Van ons lesers
Aangenome kind se soektog Ek wil julle graag bedank vir die ondervinding “’n Wonderlike verrassing” (22 Februarie 1997). Dit was werklik hartroerend om te lees hoe hierdie seun sy regte moeder gevind het en uitgevind het dat sy ook sy geestelike suster is!
M. G. D., Italië
Ek het die lewensverhaal van Dana Folz met trane in my oë gelees. Ek het ’n aangenome broer wat sy biologiese moeder ontmoet het toe hy al volwasse was. Dit was nie ’n gelukkige hereniging nie. Selfs vandag nog sukkel hy om negatiewe gevoelens teenoor ons gesin die hoof te bied. Die artikel het my help besef hoe belangrik dit is dat ons geduldig en liefdevol teenoor hom moet wees.
M. D. L., Argentinië
Ek het julle tydskrif in die ruskamer van ’n plaaslike sakeonderneming gekry. Dit het een van die hartroerendste verhale bevat wat ek al ooit gelees het! Ek is al baie gevra: “Sê nou ’n vrou het swanger geraak as gevolg van verkragting? Is julle nie ten gunste van aborsie onder hierdie omstandighede nie?” Daar kon beslis nie ’n treffender pleidooi vir die lewe van die ongeborene gelewer word as die aangrypende, werklike drama van Dana Folz nie.
M. P., Verenigde State
Georganiseerde misdaad Ek is ’n sekuriteitsraadgewer en ’n lid van ’n komitee wat goeie verhoudinge tussen die polisie en die gemeenskap bevorder. Ek het gedink dat julle wenke oor hoe om jou gesin teen misdaad te beskerm baie prakties en nuttig is (“Hoe georganiseerde misdaad jou raak” in die nommer van 8 Maart 1997). Ek het die tydskrif alreeds na ander komiteelede omgestuur. Dit is verkwikkend om te weet dat daar eendag ’n wêreld sonder misdaad sal wees.
C. E. J. A., Nigerië
Die artikels was veral nuttig omdat ek die Bybel met ’n man studeer wat al die afgelope 11 jaar by georganiseerde misdaad betrokke is. Die probleme wat daaraan verbonde is om alle betrekkinge met georganiseerde misdaad te verbreek, is akkuraat verduidelik. Met Jehovah se hulp kan hy ook wegbreek as hy besluit om dit te doen.
A. M., Verenigde State
Blomme Ek is tien jaar oud, en ek wil julle bedank vir die artikel “Blomme toon dat iemand omgee” (8 Maart 1997). Dit het my geleer hoe om blomme te versorg sodat hulle langer vars kan bly.
L. C., Italië
Omdat ek baie van blomme hou, wil ek nou al jare lank weet hoe om dit te bewaar. Maar dit het altyd te gou verlep. Die wenke in die Ontwaak! het my werklik gehelp. Ek is baie dankbaar vir die werk wat julle doen.
J. P., Mexiko
Geboorte van ’n ster Die artikel “Stergeboorte in ’n ‘arendsnes’” (8 Maart 1997) het my vir ’n oomblik ernstig laat nadink oor Jehovah God se pragtige, ongerepte skepping. Ek is diep geraak.
J. A., Australië
Aanneming Ek kan my waarlik vereenselwig met die artikel “’n Innige versoek” (8 Maart 1997). Op 19 -jarige ouderdom was ek ’n ongehude moeder. My ma was baie kwaad en verbitterd en het my laat verstaan dat die baba nie welkom was nie. Ek het besluit dat dit in my baba se belang sal wees dat ander vir hom sorg. Nadat ek ’n Christen geword het, het ek 15 jaar lank gebid dat ek hom sou ontmoet. My gebed is uiteindelik ’n tyd gelede verhoor, en ek kon hom ontmoet en die goeie nuus aan hom verkondig. Hy het groot begrip getoon vir die omstandighede wat my genoodsaak het om hom te laat aanneem. My raad aan vroue in hierdie situasie is om aan te hou om tot Jehovah te bid. Miskien sal dit so uitwerk dat jy met jou kind herenig kan word. Indien nie, kan God jou gemoedsrus gee as jy ten volle op hom vertrou.
G. S., Verenigde State