Die soeke na ’n veilige lewe
VEILIGHEID beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Vir een persoon beteken veiligheid om werk te hê; vir iemand anders beteken dit rykdom en vir ’n derde persoon is veiligheid ’n misdaadvrye omgewing. Beteken dit vir jou iets anders?
Wat jou beskouing ook al is, jy tref ongetwyfeld maatreëls om jou lewe so veilig moontlik te maak. Kyk na wat mense in Europa doen om ’n mate van persoonlike veiligheid te verkry.
Geleerdheid
Volgens Jacques Santer, die president van die Europese Kommissie, is 20 persent van die jongmense in die Europese Unie werkloos. Vir daardie ouderdomsgroep hang baie gevolglik van een vraag af: Hoe kry ek werk wat my lewe veilig sal maak? Baie meen dat hierdie doelwit die beste bereik kan word deur geleerdheid, wat, soos The Sunday Times van Londen sê, studente “’n groot voorsprong in die arbeidsmark” gee.
In Duitsland, byvoorbeeld, “is die begeerte na geleerdheid en akademiese status groter as ooit”, berig die Nassauische Neue Presse. Dit is die geval ten spyte van die feit dat ’n student se lewenskoste in daardie land vir die duur van ’n universiteitskursus gemiddeld ongeveer R278 000 is.
Jongmense wat opvoeding ernstig opneem en wat graag werksekerheid wil hê, moet geprys word. En iemand met vaardighede en kwalifikasies het dikwels ’n voorsprong wanneer hy werk soek. Maar bring geleerdheid altyd werksekerheid mee? Een student het gesê: “Ek het van die begin af geweet dat my studiekursus nie tot enige spesifieke beroep sou lei en sekuriteit sou bied nie.” Haar geval is nie ongewoon nie. In een onlangse jaar was die aantal werklose gegradueerdes in Duitsland hoër as ooit.
In Frankryk gaan jongmense, volgens een koerant, universiteit toe omdat ’n seniorsertifikaat baie min waarde het in die lig van die hoë werkloosheidsyfer onder jongmense. Maar baie universiteitstudente aanvaar dat hulle aan die einde van hulle kursus “glad nie beter daaraan toe sal wees met ’n graad agter hulle naam nie”. The Independent berig dat “die spanning van die akademiese lewe ’n baie nadelige uitwerking op studente [in Brittanje] het”. Daar word berig dat universiteitslewe soms eerder tot probleme soos depressie, angs en ’n swak selfbeeld lei as wat dit studente help om die onsekerheid van die lewe die hoof te bied.
As ’n mens ’n ambag leer of praktiese opleiding in die een of ander produksieveld kry, kan jy dikwels makliker sekulêre werk kry as wanneer jy ’n universiteitsgraad het.
Is 10 000 besittings genoeg?
Baie meen dat rykdom die geheim van ’n veilige lewe is. Dit klink dalk redelik, aangesien ’n goeie bankbalans ’n reserwe is waarop ’n mens in moeilike tye kan terugval. Die Bybel verduidelik dat ‘geld ’n beskutting is’ (Prediker 7:12). Maar lei groter rykdom altyd tot groter persoonlike veiligheid?
Nie noodwendig nie. Kyk na hoe rykdom gedurende die afgelope 50 jaar vermeerder het. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het ’n groot deel van die Duitse bevolking byna niks gehad nie. Vandag besit die gemiddelde Duitser, volgens ’n Duitse koerant, 10 000 items. As ekonomiese voorspellings reg is, sal toekomstige geslagte selfs meer besit. Maar lei dit tot ’n veiliger lewe as ’n mens rykdom bymekaar maak? Nee. ’n Opname in Duitsland het getoon dat 2 uit 3 mense dink dat die lewe nou minder veilig is as wat dit 20 of 30 jaar gelede was. ’n Groot toename in rykdom het mense dus nie veiliger laat voel nie.
Dit maak sin, want soos daar in die vorige artikel gemeld is, is dit ’n emosionele las om onveilig te voel. En ’n emosionele las kan nie heeltemal deur materiële rykdom verlig word nie. Rykdom dien weliswaar as ’n beskerming teen armoede en help in moeilike tye. Maar onder sekere omstandighede is dit net so ’n groot las om baie geld te hê as om min te hê.
’n Gebalanseerde gesindheid ten opsigte van materiële besittings sal ons dus help om in gedagte te hou dat rykdom, al kan dit ’n seën wees, nie die belangrikste faktor is om ’n veilige lewe te hê nie. Toe Jesus Christus op die aarde was, het hy sy volgelinge aangemoedig deur te sê: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Om volkome veilig in die lewe te voel, het ’n mens meer as materiële rykdom nodig.
Vir bejaardes is besittings betekenisvol weens die sentimentele waarde daarvan en nie soseer weens die materiële waarde daarvan nie. Bejaardes is meer besorg oor die gevaar dat hulle ’n slagoffer van misdaad gaan word as wat hulle oor rykdom besorg is.
Pas op!
“Misdaad . . . het in die afgelope 30 jaar regoor die wêreld toegeneem”, sê die boekie Practical Ways to Crack Crime, wat in Brittanje uitgegee is. Polisiemagte span al hulle kragte in. Hoe bied party mense dit die hoof?
Persoonlike veiligheid begin tuis. In Switserland spesialiseer een argitek byvoorbeeld daarin om huise met ’n diefweringstelsel te ontwerp, wat slotte, versterkte deure en diefwering voor die vensters insluit. Die eienaars van hierdie huise neem blykbaar die bekende Duitse spreekwoord heel letterlik op: “My huis is my kasteel.” Volgens die nuustydskrif Focus is hierdie huise duur, maar die vraag daarna is groot.
Inwoners van sommige gemeenskappe het ’n buurtwagstelsel georganiseer om meer persoonlike veiligheid binne en buite die huis te verseker. Dan is daar inwoners in sekere woonbuurte wat selfs verder gaan en ’n sekuriteitsfirma betaal om hulle omgewing op sekere tye te patrolleer. Baie mense ag dit raadsaam om nie snags alleen op verlate strate in die stad te wees nie. En ouers, wat natuurlik bekommerd is oor die welstand van hulle kinders, sal dalk bykomende voorsorgmaatreëls tref om hulle te beskerm. Kyk na die wenke wat in die venster op hierdie bladsy gevind word.
Maar nie almal kan dit bekostig om ’n huis met ’n diefweringstelsel te koop nie. Wat meer is, buurtwagte en sekuriteitspatrollies sal misdaad nie heeltemal laat afneem nie; hulle sal dit dalk net na gebiede sonder enige beskerming laat verskuif. Misdaad bly dus ’n groot bedreiging vir persoonlike veiligheid. As ons ’n veilige lewe wil geniet, is meer nodig as net ’n volskaalse poging om misdaad te bekamp.
Behandel die siekte—nie net die simptome nie
Elkeen van ons het ’n natuurlike begeerte om ’n veilige lewe te hê, en dit is goed as ons redelike, praktiese stappe doen om hierdie doel te bereik. Maar misdaad, werkloosheid en al die ander dinge wat ons lewe onveilig maak, is net simptome van ’n toestand wat die hele mensdom raak. Ten einde hierdie toestand te genees, moet ons nie net die simptome nie, maar ook die oorsaak daarvan behandel.
Wat is die grondoorsaak van die onveiligheid in ons lewe? Hoe kan ons dit uit die weg ruim en sodoende die onveiligheid in die lewe vir ewig wegneem? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
[Venster op bladsy 6]
Maniere om jong kinders te beskerm
Weens die feit dat kinders so dikwels gemolesteer, ontvoer en vermoor word, het baie ouers gevind dat dit nuttig is om hulle kinders die volgende te leer:
1. Sê—met ’n besliste stemtoon—nee vir enigiemand wat probeer om hulle iets te laat doen wat hulle dink sleg is.
2. Weier om enigiemand toe te laat om aan private liggaamsdele te raak tensy ’n ouer teenwoordig is—soos by ’n dokter of ’n verpleegster.
3. Hardloop weg, gil, skreeu of vra ’n volwassene wat naby is om hulp wanneer hulle in gevaar is.
4. Vertel die ouers van enige voorval of gesprek waaroor die kind ongemaklik voel.
5. Weier om iets vir ouers geheim te hou.
As ’n laaste punt: Ouers moet ook goeie oordeel aan die dag lê wanneer hulle iemand kies om na hulle kind te kyk.
[Prente op bladsy 5]
As ons ’n veilige lewe wil geniet, is meer nodig as net geleerdheid, rykdom of ’n volskaalse poging om misdaad te bekamp