“My beker loop oor”
Soos vertel deur Tarissa P. Gott
“WAAROM moes dit tog gebeur?” Ek en my man het hierdie vraag gevra terwyl ons met ’n doodskissie in ons arms in ’n gehuurde perdekar gesit het. My babaseuntjie het aan koliek gely en het binne ’n paar weke gesterf. In 1914 het niemand juis geweet hoe om daardie siekte te behandel nie. Dit was tog so verskriklik om ’n baba ses maande lief te hê, om te sien hoe hy vir jou glimlag en om hom dan aan die dood te moet afgee. Ek was ontroosbaar.
My moeder het ons op hierdie droewige tyd besoek en ons met die Bybel se boodskap van die opstanding begin vertroos. Dit het vir ons so baie beteken. Ek en my man Walter was voorwaar verlig om te hoor dat ons ons klein Stanley weer sal kan sien.
Dit was nie my eerste kennismaking met Bybelwaarheid nie. My grootvader het ’n ruk tevore die eerste drie bundels van Studies in the Scriptures, deur Charles Taze Russell, bekom. Wat Oupa daarin gelees het, tesame met sy studie van die Bybel, het hom beweeg om te gaan preek. Dit het die plaaslike geestelikes woedend gemaak, en hulle het hom uit die kerke in Providence, Rhode Island, gesit. Moeder het ook nie weer daarna kerk toe gegaan nie. Sy en Oupa het toe die vergaderinge van die Bybelstudente bygewoon, maar ek het destyds nie op die waarheid ag geslaan nie.
Toe ek 16 was, het ek met ’n jong man, Walter Skillings, getrou, en ons het ons in Providence gevestig. Ons wou albei graag omgaan met mense wat God se Woord liefhet. Hoewel ons dogter, Lillian, teen 1914 reeds ses jaar oud was, was dit eers toe ons babaseuntjie gesterf het dat die dinge wat my moeder ons omtrent die waarheid vertel het, ingesink het. Ek en my man is die volgende jaar, 1915, deur die Bybelstudente gedoop. Die doopplegtigheid het in die somer by ’n nabygeleë strand plaasgevind. Ek het ’n lang, swart gewaad met ’n hoë hals en lang moue aangetrek, heeltemal anders as die baaipakke wat nou gedra word. Dit was natuurlik nie die normale stranddrag van daardie tyd nie, maar is spesiaal vir die doopplegtigheid voorsien.
Nadat ons gedoop is, het ons lewe verander. Walter het vir die gas-en-elektrisiteitsmaatskappy in Lynn gewerk, en op koue winterdae is hy soms na verskeie kerke gestuur om hulle bevrore waterstelsels te ontvries. Hy het die geleentheid benut om Bybeltekste op die kerk se skryfbord te skryf, tekste in verband met die Bybelse beskouing van onsterflikheid, die Drie-eenheid, die helse vuur, ensovoorts.—Esegiël 18:4; Johannes 14:28; Prediker 9:5, 10.
Waarheen sal ons gaan?
In 1916 het broer Russell, die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, gesterf, en dit het gelyk asof alles in duie stort. Talle wat skynbaar baie sterk en baie toegewyd aan die Here was, het nou begin om afvallig te word. Dit was duidelik dat sommige ’n man gevolg het, nie Jehovah en Christus Jesus nie.
Twee ouere manne wat die toesig oor ons gemeente gehad het, het met ’n opposisiegroep saamgegaan en sodoende lede van die “slegte dienskneg”-klas geword (Mattheüs 24:48). Dit alles het eenvoudig nie reg gelyk nie, maar dit het gebeur en het ons ontstel. Ek het egter vir myself gesê: ‘Het Jehovah nie hierdie organisasie gebruik om ons van die kettings van valse godsdiens te bevry nie? Het ons nie sy goedheid gesmaak nie? Waarheen sal ons gaan as ons nou weggaan? Sal ons nie maar op die ou end die een of ander man volg nie?’ Ons kon geen rede sien om met die afvalliges saam te gaan nie en het dus gebly.—Johannes 6:68; Hebreërs 6:4-6.
Nog ’n tragedie
My man het Spaanse griep opgedoen en het op 9 Januarie 1919 beswyk terwyl ek ook met die siekte in die bed was. Ek het van my siekte herstel, maar ek het Walter baie gemis.
Noudat Walter weg was, moes ek gaan werk. Ek het derhalwe my huis verkoop en by ’n geestelike suster ingetrek. Ek het my meubels by ’n ander suster se huis in Saugus, Massachusetts, gebêre. Haar seun, Fred A. Gott, het later my tweede man geword. Ons is in 1921 getroud en het in die daaropvolgende drie jaar twee kinders, Fred en Shirley, gehad.
Die geskil oor vlagsaluering
Later, toe Fred en Shirley in ’n openbare skool was, het die geskil oor vlagsaluering ontstaan. Die geskil het gedraai om die Bybelse leer om te “vlug vir die afgodediens” (1 Korinthiërs 10:14). ’n Jong broer in die Lynn-gemeente het geweier om die vlag te salueer en daaraan trou te sweer. Binne ’n maand is sewe kinders in die gemeente uit die skool gesit, waaronder Fred en Shirley.
Ek moet erken dat dit ons nogal verbaas het dat ons kinders hierdie standpunt op skool ingeneem het. Ons het hulle natuurlik respek vir die land en die vlag geleer, en ons het hulle ook onderrig oor God se gebooie om nie voor beelde en afgode neer te buig nie. As ouers wou ons nie hê dat ons kinders uit die skool gesit moet word nie. Maar toe die geskil na ’n punt gedryf is, het dit nie minder as gepas gelyk dat hulle ’n standpunt vir God se Koninkryk inneem nie. Toe ons sake teen mekaar opgeweeg het, het ons dus besef dat ons kinders die regte ding doen en dat alles op die ou end ’n getuienis tot Jehovah se naam sou wees as ons op hom vertrou.
Koninkrykskool georganiseer
Die vraag was nou: Hoe sal die kinders hulle skoolopleiding ontvang? Ons het ’n tyd lank probeer om hulle by die huis te leer uit die leerboeke wat ons kon versamel. Maar ek en my man het daardie eerste skooljaar gesukkel terwyl ons ons twee kinders probeer onderrig het. My man het voltyds gewerk, en ek het was- en strykgoed aangeneem om die weeklikse loon aan te vul. Daarbenewens moes ek na my vyfjarige seun, Robert, omsien.
Om en by daardie tyd, in die lente van 1936, is Cora Foster, ’n suster in die gemeente wat al 40 jaar in die openbare skole van Lynn skoolgehou het, afgedank omdat sy nie die vlag gesalueer en nie ’n onderwyserseed wat destyds in swang was, afgelê het nie. Reëlings is derhalwe getref dat Cora die kinders wat uit die skool gesit is, sou leer en dat ons huis as ’n Koninkrykskool gebruik sou word. Cora het haar klavier en ’n paar leerboeke wat die kinders kon gebruik by ons huis laat aflewer, en ’n paar van die ouer seuns het lessenaars uit lemoenkratte en laaghout gemaak. Daar was tien leerlinge in die skool toe ons dit die volgende herfs geopen het.
My jongste seun, Robert, het sy skoolopleiding in graad een by die Koninkrykskool begin. “Voordat ons met ons gewone klaswerk begin het”, sê Robert, “is die Koninkrykskool elke dag met ’n Koninkrykslied geopen, en dan het ons die Wagtoring-les vir die komende week ’n halfuur lank bestudeer.” Die Genootskap het destyds nie die vrae vir die paragrawe van die studie-artikel voorsien nie, en dit het dus die kinders se verantwoordelikheid geword om die vrae oor die paragrawe vir gebruik by die gemeentelike vergadering op te stel.
Cora was ’n toegewyde onderwyseres. “Toe ek kinkhoes gehad het”, sê Robert, en die skool gesluit is totdat die aansteeklike siekte hom uitgewoed het, “het suster Foster elke leerling tuis besoek en huiswerk gegee.” Ten spyte van haar toewyding het sy seker soms gefrustreerd gevoel, want sy moes die leerlinge in al 12 standerds in een vertrek leer. Aan die einde van die vyf jaar lange tydperk wat die Koninkrykskool in ons huis gehou is, het 22 kinders die skool bygewoon.
Vooroordeel en vriendelikheid
Die geskil oor vlagsaluering het nie net ’n tyd van toetsing en spanning meegebring nie, maar ook baie publisiteit in die koerant en oor die radio. Dit was nogal iets algemeens om fotograwe voor ons huis te sien foto’s neem van die kinders wat by die Koninkrykskool aankom. Baie van ons bure, wat voorheen taamlik vriendelik was, het nou vyandig geword. Hulle het gedink dat dit verskriklik is dat ons kinders weier om die Amerikaanse vlag te salueer. Hulle het gesê: ‘Is dit nie immers hierdie land wat jou lewe onderhou nie?’ Hulle het nie besef dat daar sonder Jehovah se sorg hoegenaamd geen lewensbehoeftes sou wees nie.
Daarenteen was daar ander wat die betrokke geskille verstaan en ons ondersteun het. Toe mense in die omgewing ’n kruidenierswinkel geboikot het waar ons gemeente se presiderende opsiener as bestuurder gewerk het, het ’n welgestelde persoon wat in burgerlike vryheid belang gestel het die meeste van die kruideniersware in die winkel gekoop en dit gratis aan die broers in die gemeente uitgedeel.
Dit was eers in 1943, toe die Amerikaanse Appèlhof sy standpunt ten opsigte van die geskil oor vlagsaluering gewysig het, dat my seun Robert toegelaat is om ’n openbare skool by te woon.
“My beker loop oor”
Hoeveel vreugde het ek tog gesmaak toe Robert sy lewe aan Jehovah toegewy het en in 1941 by die byeenkoms in St. Louis gedoop is. Dit was ook by daardie byeenkoms dat my jongste drie kinders die voorreg geniet het om onder die talle kinders te wees wat ’n gratis, persoonlike eksemplaar van die boek Kinders van broer Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, ontvang het.
In 1943 het my oudste seun, Fred, die voltydse pionierbediening betree. Hy kon egter net ’n paar maande daarmee aanhou, want die Tweede Wêreldoorlog het gewoed, en hy was oud genoeg om opgeroep te word. Toe die plaaslike militêre raad sy aansoek om as bedienaar vrygestel te word, geweier het, is hy vervolgens ’n vonnis van drie jaar in die Federale Strafgevangenis in Danbury, Connecticut, opgelê. In 1946 is hy vrygelaat, en teen die einde van daardie jaar was hy ’n voltydse werker by die wêreldhoofkwartier van die Wagtoringgenootskap in Brooklyn, New York, waar hy etlike jare gedien het. Nou is hy ’n opsiener en dien hy saam met sy gesin in Providence, Rhode Island.
In 1951 is Robert ook na Bethel genooi, en hy is vandag nog saam met sy vrou, Alice, daar. Hy is ook ’n opsiener in ’n gemeente in die stad New York.
Dan is daar my geliefde dogter Shirley, wat by die huis gebly het. Sy het my en my man versorg totdat hy in 1972 gesterf het; sedertdien is sy vir my ’n groot vertroosting. Ek weet werklik nie hoe sake sonder haar sou verloop het nie, maar ek bedank Jehovah vir haar liefde en toegewydheid.
Ek is nou 95 jaar oud, en tog is die hoop van Jehovah se nuwe stelsel helderder as ooit. Soms vind ek dat ek sê: “As ek maar net die krag kon hê wat ek jare gelede gehad het.” Ek kan nie meer van huis tot huis gaan nie, maar solank ek ’n tong het, sal ek voortgaan om Jehovah te loof. Ek waardeer hierdie voorreg vandag meer as ooit tevore. Ja, “my beker loop oor”.—Psalm 23:5.
[Prent op bladsy 21]
Die Koninkrykskool is gedurende die dertigerjare in ons huis gehou
[Prent op bladsy 23]
Tarissa Gott saam met Robert, Shirley en Fred