Die Bybelse beskouing
Dis goed om soms alleen te wees
BY EEN geleentheid het Jesus “alleen teen die berg opgegaan om te bid. Hoewel dit laat geword het, was hy alleen daar” (Matteus 14:23). By ’n ander geleentheid het hy ‘toe dit dag word, uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek’ (Lukas 4:42). Hierdie tekste toon dat Jesus Christus soms alleen wou wees en dat daardie tye vir hom kosbaar was.
Die Bybel noem ander voorbeelde van manne vir wie dit, soos vir Jesus, kosbaar was om soms alleen te wees. Wanneer die psalmis alleen gedurende die nagwake was, het hy oor die grootheid van sy Grootse Skepper gepeins. En Jesus Christus weer het “na ’n eensame plek [gegaan] om alleen te wees” net nadat hy die nuus van Johannes die Doper se dood gehoor het.—Matteus 14:13; Psalm 63:7.
Vandag, met al die lawaai en steurnisse van die moderne lewe, word dit nie as ’n belangrike opsie beskou om alleen te wees nie, hetsy dit as gevolg van omstandighede of keuse is. Kan jy onthou wanneer laas jy tyd alleen deurgebring het? ’n Jong, getroude vrou het gesê: “Ek was nog nooit in my lewe alleen nie.”
Maar is dit werklik nodig om soms alleen te wees? Indien wel, hoe kan stil tye op ’n heilsame en lonende wyse gebruik word? En watter rol speel balans daarin as ons soms tye kies om alleen te wees?
Waarom is dit goed om soms alleen te wees?
Die Bybel vertel ons dat ’n eertydse man van God, Isak, ‘teen die aand in die veld uitgegaan het’ sodat hy alleen kon wees. Waarom? “Om te peins”, sê dit (Genesis 24:63). Volgens een woordeboek beteken om te peins “om op ’n nadenkende of rustige wyse te dink”. Dit “impliseer ’n ernstige en lang konsentrasieperiode”. Sulke onversteurde bepeinsing het Isak, wat op die punt gestaan het om gewigtige verantwoordelikhede op hom te neem, gehelp om helder te dink, sy gedagtes agter mekaar te kry en prioriteite te stel.
’n Deskundige op die gebied van geestesgesondheid sê dat ‘die afwesigheid van ander dit moontlik maak om ons gedagtes in orde te bring, om beter te konsentreer, [solank] die alleenheid binne perke gehou word’. Baie mense sal daarvan getuig dat dit verkwikkend, versterkend en heilsaam kan wees.
Onder die begeerlike vrugte van bepeinsing is diepsinnigheid en stille beskeidenheid, eienskappe wat taktvolle gesprekke en dade bevorder, wat weer op húlle beurt tot harmoniese menseverhoudings bydra. Iemand wat byvoorbeeld leer om te peins, kan ook leer wanneer om stil te bly. Hy dink eerder vooruit aan die moontlike gevolge van sy woorde as om oorhaastig te praat. “Het jy ’n man gesien wat haastig is in sy woorde?” vra die geïnspireerde Bybelskrywer. Hy sê voorts: “Vir ’n dwaas is daar meer hoop as vir hom” (Spreuke 29:20). Wat kan sulke onbesonne gebruik van die tong teëwerk? Die Bybel sê: “Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord.”—Spreuke 15:28; vergelyk Psalm 49:4, NW.
Vir die Christen is die rustige bepeinsing wanneer ’n mens alleen is ’n noodsaaklike faktor om tot geestelike volwassenheid te groei. Die apostel Paulus se woorde is gepas: “Bepeins hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.”—1 Timoteus 4:15.
Gebruik dié stil tye om nader aan God te kom
’n Engelse skrywer het gesê: “’n Eensame plek is die oudiënsiekamer van God.” Jesus het soms die behoefte gehad om van mense af weg te kom en alleen in die teenwoordigheid van God te verskyn. ’n Voorbeeld hiervan word in die Bybel beskryf: “Vroeg die oggend, terwyl dit nog donker was, het hy opgestaan en buitentoe gegaan en na ’n eensame plek weggegaan, en daar het hy begin bid.”—Markus 1:35.
In die Psalms word daar herhaaldelik na bepeinsing oor God verwys. Koning Dawid het met Jehovah gepraat en gesê: ‘Ek peins oor U.’ Asaf sê insgelyks: ‘Ek wil al u werk oordink, en peins oor u dade’ (Psalm 63:7; 77:13). Dit bring dus ryk seëninge mee as ons oor God se eienskappe en handelswyse peins. Dit vergroot ons waardering vir God, en dit stel ons in staat om nader aan hom te kom.—Jakobus 4:8.
Hou matigheid voor oë
Ons moet natuurlik matigheid voor oë hou wanneer ons alleen wil wees. Om alleen te wees, kan beskryf word as ’n aangename plek om te besoek, maar ’n gevaarlike plek om in te bly. As ’n mens jou te veel afsonder, druis dit in teen die basiese menslike behoeftes om te assosieer, te kommunikeer en liefde te betoon. Daarbenewens kan afsondering die teelaarde wees vir die onkruid van dwaasheid en selfsugtigheid om in te groei. Die Bybelspreuk waarsku: “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek” (Spreuke 18:1). Om balans in hierdie opsig te handhaaf, moet ons die gevare van afsondering erken.
Vir Christene van vandag is die tye wanneer hulle alleen is kosbaar, net soos dit vir Jesus en ander geestelike manne in Bybeltye was. Met soveel verantwoordelikhede en bekommernisse kan dit weliswaar ’n uitdaging wees om die tyd en geleentheid te vind om alleen te peins. Maar soos wat die geval is met alle dinge wat werklik waardevol is, moet ons “die geleë tyd” uitkoop (Efesiërs 5:15, 16). Dan sal ons, soos die psalmis, kan sê: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart aangenaam word voor u aangesig, o Jehovah.”—Psalm 19:14, NW.