Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 11/22 bl. 26-27
  • Russiese Regterlike Kamer verdedig Jehovah se Getuies

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Russiese Regterlike Kamer verdedig Jehovah se Getuies
  • Ontwaak!—1998
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se Getuies in Rusland
    Ontwaak!—1997
  • Wat hou die toekoms vir godsdiens in?
    Ontwaak!—2001
  • Die verdediging van ons geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • In die tronk weens hulle geloof – Rusland
    In die tronk weens hulle geloof
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 11/22 bl. 26-27

Russiese Regterlike Kamer verdedig Jehovah se Getuies

JEHOVAH SE GETUIES verwelkom berigte oor hulle in die media wanneer sulke berigte op verantwoordelike wyse voorberei is. Daarbenewens is Jehovah se Getuies bereid om betroubare inligting oor hulleself en hulle godsdiensopvattings en -bedrywighede beskikbaar te stel. Maar wanneer onakkurate of lasterlike artikels oor hulle gepubliseer word, doen die Getuies soms ’n beroep op regeringsowerhede om hulle godsdiens- en burgerregte te verdedig. Beskou ’n onlangse voorbeeld.

Op 1 Augustus 1997 het Komsomolskaia prawda, ’n gewilde Russiese koerant, in sy streekbyvoegsel in St. Petersburg, ’n artikel gepubliseer wat ’n heeltemal verwronge beeld van Jehovah se Getuies gegee het. In die artikel, met die titel “Sekte Petersburg. Hier gaan ’n stadstempel wees”, het die skrywer, Oleg Zasorin, beweer dat Jehovah se Getuies mense deur hulle oortuigings benadeel en dat hulle bedrywighede die Russiese Grondwet skend. Die aanvalle het hoofsaaklik bestaan uit verdraaiings van die Getuies se Bybelse oortuiging, byvoorbeeld oor bloedoortappings en familiebetrekkinge. Daarbenewens het die artikel Jehovah se Getuies ’n “sekte” genoem en beweer dat hulle, volgens party, “die gevaarlikste van alle sektes is”.

Die Administratiewe Sentrum van die Streekgodsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies in Rusland het appèl aangeteken by die Presidensiële Regterlike Kamer vir Mediageskille van die Russiese Federasie met ’n versoek dat hulle die bewerings hersien wat in die artikel gemaak is en wat deur Jehovah se Getuies as misleidend beskou word. Verteenwoordigers van Jehovah se Getuies was op 12 Februarie 1998 by die Regterlike Kamer se sessie teenwoordig en het talle vrae beantwoord wat deur die lede van die kamer, sowel as deur joernaliste en regsgeleerdes, gevra is. Lede van die Regterlike Kamer het lektuur wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, en in die besonder die boek Die geheim van gesinsgeluk, versigtig ondersoek om na te gaan wat Jehovah se Getuies in werklikheid glo en leer.

V. V. Borsjtjsiof, afgevaardigde van die Staatsdoema van die Russiese Federasie, het gesê dat die begrip “sektes” geheel en al ’n negatiewe inslag het. Mnr. Borsjtjsiof het gesê: “Dit is uiters gevaarlik wanneer [mense hulle sulke] vryhede [veroorloof] en ander in sekere kategorieë plaas. Die feit dat die Regterlike Kamer die versoek van Jehovah se Getuies vir oorweging aanvaar het, is baie belangrik. Die vloed van emosies en beledigings van dié aard wat teen geregistreerde godsdiensorganisasies gerig word, moet gestop word.”

Nadat die Regterlike Kamer al die getuienis aangehoor het, het hulle tot die slotsom gekom dat die artikel wat in Komsomolskaia prawda verskyn het onwettig en oneties was; dit het ook bevind dat die artikel vol foute en ongegrond was. “Die skrywer vermeld nie enige spesifieke feite nie . . . Die skrywer van die publikasie het gerugte as betroubare berigte versprei en sy joernalistieke regte misbruik”, het die Regterlike Kamer gesê. In teenstelling met wat die koerantartikel berig het, het die Regterlike Kamer bevind dat Jehovah se Getuies wetsgehoorsaam is en dat hulle hulle lede leer om vreedsaam met familie en ander mense te lewe wat nie dieselfde godsdiensopvattings as hulle het nie.

Een uur nadat die laaste getuienis aangehoor is, het die Regterlike Kamer sy beslissing bekend gemaak:

“1. Om die publisering van die artikel ‘Sekte Petersburg. Hier gaan ’n stadstempel wees’ as ’n skending van die vereistes van Artikels 4, 49 en 51 van die Russiese Federasiewet ‘op die massamedia’ te erken.

“2. Om aan te beveel dat die Staatskomitee van die Russiese Federasie wat verantwoordelik is vir drukwerk dit moet oorweeg om ’n waarskuwing aan die redaksiekommissie van die koerant Komsomolskaia prawda te rig.

“3. Om die joernalis O. Zasorin tereg te wys.

“4. Om aan te beveel dat die redaksiekommissie van die koerant Komsomolskaia prawda apologie aanteken omdat hulle onbetroubare inligting gepubliseer het wat die godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies sonder enige grond swartsmeer.”

Hierdie beslissing van die Regterlike Kamer kom ooreen met die gevolgtrekking wat die godsdiensgeleerde en kandidaat in die filosofie Sergei Iwanenko gemaak het. Nadat hy die opvattings van Jehovah se Getuies noukeurig bestudeer het en met hulle omgegaan het, het mnr. Iwanenko, wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, ’n artikel geskryf wat in die Moscow News van 20-26 Februarie 1997 verskyn het.a Mnr. Iwanenko het dié gevolgtrekking gemaak: “Jehovah se Getuies word onderskei deur hulle standvastige oortuiging om volgens die Bybel te lewe. . . . Vir Jehovah se Getuies is die Bybel die grondwet, die burgerlike wetboek en die hoogste bron van waarheid. . . . Jehovah se Getuies kan as ’n voorbeeld vir hulle medeburgers beskou word vanweë hulle toegewydheid aan Bybelwaarheid en hulle gewilligheid om op so ’n onselfsugtige wyse op te kom vir hulle oortuigings.”

Die beslissing van die Regterlike Kamer en mnr. Iwanenko se kommentare bevestig weer eens die feit dat die Christelike godsdiens van Jehovah se Getuies geen gevaar vir die samelewing inhou nie, maar dat dit eerder tot voordeel strek van alle mense met opregte harte. Jehovah se Getuies bly ‘gereed om hulle te verdedig voor elkeen wat van hulle ’n rede vir die hoop in hulle eis, maar doen dit met saggeaardheid en diep respek’.—1 Petrus 3:15.

[Voetnote]

a Die grootste deel van mnr. Iwanenko se artikel met die titel “Moet ons bang wees vir Jehovah se Getuies?” is, met vergunning, in die Ontwaak! van 22 Augustus 1997, bladsye 22-7, gepubliseer.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel