Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 3/8 bl. 5-9
  • Is wetenskaplikes verdeeld?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is wetenskaplikes verdeeld?
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wetenskaplike geskille
  • “’n Uiters pynlike tragedie”
  • ’n Ander soort tragedie
  • Tot watter mate kan jy die wetenskap vertrou?
    Ontwaak!—1998
  • Die wetenskap—Die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
  • Die wetenskap—die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
    Ontwaak!—1993
  • Hoe beskou Jehovah se Getuies die wetenskap?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 3/8 bl. 5-9

Is wetenskaplikes verdeeld?

“HOEWEL ons nie die gedagte moet verwerp dat die wetenskap ’n soeke na die waarheid omtrent die wêreld is nie, moet ons die sielkundige en maatskaplike faktore in ag neem wat dikwels in die weg van hierdie soeke staan.” Dit is wat Tony Morton geskryf het in ’n verhandeling met die titel “Skole in konflik: Die beweegredes en metodes van wetenskaplikes”. Ja, dit lyk asof roem, finansiële gewin of selfs politieke neigings soms ’n invloed op wetenskaplikes se bevindings gehad het.

Reeds in 1873 het lord Jessel sy besorgdheid uitgespreek oor sulke invloede in hofsake toe hy gesê het: “Getuienis deur deskundiges . . . is die getuienis van mense wat soms hulle bestaan daaruit maak, maar in alle gevalle vir hulle getuienis betaal word. . . . Dit is dus net natuurlik dat hy, hoe eerlik hy ook al is, bevooroordeeld sal wees ten gunste van die een in wie se diens hy is, en daarom vind ons ook sulke partydigheid.”

Neem forensiese wetenskap as voorbeeld. ’n Appèlhof het aangevoer dat forensiese wetenskaplikes partydig kan word. Die tydskrif Search sê: “Die blote feit dat die polisie hulle hulp verlang, kan ’n verhouding tussen die polisie en die forensiese wetenskaplikes laat ontstaan. . . . Forensiese wetenskaplikes wat deur die regering in diens geneem word, kan begin dink dat dit hulle taak is om die polisie te help.” Hierdie tydskrif gee ook die voorbeeld aan van die IRL- (Ierse Republikeinse Leër) bomaanvalsake van Maguire (1989) en Ward (1974) in Brittanje as “sprekende bewys van die bereidheid van sommige hoogs ervare en andersins gerespekteerde wetenskaplikes om wetenskaplike neutraliteit prys te gee en te dink dat dit hulle verantwoordelikheid is om die vervolging te help”.

Nog ’n goeie voorbeeld is die Lindy Chamberlain-saak in Australië (1981-82) waarop die rolprent A Cry in the Dark later gebaseer is. Getuienis wat deur forensiese deskundiges gelewer is, het blykbaar die uitspraak teen mev. Chamberlain laat swaai, wat daarvan beskuldig is dat sy haar baba Azaria vermoor het. Hoewel sy gesê het dat ’n dingo (wildehond) haar kind doodgemaak het, is sy skuldig bevind en tronk toe gestuur. Jare later, toe die baba se vuil, bebloede jakkie gevind is, het die vorige getuienis ná noukeurige ondersoek nie steek gehou nie. Lindy is gevolglik uit die tronk vrygelaat, haar skuldigbevinding is nietig verklaar en vergoeding vir wederregtelike veroordeling is aan haar betaal.

Wanneer wetenskaplike met wetenskaplike argumenteer, kan dit ’n bitter stryd word. ’n Paar dekades gelede het dr. William McBride se uitdaging aan vervaardigers van die geneesmiddel talidomied wêreldwyd opslae gemaak. Toe hy te kenne gegee het dat hierdie middel, wat bemark is om oggendsiekte tydens swangerskap te verlig, ernstige gebreklikheid by ongebore kinders tot gevolg het, het hierdie dokter oornag ’n held geword. Nogtans is hy jare later, terwyl hy aan ’n ander projek gewerk het, deur ’n dokter wat ’n joernalis geword het daarvan beskuldig dat hy met data gepeuter het. McBride is skuldig bevind aan wetenskapsbedrog en beroepswangedrag. Hy is in Australië van die mediese rol geskrap.

Wetenskaplike geskille

’n Geskil wat nog opgelos moet word, is of elektromagnetiese velde nadelig vir mense- en dieregesondheid is of nie. Sommige gegewens dui daarop dat grootskaalse besoedeling van ons omgewing deur elektromagnetisme veroorsaak word, waarvan die bronne wissel van hoogspanningsdrade tot die persoonlike rekenaar en die mikrogolfoond in jou huis. Sommige beweer selfs dat sellulêre telefone met verloop van jare ’n mens se brein kan beskadig. Nog ander verwys na wetenskaplike studies wat daarop dui dat elektromagnetiese straling tot kanker en die dood kan lei. Die koerant The Australian haal ’n voorbeeld hiervan aan: “’n Britse kragstasie word gedagvaar weens die dood van ’n seun wat na bewering kanker ontwikkel het omdat hy naby hoogspanningskabels geslaap het.” ’n Raadgewende beroepsgeneeskundige van Melbourne, dr. Bruce Hocking, het bevind dat “daar onder kinders wat ongeveer vier kilometer van Sydney se vernaamste televisietorings af woon meer as dubbel soveel gevalle van leukemie is as onder kinders wat buite die radius van vier kilometer woon”.

Terwyl omgewingsgesindes sulke bewerings voorstaan, loop die sakesektor en handelsbelange gevaar om miljarde rande te verloor deur wat hulle “onnodige bangmaakveldtogte” noem. Hulle organiseer dus teenaanvalle en ontvang steun van ander sektore van die wetenskaplike gemeenskap.

Dan is daar die geskil oor chemiese besoedeling. Sommige het dioksien al beskryf as “die giftigste chemikalie wat die mens al ooit gemaak het”. Hierdie chemikalie, wat deur Michael Fumento beskryf word as “bloot ’n onvermydelike neweproduk in die vervaardiging van sekere onkruiddoders” (Science Under Siege), is deur sommige “die belangrikste bestanddeel van Agent Orange” genoem.a Dit het die grootste publisiteit ná die Viëtnamese oorlog gekry. Groot regstryde het gevolg tussen oorlogveterane en chemiese maatskappye, elke groep met sy eie teenstrydige wetenskaplike deskundiges.

Omgewingskwessies soos aardverwarming, die kweekhuiseffek en die vernietiging van die osoonlaag is eweneens gereeld in die nuus. Die koerant The Canberra Times het aangaande besorgdheid oor die omgewing in die Antarktika berig: “Navorsing deur wetenskaplikes by Palmer-stasie, ’n wetenskaplike basis van die Verenigde State op Anvers-eiland, toon dat sterk ultraviolet straling skadelik is vir laer lewensvorme, soos plankton en weekdiere, en later dalk ook ander skakels van die voedselketting kan raak.” Maar baie ander wetenskaplike studies weerspreek blykbaar hierdie mening en verdryf vrese oor osoonvernietiging en aardverwarming.

Wie is dus reg? Dit lyk asof elke bewering of argument deur wetenskaplike deskundiges bewys of weerlê kan word. “Wetenskaplike feite word net soveel deur die heersende sosiale klimaat bepaal as deur die beginsels van redelikheid en logika alleen”, sê die boek Paradigms Lost. Michael Fumento som die kwessie van dioksien soos volg op: “Na gelang van na wie jy luister, is ons almal óf potensiële slagoffers van vergiftiging óf potensiële slagoffers van opsetlik misleidende inligting.”

Tog kan sommige bekende wetenskaplike rampe nie weggeredeneer word nie. Die wetenskap moet hiervoor verantwoording doen.

“’n Uiters pynlike tragedie”

In “’n Boodskap aan denkers” wat op 29 Augustus 1948 uitgegee is, het Albert Einstein oor die minder glansryke oomblikke van die wetenskap nagedink toe hy gesê het: “Ons het deur pynlike ondervinding geleer dat ons nie die probleme van ons sosiale lewe kan oplos deur bloot rasioneel te dink nie. Indringende navorsing en toegewyde wetenskaplike werk het dikwels tragiese gevolge vir die mensdom gehad, . . . en die middele vir sy eie massavernietiging geskep. Dít is inderdaad ’n uiters pynlike tragedie!”

’n Onlangse persmededeling deur Associated Press lui: “Brittanje erken die toetsing van straling op mense.” Die Britse Departement van Verdediging het bevestig dat die regering bykans 40 jaar lank stralingseksperimente op mense uitgevoer het. Een van hierdie eksperimente het die toets van ’n atoombom buite Maralinga, Suid-Australië, in die middel-vyftigerjare behels.

Maralinga is ’n naam wat afgelei is van ’n woord wat deur Australiese inboorlinge gebruik word vir “donder”, en Brittanje het hierdie afgeleë gebied as die ideale plek beskou om hulle wetenskaplike eksperimente uit te voer. Ná die eerste ontploffing was hulle in absolute vervoering oor die sukses daarvan. ’n Berig in ’n koerant van Melbourne het gelui: “Namate die [radioaktiewe] wolk weggetrek het, het konvooie vragmotors en jeeps die Britse, Kanadese, Australiese en Nieu-Seelandse troepe gebring wat die ontploffing net vyf myl [8 km] daarvandaan vanuit loopgrawe gesien het. En op elke gesig was daar ’n glimlag. Hulle kon net sowel van ’n piekniek af teruggekom het.”

Die wetenskaplike medewerker van die Britse koerant Daily Express, Chapman Pincher, het selfs ’n liedjie met die titel “Hunkering na die paddastoelwolk” (“Pining for the Mushroom Cloud”) gekomponeer. Daarbenewens het ’n minister die versekering gegee dat die toets heeltemal volgens plan verloop het en dat dit geen stralingsgevaar vir enigeen in Australië ingehou het nie. Maar jare later was daar geen glimlag meer op die gesigte van diegene wat besig was om aan stralingsblootstelling te sterf nie, en ’n stortvloed van eise om vergoeding het gevolg. Daar was nou geen “Hunkering na die paddastoelwolk” meer nie! Maralinga is vandag nog steeds ’n verbode gebied weens die stralingsbesoedeling.

Dit lyk of die ondervinding van die Verenigde State met atoombomtoetse in Nevada min of meer dieselfde was. Sommige meen dat ’n politieke geskil eerder as ’n wetenskaplike fout hierby betrokke is. Robert Oppenheimer, wat aan die hoof gestaan het van die bou van die eerste Amerikaanse atoombom by Los Alamos, Nieu-Mexiko, het gesê: “Dit is nie die wetenskaplike se verantwoordelikheid om te bepaal of ’n waterstofbom gebruik moet word nie. Daardie verantwoordelikheid rus op die Amerikaanse volk en hulle gekose verteenwoordigers.”

’n Ander soort tragedie

Die geneeskundige gebruik van bloed het ná die Tweede Wêreldoorlog iets algemeens geword. Die wetenskap het dit as ’n lewensreddende middel verwelkom en verklaar dat dit veilig is om te gebruik. Maar die uitbreek van vigs het die wêreld van geneeskunde uit sy selfvoldaanheid geskud. Die vloeistof wat kwansuis lewens kon red, het skielik vir sommige in ’n doder verander. ’n Administrateur van ’n groot hospitaal in Sydney, Australië, het aan Ontwaak! vertel: “Ons het dekades lank ’n vloeistof oorgetap waarvan ons nie veel kennis gedra het nie. Ons was nie eers bewus van sommige siektes wat dit bevat het nie. Wat daar nóg in die bloed is wat ons oortap, weet ons steeds nie, want ons kan nie vir iets toets wat ons nie ken nie.”

’n Besonder tragiese geval het die gebruik van ’n groeihormoon in die behandeling van onvrugbare vroue behels. Hierdie vroue, wat groter vervulling in die lewe probeer verkry het deur ’n baba te hê, het hierdie behandeling as ’n seën beskou. Jare later het sommige van hulle om onverklaarbare redes aan die degeneratiewe breinsiekte, Creutzfeldt-Jakob se siekte (CJS), gesterf. Kinders wat met dieselfde hormoon vir dwerggroei behandel is, het begin sterf. Navorsers het ontdek dat wetenskaplikes die hormoon van die hipofises van dooie mense af gekry het. Sommige van die lyke was blykbaar draers van die CJS-virus, en party eenhede van die hormoon is besmet. Wat selfs tragieser is, is die feit dat sommige van die vroue wat met die hormoon behandel is bloed geskenk het voordat simptome van CJS sigbaar geword het. Daar word gevrees dat die virus nou in die bloedvoorraad is, aangesien daar absoluut geen toets daarvoor bestaan nie.

Alle vorme van die wetenskap hou ’n sekere mate van risiko in. Dit is dus geen wonder nie dat die wetenskap volgens die boek The Unnatural Nature of Science “bejeën word met ’n mengsel van bewondering en vrees, hoop en wanhoop, en ook beskou word as die oorsprong van talle euwels van die hedendaagse nywerheidgemeenskap sowel as die bron waarvandaan die oplossings vir hierdie euwels sal kom”.

Maar hoe kan ons ons eie risiko tot die minimum beperk? Hoe kan ons ’n gebalanseerde beskouing van die wetenskap handhaaf? Die volgende artikel sal nuttig wees in hierdie verband.

[Voetnoot]

a Agent Orange is ’n onkruiddoder wat in die Viëtnamese oorlog gebruik is om dele van die woud te ontblaar.

[Lokteks op bladsy 6]

’n Minister het gesê dat daar geen gevaar van straling sal wees nie

[Lokteks op bladsy 7]

Die Maralinga-toetsterrein is met straling besoedel

[Prent op bladsy 8]

“Dit is nie die wetenskaplike se verantwoordelikheid om te bepaal of ’n waterstofbom gebruik moet word nie.”—Robert Oppenheimer, kernwetenskaplike

[Erkenning]

Hulton-Deutsch Collection/Corbis

[Prent op bladsy 9]

“Ons het deur pynlike ondervinding geleer dat ons nie die probleme van ons sosiale lewe kan oplos deur bloot rasioneel te dink nie.”—Albert Einstein, fisikus

[Erkenning]

U.S. National Archives photo

[Foto-erkenning op bladsy 5]

Richard T. Nowitz/Corbis

[Foto-erkenning op bladsy 8, 9]

USAF photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel