“Die klant is altyd reg”
SOOS VERTEL DEUR WEI TUNG CHIN
My man het altyd vir my gesê om niks te doen te hê met “daardie godsdienstige mense wat deurklokkies lui” nie. Wanneer Jehovah se Getuies dus na ons deur gekom het, het ek gesê dat ons nie belangstel nie. Maar hy het ook vir my gesê: “Die klant is altyd reg”, en daarom het ek verplig gevoel om te luister toe ’n Getuie na ons restaurant, die Red Dragon, gekom het en my van haar godsdiens wou vertel.
MY MAN, Tong Y., was die eienaar van die Red Dragon, ’n Chinese restaurant in St. Clair-laan, in Cleveland, Ohio. Daar het hy my, ná ons troue, die leuse geleer: “Die klant is altyd reg.”
T.Y. het Amerika toe gekom om aan die Universiteit van New York te studeer. Nadat hy in 1927 gegradueer het, het hy by ’n restaurant in die Times Square-deel van New York gaan werk. Hy het mense in kafees sien eet waar etes bedien is, maar waar kookfasiliteite beperk was. Hy het dus die gedagte gekry om warm chow mein aan hulle te verkoop.
Die klein restaurant wat hy in Greenwich Village geopen het, het kort voor lank gefloreer. In 1932 het hy sy onderneming na Cleveland, Ohio, verskuif en die Red Dragon geopen, wat sitplek vir 200 mense gehad het. In September 1932 het ’n koerant in Cleveland berig: “Tong Y. Chin, wat hom toegespits het op die aptyte van miljoene regdeur die ooste, het nou na die gebied van die Groot Mere gekom en in Cleveland sy eerste Midde-Westelike tak van die ‘vars chow mein’-bedryf geopen wat hy in vyf jaar tot ’n onderneming ontwikkel het met ’n omset van ’n miljoen dollar per jaar.”
Voordat ek verduidelik hoe ek en T.Y. ontmoet het, laat ek eers vertel van my kinderjare in China, wat my lewe in groot mate gevorm het.
’n Armoedige agtergrond
My vroeë herinneringe is van hoe ek my ma dopgehou het wanneer sy ons klein dorpie op die vasteland van China verlaat het om na voedsel te gaan soek. My ouers was so arm dat hulle party van hulle kinders moes laat aanneem. Eendag, toe ek maar twee of drie jaar oud was, het my pa met ’n sekere kyk in sy oë by die huis gekom. Ek het gedink: ‘Iets slegs is vir my aan die kom.’
Kort daarna het my ma my by die hand geneem, en ons het met ’n smal, modderige paadjie langs tussen ryslande geloop, versigtig om nie in die water aan weerskante te val nie. Ons het by ’n huis aangegaan waar my ma met ’n glimlaggende meisie gepraat het, en toe by ’n ander huis waar die jong meisie stroef en ernstig gelyk het. Ek kon nie onthou dat ek hierdie meisies al voorheen gesien het nie. Hulle was my ouer susters. Toe hulle my groet, het ek die gevoel gekry dat ons mekaar nooit weer sou sien nie.
Terwyl ons geloop het, het my ma die hele tyd met my gepraat en my dinge omtrent haarself, my pa en my broers en susters vertel. Ek kan nog altyd my ma se vriendelike, hartseer oë sien. Toe ons ons bestemming bereik, kon ek aanvoel dat iets verkeerd is. Die huis was somber en neerdrukkend. Dit was my nuwe tuiste. Ek wou nie gaan slaap nie, maar my ma en my aanneemouers het gesê ek moet. Dit was nie lank voordat ek aan die slaap geraak het nie, en toe ek wakker word, was my ma weg. Ek het haar nooit weer gesien nie.
Hartseer kinderjare
Hoewel daar nou genoeg kos was om te eet, was daar min liefde, en ek was baie hartseer. Ek het elke oggend gehuil wanneer ek wakker geword het. Ek het verlang na my ma en my ouer broer, wat by haar gebly het. Ek het dit dikwels oorweeg om selfmoord te pleeg. Toe ek oud genoeg was, wou ek baie graag skool toe gaan, maar my aanneemouers het my by die huis gehou om te werk.
Toe ek nege was, het ons ver weg na Sjanghai verhuis. “Nou is jy oud genoeg om inkopies te doen en te kook”, is daar vir my gesê. Hierdie werk is dus by my daaglikse takies gevoeg. My aanneemouers het my elke dag genoeg geld gegee om kos vir drie maaltye te koop. Op pad na die mark het ek bedelaars teëgekom en jammer vir hulle gevoel omdat hulle honger was. Ek het hulle dan een of twee muntstukke gegee en nog genoeg gehad om die nodige kos te koop.
Ek wou so graag skool toe gaan en leer! “Ons sal jou oor ses maande inskryf”, het my aanneemouers beloof. Toe die tyd verbygegaan het, is daar vir my gesê: “Ses maande van nou af.” Mettertyd het ek besef dat ek nooit skool toe gestuur sou word nie. My hart was gebroke. Ek het almal in die huis begin haat. Ek het my dikwels in die badkamer toegesluit en gebid. Al het ons aan baie gode geglo, het ek op die een of ander manier geweet dat daar ’n God is wat die vernaamste is en magtiger as al die ander is. Tot hom het ek dus gebid: “Waarom is daar soveel pyn en hartseer?” Dit is hoe ek baie jare gebid het.
My huwelik verander my lewe
Destyds was gereëlde huwelike iets algemeens in China. Een van T.Y. se universiteitsvriende wat na China teruggekeer het, het aan hom geskryf: “Jy is oor die 30 en nog steeds ongetroud.” Toe het hy van my gepraat en bygevoeg: “Sy is 18 jaar oud; sy het ’n lieflike gesig, en haar karakter is geensins minder lieflik nie. . . . Ek sou dit ernstig oorweeg, Tong Y. Chin.” Sy vriend het ’n foto ingesluit.
T.Y. het aan my aanneemouers geskryf: “Ek het die foto van julle eerbare dogter gesien. Ek sal met haar trou as ons vind dat liefde in ons harte bloei nadat ons ontmoet en tyd saam deurgebring het.” T.Y. het Sjanghai toe gekom, en ons het mekaar ontmoet. Hoewel ek gedink het dat hy te volwasse vir my was, het ek besluit dat die huwelik my ten minste in staat sou stel om uit die huis te kom. Ons het dus in 1935 getrou en onmiddellik na Amerika gevaar. Dit is hoe ek in Cleveland beland het.
Ernstige probleme ondanks rykdom
Eerstens was daar kommunikasieprobleme met my man. Hy het een Chinese dialek, Kantonnees, gepraat en ek ’n ander, Sjanghais. Dit was asof ons twee verskillende tale gepraat het. Ek moes ook Engels en nuwe gebruike leer. En my nuwe werk? Ek moes ’n sjarmante, innemende gasvrou by die restaurant wees wat altyd die klante tevrede probeer stel. Ja, ek moes onthou: “Die klant is altyd reg.”
Ek het ruim 16 lang, vermoeiende ure per dag saam met my man gewerk, en vir ’n groot deel van die tyd was ek swanger. Ons eerste dogter, Gloria, is in 1936 gebore. Daarna het ek ses kinders in nege jaar gehad—drie seuns en nog drie meisies, van wie een dood is toe sy maar ’n jaar oud was.
Intussen het T.Y. baie restaurante en nagklubs begin bestuur. Party verhoogkunstenaars wat hulle loopbane begin het deur hierin op te tree, soos Keye Luke, Jack Soo en Kaye Ballard, het groot bekendheid verwerf. En ons Chinese voedselprodukte is ook oral verkoop en het baie bekend geword.
Teen die middeldertigerjare het T.Y. as die ‘chow mein’-koning bekend gestaan. Hy was ook die president van die Chinese Handelaarsvereniging en ’n lektor oor China. Ek het by talle liefdadigheids-, maatskaplike, burgerlike en gemeenskapsaktiwiteite betrokke geraak. Dit het ’n deel van my lewe geword om in die openbaar te verskyn en aan optogte deel te neem. Ons foto’s en name het dikwels in Cleveland se koerante verskyn; dit het gelyk of daar verslag gelewer word oor alles wat ons doen of sê—van sakeondernemings tot vakansies en selfs my skoengrootte!
In 1941, toe die Japannese lugmag Pearl Harbor gebombardeer het, het die Verenigde State teen Japan oorlog verklaar. Omdat ons Oosters was, het ons vooroordeel ondervind. Ons het selfs voor die oorlog geskrewe doodsdreigemente ontvang toe ons ons groot huis in ’n mooi woonbuurt gebou het. Maar dit is voltooi, en ons het ons kinders daarin grootgemaak.
Ek het dus ’n lieflike, groot huis, ’n gerespekteerde man en gesin, ja, selfs mooi klere en juwele gehad. Maar ek was nog steeds nie gelukkig nie. Waarom nie? Om maar een ding te noem, ons het nie veel van ’n gesinslewe gehad nie. Hoewel ek elke oggend opgestaan het om die kinders af te sien wanneer hulle skool toe gegaan het, het ons gewoonlik gewerk wanneer hulle gaan slaap het. ’n Huishoudster het na hulle daaglikse behoeftes omgesien.
Ons was Boeddhiste, maar die gode van ons godsdiens het my geen vertroosting gebied nie. T.Y. en ons oudste seun het altyd deur die huis gegaan en kerse opgesteek, asook kos voor afgodsbeelde neergesit vir die gode om te eet. Maar hulle het nooit die kos geëet nie, en die kinders het dit geniet om dit dan later self te eet.
Omdat ek afgemat was en geen uitkoms gesien het nie, het ek uiteindelik geredeneer dat my gesin beter af sou wees sonder my. Ek het ’n algehele ineenstorting gehad en my eie lewe probeer neem. Ek is gelukkig inderhaas hospitaal toe geneem en het herstel.
My gebede word verhoor
’n Ruk later, in 1950, het ’n dame met pragtige wit hare saam met haar man in die restaurant ingekom. Terwyl ek hulle verwelkom en na hulle gerief omgesien het, het sy met my oor God gepraat. Ek het nie belanggestel nie. Jehovah se Getuies het al ons huis besoek en met my probeer praat, maar ek het hulle altyd kortgeknip en weggestuur. By die restaurant was die situasie egter anders—“Die klant is altyd reg!”
Die dame, Helen Winters, het gevra of ek die Bybel glo. “Watter Bybel?” het ek geantwoord. “Daar is so baie!” Elke keer wanneer sy teruggekom het, het ek gedink: ‘Hier kom daardie laspos al weer!’ Maar sy was vriendelik en het volhard. En wat sy oor ’n paradysaarde gesê het waar daar nie meer pyn of lyding sou wees nie, het werklik goed geklink.—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.
Tydens een van haar besoeke het sy vir my ’n uitnodiging na die vergaderinge by die Koninkryksaal gegee en vir my die kort boodskap op die keersy daarvan gewys wat die seëninge van God se Koninkryk beskryf het. Ek onthou dat ek later daarna gekyk en gedink het: ‘As dit maar net waar was!’ Sy het aangebied om die Bybel tuis met my te studeer, en ek het uiteindelik ingestem.
Ons het elke week rondom ons tafel vir die studie bymekaargekom—ek en Helen saam met my ses kinders, wat toe tussen 5 en 14 jaar oud was. Ek het dikwels jammer gevoel vir haar omdat dit soms gelyk het of die kinders belangstelling verloor. In 1951 het ons vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Ek het gou besef dat die dinge wat ek besig was om te leer die antwoord op my gebede was. Ek het dus besluit dat ek werklik moes leer om Engels goed te lees, wat vir my ’n groot uitdaging was.
Ek smaak ware geluk
Ná ’n kort rukkie het ek vinnig in kennis begin toeneem en my lewe aan Jehovah God toegewy. Toe, op 13 Oktober 1951, tydens ’n groot streekbyeenkoms in Washington, DC, is ek en my twee oudste kinders, Gloria en Tom, gedoop. Vir die eerste keer het my lewe sin gehad. Dit was die begin van my gelukkigste jare.
My hele lewe lank het ek ander mense gedien, maar nou was ek vasbeslote om allereers ons Skepper te dien! Ek het die Koninkryksboodskap aan almal begin verkondig wat geluister het. Ek het dit ook by my kinders probeer inskerp hoe noodsaaklik dit is om Christelike vergaderinge by te woon en om met ander oor die wonderlike dinge in God se Woord te praat.
In 1953 is die Gemeentelike Boekstudie vir die eerste keer in ons huis gehou. Byna 45 jaar later word die studie nog steeds hier gehou. Deur die jare heen was dit ’n geweldige geestelike hulp vir ons gesin.
Dit was ’n ware uitdaging om geestelik bedrywig te bly en terselfdertyd ons restaurantbedryf te bestuur. Ek kon egter die Bybel met baie studeer. Sommige van hierdie mense het die Bybelwaarheid aangeneem en later pioniers geword, soos voltydse bedienaars genoem word. Gedurende die vyftigerjare het ons vier jongste kinders hulle lewe aan Jehovah toegewy en hulle laat doop. T.Y. het nie in die Bybel belanggestel nie, maar hy het ons na die vergaderinge geneem en ons later weer kom haal. Ons het besluit om nie vir hom te getuig nie, maar om op pad huis toe net onder mekaar te praat oor een of twee punte wat ons tydens die vergadering geniet het.
T.Y. het destyds gereeld op sakereise gegaan na stede regoor die Verenigde State. Ek het die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, gebel en ons situasie verduidelik. Grant Suiter, wat toe die Genootskap se sekretaris-penningmeester was, het ons genooi om die fasiliteite te kom besigtig wanneer ons in New York is. T.Y. was baie beïndruk, veral deur hoe skoon die kombuis was, wat destyds ingerig was om sowat 500 te voed.
Tydens ons besoek het ons Russell Kurzen ontmoet, wat later vir T.Y. ’n Bybel gepos het, wat hy elke aand gelees het totdat hy klaar was daarmee. Later, in 1958, is my man by die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in New York gedoop! Tot ons verbasing het ons oudste seun, wat teen daardie tyd as ’n lid van die hoofkwartiergesin gedien het, ’n kort deel op die program gehad.
Getrou tot sy dood
Ek en T.Y. het dikwels saam aan die deur-tot-deur-bediening deelgeneem. Toe sy oë begin ingee, het ons gereeld in straatgetuieniswerk uitgegaan. In The Cleveland Press was daar die opskrif “Bekering by die Red Dragon” saam met ’n foto van waar ons Die Wagtoring en Ontwaak! vir verbygangers aanbied. Die berig het vertel hoe ons Getuies geword het. Terloops, die Red Dragon het ’n nuwe naam gekry, naamlik Chin se Restaurant.
Deur die jare heen het ek en my man baie Christenbroers en -susters van regoor die wêreld by ons restaurant onthaal. Ons het die raad van broer Fred Franz, wat as president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap gedien het, alte goed onthou. Toe hy ons besoek het, het hy ons aangespoor: “Wees getrou, en bly altyddeur na aan Jehovah se organisasie.”
T.Y. het in die vroeë sewentigerjare ’n hele paar beroerteaanvalle gekry en is op 20 Augustus 1975 oorlede. ’n Plaaslike koerant het ’n lang doodsberig gepubliseer saam met ’n foto van hom waar hy Die Wagtoring in die bediening aanbied. Ons laaste jare saam was ons beste jare. Nadat Chin se Restaurant meer as 60 jaar sake gedoen het, het dit in April 1995 vir die laaste keer toegemaak. Vir party het dit na die einde van ’n era gelyk.
Die handhawing van geestelike doelwitte
Daar was ’n tyd toe dit ons wens was dat ons drie seuns die gesin se sakeonderneming moes oorneem. Maar daardie wens het verander; ons wou hê dat hulle Jesus se voetstappe moes volg en voltydse bedienaars word. Ons het vir elke kind gevra of hy of sy graag in Hongkong as ’n pionier wou dien en ander Chinese wou help om te leer wat ons geleer het. Ons het hulle finansiële ondersteuning aangebied sodat hulle dit kon doen. Hoewel nie een van hulle geleer het om Chinees vlot te praat nie, het Winifred, Victoria en Richard besluit om na Hongkong te verhuis.
Ons dogter Winifred dien al meer as 34 jaar as ’n pionier daar! Victoria het met Marcus Gum getrou, en hulle het uiteindelik na die Verenigde State teruggekeer. Hulle het drie kinders grootgemaak—Stephanie en Seraiah, wat in die voltydse bediening in Cleveland is, en Symeon, wat saam met sy vrou Morfydd by Watchtower Farms, Wallkill, New York, dien. Victoria en Marcus woon nou hier naby, waar hulle help om my te versorg. Hy is die presiderende opsiener van die Coventry-gemeente in Cleveland.
Ons oudste dogter, Gloria, is sedert 1955, toe sy polio gehad het, aan ’n rolstoel gekluister. Sy en haar man, Ben, woon in Escondido, Kalifornië, waar sy steeds gereeld aan die predikingswerk deelneem. Tom is al meer as 22 jaar ’n voltydse bedienaar. Hy en sy vrou, Esther, werk tans by die Wagtoring-onderrigsentrum, Patterson, New York. Richard en sy vrou, Amy, het van Hongkong af teruggekeer om T.Y. te help versorg voor sy dood. Nou dien hulle ook by Patterson. Ons jongste kind, Walden, is al meer as 30 jaar in die voltydse bediening. Hy en sy vrou, Mary Lou, bedien al die afgelope 22 jaar gemeentes in die Verenigde State in die kring- en streekwerk.
Dit is nie dat ons kinders ons nooit enige probleme gegee het nie. As ’n tiener het een van hulle van die huis af weggeloop, en ons het drie maande nie van hom gehoor nie. Een van ons ander kinders het ’n tyd lank meer in sport as in geestelike dinge belanggestel en het ons weeklikse gesinsbybelstudie oorgeslaan om aan wedstryde deel te neem. Hy is selfs atletiekbeurse aangebied. Toe hy besluit het om eerder die voltydse bediening te betree as om een van hierdie universiteitsbeurse te aanvaar, het dit vir my gevoel asof ’n geweldige las van my skouers gelig is!
Dankbaar dat ek geluister het
Selfs al is my kinders letterlik regoor die aarde versprei, is die wete dat hulle Jehovah getrou dien vir my ’n riem onder die hart. Ek is nou 81, en gewrigsontsteking en ander kwale het my pas vertraag, maar my ywer vir Jehovah het nie verslap nie. Ek probeer mooi na myself kyk, sodat geeneen van my kinders miskien die voltydse bediening hoef te verlaat om my te versorg nie.
Ek sien gretig uit na die toekoms wanneer God se voornemens ten volle verwesenlik sal wees en ek weer my afgestorwe dierbares sal sien, onder meer my man, my biologiese ouers en Helen Winters, wat met ons gestudeer het (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Hoe bly is ek tog dat ek meer as 46 jaar gelede na daardie lieflike dame met die wit hare geluister het! Waarlik, daardie klant was reg!
[Prent op bladsy 21]
Toe ons getrou het
[Prent op bladsy 23]
Ons gesin in 1961. Van links na regs: Victoria, Wei, Richard, Walden, Tom, T.Y., Winifred en Gloria voor
[Prent op bladsy 24]
Wei Chin vandag