Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 11/8 bl. 18-20
  • Wat ons by die Pigmeë geleer het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat ons by die Pigmeë geleer het
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Plante wat genees
  • Hulle kom almal by die soutlek saam
  • Hoe om met nette te jag
  • ’n Rit in ’n boomkano op die Sangharivier
  • Ons indrukke op pad huis toe
  • Die Pigmeë—Mense wat diep in die woud woon
    Ontwaak!—1997
  • Pigmeë word met Bybelwaarheid bereik
    Ontwaak!—2004
  • Skaduwees oor die reënwoud
    Ontwaak!—1997
  • Die verkragting van die reënwoude
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 11/8 bl. 18-20

Wat ons by die Pigmeë geleer het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE SENTRAAL-AFRIKAANSE REPUBLIEK

“Trek julle skoene uit. Ons gaan deur water loop en daarna die olifant se voetpad oorsteek. Doen presies wat ek sê. As ons op ’n gorilla afkom, buk af en moet hom nie in die oë kyk nie. As ons ’n olifant raakloop, staan doodstil.”

TERWYL ons op die restaurant se stoep sit en ontspan, dink ons oor al die dinge wat ons so pas gesien het. Die Sangharivier vloei voor ons; en aan die oorkant kan ons die mooi digte woud sien. Ons is by Bayanga, op die suidelike punt van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, wat tussen Kameroen en die Republiek van die Kongo geleë is.—Sien die kaart op bladsy 19.

Toe ons by die Dzanga-Ndoki- Nasionale Park se verwelkomingsentrum aankom, het ons onmiddellik vergeet hoe vermoeiend die reis hiernatoe was. Hierdie park is 480 kilometer van Bangui, die hoofstad van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, en om daar uit te kom, moes ons amper 11 ure op ’n nou paadjie ry. In party plekke groei bamboesgras reg langs die pad. By Ngoto moes ons ’n pont gebruik om die rivier oor te steek. Hierdie pont is baie ongewoon, aangesien dit nie ’n enjin het nie; dit het ons oor die rivier geneem deur net die krag van die stroom te gebruik. Die pont word in posisie gehou deur ’n katrol wat op ’n groot kabel beweeg, en ’n paar jong manne moet net die pont stuur.

Verder aan, by die Bambiorivier, is daar ’n drywende brug wat baie prakties is, aangesien dit tydens die droë en reënseisoen saam met die rivier kan styg of daal. Die gebied is pragtig, en ons kry die geleentheid om die diere in hulle natuurlike habitat te sien asook om Aka-pigmeë te ontmoet, wat nog steeds ’n tradisionele lewe lei.a

Wil jy saam met ons op hierdie wonderlike besoek kom, al is dit net in jou verbeelding? Ons gids is ’n Pigmee genaamd Benoît. Ons gaan eers na sy dorpie om twee Pigmeë-kruiedokters, Germaine en Valérie, te ontmoet wat ons sal vergesel. Hulle neem ons van die een wonder na die ander terwyl hulle ons verskillende plante in die woud wys wat vir medisinale doeleindes gebruik word.

Plante wat genees

Nadat ons ’n paar minute met ’n bospaadjie gery het, vra ons nuwe metgeselle ons om uit die motor te klim en hulle in die woud in te volg. Hulle maak ’n paadjie met hulle kapmesse terwyl ons ons bes probeer om by te bly. Nou kry ons ons eerste verrassing, die mo nzambu nzambu, soos hierdie waterrankplant genoem word. Ons gidse sny dit vinnig in stukke van 50 sentimeter, en ons drink die water wat daaruit vloei. Dit is suiwer, vars en verfrissend.

’n Entjie verder wys hulle vir ons ’n blaar van die koejawelboom. Die Pigmeë kook hierdie blare om ’n tee te maak wat as ’n hoesmiddel gebruik kan word. ’n Ander boom, die ofuruma, bring wit melksap voort wat ’n uitstekende oogsalf vir die behandeling van bindvliesontsteking is. “Is daar ’n geneesmiddel vir slangbyt?” vra ons. “Natuurlik is daar. Ons stamp bolo-blare fyn [Aka-benaming vir ’n soort liaan, ’n tropiese rankplant] en sit dit op die wond”, antwoord ons gidse. Met elke tree ontdek ons ander plante wat ons gidse ons verseker genesende eienskappe het. Daar is geneesmiddels om wonde gesond te maak sowel as vir ingewandsparasiete, oorontsteking, tandbederf en selfs onvrugbaarheid.

Hierdie volke, wat soms as primitief beskou word, het baie om ons te leer. Terwyl ons verder in die woud ingaan, doen ons twee kruiekenners “inkopies”—paddastoele, wilde blaarslaai en wortels wat in plaas van knoffel gebruik word. Party blare is sekerlik baie lekker, want hulle word daar en dan geëet! Hoe wonderlik sal dit tog wees om in God se beloofde nuwe wêreld aan te hou leer!—Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4.

Hulle kom almal by die soutlek saam

In die middag gaan ons om die bosolifante by die soutlek te sien. Terwyl ons soontoe stap, gee ons gids ons die opdragte wat aan die begin van hierdie artikel gemeld is. Maar wat is die soutlek? Dit is ’n groot opening waar die grond vol mineraalsoute is wat vir sekere diere baie lekker is. Daarom is dit ’n daaglikse vergaderplek vir bosolifante, buffels, wildsbokke, reusagtige bosvarke en ander wilde diere.

Omdat die woud baie dig is, wat dit baie moeilik maak om die diere daar te sien, het die park ’n mirador, of uitkykplatform, op die rand van die soutlek gebou. Maar om by die platform te kom, moet ons ’n moeras oorsteek waar die water tot by die middel van ons bobene kom. Ons gids luister aandagtig na die geluide om ons en maak ook gereeld seker dat ons na aan hom bly. Waarom? Want die olifante gebruik partykeer dieselfde paadjie!

Wanneer ons by die mirador aankom, kyk ons op ons tyd na die diere—meer as 80 olifante, ’n klompie buffels en ’n paar wildsbokke. ’n Wetenskaplike wat die olifante al 11 jaar lank bestudeer, is ook hier. Sy vertel ons: “Elkeen het sy eie persoonlikheid. Ek het reeds die besonderhede van 3 000 opgeteken en ek ken 700 van hulle by name.” Ongelukkig is die ivoor van die bosolifant uiters gesog vir die vervaardiging van persoonlike seëls wat in sommige Oosterse lande gebruik word om die skrywer van ’n dokument of die skilder van ’n skildery te identifiseer.b

Hoe om met nette te jag

Vroeg die volgende oggend volg ons ’n groep van tien jagters om met ons eie oë te sien hoe om met ’n net te jag. Mans en vroue kom met hulle nette wat van liane gemaak is. Elke net is ongeveer 20 meter by 1,2 meter groot. Terwyl ons dieper en dieper in die woud ingaan, sprei die groep uit en trek hulle die nette styf, wat hulle aanmekaar geheg het, sodat hulle ’n afstand van ongeveer 200 meter dek. Daarna vorm ons jagters ’n kring om hierdie versperring en loop hulle dan terug na die net terwyl hulle takke skud en hardop uitroep om die diere, indien daar enige is, in die nette te dryf. Hierdie keer is daar geen diere nie. Die jagters maak hulle nette los, gaan dieper in die woud in en begin weer van voor af. Een, twee, tien keer.

Teen die einde van die oggend is ons gedaan. Die Pigmeë het drie blouduikers gesien, maar hulle het dit reggekry om die nette te vermy en te ontsnap. Ons wil nie eintlik sien hoe ’n dier in die nette gevang word nie. Ons wil eerder van die vindingryke maniere leer waarop hierdie mense oorleef, al het hulle blykbaar so min om mee te werk en geen gereedskap van die nywerheidswêreld nie. Ons is dus nie in die minste teleurgestel nie, aangesien ons so pas iets buitengewoons gesien het.

’n Rit in ’n boomkano op die Sangharivier

Wie sou nie daarvan hou om geruisloos deur die water te vaar nie? In ’n boomkano is dit selfs interessanter omdat jy feitlik op dieselfde vlak as die water is. Tydens ons rit in die middag sien ons grysreiers en tallose ander veelkleurige voëls, die een mooier as die ander. Party van die voëls vlieg van tak tot tak op die rivieroewer, wat die indruk skep dat hulle ons volg terwyl ons deur die water vaar.

Op party plekke kyk ons na die sjimpansees wat van die een rankplant na die ander spring net vir die pret—of miskien wil hulle ons vermaak! Alain Patrick, die roeier, werk hard om ons ’n paar honderd meter verder te neem, want hy het gister seekoeie daar gesien. Sal ons hulle vandag sien? Ongelukkig nie. Hulle het wegbeweeg. Daarenteen gee hierdie ekstra afstand ons die geleentheid om verskeie dorpies langs die rivier te sien en die klomp kinders te bewonder wat hulle boomkano’s met verbasende vaardigheid hanteer. Ons rit in ’n boomkano op die Sangharivier was waarlik onvergeetlik.

Ons indrukke op pad huis toe

Gedurende ons rit terug na Bangui gaan honderde tonele en herinneringe deur ons gedagtes. Baie dinge het ons diep geraak, terwyl ander ons verstom het. Iets wat ons altyd sal bybly, is die harmonie tussen die Pigmeë en die woud en die Pigmeë se vermoë om alles te benut wat in hulle natuurlike habitat gevind word.

Daarbenewens het ons die voorreg gehad om ’n unieke deel van die wêreld te besoek, waar bosolifante, gorillas, sjimpansees, seekoeie, wildsbokke, luiperds en veelkleurige voëls en vlinders gevind kan word, selfs al het ons nie genoeg tyd gehad om alles te sien nie. Daar is vir ons gesê dat ongeveer 7 000 plantsoorte en 55 soogdierspesies in die digte woude van die Dzanga-Sangha-reservaat en die Dzanga-Ndoki- Nasionale Park voorkom.

Hierdie ongeëwenaarde biodiversiteit herinner ons aan ’n Bybelvers: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het” (Psalm 104:24). Hierdie onvergeetlike, leersame ondervinding het ons meer vasbeslote gemaak om die volgende woorde uit dieselfde psalm toe te pas: “Ek sal my hele lewe lank tot Jehovah sing; ek sal my God met melodieë besing solank ek daar is. Laat my gepeins oor hom aangenaam wees. Ek sal my in Jehovah verbly.”—Psalm 104:33, 34.

[Voetnote]

a Die Pigmeë van ekwatoriale Afrika is bekend daarvoor dat hulle kort van gestalte is, met ’n gemiddelde lengte van minder as 1,27 meter.

b Hierdie seëls, wat tjaps genoem word, word ook van ander materiaal gemaak. Sien die Ontwaak! van 22 Mei 1994, bladsye 22-4, vir meer inligting.

[Kaarte op bladsy 19]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

KAMEROEN

KONGO, REP.

SENTRAAL-AFRIKAANSE REPUBLIEK

Bangui

Bayanga

Dzanga-Ndoki- Nasionale Park

[Foto-erkenning op bladsy 18]

© Jerry Callow/Panos Pictures

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel