Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 1/8 bl. 5-9
  • Wat veroorsaak inligtingsangs?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat veroorsaak inligtingsangs?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe rekenaarmisdaad jou kan raak
  • Die noodsaaklikheid daarvan om goed ingelig te wees
  • Is meer altyd beter?
  • Wat van dataoordrag?
  • Het jy al gehoor van tegnofobie?
  • Word produktiwiteit werklik verbeter?
  • ’n Oormaat inligting
    Ontwaak!—1998
  • Hoe jy die uitdagings van die inligtingseeu die hoof kan bied
    Ontwaak!—1998
  • Behou ’n gebalanseerde beskouing van rekenaartegnologie
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • Kuberaanval!
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 1/8 bl. 5-9

Wat veroorsaak inligtingsangs?

“INLIGTINGSANGS word teweeggebring deur die immer groeiende kloof tussen wat ons verstaan en wat ons dink ons behoort te verstaan. Dit is die leemte tussen data en kennis, en dit gebeur wanneer inligting nie vir ons sê wat ons wil of moet weet nie.” Dit is wat Richard S. Wurman in sy boek Information Anxiety geskryf het. “Mense was lank onbewus van hoeveel hulle nie weet nie—hulle het nie geweet wat hulle nie weet nie. Maar nou weet mense wat hulle nie weet nie, en dít maak hulle angstig.” Die gevolg is dat die meeste van ons moontlik dink dat ons meer behoort te weet as wat ons wel weet. Uit die stortvloed inligting waardeur ons oorval word, neem ons klein hoeveelhede data in. Maar dikwels weet ons nie wat om daarmee te doen nie. Terselfdertyd dink ons dalk dat al die ander baie meer as ons weet en verstaan. Dit is wanneer ons angstig raak!

David Shenk sê dat oortollige inligting “databesoedeling” veroorsaak. Hy voeg by: “Databesoedeling is ’n hindernis; dit verdring stil oomblikke en belemmer noodsaaklike bepeinsing. . . . Dit maak ons gespanne.”

Dit is waar dat te veel inligting of materiaal angs kan veroorsaak, maar dieselfde geld wanneer ons onvoldoende inligting het of, nog erger, wanneer ons verkeerde inligting het. Dit is baie soos om eensaam te voel in ’n kamer wat vol mense is. Soos John Naisbitt dit in sy boek Megatrends stel: “Ons verdrink in inligting maar is uitgehonger vir kennis.”

Hoe rekenaarmisdaad jou kan raak

Nog ’n rede tot angs is die toename in rekenaarmisdaad. In dr. Frederick B. Cohen se boek Protection and Security on the Information Superhighway spreek hy sy kommer uit: “Die FBI [Federal Bureau of Investigation] skat dat tot $5 miljard [R22 miljard] elke jaar weens rekenaarmisdaad verlore gaan. En hoewel dit ongelooflik mag klink, is dit net die puntjie van die ysberg. Gebreke in inligtingstelsels is ook al uitgebuit om die oorhand in onderhandelinge te kry, reputasies te verwoes, militêre konflikte te wen en selfs moord te pleeg.” Hierbenewens is daar die immer toenemende besorgdheid oor die probleem van kinders wat toegang tot rekenaarpornografie het—om nie eers te praat van die skending van privaatheid nie.

Gewetenlose rekenaarslawe plant opsetlik virusse in rekenaarstelsels en veroorsaak chaos. Misdadigers wat in stelsels inbreek [hackers], kry onwettig toegang tot elektroniese stelsels en bekom vertroulike inligting, en soms steel hulle selfs geld. Sulke bedrywighede kan vernietigende gevolge vir duisende gebruikers van persoonlike rekenaars hê. Rekenaarmisdaad is ’n bedreiging vir die sakewêreld en vir regerings.

Die noodsaaklikheid daarvan om goed ingelig te wees

Ons almal moet natuurlik goed ingelig wees, maar om groot hoeveelhede inligting te hê, voed ons nie noodwendig in die ware sin van die woord op nie, want baie van dit wat as inligting deurgaan, is niks meer as eenvoudige feite of onverwerkte data nie, wat geensins met ons ondervinding verband hou nie. Party sê selfs dat die “dataontploffing” of selfs meer sinies die “nie-inligtingsontploffing” moontlik beter benamings vir hierdie verskynsel is as die “inligtingsontploffing”. Die ekonomiese ontleder Hazel Henderson sien sake so: “Inligting op sigself verlig nie. Ons kan nie verklaar wat waninligting, nie-inligting of propaganda is in hierdie omgewing wat deur die media oorheers word nie. Die feit dat die mens hom op blote inligting toegespits het, het nie tot die soeke na betekenisvolle nuwe patrone van kennis gelei nie, maar eerder tot ’n oormaat van miljarde onvolledige brokkies onverwerkte data wat al hoe minder beteken.”

Joseph J. Esposito, president van die Encyclopædia Britannica-uitgewersgroep, sê reguit: “Die meeste inligting van die Inligtingseeu word eenvoudig vermors; dit is net ’n geraas. Die term Inligtingsontploffing is gepas; die ontploffing maak dit vir ons onmoontlik om eintlik enigiets te hoor. As ons nie kan hoor nie, kan ons nie weet nie.” Orrin E. Klapp gee sy siening: “Ek vermoed dat niemand weet hoeveel van die beskikbare openbare kommunikasie skyninligting is nie, wat kastig iets sê, maar in werklikheid niks sê nie.”

Jy sal ongetwyfeld onthou dat ’n groot deel van jou onderrig op skool toegespits was op die leer van feite sodat jy eksamens kon slaag. Jy het dikwels kort voor eksamentyd jou brein vol feite geprop. Onthou jy hoe jy in geskiedenislesse ’n lang reeks datums soos ’n papegaai geleer het? Hoeveel van daardie gebeure en datums kan jy nou onthou? Het daardie feite jou geleer om te redeneer en logiese gevolgtrekkings te maak?

Is meer altyd beter?

Indien ’n mens die aandag wat jy aan die verkryging van bykomende inligting skenk nie versigtig beheer nie, kan dit jou duur te staan kom wat tyd, slaap, gesondheid en selfs geld betref. Want hoewel meer inligting wel groter keuses bied, kan dit die soeker angstig maak omdat hy wonder of hy al die beskikbare inligting nagegaan of geraadpleeg het. Dr. Hugh MacKay rig hierdie waarskuwing: “Inligting is in werklikheid nie die weg na verligting nie. Inligting op sigself werp geen lig op die betekenis van ons lewe nie. Inligting het baie min te doen met die verkryging van wysheid. Trouens, soos ander besittings kan dit beslis ’n struikelblok in die weg van wysheid wees. Ons kan te veel weet, net soos ons te veel kan besit.”

Dikwels word mense nie net oorlaai met die groot hoeveelhede inligting wat vandag beskikbaar is nie, maar ook met die frustrasie wat daarmee gepaardgaan om inligting in iets te probeer omskep wat verstaanbaar, betekenisvol en waarlik leersaam is. Daar is al gesê dat ons kan wees “soos iemand wat dors is en wie se lot dit is om water uit ’n vingerhoed te drink wat hy by ’n brandkraan moet vol maak. Weens die groot hoeveelheid beskikbare inligting en die manier waarop dit dikwels verskaf word, is baie daarvan vir ons nutteloos.” Ons moet dus bepaal wat genoeg is, nie ooreenkomstig hoeveelheid nie, maar ooreenkomstig gehalte en die bruikbaarheid van die inligting vir ons persoonlik.

Wat van dataoordrag?

Nog ’n algemene uitdrukking wat vandag gehoor word, is “dataoordrag”. Dit verwys na die elektroniese oordrag van inligting. Hoewel dit in sekere gebruike waarde het, is dit nie goeie kommunikasie in die volste sin nie. Waarom nie? Omdat ons die beste reageer op mense en nie op masjiene nie. Met dataoordrag word geen gesigsuitdrukkings gesien nie en is daar geen oogkontak of liggaamstaal wat so dikwels die gesprek vorm en gevoelens kommunikeer nie. In gesprekke van aangesig tot aangesig vul hierdie faktore die woorde wat gebruik word aan en maak dit dikwels die betekenis duidelik. Nie een van hierdie kosbare hulpmiddels om mekaar te verstaan, is beskikbaar by elektroniese oordrag nie, nie eers oor die sellulêre telefoon wat al hoe gewilder word nie. Partykeer kommunikeer selfs ’n gesprek van aangesig tot aangesig nie presies wat die spreker in gedagte het nie. Die hoorder kan woorde op sy eie manier ontvang en verwerk en die verkeerde betekenis daaraan heg. Hoeveel groter is die gevaar tog nie dat dit kan gebeur wanneer die spreker nie gesien kan word nie!

Dit is ’n betreurenswaardige lewensfeit dat die buitensporige hoeveelheid tyd wat party voor rekenaarskerms en televisiestelle deurbring gesinslede soms in hulle eie huis vreemdelinge vir mekaar maak.

Het jy al gehoor van tegnofobie?

“Tegnofobie” beteken eenvoudig “’n vrees vir tegnologie”, waaronder die gebruik van rekenaars en soortgelyke elektroniese toestelle. Party meen dat dit een van die algemeenste vorme van angs is wat deur die inligtingseeu voortgebring word. ’n Artikel in The Canberra Times, wat op ’n mededeling van Associated Press gebaseer is, het gesê: “Japannese direkteure is bang vir rekenaars.” Die volgende is oor die uitvoerende direkteur van ’n groot Japannese maatskappy gesê: “[Hy] beskik oor mag en aansien. Maar sit hom voor ’n rekenaar, en hy is ’n bol senuwees.” Volgens ’n opname onder 880 Japannese maatskappye kon net 20 persent van hulle uitvoerende direkteure rekenaars gebruik.

Tegnofobie word aangeblaas deur groot rampe, soos die telefoonafsluiting in 1991 in die stad New York wat plaaslike lughawens ure lank lamgelê het. En wat van die ongeluk in 1979 by die kernkragaanleg by Three Mile Island in die Verenigde State? Dit het die aanleg se operateurs etlike kritieke ure geneem voor hulle die betekenis van die rekenaarbeheerde alarmseine kon verstaan.

Dit is maar ’n paar voorbeelde van hoe die tegnologie van die inligtingseeu die mensdom op dramatiese wyse geraak het. In sy boek vra dr. Frederick B. Cohen hierdie gedagteprikkelende vrae: “Was jy onlangs by die bank? Sou jy enige geld kon kry as die rekenaars nie gewerk het nie? Wat van die supermark? Sou die kassier jou kon help sonder die rekenaars by die betaalpunt?”

Miskien kan jy jou met een of meer van hierdie denkbeeldige situasies vereenselwig:

• Dit voel vir jou of jou nuwe videobandopnemer te veel stelknoppies het wanneer jy ’n program wil kies wat jy wil opneem. Óf jy roep verleë jou negejarige nefie om die bandopnemer vir jou te stel, óf jy besluit dat jy eintlik nie nodig het om na die program te kyk nie.

• Jy het dringend geld nodig. Jy ry na die naaste outomatiese tellermasjien, maar onthou dan skielik dat jy die vorige keer toe jy dit gebruik het, deurmekaargeraak en die verkeerde knoppies gedruk het.

• Die kantoortelefoon lui. Die oproep is per abuis na jou toe deurgeskakel. Die oproep is vir jou baas op die verdieping bo jou. Daar is ’n heel eenvoudige manier om die oproep deur te sit, maar omdat jy onseker is, besluit jy dat die telefonis eerder die oproep moet deursit.

• Die paneelbord van jou nuwe motor lyk of dit in die stuurkajuit van ’n moderne straalvliegtuig tuishoort. Skielik flikker ’n rooi liggie, en jy word angstig omdat jy nie weet wat die liggie beteken nie. Dan moet jy ’n uitvoerige instruksieboek nagaan.

Dit is net ’n paar voorbeelde van tegnofobie. Ons kan daarvan seker wees dat die tegnologie voortdurend ingewikkelder toestelle sal ontwikkel, wat mense van vorige geslagte ongetwyfeld ‘wonders’ sou genoem het. Elke nuwe verbeterde produk wat op die mark kom, vereis groter kundigheid om dit doeltreffend te gebruik. Instruksiehandleidings, wat deur die deskundiges in hulle vaktaala geskryf is, word op sigself angswekkend wanneer daar aangeneem word dat die gebruiker die woordeskat verstaan en oor sekere kennis en vaardighede beskik.

Die inligtingsteoretikus Paul Kaufman som die situasie so op: “Ons gemeenskap het ’n beeld van inligting wat, hoewel dit aanloklik is, eindelik kontraproduktief is. . . . Een rede is dat te veel aandag op rekenaars en hardeware gevestig is en te min op die mense wat eintlik inligting gebruik om die wêreld te verstaan en nuttige dinge vir mekaar te doen. . . . Die probleem is nie dat ons so baie van rekenaars dink nie, maar dat ons ietwat minder van mense begin dink het.” Dit lyk inderdaad of beheptheid met die roem wat verwerf word wanneer verbasende nuwe tegnologie voortgebring word dikwels daartoe gelei het dat mense bekommerd is oor wat volgende kom. Edward Mendelson sê: “Tegnologiese dromers kan nooit onderskei tussen die uitvoerbare en die begeerlike nie. As ’n masjien die een of ander uiters ingewikkelde taak kan verrig, neem die dromer aan dat die taak die moeite werd is om te verrig.”

Dit is hierdie verontagsaming van die menslike element in die tegnologie wat grootliks tot inligtingsangs bygedra het.

Word produktiwiteit werklik verbeter?

Die rubriekskrywer Paul Attewell skryf in The Australian oor sy navorsing na die hoeveelheid tyd en geld wat rekenaars in onlangse jare gespaar het. Hier is ’n paar van sy geldige punte: “Ondanks die feit dat baie universiteite en kolleges al jare lank in rekenaarstelsels belê wat bedoel is om administratiewe take te verrig en koste te besnoei, vind hulle dat hulle administratiewe personeel steeds toeneem. . . . Rekenaarvervaardigers beweer dekades lank al dat die tegnologie wat hulle verkoop tot groot deurbrake sou lei wat produktiwiteit betref, wat baie minder werkers ’n gegewe hoeveelheid administratiewe werk baie goedkoper sal laat doen. Soos ons nou begin besef, het inligtingstegnologie eerder tot ’n verplasing van inspanning gelei: pleks daarvan dat die ou werk deur minder werknemers gedoen word, word talle nuwe dinge nou gedoen deur ’n arbeidskrag wat net so groot of groter is. Dikwels word hoegenaamd geen geld bespaar nie. Een voorbeeld van hierdie verplasing is dat mense die tegnologie gebruik om die voorkoms van dokumente te verbeter en nie eenvoudig om papierwerk vinniger af te handel nie.”

Vir die huidige lyk dit of die inligtingsnelweg, wat vir Christene gevaarlik kan wees, hier is om te bly. Maar hoe kan ons inligtingsangs vermy—ten minste in sekere mate? Ons gee ’n paar praktiese wenke in die volgende kort artikel.

[Voetnote]

a Voorbeelde van rekenaarvaktaal: aanlog, wat “verbind met stelsel” beteken; selflaai, “begin of aan die gang sit”; portretposisie, “vertikaal”; landskapposisie, “horisontaal”.

[Venster op bladsy 6]

’n Oormaat nuttelose inligting

“Soos ons almal uit ondervinding weet, neem die kruheid van die samelewing onvermydelik toe. Ons sien hoe gemors op TV, radioprogramme wat haat opstook, platejoggies wat skok, regsverdraaiing, reklamefoefies, uiters gewelddadige en sarkastiese retoriek nou hoogty vier. Rolprente word al hoe meer eksplisiet wat seks en geweld betref. Reklame is luidrugtiger, aanvallender en dikwels nie in goeie smaak nie. . . . Vloektaal is aan die orde van die dag, en ordentlikheid is iets van die verlede. . . . Wat ander ons ‘krisis in gesinswaardes’ genoem het, het meer te doen met die inligtingsrevolusie as met Hollywood se gebrek aan respek vir die tradisionele gesinsreëling.”—Data Smog—Surviving the Information Glut, deur David Shenk.

[Venster op bladsy 7]

Wysheid Die outydse manier

“My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind . . . want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand. Want wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees; oorleg sal oor jou wag hou, verstand sal jou bewaak.”—Spreuke 2:1-6, 10, 11.

[Prent op bladsy 8, 9]

Die oorvloed inligting is al vergelyk met iemand wat ’n vingerhoed by ’n brandkraan probeer vol maak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel