Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 9/22 bl. 3-4
  • Alzheimer se siekte—Hoe om dit te verwerk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Alzheimer se siekte—Hoe om dit te verwerk
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is Alzheimer se siekte?
  • Laat die pasiënt sy waardigheid behou
    Ontwaak!—1998
  • Wat versorgers kan doen
    Ontwaak!—1998
  • ‘Hierdie Ontwaak! is spesiaal vir ons geskryf’!
    Ontwaak!—1999
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 9/22 bl. 3-4

Alzheimer se siekte—Hoe om dit te verwerk

“MY MAN, Alfie, was ’n voorman by een van die goudmyne in Suid-Afrika”, verduidelik Sally. “Ek was verstom toe hy vir my sê dat hy wil aftree. Hy was maar 56 jaar oud en so ’n slim, hardwerkende man. Later het ek by sy werksmaats uitgevind dat Alfie ongewone oordeelsfoute begin maak het. Hulle het dikwels sy foute verdoesel.

“Nadat hy afgetree het, het ons ’n hotel gekoop. Aangesien Alfie handig was, het ons gedink dat hy met opknappingswerk by die hotel besig sou bly. Maar hy het altyd eerder iemand gehuur om die werk te doen.

“Daardie selfde jaar het ons ons driejarige kleindogter vir ’n vakansie by die strand na Durban geneem. Sy het daarvan gehou om op die trampolien te spring wat net oorkant die straat was van die woonstel waarin ons gebly het. Een middag, omstreeks 4:30 nm., het Alfie haar geneem om op die trampolien te spring, en hy het gesê dat hulle oor ’n halfuur terug sou wees. Teen 7:00 nm. was hulle nog steeds nie terug nie. Ek het die polisie gebel, maar hulle het gesê dat hulle nie binne 24 uur na vermiste persone soek nie. Daardie nag het ek gedink ek gaan mal word, want ek het my bly voorstel dat hulle doodgemaak is. Omstreeks twaalfuur die volgende middag het iemand aan die deur geklop, en daar het Alfie met ons kleindogter in sy arms gestaan.

“‘Waar was julle?’ het ek gevra.

“‘Moenie vir my kwaad wees nie’, het hy geantwoord. ‘Ek weet nie.’

“‘Ouma’, het ons kleindogter verduidelik, ‘ons het verdwaal.’

“Stel jou voor dat jy oor die straat stap en dan verdwaal! Ek weet nog steeds nie waar hulle daardie nag geslaap het nie. In elk geval, ’n vriend van my het hulle gekry en aan hulle verduidelik hoe om by die regte woonstel uit te kom.”

Ná hierdie voorval het Sally vir Alfie na ’n neuroloog geneem, wat gesê het dat hy aan demensie (verlies aan intellektuele funksie) ly. Alfie het toe eintlik Alzheimer se siekte (AS) gehad, waarvoor daar tot nog toe nie ’n doeltreffende behandeling of geneesmiddel is nie.a Die Britse tydskrif New Scientist sê dat AS “in die ontwikkelde wêreld die vierde grootste oorsaak van sterftes [is] naas hartsiekte, kanker en beroerte”. Dit is al “die vernaamste chroniese siekte van die ouderdom” genoem. Maar AS kan ook op ’n betreklike jong ouderdom toeslaan, soos in die geval van Alfie.

Met al hoe meer mense in welvarende lande wat langer leef, is voorspellings van die aantal wat aan demensie sal ly skrikwekkend. Volgens een studie kan daar tussen 1980 en 2000 ’n toename van 14 persent in Brittanje wees, ’n toename van 33 persent in die Verenigde State en ’n toename van 64 persent in Kanada. In 1990 het ’n dokumentêre TV-program in Australië gesê: “Daar is volgens skatting op die oomblik 100 000 mense met Alzheimer se siekte in Australië. Maar teen die einde van die eeu sal daar 200 000 wees.” Na raming sal 100 miljoen mense regoor die wêreld teen die jaar 2000 aan AS ly.

Wat is Alzheimer se siekte?

Hoewel navorsing oor ’n aantal moontlike oorsake gedoen word, is die werklike oorsaak van AS nog steeds onbekend. Dit is egter bekend dat AS die geleidelike vernietiging van breinselle behels, sodat dele van die brein moontlik letterlik krimp. Die dele wat die ergste aangetas word, is dié wat met die geheue en denkvermoë verband hou. Selle in die breinstelsel wat met die gevoelens te doen het, word in die vroeë stadium van die siekte aangetas, en dit lei tot persoonlikheidsveranderinge. Ander dele van die brein kan nog ’n ruk lank goed funksioneer—die dele wat met ons sig en tassin te doen het sowel as met die motoriese korteks, wat die werking van die spiere beheer. Hierdie veranderinge, verduidelik Scientific American, “gee aanleiding tot die klassieke, tragiese situasie van ’n persoon wat kan loop, praat en eet, maar wat nie kan verstaan wat om hom gebeur nie”.

Die siekte duur gewoonlik van 5 tot 10 jaar—maar soms meer as 20 jaar. Namate die siekte vorder, kan slagoffers al hoe minder doen. Hulle kan uiteindelik selfs nie meer hulle geliefdes herken nie. In die laaste stadiums word lyers dikwels bedlêend en kan hulle nie praat of op hulle eie eet nie. Baie slagoffers sterf egter aan ander oorsake voordat hierdie laaste stadiums bereik word.

Hoewel die begin van AS fisies pynloos is, veroorsaak dit baie emosionele pyn. Dit is te verstane dat party die probleem aanvanklik nie wil aanvaar nie, omdat hulle hoop dat dit sal weggaan.b Maar daar is baie voordele daaraan verbonde om hierdie siekte te aanvaar en te leer hoe om die emosionele pyn wat dit veroorsaak te verlig. “Ek wens ek het vroeër geweet hoe ’n verswakte geheue die pasiënt kan beïnvloed”, het Bert gesê, wie se 63-jarige vrou AS het. Ja, dit is nuttig vir gesinne om uit te vind wat AS behels sowel as oor maniere om daarmee saam te leef. Ondersoek gerus hierdie en ander faktore saam met Ontwaak! in die volgende twee artikels.

[Voetnote]

a AS is na Alois Alzheimer vernoem, ’n Duitse dokter wat die siekte vir die eerste keer in 1906 beskryf het nadat hy ’n lykskouing op ’n pasiënt gedoen het wat aan kwaai demensie gely het. AS is vermoedelik die oorsaak van meer as 60 persent van demensiegevalle, wat tot 1 uit 10 mense ouer as 65 raak. ’n Ander demensie, multi-infarkdemensie, word deur geringe beroertes veroorsaak, wat die brein beskadig.

b Waarskuwing: ’n Deeglike mediese ondersoek is nodig voordat daar tot die gevolgtrekking gekom kan word dat ’n persoon AS het. Ongeveer 10 tot 20 persent van demensiegevalle is die gevolg van kwale wat behandel kan word. Wat die diagnose van AS betref, verduidelik die boek How to Care for Aging Parents: “Alzheimer se siekte kan net met sekerheid gediagnoseer word deur die brein tydens ’n lykskouing te bestudeer, maar dokters kan ander moontlikhede uitskakel en dan ’n diagnose maak deur middel van die proses van uitskakeling.”

[Lokteks op bladsy 4]

Na raming sal 100 miljoen mense regoor die wêreld teen die jaar 2000 aan Alzheimer se siekte ly

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel