Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 4/8 bl. 21-24
  • Ek vind vertroosting in “’n dal van doodskaduwee”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek vind vertroosting in “’n dal van doodskaduwee”
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons leer die waarheid en vereenvoudig ons lewe
  • Weer na ’n ander land
  • In “’n dal van doodskaduwee”
  • Ek behou my vreugde
  • Lesse wat ek geleer het
  • “Ons moet jou laat gaan”
    Ontwaak!—2010
  • Hulle het hulle gewillig aangebied—in Ecuador
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Kontak met die geesteryk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • “My beker loop oor”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 4/8 bl. 21-24

Ek vind vertroosting in “’n dal van doodskaduwee”

Soos vertel deur Barbara Schweizer

Soms, wanneer dit goed gegaan het, was my lewe soos aangename “groen weivelde”. Maar ek weet ook hoe dit voel om deur “’n dal van doodskaduwee” te gaan. Ek is egter oortuig daarvan dat ons enige omstandighede wat opduik die hoof kan bied, omdat Jehovah ons Herder is.—Psalm 23:1-4.

IN 1993, toe ek en my man albei amper 70 was, het ons besluit om ’n nuwe avontuur aan te pak—om te gaan dien waar meer Bybelonderrigters in Ecuador nodig was. Hoewel ons Amerikaners is, het ons Spaans gepraat en geen finansiële verpligtinge gehad nie. Omdat ons geweet het dat “vissers van mense” groot sukses in Ecuador behaal, het ons besluit om ons nette in daardie produktiewe waters te laat sak.—Matteus 4:19.

Ná ’n paar opwindende dae by die Ecuador-takkantoor van die Wagtoringgenootskap het ons na die busterminus in Guayaquil gegaan, gretig om na Machala te reis—een van die stede waar hulp veral nodig was. Maar terwyl ons vir die bus gewag het, het my man, Fred, skielik sleg gevoel, en ons het dus besluit om ons reis uit te stel. Ek het by ’n telefoonhokkie gaan skakel om te reël dat ons na die takkantoor toe teruggaan terwyl Fred by ons bagasie gesit het. Toe ek ’n paar minute later terugkeer, het my man verdwyn!

Ek het Fred nooit weer lewend gesien nie. Hy het daar in die busterminus, in die kort rukkie wat ek weg was, ’n baie groot hartaanval gehad. Terwyl ek angstig na hom gesoek het, het ’n beampte by die busterminus na my toe gekom en gesê dat Fred hospitaal toe geneem is. Toe ek by die hospitaal kom, het ek gehoor dat hy reeds dood is.

Ek was skielik alleen in ’n vreemde land, sonder ’n huis of ’n man om op te leun. Ek sê “leun”, want Fred het altyd die leiding geneem en dinge vir ons albei gereël. Ek het nie ’n sterk persoonlikheid nie en ek was bly dat hy dit gedoen het. Maar nou moes ek die besluite neem, my lewe organiseer en terselfdertyd my droefheid oorkom. Dit was ’n verpletterende gevoel—asof ek in “’n dal van doodskaduwee” gegooi is. Sou ek ooit leer om alleen die mas op te kom?

Ons leer die waarheid en vereenvoudig ons lewe

Ek en Fred was albei voorheen getroud en was geskei toe ons mekaar ontmoet het. ’n Goeie vriendskap het tot ’n hegte verhouding ontwikkel, en ons het besluit om te trou. Ons het in Seattle, Washington, VSA, gewoon en het bloot uit gewoonte kerk toe gegaan. Godsdiens was egter nie baie belangrik in ons lewe nie totdat Jamie, ’n opgeruimde jong pionier (voltydse evangeliedienaar), aan ons deur geklop het. Sy was so ’n aangename mens dat ek haar aanbod aanvaar het om die Bybel met my te studeer.

Omdat Fred ook belangstelling getoon het, het Jamie se ouers die studie oorgeneem, en ’n jaar later, in 1968, is ons albei gedoop. Ons was van die begin af gretig om die belange van God se Koninkryk eerste in ons lewe te stel (Matteus 6:33). Die egpaar wat met ons studeer het, Lorne en Rudi Knust, het in hierdie opsig beslis die voorbeeld gestel. Nie lank nadat ons gedoop is nie, het hulle na ’n dorp aan die Ooskus van die Verenigde State verhuis waar hulp nodig was. Dit het ’n saadjie in ons hart gesaai.

Daar was nog ’n rede waarom ons dit oorweeg het om te verhuis. Fred was die bestuurder van ’n groot afdelingswinkel. Sy werk was baie veeleisend, en hy het besef dat hy sy lewe sou kon vereenvoudig en meer aandag aan die waarheid en ons twee kinders sou kon bestee, as ons verhuis. Dit was ’n moeilike besluit om Seattle te verlaat, want ek het ook ’n getroude dogter uit my eerste huwelik gehad, en sy en haar man het ook die waarheid aangeneem. Hulle het nietemin ons beweegredes verstaan en ons besluit ondersteun.

So het dit gekom dat ons in 1973 na Spanje verhuis het, ’n land waar daar destyds baie predikers van die goeie nuus nodig was, asook broers om die leiding te neem. Fred het uitgewerk dat ons ons uitgawes in Spanje met ons spaargeld sou kon dek as ons spaarsamig lewe en dat ons die meeste van ons tyd aan die bediening sou kon wy. En dit is wat ons gedoen het. Kort voor lank het Fred as ’n ouer man gedien en teen 1983 was ons albei in die pionierdiens.

Ons het 20 jaar lank in Spanje gedien en geleer om die taal te praat en het talle goeie ondervindinge gehad. Ek en Fred het dikwels saam aan die predikingswerk deelgeneem en met egpare gestudeer, en heelparty van hulle is nou gedoopte Getuies. Na ’n paar jaar in Spanje het ons twee jonger kinders, Heidi en Mike, ook die pionierdiens betree. Hoewel ons materieel min gehad het, was dit die gelukkigste tyd van my lewe. Ons lewe was eenvoudig. Ons kon baie tyd saam as ’n gesin deurbring, en soos die weduwee se olie in die Bybelverslag het ons spaargeld, wat ons so versigtig gebruik het, nooit opgeraak nie.—1 Konings 17:14-16.

Weer na ’n ander land

Teen 1992 het ons dit weer begin oorweeg om te verhuis. Ons kinders was groot en daar was nie meer soveel hulp in Spanje nodig nie. Ons het ’n sendeling geken wat in Ecuador gedien het, en hy het ons vertel van die dringende behoefte aan pioniers en ouer manne in daardie land. Was ons te oud om ’n nuwe begin in ’n nuwe land te oorweeg? Ons het nie so gedink nie, want ons het albei goeie gesondheid geniet en was lief vir die predikingswerk. Ons het dus met die takkantoor in Ecuador in verbinding getree en ons planne begin maak. Trouens, my dogter Heidi en haar man, Juan Manuel, wat in die noorde van Spanje gedien het, was gretig om by ons aan te sluit.

Ons het uiteindelik, teen Februarie 1993, al ons sake in orde gebring en in die nuwe land aangekom. Ons was albei baie opgewonde oor die vooruitsig om pionierdiens te doen in Ecuador, waar soveel mense gretig was om die Bybel te bestudeer. Ná ’n hartlike verwelkoming by die takkantoor, het ons gereël om verskeie stede te besoek wat aanbeveel is as plekke waar hulp veral nodig was. Maar toe is my man oorlede.

In “’n dal van doodskaduwee”

Aanvanklik het ek skok ervaar, toe algehele ongeloof. Fred was omtrent nooit voorheen siek nie. Wat moes ek doen? Waarheen moes ek gaan? Ek kon net nie dink nie.

Gedurende daardie ergste oomblikke van my lewe is ek geseën met die ondersteuning van medelydende geestelike broers en susters, waarvan die meeste my skaars geken het. Die broers by die takkantoor was baie goed vir my en het vir alles gesorg, onder andere die begrafnisreëlings. Ek onthou veral die liefde wat broer en suster Bonno aan my betoon het. Hulle het seker gemaak dat ek nooit op my eie was nie, en Edith Bonno het verskeie nagte selfs by my bed se voetenend geslaap sodat ek nie alleen moes voel nie. Trouens, die hele Bethelgesin het soveel liefde en bedagsaamheid getoon dat dit was asof hulle my in ’n warm, beskermende kombers van liefde toegedraai het.

Binne ’n paar dae was my drie kinders ook by my, en hulle ondersteuning was van onskatbare waarde. En tog, hoewel ek bedags talle liefdevolle mense om my gehad het, was dit moeiliker om deur die lang nagte te kom. Dít was wanneer Jehovah my onderskraag het. Elke keer as ’n geweldige eensaamheid oor my gespoel het, het ek my in gebed tot hom gewend en het hy my vertroos.

Ná die begrafnis het die vraag ontstaan: ‘Wat moet ek met my lewe doen?’ Ek wou in Ecuador bly, want dit was wat ons saam besluit het, maar ek het nie gevoel dat ek dit alleen kon doen nie. Daarom het Heidi en Juan Manuel, wat van plan was om weldra na Ecuador te verhuis, hulle planne aangepas sodat hulle dadelik kon kom en ons almal saam kon dien.

Binne ’n maand het ons ’n huis gevind in Loja, een van die stede wat die takkantoor aanbeveel het. Kort voor lank was ek besig om dinge te organiseer, ’n nuwe huis in te rig en in ’n nuwe land te begin preek. Al daardie bedrywighede het my droefheid ietwat verlig. Ek en my dogter, wat baie na aan Fred was, het ook saam gehuil, en dit het my gehelp om aan my gevoelens uiting te gee.

Maar ná ’n paar maande, toe ek aan my nuwe roetine gewoond geraak het, het die besef van my verskriklike verlies baie groter geword. Ek het gevind dat ek nie aan die gelukkige tye wat ek en Fred saam gehad het, kon dink nie, omdat dit my te veel ontstel het. Ek wou nie aan die verlede dink nie en het van dag tot dag geleef omdat ek nie veel oor die toekoms kon dink nie. Maar ek het tog probeer om elke dag met iets betekenisvols, veral my predikingsbedrywighede, te vul. Dit is wat my aan die gang gehou het.

Dit was nog altyd vir my ’n vreugde om die predikingswerk te doen en ander die Bybel te leer, en in Ecuador was die mense so ontvanklik dat hierdie werk ’n plesier was. Een van die eerste kere wat ek in die huis-tot-huis-werk uitgegaan het, het ek ’n jong getroude vrou ontmoet wat gesê het: “Ja, ek sal graag die Bybel wil bestudeer!” Sy was die eerste Bybelstudie wat ek in Ecuador begin het. Sulke ondervindinge het al my aandag in beslag geneem en gekeer dat ek te veel aan my eie smart dink. Jehovah het my velddiens ryklik geseën. Dit het voorgekom of ek amper elke keer wanneer ek uitgegaan het om die goeie nuus te verkondig ’n goeie ondervinding gehad het.

Dit was ongetwyfeld ’n seën dat ek as ’n pionier bly dien het. Dit het my ’n verpligting gegee wat ek moes nakom en my elke dag iets positiefs gebied om te doen. Binne ’n kort tydjie het ek ses Bybelstudies gehou.

Om toe te lig watter bevrediging ek uit my bediening put, wil ek graag die voorbeeld van ’n middeljarige vrou noem wat onlangs opregte waardering vir Bybelleringe getoon het. Wanneer ek vir haar ’n teks wys, wil sy dit eers ten volle verstaan en dan is sy bereid om die raad daarin toe te pas. Hoewel sy in die verlede ’n onsedelike lewe gelei het, het sy onlangs ’n man se aanbod om by hom in te trek nadruklik van die hand gewys. Sy het vir my vertel hoe gelukkig dit haar maak om ’n ferm standpunt vir skriftuurlike standaarde in te neem, omdat sy nou gemoedsrus geniet wat sy nooit voorheen geken het nie. Sulke studies verbly my hart en laat my nuttig voel.

Ek behou my vreugde

Hoewel die dissipelmaakwerk my groot vreugde verskaf, het my droefheid nie vinnig verdwyn nie. In my geval is hartseer iets wat kom en gaan. My dogter en skoonseun het my wonderlik ondersteun, maar as ek hulle soms spesiale oomblikke sien deel, voel ek my verlies sterker aan. Ek mis my man baie, nie net omdat ons so na aan mekaar was nie, maar ook omdat ek vir soveel dinge op hom staatgemaak het. Daar is tye wanneer ’n groot hartseer en leemte oor my kom omdat ek nie met hom kan praat nie, om sy raad te vra of ’n velddiensondervinding vir hom te vertel, en dit is geensins maklik om hierdie gevoelens die hoof te bied nie.

Wat help my in sulke tye? Ek bid ernstig tot Jehovah en vra hom om my te help om aan iets anders te dink, aan iets positiefs (Filippense 4:6-8). En hy help my werklik. Nou, ná ’n paar jaar, is dit vir my moontlik om oor sommige van die goeie tye te gesels wat ek en Fred saam geniet het. Dit is duidelik dat die genesingsproses stadig ingetree het. Soos die psalmis Dawid voel dit vir my of ek in “’n dal van doodskaduwee” geloop het. Maar Jehovah was daar om my te vertroos, en getroue broers het my liefdevol in die regte rigting gelei.

Lesse wat ek geleer het

Omdat Fred altyd die leiding geneem het, het ek nooit gedink dat ek ooit sou kon voortgaan en dinge op my eie doen nie. Maar met die hulp van Jehovah, my gesin en die broers het ek reggekom. In party opsigte is ek sterker as voorheen. Ek wend my meer dikwels tot Jehovah, en ek leer om self besluite te neem.

Ek is so bly dat ek en Fred daardie 20 jaar in Spanje gehad het en saam gedien het waar daar hulp nodig was. In hierdie stelsel van dinge weet ons nooit wat die volgende dag sal inhou nie; daarom dink ek dat dit baie belangrik is om ons beste vir Jehovah en vir ons gesin te doen terwyl ons die geleentheid het. Daardie jare het ons lewe en ons huwelik grootliks verryk, en ek is oortuig daarvan dat dit my voorberei het om my verlies te verwerk. Aangesien die pionierdiens reeds ’n lewenswyse geword het voor Fred se dood, het dit my lewe ’n doelgerigtheid gegee toe ek gesukkel het om die nuwe werklikheid te aanvaar.

Toe Fred gesterf het, het dit aanvanklik vir my gevoel of my lewe ook geëindig het. Maar dit was natuurlik nie die geval nie. Daar was werk vir my in Jehovah se diens en mense wat ek moes help. Hoe kon ek ophou wanneer soveel mense om my nog die waarheid nodig gehad het? Die feit dat ek ander gehelp het, het my goed gedoen, soos Jesus gesê het dit sou wees (Handelinge 20:35). My ondervindinge in die veldbediening het my dinge gegee om na uit te sien, en dinge om voor te beplan.

’n Paar dae gelede het ’n bekende gevoel van eensaamheid weer oor my gekom. Maar toe ek uit die huis uitstap om na ’n Bybelstudie te gaan, het ek onmiddellik beter gevoel. Twee uur later het ek tuisgekom—tevrede en opgebou. Soos die psalmis gesê het, sal ons soms dalk “met trane saai”, maar dan seën Jehovah ons pogings en ‘maai ons met gejubel’.—Psalm 126:5, 6.

Ek moes onlangs weens hoë bloeddruk my rooster ’n bietjie aanpas en ek doen nou gereelde hulppionierdiens. Ek lewe ’n bevredigende lewe, hoewel ek nie dink dat ek ooit my verlies in hierdie stelsel van dinge heeltemal te bowe sal kom nie. Dit is vir my ’n vreugde om my drie kinders in die voltydse diens te sien. Ek sien bowenal daarna uit om Fred weer in die nuwe wêreld te sien. Ek is seker dat hy verheug sal wees om te hoor van die werk wat ek in Ecuador kon doen—dat ons planne tog vrug gedra het.

Ek bid dat die woorde van die psalmis altyddeur in my geval waar sal wees. ‘Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van Jehovah bly in lengte van dae.’—Psalm 23:6.

[Prent op bladsy 23]

In die bediening in San Lucas, Loja, Ecuador

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel