Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 5/8 bl. 3-5
  • Die verkragting van die reënwoude

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die verkragting van die reënwoude
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Bome wat in ’n woestyn groei”
  • Grond, timmerhout en hamburgers
  • Wat word gedoen om die woud te beskerm?
  • Skaduwees oor die reënwoud
    Ontwaak!—1997
  • Wie vernietig die reënwoude?
    Ontwaak!—1990
  • Die voordele van die reënwoude
    Ontwaak!—1998
  • Waarom die reënwoude red?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 5/8 bl. 3-5

Die verkragting van die reënwoude

LANK, lank gelede het ’n breë smaraggroen gordel om ons planeet gestrek. Dit het uit allerhande soorte bome bestaan, en breë riviere het daardeur gevleg.

Net soos ’n enorme natuurlike kweekhuis, was dit ’n gebied van prag en verskeidenheid. Die helfte van die wêreld se dier-, voël- en inseksoorte het daar voorgekom. Maar hoewel dit die weligste gebied op aarde was, was dit ook broos—broser as wat enigeen gedink het.

Die tropiese reënwoud, soos ons dit nou noem, het ontsaglik groot—en byna onvernietigbaar—gelyk. Maar dit was nie. Die reënwoud het heel eerste van die Karibiese Eilande af begin verdwyn. Reeds in 1671—tien jaar voordat die dodo uitgesterf het—het suikerplantasies die woud op Barbados verswelg.a Ander eilande in die streek het iets soortgelyks ondervind, ’n voorsmaak van ’n wêreldwye neiging wat in die 20ste eeu toegeneem het.

Vandag bedek tropiese reënwoude net 5 persent van die aarde se oppervlakte in vergelyking met 12 persent ’n eeu gelede. En elke jaar word ’n woudoppervlakte groter as Engeland, oftewel 130 000 vierkante kilometer, afgekap of afgebrand. Hierdie ontsettende tempo van vernietiging dreig om die reënwoud—sowel as die bewoners daarvan—deur dieselfde lot te tref as wat die dodo gehad het. “Daar kan nie met sekerheid gesê word dat die woud teen ’n sekere jaar sál verdwyn nie, maar tensy dinge verander, sal die woud verdwyn”, waarsku Philip Fearnside, ’n reënwoudnavorser in Brasilië. Diana Jean Schemo het gedurende Oktober verlede jaar berig: “Die data van die afgelope weke dui daarop dat die verbranding wat vanjaar in Brasilië plaasvind meer is as wat in Indonesië voorgekom het, waar groot stede gehul was in rookwolke wat na ander lande versprei het. . . . Volgens satellietdata was daar 28 persent meer brande in die Amasonegebied in vergelyking met verlede jaar, en die ontbossingsyfers vir 1994, die jongste beskikbare syfers, toon ’n 34 persent toename sedert 1991.”

“Bome wat in ’n woestyn groei”

Waarom word die reënwoude, wat ’n eeu gelede feitlik ongeskonde was, so vinnig vernietig? Die gematigde woude, wat 20 persent van die aardoppervlakte bedek, het in die afgelope 50 jaar nie opvallend kleiner geword nie. Waarom is die reënwoude so kwesbaar? Die antwoord lê in hulle unieke karakter.

Arnold Newman sê in sy boek Tropical Rainforest dat die reënwoud al gepas beskryf is as “bome wat in ’n woestyn groei”. Hy verduidelik dat daar in sommige dele van die Amasonebekken en in Borneo “groot woude is wat, verbasend genoeg, selfs op byna skoon, wit sand groei”. Hoewel die meeste reënwoude dalk nie op sand groei nie, kom byna almal op baie swak, en baie min, bogrond voor. Terwyl die bogrond in ’n gematigde woud twee meter diep kan wees, is dit in ’n reënwoud selde meer as vyf sentimeter diep. Hoe kan die weligste plantegroei op aarde in so ’n onvrugbare omgewing floreer?

Wetenskaplikes het in die sestiger- en sewentigerjare die oplossing vir hierdie raaisel gevind. Hulle het uitgevind dat die woud letterlik van homself leef. Die meeste van die voedingstowwe wat die plante nodig het, word deur die tak- en blaarafval voorsien wat die woudvloer bedek en wat—danksy die voortdurende hitte en vogtigheid—vinnig deur termiete, swamme en ander organismes afgebreek word. Niks gaan verlore nie; alles word hergebruik. Deur middel van transpirasie en verdamping van die wouddak hersirkuleer die reënwoud selfs tot 75 persent van die reënval wat dit ontvang. Die wolke wat deur hierdie proses gevorm word, voorsien later weer water aan die woud.

Maar hierdie wonderlike stelsel het ’n Achilleshiel. As dit te veel beskadig word, kan dit nie vanself herstel nie. As ’n klein oppervlakte van die reënwoud afgekap word, sal dit binne ’n paar jaar vanself herstel; maar as ’n groot oppervlakte vernietig word, sal dit dalk nooit herstel nie. Die swaar reën spoel die voedingstowwe weg, en die warm son bak neer op die dun lagie bogrond totdat harde gras uiteindelik die enigste plantegroei is wat daar kan groei.

Grond, timmerhout en hamburgers

Vir ontwikkelende lande met ’n tekort aan landbougrond het hulle yslike ongerepte woudgebiede gelyk of dit net wag om bewerk te word. ’n “Eenvoudige” oplossing was om arm kleinboere wat nie grond besit het nie, aan te moedig om dele van die woud skoon te maak en kleims af te pen—amper soos die vestiging van die Amerikaanse Weste deur Europese immigrante. Maar die gevolge was traumaties vir die woud sowel as vir die boere.

Die welige reënwoud gee dalk die indruk dat enigiets daar sal groei. Maar wanneer die bome eers afgekap is, verdwyn die illusie van onbeperkte vrugbaarheid gou. Victoria, ’n Afrikavrou wat ’n stukkie grond bewerk wat haar gesin onlangs in die woud afgepen het, verduidelik die probleem.

“My skoonpa het so pas hierdie stuk woud afgekap en afgebrand sodat ek grondneute, kassawe en ’n bietjie piesangs kan plant. Vanjaar behoort ek ’n goeie oes te hê, maar oor twee of drie jaar sal die grond uitgeput wees, en ons sal dan ’n ander stuk grond moet skoonmaak. Dit is harde werk, maar dit is die enigste manier waarop ons aan die lewe kan bly.”

Daar is ten minste 200 miljoen boere, soos Victoria en haar gesin, wat bome afkap en afbrand! En hulle is jaarliks vir 60 persent van die reënwoud se vernietiging verantwoordelik. Alhoewel hierdie rondtrekkende landbouers ’n makliker vorm van boerdery sou verkies, het hulle geen ander keuse nie. Aangesien hulle daagliks sukkel om ’n bestaan te maak, is die bewaring van die reënwoud vir hulle ’n luukse wat hulle nie kan bekostig nie.

Hoewel die meeste boere die woud afkap vir landerye, doen ander dit om weiding te bekom. In die Sentraal- en Suid-Amerikaanse reënwoude is beesboerdery nog ’n hoofoorsaak van ontbossing. Die vleis van hierdie beeste beland gewoonlik in Noord-Amerika, waar kitskosrestaurante ’n groot vraag na goedkoop hamburgervleis het.

Maar beesboere kom voor dieselfde probleem te staan as die kleinboere. Beeste kan selde langer as vyf jaar onderhou word deur die weivelde wat in die plek van ’n afgebrande reënwoud groei. Dit is dalk winsgewend vir ’n paar mense om die reënwoud in hamburgers te omskep, maar dit is beslis een van die spandabelrigste metodes van voedselproduksie wat die mens nog uitgedink het.b

’n Ander vername bedreiging vir die reënwoud kom van houtkappery. Dit beteken nie dat houtkappery noodwendig die reënwoud vernietig nie. Sommige maatskappye kap net ’n paar handelsoorte af op so ’n manier dat die woud gou weer herstel. Maar in twee derdes van die 45 000 vierkante kilometer van die woud wat timmerhoutmaatskappye jaarliks bewerk, word soveel bome afgekap dat net 1 uit 5 van die woud se bome ongedeerd daarvan afkom.

“Dit ontstel my wanneer ek sien hoe ’n wonderlike woud deur onbeheerste houtkappery vernietig is”, sug plantkundige Manuel Fidalgo. “Alhoewel dit waar is dat ander plante en bome in die afgekapte gebied kan wortelskiet, is die nuwe plantegroei sekondêre woud—wat baie armer is wat die aantal spesies betref. Dit sal eeue of selfs millenniums neem vir die eertydse woud om te herstel.”

Die timmerhoutmaatskappye versnel ook die vernietiging van die woud op ander maniere. Beesboere op soek na weiding en rondtrekkende boere dring die woud hoofsaaklik binne deur middel van die paaie wat die houtkappers gemaak het. Die puin wat die houtkappers agterlaat, veroorsaak soms bosbrande wat selfs meer van die woud vernietig as wat die houtkappers afgekap het. In 1983 het net een van hierdie brande in Borneo eenmiljoen hektaar afgebrand.

Wat word gedoen om die woud te beskerm?

Ten spyte van hierdie bedreigings word daar pogings aangewend om die oorblywende woude te bewaar. Maar dit is ’n ontsaglike taak. Nasionale parke kan betreklik klein, afgebakende reënwoudgebiede beskerm, maar jagtery, houtkappery en kap-en-brand-boerdery gaan steeds binne die grense van baie parke voort. Ontwikkelende lande het min geld tot hulle beskikking om aan parkadministrasie te bestee.

Regerings wat in geldnood verkeer, word maklik deur internasionale maatskappye omgepraat om houtkapregte te verkoop—in sommige gevalle een van die min nasionale bates wat beskikbaar is om buitelandse skuld af te betaal. En die miljoene rondtrekkende boere kan nie anders as om die reënwoud al hoe dieper binne te dring nie.

Is dit werklik so belangrik om die reënwoude te bewaar in ’n wêreld wat deur soveel probleme geteister word? Wat loop ons gevaar om te verloor as hulle verdwyn?

[Voetnote]

a Die dodo was ’n groot, swaar loopvoël wat in 1681 uitgesterf het.

b Weens algemene protes het sommige kitskosrestaurante opgehou om goedkoop beesvleis van tropiese lande af in te voer.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel