Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 7/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oseane in gevaar
  • Orgaanskenkers
  • ’n Slegte jaar vir waarsêers
  • Hoë-risiko-seks
  • Vetsug en hartsiekte
  • Verdwynende woude
  • Beraamde wêreldwye voedseltekort
  • Die verdwynende Orinoco-alligator
  • Ontsagwekkende sterkrag
  • Bestuur en telefoongebruik—’n gevaarlike kombinasie
  • Vetsug onder kinders—Wat kan gedoen word?
    Ontwaak!—2009
  • Is vetsug werklik ’n probleem?
    Ontwaak!—2004
  • Vetsug—Word dit ’n wêreldwye epidemie?
    Ontwaak!—2003
  • Vetsug—Wat is die oorsake?
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 7/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Oseane in gevaar

Meer as 1600 marinewetenskaplikes en bewaringsbioloë uit 65 nasies het ’n “oproep om aksie” onderskryf om die oseane teen verdere skade te beskerm, berig The Journal of Commerce. “Die see is werklik in gevaar, baie groter gevaar as wat ons voorheen gedink het”, sê marine-ekoloog Elliot Norse. Een voorbeeld wat aangegee is, is ’n oseaangedeelte van 18 000 vierkante kilometer in die Golf van Mexiko wat as die dooie sone bekend staan. Soos die naam daarvan aandui, is daar hoegenaamd geen visse, garnale of enige ander seelewe in die dooie sone nie. Wetenskaplikes skryf die probleem toe aan groot bevolkings alge wat voedsel kry uit die voedingryke afloopwater van die Mississippirivier. Wanneer die alge doodgaan, gaan lê dit op die seebodem. Namate bakterieë die dooie alge begin afbreek, word die seebodem suurstof ontneem. Marinewetenskaplike dr. Nancy Rabalais sê: “Enigiets wat nie kan uitkom nie, gaan uiteindelik dood.”

Orgaanskenkers

Wil jy hê dat ander jou organe moet kry wanneer jy sterf? Dit is ’n vraag waarvoor baie Brasiliane te staan kom sedert ’n nuwe wet op 1 Januarie 1998 in werking getree het. Die wet sê dat alle Brasiliane oor die ouderdom van 18 outomaties orgaanskenkers sal word tensy hulle dokumente teken waarin hulle vra om onthef te word. Maar “daar is talle aanduidings dat die meeste Brasiliane sou verkies om ná hulle dood nog heel te wees”, berig The Miami Herald. “In die afgelope ses maande het drie uit elke vier mense wat bestuurderslisensies gekry het, geweier om ’n orgaanskenker te word.” Waarom? Party mense vrees dat daar dalk druk op dokters uitgeoefen sal word om pasiënte te gou breindood te verklaar sodat hulle organe gebruik kan word.

’n Slegte jaar vir waarsêers

Waarsêers in Duitsland is in 1997 so te sê deur “blindheid” getref, berig die Nassauische Neue Presse van Frankfurt. Uit ongeveer 70 voorspellings wat deur die Vereniging vir Wetenskaplike Navorsing oor die Parawetenskappe (GWUP) ontleed is, is nie een bewaarheid nie. Die werklik verrassende gebeure van 1997 het vir die heldersiendes verborge gebly. Nie een spiritistiese medium het byvoorbeeld die skielike dood van prinses Diana voorspel nie. Baie waarsêers het so versigtig geword dat hulle net die ontwikkeling van tendense, soos ekonomiese en politieke probleme, probeer voorspel. Dit is “dinge waarmee elke koerantleser in elk geval vorendag kon gekom het”, sê Edgar Wunder van die GWUP.

Hoë-risiko-seks

Van 1994 tot 1996 het navorsers by Rhode-eiland-hospitaal en Boston-stad-hospitaal, in die Verenigde State, 203 pasiënte wat met HIV besmet is oor hulle seksuele bedrywighede uitgevra. Wat het die opname aangedui? “Vier uit elke tien mense wat met H.I.V. besmet is, het nie hulle seksmaats oor hulle toestand ingelig nie, en byna twee derdes van húlle het nie altyd ’n kondoom gebruik nie”, berig The New York Times. Sulke weerhouding van inligting oor HIV-besmetting is iets algemeens, sê navorsers. “Dit is nie asof kennis die probleem is nie”, sê dr. Michael Stein van die Mediese Fakulteit van die Brown-universiteit, in Providence, Rhode-eiland. “Mense is bewus van die gevaar dat hulle H.I.V. kan oordra. [Hulle] is nie onkundig oor hierdie onderwerpe nie. Dit is ’n saak van persoonlike verantwoordelikheid.”

Vetsug en hartsiekte

“Die doeltreffendste strategie om KHS [koronêre hartvatsiekte] in volwassenheid te voorkom, kan wees om vetsug gedurende die kinderjare te voorkom”, berig The Journal of the American Medical Association. Gesondheidsamptenare is al ’n geruime tyd daarvan bewus dat vetsug op ’n vroeë ouderdom die gevaar van hoë bloeddruk, suikersiekte, hiperlipemie (’n oormaat vet in die bloed), koronêre hartsiekte en ander chroniese siektes vergroot. Maar ten spyte van dokters se raad om die inname van vet te beperk en om gereeld oefeninge te doen, word daar beweer dat een derde van alle Noord-Amerikaners oorgewig is of aan vetsug ly. “Hoeveel data het ons nodig voordat ons as ’n gemeenskap optree om vetsug te voorkom deur ons kinders beter eet- en oefengewoontes te leer?” vra Linda Van Horn van die Mediese Fakulteit van die Noordwestelike Universiteit in Chicago. “Die moontlike voordele is oneindig. As vetsug nie behandel word nie, is die gevolge wat dit vir die hart-bloedvatstelsel inhou voorspelbaar, belemmerend en duur.” Maar die uitslag van ’n onlangser studie wat in The New England Journal of Medicine verskyn het, sê dat vetsug net ’n mate van gevaar vir ’n mens se gesondheid inhou. Dit het bevind dat vetsug “die waarskynlikheid van ontydige dood vergroot, maar nie soveel as wat baie mediese deskundiges voorheen vermoed het nie”, berig The New York Times.

Verdwynende woude

Byna twee derdes van die woude wat die aarde bedek het voordat die menslike beskawing dit begin vernietig het, het nou verdwyn, sê die Wêreld-natuurfonds (WWF). Ten spyte van die mens se ywerige pogings om mense teen hierdie probleem te waarsku, het ontbossing in hierdie dekade in so ’n mate toegeneem dat etlike lande binnekort sonder enige natuurlike woude kan wees. Wanneer woude uitgekap word om hout en bewerkbare land te voorsien, word ’n groot aantal plant- en diersoorte vernietig. Wat meer is, wanneer bome afgebrand word, word koolstofdioksied in die aarde se atmosfeer vrygestel, en baie vrees dat dit tot aardverwarming sal lei. Die WWF dring aan op beskerming van ten minste 10 persent van alle soorte woude regoor die wêreld teen die jaar 2000, berig Londen se koerant Guardian.

Beraamde wêreldwye voedseltekort

Volgens ’n studie deur die Johns Hopkins-universiteit “sal daar teen 2025 nie genoeg voedsel vir die wêreld se beraamde 8 miljard honger monde wees nie, tensy bevolkingsgroei afneem en landbouproduksie geweldig toeneem”, sê ’n berig van Associated Press. Die navorsers voorspel dat, “tensy die vrugbaarheidsyfer tot min of meer twee kinders per vrou daal”, voedselproduksie teen 2025 sal moet verdubbel om “toegang tot genoeg veilige en voedsame voedsel” moontlik te maak sodat mense gesond kan bly. En watertekorte, grondbesoedeling, die voortdurende verlies van bogrond weens erosie en veranderinge in die klimaat dra ook nog tot die probleem by. Selfs vandag sterf sowat 18 miljoen mense jaarliks weens verhongering, hoewel genoeg voedsel geproduseer word om die byna 6 miljard mense wat nou op die aarde lewe te onderhou.

Die verdwynende Orinoco-alligator

Die alligators van Venezuela se Orinocorivier is in gevaar, volgens die tydskrif Estampas van Caracas. Daar word sedert 1930 op die diere jag gemaak vir hulle velle. Toe “was die alligatorbevolking in Venezuela meer as die mense”, sê die tydskrif. Maar tussen 1931 en 1934 is byna 1,5 miljoen kilogram alligatorvelle uitgevoer, wat ten minste 4,5 miljoen alligators verteenwoordig. Teen 1950, “ná jarelange ononderbroke jagtery”, is die alligatorbevolking so uitgedun dat “net” 30 000 kilogram uitgevoer kon word. Vandag is daar minder as 3000 Orinoco-alligators oor, en deskundiges sê dat hulle, tesame met 312 ander Venezolaanse diersoorte, met uitwissing deur mense bedreig word.

Ontsagwekkende sterkrag

’n Onlangse Hubble-beeld voorsien verdere bewys dat ’n ster in ons sterrestelsel ’n seldsame soort ster is wat “’n helder blou veranderlike ster” genoem word. Volgens sterrekundiges is die helder ster en die omringende newel in die vorm van ’n geweer; daarom is dit die Pistool genoem. Daar word geskat dat die Pistool ten minste 60 keer groter as ons Son en byna 10 miljoen keer so kragtig is. Dit kan “die kragtigste ster in die hemelruim” wees, sê die tydskrif Science News. Maar as gevolg van stof tussenin kan die ster net met infrarooisensors opgespoor word. Dit verklaar waarom die Pistool, wat 25 000 ligjare van die Aarde af geleë is, eers in die vroeë negentigerjare ontdek is. Net ses ander sterre van hierdie soort is al in ons sterrestelsel gesien.

Bestuur en telefoongebruik—’n gevaarlike kombinasie

Motorbestuurders wat oor die telefoon praat terwyl hulle agter die wiel is, kan ernstige foute maak sonder dat hulle ooit daarvan bewus is. Dit was die gevolgtrekking wat gemaak is in ’n toets wat namens die Algemene Duitse Automobielklub gedoen is. Bestuurders is gevra om drie keer op ’n toetsbaan te bestuur. Die eerste keer het hulle nie die telefoon gebruik nie. Die tweede keer het hulle ’n luidsprekertelefoon gebruik; en die derde keer ’n telefoon wat met die hand vasgehou word. Hoe goed het die toetsbestuurders gevaar? Die bestuurders wat nie die telefoon gebruik het nie, het gemiddeld 0,5 keer nie gerem wanneer hulle moes of in hulle baan gebly nie; diegene wat ’n luidsprekertelefoon gebruik het, het gemiddeld 5,9 foute gemaak en bestuurders wat die telefoon moes vashou gemiddeld 14,6. Volgens die Süddeutsche Zeitung het die studie derhalwe tot die gevolgtrekking gekom dat die gebruik van ’n telefoon wat vasgehou word terwyl ’n mens bestuur “’n aansienlike veiligheidsgevaar inhou”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel