele nie, maar sy raad word gewoonlik gevolg. Jy sal sien dat pigmeë lief is vir hulle kinders. Die moeder en die vader dra dikwels hulle babatjie. Hierdie kleintjies is gedurigdeur in kontak met albei ouers waar hulle ook al heen gaan en wat hulle ook al doen, hetsy hulle werk, jag of dans.

Snags slaap die baba tussen die ouers. Bedags hou ouers, broers, susters, ooms en grootouers ’n ogie oor die kleintjies, en daarbenewens geniet hulle die aandag van die hele kamp. Ouers en ander familielede besoek mekaar baie gereeld. Dit alles hou familiebande sterk. In die Westerse samelewing is familiebande dikwels swak of word dit maklik verbreek, maar hier is dinge baie anders.

Hoewel die pigmeë afgeskeie van hulle swart bure woon, het hulle ekonomiese betrekkinge met hulle. Behalwe dat hulle gereelde kontak deur handel het, word hulle dikwels gevra om as arbeiders op die koffie- en kakaoplantasies te werk. Hulle sal dalk ’n paar weke werk, betaal word en dan vir ’n lang tyd diep in die woud verdwyn. Wie weet? Die koffie wat jy vanoggend gedrink het, is moontlik deur Sentraal-Afrikaanse pigmeë hanteer.

Godsdiens

Die BaBingas is godsdienstige mense, maar bygelowigheid en tradisie beheers hulle godsdienslewe. Die rituele wat hulle beoefen, gaan gepaard met musiek, sang (jodel) en dans. Die boek Ethnies—droits de l’homme et peuples autochtones (Etniese groepe—menseregte en die inboorlinge) gee die volgende verduideliking: “Vir hierdie mense wat diep in die woud woon, het God die wêreld, met ander woorde die woud, geskep. Nadat hy die eerste mensepare . . . geskep het, het hy na die hemel teruggegaan en belangstelling in menseaangeleenthede verloor. Die god van die woud, wat nou ’n oppermagtige gees is, tree namens hom op.” Dit is natuurlik heeltemal strydig met hoe die Bybel God en sy voorneme verduidelik.—Genesis hoofstukke 1, 2; Psalm 37:10, 11, 29.

Intelligente mense

Dit is nie ongewoon dat party mense pigmeë bespot of selfs op hulle neersien nie en hulle as minderwaardig en minder intelligent beskou. Maar Patrick Meredith, ’n professor van psigofisika aan die Universiteit van Leeds, Engeland, het gesê: “As jy sien hoe pigmeë in hulle natuurlike omgewing brûe van vesel maak en ’n suksesvolle bestaan voer, sal jy moontlik vra wat jy met intelligensie bedoel.”

Ons weet dat die hele mensdom nakomelinge van die eerste mensepaar, Adam en Eva, is. Handelinge 17:26 sê: “[God] het uit een mens [Adam] elke nasie van die mense gemaak om op die hele oppervlak van die aarde te woon.” En Handelinge 10:34, 35 sê dat “God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik”. Ons wil derhalwe Bybelwaarhede na hierdie mense neem sodat hulle ook die hoop kan hê om in die tyd te lewe wat op hande is wanneer die hele aarde in ’n pragtige paradys met talle groot woude omskep sal word.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. en deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania onderskeidelik.

[Prente op bladsy 23]

1. Ons verkondig die Bybelboodskap aan die pigmeë; 2. pigmeehoutsnyer; 3. tipiese pigmeewoning

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel