’n Oormaat inligting
DIE 20ste eeu het ’n oormaat inligting gesien soos nog nooit tevore nie. Hetsy dit deur leesstof, radio- of televisiedekking, die Internet of ’n ander medium is, die wêreld is oorlaai met inligting. David Shenk skryf in sy boek Data Smog—Surviving the Information Glut: “Die oormaat inligting het ’n wesenlike bedreiging geword. . . . Ons het nou te kampe met die moontlikheid van inligtingsvetsug.”
Beskou ’n welbekende koerant as net een voorbeeld. Daar word beweer dat ’n gewone weekdaagse uitgawe van The New York Times meer inligting bevat as waarmee die gemiddelde persoon in 17de-eeuse Engeland gedurende sy hele leeftyd te doen sou kry. Maar buiten die dagblad, dra allerhande tydskrifte en boeke oor ’n mag der menigte onderwerpe by tot die stortvloed inligting wat beskikbaar gestel word. Elke jaar word tienduisende boeke uitgegee. En aangesien wetenskaplike inligting elke ses jaar verdubbel, is dit geen wonder dat daar wêreldwyd meer as 100 000 vaktydskrifte alleen is nie. En die Internet stel ’n ontsaglike versameling inligting aan rekenaargebruikers beskikbaar.
Wat van tydskrifte? Sakeblaaie, vrouetydskrifte, tienertydskrifte, sport- en vermaaklikheidstydskrifte—trouens, tydskrifte oor feitlik elke onderwerp en saak waarin mense belangstel—het die wêreld oorstroom, en almal is ontwerp om ons aandag te trek. Wat van die rol van die adverteerder—“iemand wat onbenullighede uitbasuin”, soos hy al tereg beskryf is? In sy boek Information Anxiety sê die skrywer Richard S. Wurman: “Reklameagentskappe het oorlog verklaar teen ons sintuie met ’n stortvloed van advertensies wat vereis dat ons daarna kyk, luister, daaraan ruik en voel.” Hulle dring daarop aan dat jy die nuutste produk, die jongste opgradering, móét hê sodat jy by die bure kan byhou.
Die Australiese sielkundige en maatskaplike navorser dr. Hugh MacKay het gesê dat ‘die wêreld met inligting oorlaai word en dat mense genooi word om in die vinnige baan van die inligtingsnelweg te kom’. Volgens dr. MacKay is die probleem dat die skielike toename in nuus- en aktuele programme oor die radio en televisie, tesame met die skielike toename wat daar tans in rekenaarinligtingsnetwerke is, ’n wêreld geskep het waarin baie mense op media-inligting reageer wat dikwels eintlik net ’n gedeeltelike voorstelling van die feite en gebeure is, nie die volle verhaal nie.
Wat is inligting?
Die meeste lesers sal die tyd, nie so lank gelede nie, nog goed onthou toe inligting bloot ’n lys feite of data was wat ons besonderhede gegee het soos wie, waar, wat, wanneer of hoe. Daar was geen spesiale taal of terminologie vir inligting nie. Al wat ons moes doen, was om daarna te vra of dit self na te slaan.
Maar toe kom die negentigerjare, en die wêreld kry soveel nuwe woorde wat met inligting verband hou dat dít alleen verwarring kan veroorsaak. Hoewel party van hierdie woorde of uitdrukkings betreklik eenvoudig en verstaanbaar is, soos “inligtingsmanie”, “tegnofilie” en “inligtingseeu”, kan ander groot probleme veroorsaak. Vandag word die wêreld geteister deur inligtingsmanie—die oortuiging dat die persoon met die meeste inligting ’n voordeel het bo ander wat dit nie so maklik kan bekom nie en dat inligting nie meer ’n middel tot ’n doel is nie, maar ’n doel op sigself.
Hierdie manie word gevoed deur ’n stortvloed van telekommunikasiestelsels, soos die faks, die sellulêre telefoon en die persoonlike rekenaar, wat party as die simbool en gelukbringer van die inligtingseeu beskou. Die gerief, spoed en krag van rekenaars het dit beslis makliker as ooit tevore gemaak om inligting te bekom—in so ’n mate dat Nicholas Negroponte, van Massachusetts se Instituut vir Tegnologie, sê: “Rekenaargebruik gaan nie meer oor rekenaars nie. Dit gaan oor ’n lewenswyse.” Gevolglik word daar oordrewe waarde geheg aan inligting en die tegnologie waardeur dit beskikbaar gestel word, en in sommige gevalle word dit as ’n kultus vereer, met ’n groot aanhang in alle wêrelddele. Televisienuus- en aktuele programme word so te sê vir evangelie aangeneem, terwyl hope onbenullighede in TV-geselsprogramme aangebied word en sonder huiwering aanvaar word deur ’n publiek wat dikwels onkrities en goedgelowig is.
Omdat die inligtingseeu ons manier van lewe en werk verander het, ly baie mense vandag aan die een of ander vorm van “inligtingsangs”. Presies wat is inligtingsangs? Hoe weet jy of jy daardeur geraak word? Kan jy enigiets daaromtrent doen?
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Aardbol op bladsye 3, 5 en 10: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.