Deel 1
Die wetenskap—Die mensdom se voortdurende soeke na waarheid
“JULLE sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Hierdie wyse en dikwels aangehaalde woorde is gesê deur ’n man wat deur miljoene beskou word as die grootste mens wat nog geleef het.a Hoewel die spreker van godsdienswaarheid gepraat het, kan waarheid op enige gebied mense in sekere opsigte bevry.
Wetenskaplike waarheid het mense byvoorbeeld van talle valse idees bevry, soos dat die aarde plat is, dat die aarde die middelpunt van die heelal is, dat hitte ’n vloeistof is wat warmtestof genoem word, dat besoedelde lug epidemies veroorsaak en dat die atoom die kleinste deeltjie van materie is. Die praktiese toepassing van wetenskaplike waarhede in die nywerheid, asook op die gebied van kommunikasie en van vervoer, het mense van onnodige sleurwerk en, in ’n mate, van die beperkings van tyd en afstand bevry. Wetenskaplike waarhede wat in voorkomende geneeskunde en gesondheidsorg toegepas word, het gehelp om mense van ’n vroeë dood of ’n morbiede vrees vir siekte te bevry.
Die wetenskap—Wat is dit?
Volgens The World Book Encyclopedia “dek die wetenskap die wye veld van menslike kennis wat met feite te doen het en op beginsels (grondreëls) berus”. Daar is begryplikerwys verskillende soorte wetenskappe. Die boek The Scientist sê: “In teorie kan feitlik enige soort kennis wetenskaplik gemaak word, aangesien ’n kennisveld uiteraard ’n wetenskap word wanneer dit in die gees van die wetenskaplike metode bestudeer word.”
Dít maak dit effens moeilik om enigsins akkuraat te bepaal waar een wetenskap begin en ’n ander eindig. Trouens, volgens The World Book Encyclopedia “kan wetenskappe mekaar in sommige gevalle soveel oorvleuel dat interfakultêre studievelde geskep is wat dele van twee of meer wetenskappe kombineer”. Die meeste naslaanwerke praat nietemin van vier hoofafdelings: die natuurwetenskappe, biologiese wetenskappe, sosiale wetenskappe en die wetenskap van wiskunde en logika.
Wiskunde ’n wetenskap? Ja, sonder die een of ander verenigde meetstelsel, die een of ander manier om vas te stel hoe groot, hoe klein, hoeveel, hoe min, hoe ver, hoe naby, hoe warm en hoe koud iets is, sou produktiewe wetenskaplike navorsing onmoontlik wees. Wiskunde is dus al tereg die “Koningin en kneg van die wetenskappe” genoem.
Die natuurwetenskappe sluit chemie, fisika en astronomie in. Die vernaamste biologiese wetenskappe is botanie en soölogie, terwyl sosiale wetenskappe antropologie, sosiologie, ekonomie, staatsleer en sielkunde insluit. (Sien venster op bladsy 8.)
Daar moet ’n onderskeid gemaak word tussen suiwer wetenskap en toegepaste wetenskap. Eersgenoemde het net met die wetenskaplike feite en beginsels self te doen; laasgenoemde met hulle praktiese toepassing. Toegepaste wetenskap staan vandag ook as tegnologie bekend.
Kennis volgens die eksperimentele metode
Godsdiens en die wetenskap is albei voorbeelde van die mensdom se begeerte om te weet wat die waarheid is. Maar daar is ’n groot verskil tussen hoe daar na godsdienswaarheid aan die een kant en wetenskaplike waarheid aan die ander kant gesoek word. Iemand wat na godsdienswaarheid soek, sal hom waarskynlik wend tot die Heilige Bybel, die Koran, die Talmoed, die Vedas of die Tripitaka, na gelang van of hy ’n Christen, ’n Moslem, ’n Jood, ’n Hindoe of ’n Boeddhis is. Daar sal hy vind wat deur sy godsdiens as ’n openbaring van godsdienswaarheid beskou word wat moontlik van ’n Goddelike bron af kom en dus as ’n hoogste gesag beskou word.
Iemand wat na wetenskaplike waarheid soek, het egter nie so ’n hoogste gesag waartoe hy hom kan wend nie—nie ’n boek óf ’n persoon nie. Wetenskaplike waarheid word nie geopenbaar nie; dit word ontdek. Dit vereis ’n eksperimentele stelsel waarin die soeker na wetenskaplike waarheid dikwels vind dat sy soeke tevergeefs is. Maar deur vier stappe stelselmatig te volg, sal hy ’n vrugbare soektog hê. (Sien venster “Hoe om waarheid op die wetenskaplike manier te vind”.) Wetenskaplike oorwinnings volg nietemin op wetenskaplike neerlae namate beskouings wat vroeër aanvaar is, verwerp word om die weg te baan vir nuwes wat as meer korrek beskou word.
Ondanks hierdie lukrake metode het wetenskaplikes met die verloop van die eeue ’n verbasende hoeveelheid wetenskaplike kennis opgebou. Hoewel hulle dikwels foute gemaak het, kon hulle talle verkeerde gevolgtrekkings regstel voor ernstige skade aangerig is. Trouens, solank gebrekkige kennis binne die gebied van suiwer wetenskap bly, bestaan daar baie min gevaar dat ernstige skade aangerig sal word. Maar wanneer ’n mens erg gebrekkige suiwer wetenskap in toegepaste wetenskap probeer verander, kan dit rampspoedige gevolge hê.
Neem byvoorbeeld die wetenskaplike kundigheid wat die ontwikkeling van insektedoders moontlik gemaak het. Daar is groot waarde aan hierdie insektedoders geheg totdat verdere wetenskaplike navorsing getoon het dat party van hulle oorblyfsels agterlaat wat skadelik is vir die mens se gesondheid. In sekere gemeenskappe naby die Aralmeer, wat in Oesbekistan en Kazakstan geleë is, is ’n verband gevind tussen die wydverspreide gebruik van sulke insektedoders en slukdermkanker, waarvan die voorkomssyfer daar sewe keer hoër is as die nasionale gemiddelde.
Spuitkannetjies het weens hulle gerief baie gewild geraak—tot wetenskaplike navorsing daarop gewys het dat hulle tot die vernietiging van die aarde se beskermende osoonlaag bydra, inderdaad vinniger as wat voorheen gemeen is. Die soeke na wetenskaplike waarheid is derhalwe ’n voortdurende proses. Vandag se wetenskaplike “waarhede” kan môre se verkeerde en moontlik selfs gevaarlike idees van gister wees.
Waarom ons in die wetenskap moet belangstel
Die wetenskap en tegnologie het baie te doen gehad met die skepping van ons hedendaagse wêreldstruktuur. Frederick Seitz, die destydse president van die Amerikaanse Nasionale Akademie vir Wetenskappe, het gesê: “Die wetenskap, wat hoofsaaklik as ’n intellektuele avontuur begin het, is nou besig om een van die vernaamste steunpilare van ons lewenswyse te word.” Wetenskaplike navorsing het vandag dus sinoniem geword met vooruitgang. Enigiemand wat teen die jongste wetenskaplike ontwikkelinge beswaar maak, loop die gevaar om as “antiprogressief” bestempel te word. Trouens, party meen dat wat hulle wetenskaplike vooruitgang noem die beskaafdes van die onbeskaafdes skei.
Dit is dus geen wonder nie dat die 20ste-eeuse Britse digter W. H. Auden gesê het: “In ons tyd is die ware manne van die daad—diegene wat die wêreld omskep—nie die politici en staatsmanne nie, maar die wetenskaplikes.”
Min mense sal ontken dat die wêreld verandering nodig het. Maar is die wetenskap opgewasse teen die taak? Kan dit die wetenskaplike waarhede ontdek wat nodig is om die unieke uitdagings van die 21ste eeu die hoof te bied? En kan hierdie waarhede gou genoeg gevind word om mense van die vrees vir ’n naderende wêreldramp te bevry?
Linus Pauling, wat twee maal ’n Nobelpryswenner was, het gesê: “Elkeen wat in die wêreld lewe, moet ’n mate van insig in die wese en uitwerking van die wetenskap hê.” Om ons lesers ’n mate van hierdie nodige insig te gee, bied ons die reeks “Die wetenskap—Die mensdom se voortdurende soeke na waarheid” aan. Moenie versuim om Deel 2 in ons volgende nommer te lees nie.
[Voetnoot]
a Christus Jesus. Sien die boek Die grootste mens wat nog geleef het wat in 1991 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee is.
[Venster/Prent op bladsy 7]
HOE OM WAARHEID OP DIE WETENSKAPLIKE MANIER TE VIND
1. Neem waar wat gebeur.
2. Vorm op grond van hierdie waarnemings ’n teorie oor wat moontlik waar is.
3. Beproef die teorie deur verdere waarnemings en deur eksperimente.
4. Kyk of die voorspellings wat op die teorie gebaseer is, bewaarheid word.
[Venster/Prente op bladsy 8]
’N DEFINISIE VAN DIE WETENSKAPPE
ANTROPOLOGIE is die studie van mense, soos beskou uit ’n biologiese, sosiale en kulturele oogpunt.
ASTRONOMIE is die studie van sterre, planete en ander natuurlike voorwerpe in die ruimte.
BIOLOGIE is die studie van hoe lewende dinge funksioneer en die klassifikasie van plante en diere.
BOTANIE, een van die twee hoofafdelings van biologie, is die studie van plante.
CHEMIE is die studie van die eienskappe en samestelling van stowwe en hulle wisselwerking met mekaar.
WISKUNDE is die studie van getalle, hoeveelhede, figure en verhoudings.
FISIKA is die studie van kragte en verskynsels soos lig, klank, druk en swaartekrag.
SIELKUNDE is die studie van die menslike gemoed en die redes vir menslike gedrag.
SOÖLOGIE, die tweede hoofafdeling van biologie, is die studie van diere.